Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Diepteverslag: So gaan dit in Sasolburg

Hierdie is die eerste in ’n reeks van artikels wat die omvang van wanbestuur in munisipaliteite in Suid-Afrika blootlê. Die reeks word deur Waarheid Eerste, ’n organisasie sonder winsbejag ten bate van ondersoekende joernalistiek, moontlik gemaak.

Twee forensiese verslae van beweerde korrupsie en bedrog. ’n Munisipale bestuurder wat van “wellustige plundery” beskuldig word en met volle salaris vir twee jaar of meer geskors is. Meer as R21 miljoen wat op ’n sportkompleks bestee is wat nooit gebou is nie.

Dit is die stand van sake in die Metsimaholo-munisipaliteit: die tuiste van Sasolburg, een van die Vrystaat se belangrikste ekonomiese sentra.

In die jongste van verskeie verdoemende bevindings, ’n forensiese verslag wat onlangs met News24 gedeel is, word onthul dat die munisipaliteit ’n maatskappy miljoene rande vir geen opspoorbare werk betaal het.

Die verslag is gedoen in opdrag van ’n vorige waarnemende munisipale bestuurder ná klagtes deur vakbonde en is deur Edge Forensic and Risk Consultants opgestel.

R3,63 m. vir 'instandhoudingsdienste'

Daarin word beweer dat die munisipaliteit R3,63 miljoen betaal het aan Millennium Pumps vir “instandhoudingsdienste” wat nie in die kontrak gespesifiseer is nie. Die munisipaliteit het glo voortgegaan om die maatskappy te betaal selfs nadat die kontrak verstryk het. Daar word verder beweer dat Maria Ramovha, die destydse bestuurder van water en sanitasie, Millennium Pumps opdrag gegee het om bedrieglike fakture in te dien wat met ’n latere kontrak sou ooreenstem om nadere ondersoek deur ouditeure te voorkom.

Ramovha het geen poging aangewend om te seker te maak dat die dienste gelewer is voordat die maatskappy betaal is nie, selfs nie toe die maatskappy skielik sy pryse binne maande met 23% verhoog het nie, is bevind.

“Dit is openlike diefstal op sy beste,” lui die verslag. Ramovha en Theo Philippou, besturende direkteur van Millennium Pumps, wat glo vals fakture van R892 000 ingedien het, het “probeer om soveel geld as moontlik uit die munisipaliteit te tap”.

Dit is openlike diefstal op sy beste.

Die forensiese ouditeur het aanbeveel dat “streng” tugstappe teen Ramovha gedoen word en ’n strafregtelike klag van bedrog aanhangig gemaak word teen haar, Millennium Pumps en ander wat geïmpliseer word.

Pleks van tugstappe is Ramovha twee maande nadat die verslag ingedien is, tot waarnemende bestuurder van die munisipaliteit bevorder. Nadat sy die posisie ’n tyd lank beklee het, het sy ’n ander bestuursrol ingeneem.

Die huidige waarnemende bestuurder, Motsumi Mathe, het aan News24 gesê “’n saak van bedrog is inderdaad teen haar begin en die eenheid vir kommersiële misdrywe in Welkom ondersoek die saak.”

Ten spyte daarvan is Ramovha steeds as bestuurder van tegniese dienste in die munisipaliteit se diens.

Ramovha wou by navraag geen kommentaar lewer nie.

Die verslag beveel verder aan dat die munisipaliteit ’n siviele geding teen Philippou instel om die geld terug te kry wat “op ’n bedrieglike wyse uit die munisipaliteit na hul eie bankrekening opgesuig is.”

Philippou het aanvanklik enige ongerymdheid ontken, maar later gesê hy gaan geen kommentaar lewer nie want dit is “duidelik dat News24 die verslag onwettig bekom het”.

Ek word elke maand betaal. Dit is vir my oneties om net hier te sit en myself te geniet.

Hy het volgehou dat die bewerings in die verslag “lasterlik is en as dit gepubliseer word, sal die goeie naam en reputasie van Millennium skaad. Millennium se regte in hierdie opsig word streng voorbehou.”’

Die opsteller van die verslag, Molefi Ntleru, Edge se direkteur en forensiese praktisyn, sê as Philippou wil dagvaar, is hy “meer as welkom” om dit te doen. “Dit sal hom sekerlik ’n goeie geleentheid gee om die fakture in ’n onafhanklike hof te verduidelik,” het hy gesê.

Ramovha se tydelik aanstelling in die top-pos dui op die voortgesette leierskapskrisis in die munisipaliteit, waar ’n reeks van waarnemende munisipale bestuurders die afgelope twee jaar voorgekom het.

Steven Molala, voormalige bestuurder van Metsimaholo, is sedert 2018 met ’n volle salaris geskors is.

Hy het sy skorsing in die hof betwis, wat tot ’n lang uitgerekte regsgeding gelei het, waarin die munisipaliteit nog ’n aansoek om verlof tot appèl moet bring, wat reeds in Desember toegestaan is.

Die munisipaliteit gaan voort om hom met volle voordele te vergoed, terwyl die proses voortsleep.

“Ek sit en doen niks nie,” sê Molala en voeg by dat hy ywerig op die appèl wag.

“Ek word elke maand betaal. Dit is vir my oneties om net hier te sit en myself te geniet.”

Sportkompleks is 'n heining

Die bewerings in ’n 2018-verslag, wat ook deur Edge Forensics opgestel is, bevat onder meer verskeie bewerings oor onreëlmatige en verkwiste uitgawes. Dit behels onder meer R21,7 miljoen wat skynbaar vir die bou van die Oranjeville-sportkompleks gebruik is, terwyl niks meer as net ’n heining opgerig is nie.

Die geld is in Metsimaholo se 2018-’19-boekjaar as “vrugtelose en verkwiste uitgawes” afgeskryf. Niks is gedoen om die verkwiste miljoene terug te kry nie.

“Die R21,7 miljoen is bestee en die munisipaliteit het geen waarde of produk daarvoor ontvang nie,” het Mathe aan News24 toegegee.

Kimi Makwetu, ouditeur-generaal (OG), het in die jongste munisipale oudit-verslae benadruk dat daar “geen verdere pogings was om die belastingbetalers se geld van die verantwoordelike amptenare terug te kry nie”.

Volgens hom dui dit op die gebrek aan aanspreeklikheid in Metsimaholo.

Hy het ook daarop gewys dat ’n interne ondersoek in die munisipaliteit verskeie swakplekke in die beheermeganismes aan die lig gebring het. Aanbevelings is gemaak oor hoe om dit op te skerp en te verbeter.

Maar die bestuur het nie enige van die aanbevelings geïmplementeer nie.

“Die interne oudit-eenheid se salarisse beloop R2 miljoen en die munisipaliteit het geen voordeel daaruit getrek nie, omdat die bestuur nie die aanbevelings geïmplementeer het nie,” het Makwetu gesê.

Die OG het bevind dat die voorkoms van nie-aanspreeklikheid soos in vorige oudit-verslae voortduur.

Gebrek aan leierskap

Hoewel gevalle van ongemagtigde en onreëlmatige uitgawes, vrugtelose en verkwiste uitgawes in 2017-’18 ontdek is, “is nie een daarvan ondersoek om vas te stel of iemand aanspreeklik daarvoor is nie” – al word dit deur die wet vereis, het hy gesê.

Dan is daar die kwessie van die armlastige register. Die OG het “verskeie mense op die munisipale armlastige register gevind wat nie kwalifiseer nie. Dit sluit in regeringsamptenare en individue wat met die regering sake doen,” het Makwetu gesê.

“Ons het die bevinding vorige jare aangemeld en die leierskap van die munisipaliteit het niks daaraan gedoen nie.”

Die afgelope drie jaar is daar ’n ongemaklike koalisie tussen die ANC, die SAKP en drie kleiner plaaslike partye wat in beheer van die munisipaliteit is.

Binne-gevegte tussen die leierskapsfaksies het uiteindelik tot die algehele afbreek van besluitneming gelei.

“Die raadsvergaderings is belê, maar die sake is nooit afgehandel nie … Verskeie raadsvergaderings is gehou, maar gelos en die sake-aangeleenthede is nooit afgehandel nie,” het Mokete Duma, hoof van die departement van samewerkende en tradisionele sake (Cogta) in die Vrystaat, op ’n inligtingsessie aan die lede van die uitvoerende raad verduidelik.

Die probleme in die munisipaliteit is polities van aard.

Dit veroorsaak ’n leemte in die leierskap. Al die senior poste wat aan die bestuurder moet rapporteer, waaronder dié van hoof finansiële beampte en die direkteur van maatskaplike dienste, is sedert November 2017 vakant. Waarnemende munisipale bestuurders is deur die middel-bestuur aangestel, iets wat van die wetgewing en die munisipale beleid ’n bespotting maak, het Thembeni Nxangisa, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, op die sessie gesê.

As gevolg hiervan en die finansiële, bestuurs- en diensleweringsprobleme is die munisipaliteit in Februarie deur die Cogta onder administrasie geplaas.

Maar die ingryping is deur ontwrigting en teenstand deur verskeie lede van die raad begroet, met die munisipaliteit uiteindelik hof toe is “om die raadslede te laat weet dat hy sy reg gebruik om die munisipaliteit te ondersteun” en dat die verwerping van die prosesse neerkom op ’n element van die minagting van die Grondwet, het Duma gesê.

Ondanks die ontwrigting deur sommige raadslede is verskeie stappe gedoen en nog word in die vooruitsig gestel, het Mathe gesê.

Al vyf vakante poste is nou gevul en permanente aanstellings sal in die volgende drie maande gedoen word, het hy gesê.

Die munisipaliteit het R600 000 aan advertensies vir die poste spandeer, blyk uit die inligtingsessie.

Mathe het ook gesê dat die verskeie forensiese verslae op die volgende raadsvergadering ter tafel gelê gaan word en dat aanbevelings gedoen sal word oor hoe om oor die verkwiste R21,7 miljoen op te tree.

Boonop is die munisipaliteit besig om alle data van armlastiges by te werk en te verifieer.

Sommige raadslede meen die enigste manier hoe die munisipaliteit behoorlik gaan funksioneer, is om van die top-leierskap ontslae te raak. ’n Faksie in haar eie party het onlangs ’n mosie van wantroue teen die burgemeester, Lindiwe Shongwe, ingestel.

Thabo Mabasa, speaker van die munisipaliteit, het egter aangevoer dat die regte prosedure vir die mosie is nie gevolg is nie.

Daar is ook gerugte dat die DA in die proses is om ’n mosie van wantroue teen Mabasa te bring.

Hy het aan News24 gesê hy weet niks daarvan nie.

“Die probleme in die munisipaliteit is polities van aard,” het Thulani Mbana, woordvoerder van die DA in Metsimaholo, gesê.

“As jy kyk na die speaker en burgemeester se gedrag, tree hulle meer op vir politieke gewin as om die mense te dien. Ek dink regtig dat ’n politieke benadering die beste sal wees en dit is om die burgemeester te verwyder.”

• Die ondersoek is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Waarheid Eerste.

waarheid eerste
Meer oor:  Waarheid Eerste  |  Sasolburg  |  Welkom  |  Munisipaliteit  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.