Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Diepte-verslag: Kan jy weer en weer Covid-19 kry?

Is dit moontlik dat ons vir die res van ons lewens krygsgevangenes van die nuwe koronavirus kan wees en keer op keer ewe siek kan word? Dis uiters onwaarskynlik, het kenners aan Willemien Brümmer gesê.

’n Gesondheidswerker in Moskou met flessies bloed wat gebruik word om ’n sekere soort teenliggaampie vir Ears-CoV-2 in pasiënte se bloed te soek. Teenliggaampies is net een arm van ’n baie komplekse immuunstelsel. Foto: Getty

Dis iets wat die mensdom potensieel sou kon knak: Dat Sars-CoV-2, die virus wat Covid-19 veroorsaak, soos ’n boemerang-nagmerrie word. Sodra jy een keer van die nagmerrie herstel het, verras hy jou oor drie maande weer, en dalk die volgende jaar weer – ad infinitum.

Dis ’n beeld wat op mense se diepste vrese teer dat ons vir die res van ons lewens krygsgevangenes van ’n kiem sal wees en dat iets soos kudde-immuniteit – waar die virus nie meer genoeg slagoffers kan vind om ’n skrikbewind te voer nie – vir altyd ’n koorsdroom sal bly.

Die paniek is verder aangehits nadat berigte oor ’n studie wat nog nie aan deeglike wetenskaplike evaluasie onderwerp is nie, geïmpliseer het dat immuniteit teen die nuwe koronavirus dalk net ’n paar maande lank kan duur.

Kort daarna het ’n storie die plaaslike media getref oor ’n Durbanse vrou wat twee keer positief getoets is – net soos in enkele gevalle in die buiteland.

In eersgenoemde studie het navorsers van King’s College in Londen herhaaldelik die teenliggaam-vlakke van 96 Covid-pasiënte getoets tussen Maart en Junie vanjaar. Hulle het opgelet terwyl 60% van mense steeds ’n kragtige teenliggaam-reaksie gehad het sowat 23 dae nadat hulle vir die eerste keer begin simptome kry het, net 16,7% van hulle dieselfde sterk reaksie gehad het ná 65 dae. Diegene wat ernstiger siek was, het ’n sterker en meer langdurige teenliggaam-reaksie gehad het as dié met ligter infeksies.

Die soort teenliggame waarvoor die navorsers getoets het, was neutraliserende teenliggame – ’n super-subtipe wat die virus kan verhoed om hom tuis te maak in selle.

Maar daar is baie ander soorte teenliggaampies (en immuunselle) in die liggaam se arsenaal wat tot dusver nie noodwendig die popsterre van die pandemie was nie. Wat ons min lees in die populêre media is dat die immuunstelsel ’n erg komplekse stelsel is met verskeie linies van soldate wat saamwerk om te keer dat die mensdom nie vir ewig oorheers word deur kieme nie.

Ek sou nie vir ’n enkele oomblik daaraan twyfel dat die immuunstelsel daartoe in staat is om die nuwe koronavirus te bekamp nie.
Prof. Dirk Bellstedt

In’t kort, die antwoord op die vraag of jy vanjaar vir ’n tweede keer Covid-19 kan kry is: Dis uiters onwaarskynlik.

Prof. Dirk Bellstedt, ’n biochemikus wat gespesialiseer het in immunologie, verduidelik dit as volg: “Die immuunstelsel werk volgens die beginsel: ‘Kom ons probeer plan A, en as dit nie werk nie, is daar ’n plan B, en as dit nie werk nie is daar ’n plan C’ en só gaan dit aan.” (Sien die kassie.)

Hy is beslis: “Ek sou nie vir ’n enkele oomblik daaraan twyfel dat die immuunstelsel daartoe in staat is om die nuwe koronavirus te bekamp nie. Dis net die oorreaksie (bekend as die sitokienstorm) wat onder ’n klein persentasie van pasiënte plaasvind wat tot hul dood kan lei, maar dit sal beslis nie tot die uitwissing van die mens lei nie. Só het die mens ook al die siektes van die Middeleeue oorleef en hoewel daar destyds baie mense dood is, het die meeste wonderbaarlik oorleef weens die fantastiese immuunstelsel wat ons het!”

Prof. Dirk Bellstedt. ’n biochemikus wat in immunologie gespesialiseer het aan die Universiteit Stellenbosch. Hy sê hy sou nie ’n enkele oomblik daarin twyfel dat die immuunstelsel daartoe in staat is om die nuwe koronavirus te bekamp nie.

Hy glo die oorgrootte meerderheid mense sal daartoe in staat wees om ’n goeie aangepaste immuunreaksie te hê as hulle ’n tweede keer met die virus swaarde kruis.

“Dit is hoe die immuunstelsel alle gewerweldes beskerm het oor miljoene jare heen – en Ears-CoV-2 is net nog ’n siekte-vormende organisme. Indien die immuunstelsel nie daartoe in staat was om aangepaste immuniteit met geheue op te bou nie, sou niemand herstel het van die siekte nie. Maar ons sien nou baie mense wat herstel, so die oorgrootte meerderheid van almal op aarde moet daartoe in staat wees om hul immuunstelsel aan te pas teen hierdie virus.”

Op kort termyn . . . ja

Dr. Jantjie Taljaard, hoof van infeksiesiektes by die Tygerberg-hospitaal en die mediese fakulteit van die Universiteit Stellenbosch, sê studies soos die een deur King’s College (een van talle oor die teenliggaam-reaksie), moet beslis nie as die alfa en omega beskou word nie. “Die teenliggaam-reaksie is nie die heilige graal van immuniteit nie. Dit gee vir ons net ’n gedeelte van die antwoord. Op kort termyn is daar vir die meeste mense, maar nie vir almal nie, taamlike immuniteit.”

Gelukkig is daar ook ander studies wat daarop dui dat teenliggaam-vlakke aanvanklik daal – en dan stabiliseer. In ’n studie onder 20 000 mense wat op 17 Julie aanlyn gepubliseer is, het die oorgrootte meerderheid van Covid-19-pasiënte talryke teenliggame vervaardig. En selfs die helfte van diegene met lae vlakke, het steeds genoeg gemaak om die virus te verwoes.

’n Verdere studie deur die Karolinska Institutet in Swede bied verdere hoop nadat navorsers gewys het selfs pasiënte wat nie ernstig siek was nie of wat asimptomaties was, het sogenaamde T-sel-gemedieerde immuniteit gehad teen Covid-19. Dit selfs nadat sommige van hulle se teenliggame onnaspeurbaar was.

T-selle is ’n soort witbloedselle wat spesialiseer daarin om besmette selle te herken en dan soos bomwerpers dié selle kom opblaas.

’n Interessante waarneming was dat nie net die groep pasiënte wat positief getoets het T-sel-immuniteit gehad het nie, maar ook baie van hul familielede.

Dr. Jantjie Taljaard, hoof van infeksiesiektes by die Tygerberg-hospitaal en die mediese fakulteit van die Universiteit Stellenbosch, het die laaste paar maande in die voorste linies teen Covid-19 baklei. Foto: Edrea du Toit

“Met die studie het hulle bewys dat die meeste mense reeds ’n basislyn-immuniteit teen die virus het weens vorige blootstelling aan ander koronavirusse,” sê Taljaard.

“Dis hoekom die pandemie se sterftesyfer nie so hoog is nie – omdat daar waarskynlik reeds ’n laegraadse immuniteit onder die meeste mense is wat gedeeltelik doeltreffend is – en dis juis oor hierdie T-sel-gemedieerde immuniteit.

“Hulle het nie gekyk hoe lank hierdie reaksie hou nie, maar dis eintlik ’n goeie bewys dat daar wel weer eens korttermyn-immuniteit sal wees.”

Hierbenewens het die immuunstelsel ’n wonderlike geheue wat die vyand uit vorige veldslae kan onthou. “In die stadium is dit egter meestal teoreties omdat dit is wat ons weet van hoe die immuunstelsel met ander kieme omgaan,” sê Taljaard.

En volgende jaar?

Terwyl Taljaard taamlik seker is die meeste mense is beskerm teen herinfeksie op kort termyn, glo hy op mediumtermyn (kom ons sê volgende jaar) sal ’n groot groep mense steeds sel-gemedieerde immuniteit hê danksy die bomwerper-T-selle.

Die probleem is dat almal ’n soort orakel soek wat vir ons profetiese antwoorde sal gee – maar helaas is die nuwe virus nog in doeke.

“Dit beteken egter nie dat hulle nie weer ’n infeksie kan kry nie, maar as hulle dit kry, sal dit waarskynlik soos ’n verkoue wees, of selfs minder, en dat hulle miskien nie eens daarvan gaan weet nie – maar dis net my mening.”

Die probleem is dat almal ’n soort orakel soek wat vir ons profetiese antwoorde sal gee – maar helaas is die nuwe virus nog in doeke.

Prof. Jonny Peter, hoof van die eenheid vir allergieë en kliniese immunologie by die Universiteit van Kaapstad se Long-instituut en die Groote Schuur-hospitaal, sê in dié stadium weet ons eenvoudig nog nie vir hoe lank die geheue-reaksie van die immuunstelsel geaktiveer sal bly nie.

Prof. Jonny Peter, hoof van die afdeling vir kliniese immunologie en allergieë aan die Universiteit Kaapstad se Long-instituut en die Groote Schuur-hospitaal.

“Gegrond op dit wat ons van ander virusse weet, sal dit waarskynlik vir verskeie maande ná ’n infeksie wees, selfs al kan die teenliggaampies nie meer gemeet word nie. Maar wanneer ons van jare praat, word dit aansienlik meer onseker.”

Hy sê daar is verskeie siektes waar die teenliggaam-reaksie nie eens meetbaar is nie, maar tog kan jy nie weer daardie infeksie kry nie. “Maar ons moet onthou die virus is nog net vir sowat ses maande met ons en ons het nog net data oor die teenliggaam-reaksie van sowat ’n 100 dae nadat mense die virus gekry het. Al wat ons nou kan doen, is om pasiënte op te volg en oor tyd te sien wat met hulle gebeur.”

Kan dit soos verkoue boemerang?

’n Gedeelte van die antwoord kan gevind word in wat gebeur met ander koronavirusse soos verkoues en Ears-CoV, die eerste ernstige akute respiratoriese sindroom-koronavirus, en Mers-CoV, wat in 2012 in Saoedi-Arabië geïdentifiseer is.

“ ’n Paar dinge is baie opvallend,” sê Peter. “Die eerste is dat die teenliggaam-reaksie tot die koronavirusse wat verkoue veroorsaak, skynbaar nie vir baie jare hou nie. Met sommige infeksies soos masels bly jy lewenslank immuun nadat jy dit een keer gehad het. Dieselfde geld vir waterpokkies. In studies oor verkoue het hulle gevind die teenliggaam-reaksie is geneig om te kwyn, maar jy kan dit steeds nie twee keer in dieselfde seisoen kry nie. Dit lyk dus asof ons ’n vermoë het om elke paar jaar seisoenale koronavirusse te kry,” sê hy.

Hy verduidelik baie verskillende virusse kan verkoue veroorsaak. Indien jy egter die soort verkoue kry wat deur 'n koronavirus veroorsaak is, dan sal jy vir 'n paar seisoene gespaar bly van daardie spesifieke soort verkoue. 

Is dié pasiënte regtig weer besmet?

Maar al kan verkoues jaarliks terugkeer, beteken dit beslis nie dat die mense wat binne ’n kort tydperk twee keer positief getoets het vir Ears-CoV-2, noodwendig met ’n nuwe virus besmet is nie.

In hierdie stadium is dit bloot stories sonder enige werklike getuienis van herinfeksie.


Lede van die polisiemag in Bangladesj woon ’n jogaklas by om hul immuunstelsel te versterk tydens die koronaviruspandemie. Foto: Getty

In Suid-Korea is 285 pasiënte byvoorbeeld bestudeer wat negatief getoets is vir die nuwe koronavirus nadat hulle herstel het van die siekte, maar weke of maande later weer ’n positiewe uitslag gekry het.

Die kwelvraag was nou of hulle steeds die virus kon oordra en in isolasie moes bly. Om uit te vind het die wetenskaplikes sowat 800 van hul naastes en familielede getoets. Maar selfs nadat sekere familielede vir ’n eerste keer positief getoets is, kon hulle geen bewyse vind dat die oorspronklike groep pasiënte (dié wat twee keer positief getoets het) weer aangesteek het by hul familie nie.

Die wetenskaplikes het ook probeer om die virus te kweek uit afskeidings van dié oorspronklike groep – en hulle kon nie. Dit was redelik oortuigende getuienis dat herinfeksie inderdaad nie plaasgevind het onder dié groep nie.

Die anekdotes oor herinfeksie kan moontlik verklaar word deur wat in die volksmond bekend staan as “Long Covid”.

Die Suid-Koreaanse sentrum vir siektebeheer het daarna gesê hulle beveel nie meer aan dat mense in hierdie situasie geïsoleer word nie. Hul kontakte hoef ook nie onder kwarantyn te wees nie, maar die gesondheidsowerhede gaan voort om pasiënte te monitor wat twee keer positief getoets het.

Die anekdotes oor herinfeksie kan moontlik verklaar word deur wat in die volksmond bekend staan as “Long Covid”. Dit verwys na pasiënte wat gedink het hulle het herstel, maar wat steeds sukkel met simptome wat terugkom, soos byvoorbeeld tamheid of spierpyn – of diegene wat van die begin af baie siek was en net nie sommige simptome kan afskud nie.

“As jy ’n PKR-toets doen (die standaard genetiese toets wat in laboratoriums ontleed word) sou jy in sommige gevalle nog genetiese materiaal van die virus sien, maar as jy die virus probeer kweek, is dit onmoontlik,” sê prof. Peter. “Dit beteken die genetiese materiaal van die virus kan dalk nog aanhou rondlê in jou lugweë, maar dis baie moeilik om in dié stadium te sê of dit ’n herinfeksie is of die oorspronklike infeksie.”

’n Gesondheidswerker doen ’n deurry-teenliggaam-toets in die Filippyne. Dié soort toetse is nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie. Foto: Getty

Die enigste manier om vir seker te weet is om die genetiese kode van die oorspronklike virus (die eerste infeksie) te vergelyk met dié van die tweede toets om te weet of dit presies dieselfde sondaar is.

“Jy kan só presies vasstel watter stam van die virus dit is. Ons noem dit molekulêre epidemiologie,” sê hy. “Ons gebruik dit om te bepaal hoe verskillende mense besmet geword het met een spesifieke stam en dit behoort vir ons ’n finale antwoord te gee oor of mense regtig weer besmet kan raak.”

En wat as die virus muteer?

Jy sou waarskynlik net ’n tweede keer aansteek as jy skielik met ’n ander stam van die virus swaarde kruis. In dié stadium van die inperking sou dit egter bitter moeilik kon gebeur.

“In Kaapstad sien ons byvoorbeeld nie nou reisigers van ander plekke nie. Die stam waarmee jy weer in aanraking kom, sal waarskynlik dieselfde wees as die eerste een,” sê Peter.

“ ’n Mens sou egter verwag dat selfs as jy met ’n ander mutasie van die virus te doen kry, jy steeds ’n soort aangepaste immuniteit sal hê. En jy sal beslis minder siek wees as die eerste keer. Jy kan wel aansteeklik wees, maar minder as die eerste keer, want jy sal ’n laer viruslading hê.”

Kan joga jou immuunstelsel versterk sodat jy nie Covid-19 opdoen nie? Die afdeling vir diplomatieke sekerheid het hierdie joga-sessies begin vir 1 000 lede van die polisiemag in Dhaka in Bangladesj. Foto: Getty Images

Taljaard vergelyk dit met griep. “Sommige van ons kry elke jaar griep omdat die virus muteer en hy geringe veranderinge ondergaan. Maar hoewel ons griep kry, gaan ons nie almal dood van die griep nie. Dis omdat daar onderliggende vorige blootstelling aan griep was, en al het die virus ’n klein bietjie verander, kry jy dit net vir ’n paar dae lank en dan is jy weer oukei. Die rede hoekom ouer mense doodgaan van griep, is omdat hul immuunstelsel nie meer so sterk is nie.”

Volgens Peter is daar reeds verskillende klades (’n groep organismes wat almal dieselfde “stamvader” het) van Ears-CoV-2 wat nou na vore tree. “Tans is daar weinig verskille, maar hoe langer die virus in die bevolking bly, hoe meer sal hy verander. Ons het dieselfde gesien met die Spaanse Griep. Daar was verskillende vlae van die uitbreking wat aangedryf is deur verskillende mutasies.”

Jy kán die immuunstelsel fnuik

Die groot vraag is natuurlik wat die langtermyn-gevolge kan wees van ’n teenliggaam-reaksie wat dalk beter sou vaar in ’n baan-wedloop as in ’n marathon.

’n Gesondheidswerker hou ’n botteltjie van ’n entstof-kandidaat vas tydens Suid-Afrika se eerste kliniese proewe vir ’n entstof teen Covid-19 in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto. Dié entstof is ontwikkel deur die Universiteit van Oxford se Jenner Instituut. Foto: Felix Dlangamandla

Bellstedt sê selfs al is immuniteit ná ’n natuurlike infeksie nie noodwendig langdurig nie, beteken dit beslis nie dat iets soos ’n DNS-entstof nie langtermyn-immuniteit sal gee nie.

“In hierdie geval is dit nie die koronavirus wat bepaal hoe lank die immuniteit sal duur nie, maar die ontwerp van die entstof, en dit kan heel anders wees as wat gebeur ná ’n natuurlike infeksie.”

Peter vertel selfs in situasies in die verlede waar daar geen natuurlike immuniteit was teen ’n siekte nie, was wetenskaplikes daartoe in staat om dit te omseil en ’n entstof te vind wat langdurige beskerming bied. “Helaas was daar egter ook situasies waar ons gesukkel het om entstowwe te vind vir siektes wat nie langdurige immuniteit het ná ’n natuurlike infeksie nie. . .”

’n Vrywilliger kry ’n inspuiting met ’n potensiële entstof teen Covid-19 by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal tydens die land se eerste kliniese toetse. Foto: Felix Dlangamandla

Hy sê daar is verskeie maniere waarop wetenskaplikes die immuunstelsel kan fnuik sodat die teenliggame langer aktief kan bly.

“Maar dit maak nie saak watter entstof ons uiteindelik gebruik nie, pasiënte se teenliggaampies sal steeds vir minstens ’n jaar lank gemonitor moet word om te sien hoe lank die immuniteit volgehou word en vir hoe lank die entstof beskerming gee. ’n Mens sou hoop jy hoef nie elke paar maande skraag-inspuitings (boosters) te gee nie, want dit sou onprakties wees, maar ’n mens sal moet sien of jy elke jaar een sal moet gee.”

Is kudde-immuniteit ’n koorsdroom?

Die volgende vraag is wat die implikasies kan wees vir kudde-immuniteit.

In enige model van ’n epidemie word die kudde-immuniteit-drempel oorgesteek wanneer genoeg mense immuun is dat die aantal nuwe pasiënte begin minder word. Op dié punt besmet elke mens wat die virus het gemiddeld minder as een ander mens.

Peter sê die doel met kudde-immuniteit sou wees dat daar genoeg mense is wat immuun is dat dit nie ’n eksponensiële styging veroorsaak en die gesondheidstelsel lamlê nie.

’n Grootskaalse studie in Spanje het slegte nuus gebring: Dié studie het bevind net 5% van die bevolking het teenliggame ontwikkel, wat volgens sommige kenners die getuienis versterk dat kudde-immuniteit onhaalbaar is.

Daar was ook soortgelyke studies in Switserland, China en die VSA waar navorsers gevind het die meeste van die bevolking was tot dusver nog nie blootgestel aan die virus nie.

Wat ons ook nie weet nie, is of die ketting van oordrag in ’n dig bewoonde stad soos New York nie reeds tot ’n mate verbreek is weens natuurlike immuniteit nie.

Taljaard is egter nie een van die kudde-immuniteit-doemprofete nie. “My aanname is dat daar darem ’n mate van immuniteit teenwoordig is teen die virus. Al is dit nie volledige immuniteit nie, sal dit wel verder bydra tot minder ernstige siekte en verminderde verspreiding wat steeds ’n rol kan speel met kudde-immuniteit.”

Hy sê in die Spaanse studie is daar waarskynlik nie gekyk na neutraliserende antiliggame nie en het hulle net getoets vir vorige blootstelling aan die virus. In ’n ongepubliseerde studie in Brasilië het navorsers gevind hulle onderskat die aantal infeksies waarskynlik sesvoudig.

Wat ons ook nie weet nie, is of die ketting van oordrag in ’n dig bewoonde stad soos New York nie reeds tot ’n mate verbreek is weens natuurlike immuniteit nie. Dié stad het in April meer as 700 sterftes per dag gerapporteer en nou is dit minder as 20 per dag.

Luidens ’n pas gepubliseerde, grootskaalse studie deur die Amerikaanse Centres for Disease Control and Prevention het meer as 24% van alle deelnemers positief getoets vir teenliggaampies in New York. “Wat jy nie weet nie, is of daar nie dalk ’n verdere 20% van die bevolking is wat ’n aangebore immuunreaksie het teen die virus – of wat weens ’n kruis-reaksie met ander koronavirusse ook weerstand sal hê teen infeksie,” sê Peter.

“Dit kan beteken dat jy immuniteit het binne die stedelike omgewing, wat kan maak dat jy nie weer ’n reuse-piek gaan hê in infeksies nie.”

’n Groep mense staan in ’n lang ry om hul toelae te kry in Khayelitsha tydens vlak 4 van die inperking. Sommige wetenskaplikes wonder of daar nie reeds ’n mate van kudde-immuniteit is nie in dig bewoonde gebiede soos die in Kaapstad, waar dit vir mense baie moeilik is om ’n gesonde afstand te hou. Foto: Felix Dlangamandla

Hy sug. “Maar die probleem is natuurlik dat jy oor ’n jaar ’n nuwe of gemuteerde koronavirus kan hê waarteen niemand regtig immuun is nie, wat ’n tweede uitbreking kan veroorsaak. Maar omdat baie mense reeds in aanraking was met ’n vorm van die virus, sal die volgende uitbreking hopelik nie so erg wees nie.”

In dié stadium het ons nog nie genoegsame immuniteit om te keer dat daar in die toekoms nog massiewe uitbrekings kan wees nie, sê hy.

“As jy ’n openbare gesondheidswerker is, is dit die benadering wat jy moet volg en uit ’n persoonlike oogpunt is dit ook die benadering wat jy moet volg. Maar as jy kyk na ’n stad soos Kaapstad waar dit in verskeie gebiede onmoontlik of onprakties was vir mense om maskers te dra en ’n gesonde afstand te hou, wonder jy tog of daar nie reeds ’n mate van immuniteit is wat oordrag kan verminder nie?”

... verskeie teenliggaam-studies het tot dusver gewys dat die aantal positiewe gevalle wat aangemeld word tussen vyf en 50 keer minder is as die aantal mense wat in werklikheid reeds besmet is.

Hy lag. “Ek is nie seker nie, maar dis moontlik; ’n mens mag hoop; jy mag optimisties wees. Wat die Spaanse en Brasiliaanse studies gewys het, is dat jy verskillende scenario’s kan hê binne ’n 100 km-radius. Jy kan dus ’n stad hê met ’n reuse-uitbreking en ’n baie hoë vlak van seroprevalensie (die aantal mense wat met ’n bloedtoets positief toets vir antiliggame) wat selfs naby kom aan kudde-immuniteit, maar net ’n entjie aan kan jy ’n stad kry wat geen immuniteit het nie.”

Hy sê verskeie teenliggaam-studies het tot dusver gewys dat die aantal positiewe gevalle wat aangemeld word tussen vyf en 50 keer minder is as die aantal mense wat in werklikheid reeds besmet is.

Die probleem met al hierdie vrae (en antwoorde) is dat daar altyd uitsonderings is in die biologie, sê hy. “Dis daarom baie moeilik om stellings te maak wat vir alle gevalle sal geld. Die probleem is ook dat die inligting wat ons het, so vinnig verander. Oor drie of vier maande van nou kan ons ’n totaal ander gesprek hê. Dit is immers wat die wetenskap veronderstel is om te doen – maar dit is van nature moeilik vir die publiek.”

So kan jou immuunstelsel klaarspeel met Covid-19

Die immuunstelsel het twee hoofvertakkings. Die B-selle is die fabriek wat teenliggaampies maak teen byvoorbeeld die laaste stam van die griepvirus wat jy die vorige winter gekry het – en nou ook teen Covid-19. Dié teenliggame bind aan die virus-partikels en merk hulle sodat hulle deur ’n spesiale taakmag vernietig kan word.

Dié B-selle is egter nie “spesiaal” of “slim” genoeg om tot binne-in die selle te dring nie.

Die ander vertakking van die immuunstelsel staan bekend as sellulêre immuniteit of sel-gemedieerde immuniteit wat staatmaak op T-selle wat oorlog voer teen kieme wat al vantevore in hul visier was.

Prof. Dirk Bellstedt verduidelik: “Indien ’n virus soos die nuwe koronavirus die longselle aanval, penetreer dit dié selle en kaap die sel. Pleks daarvan dat die sel voortgaan met sy normale funksies, verander dit die sel in ’n virus-fabriek wat die sel heeltemal uitput. Wanneer al die virus-partikels byeen is binne dié sel, vermoor dit die sel en gaan infekteer hulle dan nuwe selle.

“Wanneer die virus buite die selle is, kan teenliggame die virus herken en bind aan sy partikels en dit aktiveer meganismes om die virus dood te maak, maar hulle kan dit nie binne die selle doen nie. Die immuunstelsel herken die besmette selle dan deur middel van ’n sekere soort T-selle wat omtrent 10 miljoen verskillende virusse of intra-sellulêre organismes (soos TB) kan herken.”

Hy verduidelik die T-selle is soos “bomwerpers wat die selle waarin die virus vervaardig word gaan opblaas”. Enige virus-partikels buite die selle word dan deur die teenliggame geteiken en deur die spesiale magte vernietig.

Op sy beurt is daar weer ander T-selle wat soos die “gehaltebeheer-beamptes” is wat moet seker maak die T-soldate en die B-selle maak nie ’n fout en vernietig die liggaam se gesonde selle nie.

Wanneer jy met die virus besmet word, is dit as’t ware ’n resies tussen die kiem en jou immuunstelsel. “Indien die virus vinniger vermenigvuldig as wat die B-selle teenliggame maak en die T-selle geaktiveer word en vermenigvuldig, dan sterf jy. Indien jou immuunstelsel vinniger is, dan vermoor hy die virus en jy herstel,” sê Bellstedt.

Indien die B-selle en die T-selle die virus suksesvol verslaan het, is dit nie meer nodig vir die liggaam om dié selle te vervaardig nie en verminder hy sy produksie van teenliggaampies – maar nie die fabrieke wat hierdie teenliggaampies vervaardig nie. Volgens Bellstedt bly dié fabrieke, en staan hulle bekend as die geheue-reaksie. Dis soos ’n bloudruk op die immuunstelsel wat weer blitsvinnig troepe uitstuur om te veg teen ’n vyand wat hulle teen hierdie tyd aansienlik beter ken. “Terwyl jy baie siek kan word wanneer jy die eerste keer geïnfekteer word, sal ’n tweede infeksie jou nie naastenby so siek maak soos die eerste nie. Jy kan dak net ’n bietjie ‘af’ voel.

“Na my mening kan dit net in baie seldsame gevalle gebeur dat jy teoreties ’n tweede infeksie kan kry wat net so erg soos die eerste is kort ná die eerste infeksie. Dit sal waarskynlik net gebeur waar die besmette person se immuunstelsel gekompromitteer is soos in die geval van MIV of kanker of sekere seldsame genetiese afwykings,” sê hy.


Meer oor:  Immuunstelsel  |  Herinfeksie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.