Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
ONTHUL: Omvang van Guptas se plundering by Vrede

Netwerk24 kan eksklusief die omvang van die Guptas se plundering in die Vrede-suiwelskandaal in die Vrystaat onthul.

’n Staat van die Vrystaatse regering wat bekom is, wys altesaam R334 202 652 is in minder as twee jaar van Julie 2014 tot April 2016 aan die Indiese maatskappy Estina oorbetaal.

Estina is die Guptas se maatskappy wat by die Vrede-bedrogspul betrokke was. Die state wys dat die Guptas se betrokkenheid by die Vrede-skema veel groter is as wat tot dusver bekend was.

Ajay en Atul Gupta. Foto: Gallo Images

Bankstate van Estina wys dat die Vrystaatse departement van landbou die honderde miljoene in bedrae van tot R50 miljoen oorbetaal het.

Die bankstate is van Estina se rekening met die nommer 310864860 by Standard Bank se Bedford Gardens-tak in Bedfordview, Johannesburg.

Estina moes die Vrede-suiwelplaas namens die Vrystaatse departement van landbou bestuur. Hoewel Estina self netsoveel geld moes terugploeg in die skema, wys die state dat dit nie gebeur het nie.

Die geld is feitlik dadelik in die maatskappy se rekening by die Bank of Baroda in Indië oorbetaal. Dit word deur die bronne as “ ’n plundering van staatsbates deur die Guptas en politici” bestempel en ’n bewys dat dit niks anders as staatskaping was nie.

Reusebedrae van tot R4 miljoen op ’n slag is ook aan Kamal Vasram, uitvoerende hoof van Estina, uitbetaal. Daarteenoor is relatief klein bedrae aan die plaas self bestee, soos vir voer. Dit terwyl veeartsverslae in Netwerk24 se besit wys hoe die melkkoeie en kalwers gereeld gevrek het.

Die staat van die Vrystaatse departement van landbou wys dat R334?202?652 in net twee jaar van Julie 2014 tot April 2016 aan die maatskappy Estina van die Guptas oorbetaal is. Foto: Verskaf

Op een dag is R5 miljoen aan die Bank of Baroda oorbetaal, maar bedrae van R14 437,26, R8 744,35 en R4 583,25 aan die landboumaatskappy VKB vir voer.

Theresa Rothman, wat vir die maatskappy gewerk het, het byvoorbeeld ’n salaris van net R4 000 gekry.

Estina het homself in 2015 gelikwideer, ondanks die feit dat honderde miljoene rande se belastingbetalersgeld aan hom oorbetaal is.

Intussen het die melkbeeste begin vrek en betaal die Vrystaatse regering steeds sowat R1 miljoen per maand om die plaas aan die gang te hou.

Die bankstate wys duidelik wat kundiges nog altyd sê: dat die suiwelplaas bloot ’n dop was waarheen geld na Indië oorbetaal kon word.

Bronne op hoogte van die bedrogspul sê die geld is aan die Guptas oorbetaal om ook in geheime rekenings van hooggeplaastes in Indië en elders, soos Dubai, oor te betaal.

Die Suid-Afrikaanse politici kry dan ook kredietkaarte in Suid-Afrika waarop tot R20 miljoen is om hier te gebruik. Die geld kan egter dan nie via Indië regstreeks met mense in Suid-Afrika verbind word nie.

Die geld is met SLA’s (service level agreement) oorbetaal, wat onwettig is.

Bronne sê dié uitbetalings is op die hoogste vlak goedgekeur.

Kamal is een van die sogenaamde Estina-agt wat verlede jaar in die hooggeregshof in Bloemfontein verskyn het op aanklagte van korrupsie en geldwassery. Die aanklagte is egter op 4 Desember teen hulle teruggetrek.

’n Bladsy van ’n bankstaat van die Guptas se maatskappy Estina wat wys hoe reuse-bedrae van tot R50?miljoen deur die Vrystaatse departement van landbou oorbetaal is. Groot bedrae is dan dadelik aan die Bank of Baroda in Indië oorbetaal met relatief klein bedrae wat vir die Vrede-suiwelplaas moes gaan, wat Estina namens die Vrystaatse regering moes bestuur. Foto: Verskaf

Phaladi Shuping, NVG-woordvoerder in Bloemfontein, het toe gesê die besluit is geneem nadat die NVG nie inligting ontvang het wat dit van die owerhede in Indië en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) versoek het nie. Dit het daartoe gelei dat die ondersoeke nie gefinaliseer kon word nie.

Die beskuldiges in die saak was Varun Gupta, ’n voormalige direkteur van Oakbay en neef van die omstrede Gupta-broers, Vasram, Ashu Chalwa en Nazeem Howa, albei direkteure van Oakbay, Ronica Ragavan, ’n direkteur van Tegeta Resources, asook drie amptenare van die Vrystaatse departement van landbou, Peter Thabethe, voormalige departementshoof, Seipati Dlamini, voormalige finansiële hoof, en Takisi Masiteng, ’n hoofdirekteur in die departement.

Luidens die klagstaat was die suiwelprojek van R250 miljoen by Vrede in die Vrystaat ’n vennootskap tussen ’n private maatskappy en die regering, te wete die Estina-maatskappy en die Vrystaatse departement van landbou. Die doel was om swart boere te bevoordeel.

Volgens die bankstate is geen geld aan swart begunstigdes betaal nie.

Meer oor:  Guptas  |  Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.