Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
EKSKLUSIEF: Jurie Roux – nog ’n bom
Jurie Roux. Foto: BackpagePix

Suid-Afrika se beleërde rugbybaas, Jurie Roux, het glo beurse van honderdduisende rande toegeken aan Matie-rugbyspelers wat bestuur is deur 'n sportagentskap waarvan hy 'n direkteur was.

Dít terwyl hy gewerk het as senior direkteur: finansies by die Universiteit Stellenbosch (US).

Spelers wat voordeel uit dié "sparries" – soos Roux na US-reserwes verwys – getrek het, sluit in Springbokke soos Juan de Jongh, Peter Grant en Lourens Adriaanse.

Netwerk24 kan onthul dat die ouditeursfirma KPMG in 'n aanvullende forensiese verslag vir die US bevind het Roux en Chris de Beer, sy sakevennoot in Stellar Africa Rugby en voormalige adjunkdirekteur vir studentegelde by die US, het 'n "duidelike belangekonflik" gehad.

Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), is ook die voormalige voorsitter van die Maties-rugbyklub. Saru se uitvoerende komitee vergader Vrydag om 10:00 om die aantygings teen Roux te bespreek.

Dit is die eerste keer dat daar beweer word Roux het persoonlik baat gevind by die "manipulering" van die US se finansiële stelsels om tussen 2002 en 2010 sowat R35 miljoen se reserwes na die Maties-rugbyklub te skuif.

KPMG het bevind:

  • Roux was persoonlik betrokke by die toekenning van 19 beurse ter waarde van R706 758 aan spelers wat ook kliënte was van Stellar Africa Rugby, die sportagentskap waarvan hy ’n direkteur was. Stellar was geregtig op kommissie op sy kliënte se beurse. Daar is altesaam R1,9 miljoen se beurse aan Stellar-spelers toegeken;
  • Roux en sy kollega Helette Pieterse het die universiteit se riglyne verbreek deur goedere soos klere, sambrele en waterbottels vir die rugbyklub direk van 'n verskaffer te bestel. Roux het namens dié verskaffer, wat in een jaar meer as R1,3 miljoen se goedere aan Maties verskaf het, opgetree deur 'n verwysingsbrief aan die bank te skryf, en
  • Roux en Pieterse was nou betrokke by die oprigting van die Varsitybeker-reeks en het meer as R3 miljoen se universiteitsgelde hiervoor gebruik. Roux was 'n direkteur van Varsity Cup Club (VCC) en kon 'n belangekonflik gehad het. KPMG kon nie 'n formele ooreenkoms tussen die US en VCC vind nie en sê die universiteit moet vasstel of daar wel een was.
Peter Grant. Foto: Christiaan Kotzé

Die aanvullende ondersoek deur KPMG het gevolg op 'n memorandum van Prieur du Plessis, die beleggingsbestuurder en US-raadslid wat inligting van 'n "vertroulike bron" ontvang het. Du Plessis is die voorsitter van die US-raad se oudit- en risikokomitee.

Die bedrywighede van Stellar Africa Rugby is sentraal tot die bewerings van 'n belangekonflik teen Roux en De Beer.

De Beer het 'n spelersagentskap, Tight 5 Sports Management, bedryf terwyl hy by die US gewerk het. In 2006 is Stellar Africa Rugby gestig nadat die Britse sportagentskap Stellar ’n aandeel gekoop het deur hul Suid-Afrikaanse vennoot.

Op 6 Oktober 2006 is Roux en De Beer aangestel as direkteure van Stellar Africa Rugby. Die firma het 121 atlete as kliënte gehad, waarvan 40 by Maties gestudeer het.

Op Stellar se webwerf word onderneem: "Alle Stellar junior kliënte sal beurse ontvang om universiteit by te woon en ons sal verseker dat die speler aanhou studeer en uiteindelik 'n tweede opsie het as sy sportloopbaan tot 'n einde kom".

KPMG het die woord "alle" onderstreep.

Roux en De Beer was terselfdertyd verantwoordelik vir die toekenning van universiteitsbeurse.

KPMG het op Roux se rekenaar 'n ongetekende Stellar-ooreenkoms gevind wat Stellar se inkomstestruktuur uiteensit. Die maatskappy verdien kommissie op al sy kliënte se inkomste.

"Ingevolge dié ooreenkoms en 'n getekende ooreenkoms wat op De Beer se rekenaar gevind is, sou Stellar dus daarop geregtig wees om kommissie te verdien op die geld wat spelers verdien het (van Maties-rugbyklub) én kommissie op bedrae wat ontvang is as borgskappe (beurse) van die US as Stellar dit vasgemaak het."

Manie Lombard, die US se hoofdirekteur: finansies, het aan KPMG bevestig Roux het nie sy belang in Stellar by die universiteit verklaar nie. De Beer se belang was bekend, maar is nooit formeel verklaar of as 'n belangekonflik geopper nie.

KPMG kon nie vasstel hoeveel geld deur Roux, De Beer of Stellar verdien is in hierdie tydperk nie en beveel aan dat die universiteit die polisie versoek om dagvaardings uit te reik om hul bankstate te trek.

Roux se prokureur reageer

Frikkie Erasmus, Roux se regsverteenwoordiger, het só gereageer op Netwerk24 se vrae:

"Die vrae wat gestel word, is totaal irrelevant en ’n deursigtige poging om Jurie verder te diskrediteer. Dit is baie duidelik dat daar gepoog word om hom te betrek by aangeleenthede waarby hy hoegenaamd nie betrokke is nie of aangeleenthede waar sy betrokkenheid geensins onreëlmatig is nie. Die aangeleenthede waarop jou vrae gegrond is, spruit grotendeels uit die KPMG-verslag en is dus sub judice. Vir redes tevore vermeld, word die vrae gevolglik nie beantwoord nie. Al die aangeleenthede sal wel mettertyd in die US se saak teen Jurie en Chris de Beer hanteer word en aan die hof oorgelaat word om daaromtrent 'n oordeel te fel. Jurie en Chris is angstig dat die saak so spoedig moontlik aangehoor word sodat die ware feite openbaar kan word. Ongelukkig word die saak egter reeds etlike maande deur die universiteit vertraag. Ek bevestig dat die vrae wat aan Chris de Beer gestuur is, vir dieselfde redes nie beantwoord word nie."

Roux en De Beer het vir dié Maties beurse gegee. Hulle moes ’n deel daarvan terugbetaal aan Stellar Africa Rugby, wat Roux en De Beer bestuur het.

Lourens Adriaanse. Foto: Gallo Images

Jean Jacques Rossouw

Rossouw, 'n voorryman en voormalige leerling aan die Paarl Gimnasium, het aan Netwerk24 bevestig dat hy 'n kliënt van Roux en De Beer was.

Rossouw het tot onlangs vir Durbanville-Bellville-rugbyklub gespeel, maar het onlangs uitgetree.

"Ek was ’n kliënt maar was glad nie daarvan bewus dat Jurie ook by Stellar betrokke was nie," het Rossouw gesê.

"Ek was vir so vier jaar verbonde aan Stellar. Die rugbywêreld is maar anderste. Chris het later te veel hooi op sy vurk gehad en ek het nie meer baie aandag by hom of Stellar gekry nie."

Rossouw was nie bewus daarvan dat hy geld by die Universiteit Stellenbosch gekry het nie. "Ek het wedstrydgelde gekry. Dit was tydens die Varsitybeker sowat

R1 000 per wedstryd, en tydens die klubliga baie minder."

JC Kritzinger

Hy het vinnig na 'n ander agentskap geskuif. Kritzinger, ’n stut, het vir Maties en junior spanne van die Westelike Provinsie gespeel. "Ek was seker omtrent net 'n jaar 'n kliënt voordat ek na 'n ander agent is. Ek het eintlik niks voordele gekry nie, dis hoekom ek na ’n ander agent is."

Kritzinger was ook nie daarvan bewus dat Roux belange by Stellar het nie. "Ek het nie eens geweet Jurie was betrokke by Stellar nie, ek het net gedink ek teken by Chris."

Kritzinger het gesê hy is nie bewus van enige finansiële voordeel wat hy uit sy verbintenis met Stellar gekry het nie.

Cameron Peverett

Peverett, 'n losvoorspeler en voormalige leerling aan die Paul Roos Gimnasium, het bevestig dat hy ’n kliënt van Stellar was. Peverett het vir Maties en later die Universiteit van Johannesburg uitgedraf. "Ja ek was vir sowat vier jaar ’n kliënt van Chris," het Peverett gesê. Hy was ook nie bewus van enige voordeel wat hy by die US vanuit sy verbintenis met Stellar gekry het nie. "Wat my betref het die agente wins uit my gemaak, nie andersom nie." Volgens Peverett het hy later van agentskap verander omdat hy "hoegenaamd nie" tevrede met De Beer se vertoning as agent was nie.

Ernst Joubert

Losvoorspeler en voormalige leerling aan die Paul Roos Gimnasium, het bevestig dat hy 'n kliënt van Stellar was.

Joubert het vir Maties, die Universiteit van Johannesburg, Boland, Leeus en Saracens in Engeland gespeel. "Ek was voor my skuif Engeland toe 'n kliënt van Stellar. Ek is nie bewus van geld wat ek in my sak gekry het nie, maar ek het seker hier en daar afslag gekry," het Joubert gesê.

Volgens Joubert het hy nie 'n beurs by die Universiteit Stellenbosch gekry nie. "Ek het iets gekry wat ek gedink het ’n beurs was, maar wat ek later aan die universiteit moes terugbetaal."

Juan de Jongh. Foto: Jaco Marais

Juan de Jongh

Rayaan Adriaanse, die Blitsbokke se woordvoerder, het alle navrae rakende De Jongh se verbintenis met Stellar na Frikkie Erasmus, Roux se prokureur, verwys. De Jongh, ’n senter vir die Stormers, Westelike Provinsie, Springbokke en Blitsbokke, is tans in Sydney, Australië, saam met die nasionale sewesrugbyspan. Volgens KPMG se verslag het De Jongh deur sy verbintenis met Stellar gebaat by die Universiteit Stellenbosch. Erasmus het nie op die navrae reageer nie.

Joe Pietersen en Lourens Adriaanse het ook nie op Netwerk24 se vrae reageer nie. Albei spelers is tans saam met die Sharks in Frankryk. Peter Grant het op regsadvies besluit om nie kommentaar te lewer nie. – George Germishuys

Saru weier om te antwoord

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se uitvoerende komitee vergader Vrydag om 10:00 om oor Jurie Roux, uitvoerende hoof, se toekoms te besin.

Saru het presies 'n week gelede 'n verklaring uitgereik waarin hy sê:

  • Daar was ten tyde van Roux se aanstelling in 2010 geen aanduiding van 'n ondersoek na hom nie;
  • Die aanstellingsproses is volledig deur 'n werwingsagentskap behartig; en
  • Dat Saru nie 'n onderhoud met Roux gevoer het nie.

Roux is in Augustus 2014 heraangestel. KPMG se aanvanklike verslag is in Augustus 2013 voltooi. Sedert die verklaring het Saru geweier om dié vrae te beantwoord:

  • Watter proses het Saru in 2013, 2014 en 2015 gevolg om die bewerings teen Roux te ondersoek?
  • Waarom het Saru sedert Augustus 2013 nog nie opgetree nie?


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.