Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
EKSKLUSIEF: Verslag oor Bird-eiland uitgelek
'n Ondersoek is begin ná bewerings van 'n pedofiel-netwerk waarby oudministers glo betrokke sou wees in die boek Die Seuns van Bird Island.

’n Private ondersoeker kon geen bewyse vind dat genl. Magnus Malan en Barend du Plessis (79) betrokke was by seksorgies met jong seuns nie.

Wouter de Swardt, ’n private ondersoeker met 46 jaar ondervinding en tans hoof van Fox Forensics in Durbanville, is in Augustus verlede jaar saam met dr. David Klatzow, ’n forensiese wetenskaplike van Kaapstad, deur die Menseregtestigting opdrag gegee om die dood van Mark Minnie, een van die skrywers van die boek, te ondersoek. Die stigting het Klatzow en De Swardt vir die ondersoek betaal.

Mark Minnie, medeskrywer van Die seuns van Bird Island. Foto: Lulama Zenzile

Minnie is op 13 Augustus dood aangetref op die plaas Theescombe in die distrik Port Elizabeth. Hy het ’n skietwond in die kop gehad en daar was ’n vuurwapen langs hom.

De Swardt sê hy het in opdrag van die stigting in Port Elizabeth agtergebly om die bewerings van ’n pedofielring in die 1980’s in die omgewing te ondersoek.

Chris Steyn, medeskrywer van Die seuns van Bird Island. Foto: Jaco Marais

Chris Steyn (59), medeskrywer van die boek, het by navraag gesê sy was ook in daardie tyd in Port Elizabeth in haar hoedanigheid as medeskrywer “om met mense naby aan Minnie te praat en te probeer vasstel wat die omstandighede rondom sy dood is”.

“Ek was aanvanklik bereid om my volle samewerking aan Klatzow en Wouter te gee, maar hul betrokkenheid by die ondersoek is gestaak om redes waarop net die stigting kan kommentaar lewer.”

In die boek word beweer dat Malan, ’n oudminister van verdediging en hoof van die weermag, John Wiley, destydse minister van omgewingsake, asook ’n “derde minister” wat in die media as Du Plessis geïdentifiseer is, seksmisdrywe met jong seuns gepleeg het tydens “visvanguitstappies” op Bird-eiland, digby die kus van Port Elizabeth.

Die ministers word betrek by die beweerde sekskapades van Dave Allen, ’n skatryk sakeman en polisiereservis van Port Elizabeth. Wiley en Allen het hulself in 1987 kort ná mekaar om die lewe gebring.

Allen het homself geskiet voordat hy in die hof sou kon verskyn in verband met klagte van ’n seksuele aard. Minnie het hom destyds in hegtenis geneem en op waarskuwing vrygelaat.

“Daar is geen twyfel nie dat daar inderdaad ’n pedofielring in die gebied (Port Elizabeth) bedryf is, met Dave Allen as die ringleier. Maar daar is geen bewyse dat die politici wat in die boek genoem en geïnsinueer word, behalwe Wiley, betrokke was by die pedofielring wat in die 1980’s in Port Elizabeth bedryf is nie,” skryf De Swardt in sy een ondersoekverslag. De Swardt het twee verslae geskryf – een wat uit ses bladsye bestaan, en ’n korter verslag van twee bladsye.

De Swardt het ook gesê daar bestaan geen konkrete bewyse wat Wiley by pedofilie betrek nie. Sy gevolgtrekking in die verslag oor Wiley spruit uit sy ondersoek in Port Elizabeth, onder meer uit gesprekke met ’n persoon wat as “William Hart” in die boek bekend staan. “Hart” se regte identiteit word op regsadvies weerhou.

In die dae voor sy dood was hy bekommerd oor mense wat op soek was na hom. Die moontlikheid dat iemand gedreig het om ’n persoon na aan Mark leed aan te doen en vir hom ’n spertyd gegee het om sy lewe te neem, kan nie uitgesluit word nie
Chris Steyn

De Swardt kon ook geen bewyse vind vir Steyn se oortuiging dat ’n “derde mag” of “derde party” vir die dood van Minnie verantwoordelik is nie. Volgens sy ondersoek het Minnie homself om die lewe gebring.

“Vir 46 jaar werk ek nou al agter die skerms as ondersoeker omdat ek nie van die kollig hou nie, maar ek voel so sterk oor dié saak dat ek bereid is om op die rekord en onder my naam met jou te praat,” het De Swardt gesê toe Netwerk24 hom nader om die egtheid van die verslae te bepaal.

Hieroor sê Steyn: “Die Menseregtestigting het ’n forensiese kenner aangestel om Minnie se lyk te ondersoek om die omstandighede van sy dood te bepaal. Volgens die stigting was die bevindings van die forensiese kenner onbeslis (“inconclusive”).”

Steyn sê sy is bereid om ’n amptelike bevinding van selfdood te aanvaar, “maar ek glo daar is ’n moontlikheid dat hy dit onder dwang gedoen het”.

“In die dae voor sy dood was hy bekommerd oor mense wat op soek was na hom. Die moontlikheid dat iemand gedreig het om ’n persoon na aan Mark leed aan te doen en vir hom ’n spertyd gegee het om sy lewe te neem, kan nie uitgesluit word nie,” sê Steyn.

Lees die verslae hier (Dele van die verslae is op regsadvies gesensor).

Netwerk24 het dit vertaal:

Die seuns van Bird Island het opslae gemaak en nuushoofopskrifte gehaal toe dit op 5 Augustus verlede jaar verskyn het. Minnie, ’n oudpolisieman, is enkele dae voor die bekendstelling van sy boek dood.

Die omslag van die boek.

Steyn is ’n joernalis wat voorheen vir die Rand Daily Mail, The Star en die Cape Times gewerk het. Sy was redakteur van die ondersoekende joernalistiekspan van 16 koerante in die Independent Newspapers-groep.

Malan en Wiley word in die boek by name genoem, terwyl “’n derde minister se naam op grond van regsadvies weerhou word”. Daar is egter soveel identifiseerbare inligting in die boek dat Du Plessis “binne enkele dae (ná die verskyning) digby 200 reaksies” gekry het van mense wat hom herken het, het hy aan Netwerk24 gesê.

Prokureurs en advokate het De Swardt op 7 September by die kantore van Cliffe Dekker Hofmeyr in Johannesburg namens die stigting oor sy bevindings ondervra.

Hy het sy volledige verslag op 19 September aan die stigting gestuur.

Sy mandaat is toe beëindig. Die stigting het volgens De Swardt die verslag aan die polisie oorhandig. Die polisie wou egter nie aan Netwerk24 bevestig dat hulle die verslag ontvang het nie.

Genl.maj. Jeremy Veary, Wes-Kaapse speurhoof, het by navraag gesê die polisie kan nie kommentaar lewer op ’n ondersoek wat nog aan die gang is nie. Op ’n vraag of daar vordering is met “die ondersoek”, het Veary instemmend geantwoord, maar benadruk die media moet versigtig wees om onmiddellik afleidings te maak oor wat ondersoek word en wat die ondersoek behels.

bird island
Volgens die boek Die seuns van Bird Island was die oudminister van verdediging, Magnus Malan, deel van ’n groep bekende en magtige mans wat weerlose seuns met weermaghelikopters na die eiland naby die kus van Port Elizabeth geneem het. Foto: Argief

“Ons ondersoek sake gegrond op aantygings deur ’n persoon of persone wat na vore gekom het. Ons werk totaal onafhanklik. ’n Boek deur ’n joernalis en derdeparty-feite het niks met polisieprosedures te doen nie en die polisie word nie daardeur beïnvloed nie. Dit kan, of kan dalk nie dieselfde ding wees nie,” het Veary gesê.

Tafelberg, die uitgewer van die boek, het by navraag gesê: “Die Menseregtestigting het De Swardt aangestel om ’n ondersoek te doen en hy het ’n verslag gelewer. Tafelberg was nie by die ondersoek betrokke nie en het ook nooit dié verslag gesien nie. Ons kan dus geen kommentaar op die verslag of die ondersoek lewer nie. Op die ander vrae het Tafelberg geen kommentaar nie.”

Steyn wou ook nie op die inhoud van die verslag kommentaar lewer nie omdat sy dit nooit gesien het nie.

Tim Fletcher, prokureur van Cliffe Dekker Hofmeyr, wat vir die stigting optree, sê De Swardt en dr. Klatzow het gehelp met die ondersoek.

“Hul ondersoek en enige verslae wat daaruit gespruit het, is vertroulik en dit is teleurstellend dat dit nou blyk dat iemand dit aan julle gegee het. Julle is nie geregtig op daardie inligting nie. Julle kan dit net wettig hê met die instemming van my kliënte, die Minnie-gesin, wat nie toestemming gegee het nie.

Magnus Malan en PW Botha. Foto: Gideon Mendel

“Dit sluit in gesprekke met mnr. De Swart oor sy mandaat, die terme daarvan en enige optrede van dr. Klatzow wat hy waargeneem het tydens sy ondersoek.

“Wat ek wel kan bevestig, is dat inligting wat betrekking het op bewerings in Die seuns van Bird Island in die loop van die ondersoek verkry is en ons opdrag was om daardie inligting oor te dra aan brig. Harri, hoof van die Wes-Kaapse eenheid vir kinder en gesinsgeweld. Die inligting is aan hom gegee en ons stel voor dat julle jul navrae oor die strafregtelike ondersoek aan brig. Harri rig.

De Swardt ontken dat hy ooit ’n amptelike kontrak en nieopenbaarmakingsooreenkoms met die stigting gesluit het.

Oor De Swardt se bevindinge, sê Steyn: “Maar hy kon ook nie bewys dat hulle (ministers) nié deel hiervan was nie? ’n Saak wat 31 jaar oud is, word nie in ses maande opgelos nie. Ek het die volste vertroue in die polisie se ondersoek.

“Ek ontken ten sterkste dat ek enige inligting of bewerings in die boek gefabriseer het. Die bewerings in die boek word nie deur my persoonlik gemaak nie, maar deur mense met direkte kennis van die saak, onder meer Dave Allen se eie broer, Geoff Allen. Ek het al die bewerings akkuraat weergegee. Hierdie bewerings word nou amptelik deur die polisie ondersoek en hierdie ondersoek moet sy loop neem.”

* De Swardt was 16 jaar in die polisie in die Wes-Kaap, waarvan hy 14 jaar as speurder gewerk het. Hy is ook ’n opgeleide lyfwag wat by die reguleringsowerheid vir die private veiligheidsbedryf (Psira) geregistreer is. De Swardt het in 1982 weens persoonlike en finansiële redes besluit om die polisie te verlaat en private ondersoekwerk te doen.

* Klatzow wou by navraag nie met die media praat nie, omdat sy ooreenkoms met die stigting ’n nieopenbaarmakingsooreenkoms ingesluit het.

SO HET DIE ONDERSOEK IN PORT ELIZABETH VOLGENS DE SWARDT VERLOOP


• 13 Augustus: Mark Minnie sterf

• Donderdag 16 Augustus: Kom saam met dr. David Klatzow in Port Elizabeth aan. Vergader met Chris Steyn, haar vriend en lyfwagte. Die vergadering hervat die aand.

• Vrydag 17 Augustus: Besoek Mark Minnie se seun, Markus, wat van China af gekom het, asook Bernie, Minnie se eksvrou. Klatzow en De Swardt ondersoek Minnie se lyk.

• Saterdag 18 Augustus: De Swardt laai Klatzow by die lughawe af en besoek die Theescombe-plaas waar Minnie dood is. De Swardt ontmoet daarna vir Mark Janse van Rensburg, wat voorheen in die polisie saam met Minnie gedien het. De Swardt en Janse van Rensburg ontmoet daardie middag om 15:00.

• Sondag 19 Augustus: Markus Minnie laat weet vir De Swardt hulle het Minnie se skootrekenaar opgespoor. De Swardt vind ’n selfdoodbrief en twee boekmanuskripte. Hierdie boekmanuskripte het geen verdere “onthullings” bevat nie, sê De Swardt. Hy verskaf die intekenbesonderhede van sy e-posrekening aan Steyn, sodat sy hom kan help sif vir belangrike inligting.

• Maandag 20 Augustus: De Swardt oorhandig die skootrekenaar aan ’n rekenaartegnikus om vir uitgewiste leggers te soek. De Swardt vind in die soekgeskiedenis verskeie soekopsies oor hoe om jouself om die lewe te bring. Dieselfde dag ontmoet De Swardt vir “Hart”. Vir die volgende paar dae het hy baie tyd saam met “Hart” deurgebring.

• Hy besoek ’n advokaat wat deur die Menseregtestigting aangestel is twee keer vir regsadvies oor of hy “Hart” ’n eedsverklaring moet laat aflê, maar sy raai hom af op die gronde dat “Hart” ’n alkoholis en dwelmslaaf is en dit hom ’n ongeloofwaardige getuie maak.

• Vrydag 27 Augustus: De Swardt verlaat Port Elizabeth.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier