Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Dit sous miljoene vir pêl van ANC

Die Ekurhuleni-metroraad probeer vure doodslaan nadat senior ANC-amptenare by beweerde korrupte tenders van honderdmiljoene rande betrek is.

Thulani Majola (tweede van regs) van LTE Consulting by Mzwandile Masina (vierde van regs) se 45ste verjaardagpartytjie in 2019. Ook op die foto is Julius Malema (derde van regs), Mbuyiseni Ndlozi (heel regs), Mduduzi Manana (vierde van links) en Tony Yengeni (tweede van links).

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ondersoek onder meer onregmatige betalings van etlike miljoene aan ’n maatskappy waarvan Pule Mabe, ANC-woordvoerder, destyds ’n direkteur en sy neef die bestuurder was, asook tenders van R345 miljoen wat die Ekurhuleni-metro toegeken het aan ’n sakeman wat ook ’n groot skenker was aan die ANC en die EFF.

Dié nes van beweerde bedrog is die afgelope week aan die lig gebring deur ondersoekende joernaliste van amaBhungane. Talle van die politici wat betrek word, is lede van die ANC se groepering vir “radikale ekonomiese transformasie” (RET) en sê die ondersoek is deel van ’n heksejag in die ANC.

Dit sluit in Mzwandile Masina, burgemeester van Ekurhuleni, en Lebogang Maile, Gautengse LUR vir samewerkende regering. Maile was in 2017 die LUR vir landbou toe sy departement ’n voorafbetaling van R16,5 miljoen gemaak het aan Enviro Mobi vir die lewering van 200 driewielmotorfietsies binne dae nadat die kontrak aan Enviro toegeken is.

Die fietsies, wat “kariki’s” gedoop is, sou deur rommelinsamelaars gebruik word, maar is ’n jaar later nog nie gelewer nie.

Die firma is geregistreer in Malema se naam.

Rapport verneem die SOE probeer vasstel waarom die Gautengse departement van landbou reeds binne dae nadat die kontrak toegestaan is 65% van die totale kontrakwaarde van R27 miljoen aan Enviro Mobi betaal het. Die departement het boonop in Oktober 2018 nóg ’n kontrak vir ’n verdere 70 kariki’s aan Enviro Mobi toegeken, al het die maatskappy steeds nie aan die bepalings van die eerste kontrak voldoen nie.

Mabe, wat beweer hy het in 2014 as direkteur van Enviro Mobi bedank, het in 2016 nog in die parlement verklaar hy is steeds ’n direkteur, en The Citizen het in 2019 ’n onderhoud met Mabe gepubliseer waarin hy sê hy hou steeds die patentreg op die fietse.

Enviro Mobi word sedert 2014 bestuur deur Eulender Rakoma, Mabe se neef.

Die 2018-tender van R7,8 miljoen aan Enviro Mobi is kleingeld teenoor die kontrakte van R345 miljoen wat Ekurhuleni sedert 2016 toegeken het aan die sakeman met politieke bande Thulani Majola se LTE Consulting.

Majola het bande met die ANC en EFF.

In 2019 het hy verskyn op ’n groepfoto wat geneem is by ’n partytjie vir Masina se 45ste verjaardag saam met Julius Malema (EFF-leier), Mbuyiseni Ndlozi (EFF-LP), Tony Yengeni (lid van die ANC se NUK) en Mduduzi Manana (voormalige adjunkminister van hoër onderwys).

Dokumente wat verkry is deur amaBhungane met ’n aansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) wys dat die Ekurhuleni-munisipaliteit tussen Augustus 2016 en Desember 2020 151 betalings aan LTE Consulting gemaak het.

Die betalings het begin kort nadat Masina burgemeester geword het.

Die ondersoek wys dat baie van hierdie tenders aan LTE Consulting toegeken is enkele dae nadat LTE Consulting honderdduisende rande aan die ANC in Gauteng en spesifiek die Ekurhuleni-tak, waarvan Masina voorsitter is, geskenk het.

Op 15 Julie 2016 het die Ekurhuleni-munisipaliteit ’n kontrak van R81 miljoen vir omgewingskonsultante geadverteer. Die geldkrane by LTE is dadelik oopgedraai. Op 18 Julie het LTE Consulting R2 miljoen aan die Gautengse ANC geskenk en op 20 Julie nog R500 000 aan die ANC se Ekurhuleni-tak.

Die tender is op 25 Julie aan LTE toegeken en die eerste betalings aan LTE kragtens die kontrak het gevolg op 18 Augustus, vyf dae voordat Masina op 23 Augustus as uitvoerende burgemeester ingehuldig is.

Hoewel die kontrakwaarde aanvanklik R81 miljoen was, is LTE Consulting uiteindelik R161 miljoen betaal.

amaBhungane het ook afgekom op ’n skenking deur LTE van R1 miljoen aan die ANC in KwaZulu-Natal kort voordat die maatskappy R100 miljoen se kontrakte losgeslaan het by die KwaZulu-Natalse departement van samewerkende regering.

Die SOE ondersoek ook skenkings van R3 miljoen wat LTE Consulting sedert 2013 aan die EFF gemaak het deur middel van ’n frontmaatskappy genaamd Santaclara Trading, wat geregistreer is in Malema se naam.

Kort ná hierdie skenkings het die EFF verklarings ter ondersteuning van LTE Consulting uitgereik nadat die maatskappy se kontrak vir die Giyani-grootmaatwaterprojek in Limpopo gestaak is. Die regering kon dit nie betaal nie.

’n Ekurhuleni-woordvoerder het ontken dat Masina en Majola vriende is, al is die twee saam afgeneem by Masina se partytjie.

“Mnr. Majola het nie ’n persoonlike uitnodiging na die uitvoerende burgemeester se 45ste verjaardag ontvang nie. Die burgemeester is ’n bekende openbare figuur en sy verjaardag het baie gaste gelok. Daar is ’n verskil tussen ’n individu ken en ’n persoonlike verhouding met die persoon,” sê die woordvoerder.

Die metroraad ontken ook dat Majola se skenkings enige invloed op die toekenning van tenders gehad het.

LTE Consulting het nie op navrae reageer nie.

Mabe wou nie kommentaar lewer op die SOE-ondersoek nie, maar Rapport verneem daar heers ongelukkigheid in die RET-faksie in Gauteng wat meen hy word deur die SOE en ander wetstoepassingsinstellings “geteiken”. Masina en Maile beplan glo om David Makhura, premier van Gauteng, volgende jaar uit te daag om die leierskap van die Gautengse ANC.

Sou enige van hierdie ondersoeke uitloop op klagte deur die Nasionale Vervolgingsgesag sal die betrokkenes ook opsy moet staan, soos die ANC se grondwet bepaal.

“Hulle gaan nou slagoffer speel met hierdie ondersoeke, maar dis maar net die wiel van geregtigheid wat draai,” beweer een bron.

Meer oor:  Pule Mabe  |  Lebogang Maile  |  Mzwandile Masina  |  Ekurhuleni-Metro  |  Amabhungane  |  Tenders  |  Korrupsie  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.