SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Ondersoeke
EKSKLUSIEF: Vlieënier wat ministers Bird-eiland toe vlieg, vertel

Hy het nie altyd van genl. Magnus Malan, ’n voormalige minister van verdediging in die NP-regering, gehou nie, maar pedofilie? Nooit! sê brig.genl. Rodney Penhall, die vlieënier wat die ministers op ’n keer met ’n Puma-helikopter na Bird-eiland geneem het.

Penhall het tussen 1979 en 1989 in 16 Eskader, tans die eskader vir die Rooivalk-aanvalshelikopers, gedien.

Wyle genl. Magnus Malan. Foto: Argief

Van 1985 tot 1988 was hy bevelvoerder van 16 Eskader.

Hy was by die lugmagbasis in Port Elizabeth en ’n rukkie in die lugmagbevelspos by die Silwermyn-weermagbasis naby Kaapstad gestasioneer.

Netwerk24 het met hom gepraat nadat ’n private ondersoeker in September verlede jaar geen bewyse kon vind wat Malan en oudmin. Barend du Plessis (79) met bewerings van pedofilie op Bird-eiland kon verbind nie.

Netwerk24 het die forensiese verslae bekom.

Die seuns van Bird Island, wat op 5 Augustus verlede jaar verskyn het, handel oor ministers se beweerde seksorgies met jong seuns tydens “visvanguitstappies” op dié eiland gedurende die 1980’s. In die boek word beweer dat daar verskeie sulke uitstappies was.

Malan, asook John Wiley, oudminister van omgewingsake, is by name by die beweerde seksmisdrywe betrek.

Daar word verwys na ’n “derde minister wie se naam op regsadvies weerhou word”, maar Du Plessis, destyds minister van finansies, het in die week nadat die boek verskyn het homself geïdentifiseer in ’n onderhoud met Rapport en ’n bykomende verklaring verskaf “omdat ek in elk geval toe reeds geïdentifiseer is”.

Penhall het aan Netwerk24 gesê hy weet van die boek, maar het verkies om dit nie te lees nie.

Só werk militêre vlugte

“Die eskader kon net ’n opdrag uitvoer as die lugmaghoofkwartier in Pretoria dit getaak het,” het Penhall verduidelik.

Hy sê dit geld verál baie belangrike persone, soos staatslui.

“Die hoofkwartier bepaal waar ek die helikopter moet posisioneer, wanneer ons moet opstyg en die eskader moes dan altyd ’n uur voor opstygtyd gereed wees. Ek sou ’n lys kry van wie op die vlug gaan wees, asook spesiale instruksies, as daar enige afwyking van die roete is, soos wanneer ’n minister eers op ’n plek wou stop om foto’s te neem.

“Die vlug na Bird-eiland in 1986 was egter ’n direkte vlug,” sê Penhall.

Die vlug na Bird-eiland

Penhall sê in 1985 en 1986 was die land onstuimig.

“Die land was in ’n noodtoestand. Die weermag was besig. Ek was nie baie gelukkig toe ek die instruksie van die hoofkwartier kry nie. Ek moes die ministers aan die burgerlike kant van Port Elizabeth se lughawe oplaai. Hulle het met ’n SAL-vlug geland.”

Die boek se voorblad.

Penhall sê hy was veral ongelukkig omdat die ministers oop en bloot voor almal met hul visstokke sou loop. Dit kon maklik die indruk skep dat hulle die reeds beperkte weermaghulpbronne vir plesier misbruik.

“Ek het aangeneem dit is ’n amptelike besoek, maar die visstokke sou die media laat vrae vra. Ek het voorgestel dat ons liewer by die lugmagbasis opstyg, maar die lugmagbevelspos in Pretoria het die versoek geweier.”

Penhall was daardie Maandag ’n uur voor die vlug gereed.

Hy verduidelik hoe dit gewerk het wanneer hulle mense oplaai: “Ek staan buite en die medevlieënier sit binne. Daar is ook ’n boordtegnikus teenwoordig. Ek sou die passasiers groet en veiligheidsinstruksies voorhou. Sodra hulle inklim, sou die medevlieënier dadelik die enjin aanskakel.

“Daardie dag het ons vier mense laat opklim. Ons het vier mense se bagasie ingelaai. Hulle het die visstokke in die kajuit by hulle gehou. Die vier mense was ministers Malan, Du Plessis, Wiley en nog ’n man – ek dink hy was van buitelandse sake,” sê Penhall.

Op die vraag of daar enige kinders was, het Penhall dit ten sterkste ontken.

“Die protokol vir kinders is ongelooflik streng. Hulle mag in elk geval nie op ’n militêre vliegtuig klim sonder ’n vrywaringsvorm van die ouers nie.”

Volgens Penhall het hy soos gebruiklik om die baai gevlieg en die see op die naaste punt aan Bird-eiland oorgesteek.

Op Bird-eiland het hy naby die vuurtoring geland en die helikopter afgeskakel sodat die passasiers kon afklim. Die vier passasiers is volgens hom ontvang deur iemand wat Wiley geken het.

Penhall onthou die ministers het geen veiligheidspersone saam met hulle op die helikopter gehad nie, “want dit was nie nodig nie”.

Hy sê dit is moontlik dat Wiley veiligheidspersone vir die ministers op die eiland gereël het, maar hy kan dit nie bevestig nie.

Die res van daardie week was Penhall op bystand by die lugmagbasis in Port Elizabeth. Hy het die vier mense Vrydag op dieselfde plek opgelaai. “Al wat ekstra was, was ’n haaivin en ’n haai se kakebeen. Ek het as ’n grap die vin in my vlugbevelvoerder se laai weggesteek.”

Penhall het die Vrydag op die lugmagbasis in Port Elizabeth geland. Die ministers se beskermingsdiens het hulle by die helikopter kom haal.

“Ek het die Maandag die taakverslag vir die terugvlug ook voltooi.”

Is enige ander weermagvliegtuie of weermaghelikopters daardie week na die eiland?

“Beslis nie! Hulle sou verby my moes kom,” sê Penhall. “Ek was die bevelvoerder. Die hoofkwartier in Pretoria sou my laat weet het daar is ’n nuwe taak. Die weermag mag nie net vlieg wanneer hulle wil nie. Ek was die hele week op bystand totdat ek Vrydag die vier passasiers gaan oplaai het. Ek kon self ook nie voor Vrydag sommer net na die eiland gevlieg het nie. Dit was nie deel van my opdrag nie.”

Chris Steyn het in die boek geskryf sy is meegedeel dat militêre helikopters nie die enigste was wat in daardie jare na die eiland gevlieg het nie.

“Helikopers wat aan ’n private maatskappy behoort het – en deur die departement van seevissery gekontrakteer is – is gebruik om bemanning en tegnici elke ses weke uit te vlieg om instandhoudingswerk aan die vuurtorings te doen,” het sy geskryf.

Penhall het aan Netwerk24 bevestig die enigste ander manier om op die eiland te kom, was met ’n private of burgerlike vlug of per boot.

“Kyk, dis beslis nie onmoontlik (om met ’n ander vlug daar uit te kom) nie, maar hulle sou nie (met ’n burgerlike helikopter) kon opstyg of land sonder dat die beheertoring by die lughawe op Port Elizabeth daarvan weet nie. Die toring het die media gereeld laat weet as hulle iets vreemds opmerk. Al wat ek probeer sê, is dat so ’n vlug nie ongesiens gebeur nie. Te veel mense sou moes saamlieg…”

Die kenmerkende rooi-en-wit vuurtoring op Bird Island. Foto: Cara-Lee Dorfling

Penhall sê hy weet die sakeman Dave Allen (wat ook by die bewerings in die boek betrek word) het ’n boot gehad waarmee hy na Bird-eiland gevaar het. Allen sou sodoende burgerlikes kon vervoer as hy wou, sê Penhall.

Het die weermag Bird-eiland gereeld besoek?

“Nie waarvan ek weet nie, nee. Selfs al doen die weermag opleidingsvlugte, moet dit deur die hoofkwartier gaan en moet daar ’n vlugplan wees. Ek self was vyf maal in ses jaar na Bird-eiland. Ons moes altyd ook toestemming kry by die departement van vissery omdat die eiland ’n bewaringsgebied was.”

Kol. Johan Merts was tot 1986, toe die ministers na Bird-eiland gereis het, ook lid van die 16 Eskader in Port Elizabeth. Penhall was sy bevelvoerder.

Merts het Die seuns van Bird Island gelees.

“Ek en Rod (Penhall) het mekaar verlede jaar by ’n reünie in Centurion raakgeloop. Omdat ek die boek gelees het en weet hy was in daardie tyd dáár, het ek hom gevra of hy iets weet. Toe vertel hy my hy het die dag die vlug na Bird-eiland gedoen. Hy het my vertel hy het hulle (die ministers) Maandag afgelaai en Vrydag weer gaan oplaai. Hy het geen seuns gesien nie.

Op die vraag oor die moontlikheid van geheimhouding, sê Merts: “Ons was in daardie tyd so min, ons het almal met mekaar gepraat.”

Die forensiese verslae is aan Steyn en Tafelberg, die boek se uitgewer, verskaf en hulle is ’n tweede geleentheid gebied om kommentaar te lewer. Hul kommentaar sal bygewerk word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.