Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Emigrasie: Is die gras werklik groener daar?

Die nagenoeg 1,2 miljoen Suid-Afrikaners wat reeds na ander lande geëmigreer het, sluit ’n kommerwekkende hoeveelheid gekwalifiseerde mense in. Vir elke agt kundiges wat die land verloor, kry hy net een by, lui die departement van binnelandse sake se statistiek. 

Die impak van die “breinkwyn” in die land is dalk nie onmiddellik opmerklik nie, maar dit gaan ons op die lange duur inhaal. Jana Marx bestudeer die jongste statistiek.

Is die gras groener aan die ander kant van die draad? Dit lyk of Suid-Afrikaners wél toenemend so dink. Die Pew Research Center, ’n Amerikaanse navorsingsinstelling, het in 2017 bevind dat sowat 900 000 Suid-Afrikaners sedert 1990 in die buiteland woon.

Johannes Wessels, direkteur van The Enterprise Observatory of South Africa (EOSA), ’n organisasie sonder winsbejag, meen dat dié syfer teen 2020 al tot 1,2 miljoen gestyg het.

In ’n ander studie in 2019 raam prof. David Kaplan en Thomas Höppli (ekonoom), verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se sakeskool, dat die getal Suid-Afrikaners in 31 lande van 435 000 in die jaar 2000 tot 820 000 in 2017 gestyg het. Dit beteken dat gemiddeld 23 000 mense per jaar geëmigreer het.

Die sowat 1,2 miljoen emigrante (volgens Wessels se raming) is omtrent 2,5% van ons huidige bevolking  van 58,78 miljoen.

Volgens Kaplan was daar tussen 2011 en 2014 ’n klein afname in die emigrasiesyfers, maar sedertdien is daar ’n bestendige netto groei in die aantal Suid-Afrikaners wat na die buiteland verhuis. Sedert 2015 was daar skielik ’n skerp toename met meer as 60 000 Suid-Afrikaners wat tussen 2015 en 2017 geëmigreer het.

Kaplan stel dit ook duidelik dat die neiging dat hoofsaaklik wit mense emigreer, lankal nie meer waar is nie.

Die departement van binnelandse sake het in 2017 in sy Witskrif tot die gevolgtrekking gekom dat die hoeveelheid swart sakelui wat emigreer, die getal wit mense oorskry. Die Witskrif noem nie ander rassegroepe nie.

Die data van die jongste sensusopname wat Statistiek Suid-Afrika (Stats SA) in 2016 gedoen het, bevestig Kaplan se aanname. Te oordeel na die getal kinders wat geëmigreer het, kan die afleiding gemaak word dat die syfers volledige gesinne insluit.

Deesdae is dit ook nie net professionele mense wat koers kies nie. Ons verloor tegniese kundigheid – die hart van wat belangrik is om ’n land te bestuur, sê dr. Jakkie Cilliers, voorsitter van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS). Hy spesialiseer in studies oor Afrika se toekoms.

“Suid-Afrika verloor jaar ná jaar kundigheid en dit kan nie vervang word nie. Die verval wat ons veral in kleiner dorpe sien, het baie te doen met ’n verlies aan kundigheid. Kundigheid kom met ervaring en dis baie meer werd as kwalifikasies.”

Hy sê dit lyk ook of diegene wat emigreer toenemend jonger word.

Dawie Roodt, ekonoom by die Efficient Group, sê die probleem is groter as wat ons dink.

“’n Mens kom dit nie dadelik agter nie, maar in die toekoms kan dit tot groot probleme lei.”

Benewens die verlies aan vaardighede het die emigrasie ’n regstreekse impak op die ekonomie en belasting, sê hy.

’n Miljoen mense minder uit 58,78 miljoen  kan ’n groot duik in die ekonomie beteken, sê Roodt.

Pres. Cyril Ramaphosa is baie bewus van die impak wat emigrasie en die verlies aan vaardighede op die land het.

Ramaphosa het verlede jaar op ’n besoek aan wynboere in Stellenbosch op ’n vraag deur ’n joernalis gepleit  dat die Suid-Afrikaanse diaspora – swart en wit – wat na ander lande uitgewyk het, moet terugkeer om die land te help bou.

Ek wil nie hê jong wit Suid-Afrikaners moet die land verlaat nie. As ek kon, sou ek hulle aan ’n boom vasmaak en sê moenie weggaan nie, ons wil julle hier in die land hê… Ek wil ál die vaardighede hê.
PRES. CYRIL RAMAPHOSA

Oor wit jongmense het hy spesifiek gesê: “Ek wil nie hê jong wit Suid-Afrikaners moet die land verlaat nie. As ek kon, sou ek hulle aan ’n boom vasmaak en sê moenie weggaan nie, ons wil julle hier in die land hê… Ek wil ál die vaardighede hê.

“Ek dink die gevoel van sommige van hulle dat hulle nie hier welkom is nie, is geheel en al nie waar nie . . . ons moet ’n balans hê. Namate ons almal bemagtig en geleenthede gee aan diegene wat daarvan weerhou is, skep dit ander geleenthede – vir alle Suid-Afrikaners en veral vir wit Suid-Afrikaners.”

Daar is ruimte vir almal om ’n rol te speel, want uiteindelik behoort Suid-Afrika aan almal wat in die land woon, het Rampahosa gesê.

Die nasionale tesourie skryf in 2019 in sy verslag, “Economic Transformation, Inclusive Growth and Competitiveness: Towards an Economic Strategy for South Africa”,  dat hy immigrasieregulasies wil verslap in die hoop om meer mense met vaardighede na Suid-Afrika te lok.

Gebrek aan nuwe plaaslike data

Die probleem met Suid-Afrika se emigrasiesyfers is dat daar nie ’n amptelike buro is wat die data jaarliks byhou nie.

Deur egter van Stats SA se 2016-sensus, internasionale data, onafhanklike navorsing en studies oor eiendomsverkope en meningspeilings gebruik te maak, kan afleidings gemaak word.

Stats SA het in sy laaste sensus in 2016 bevind dat 97 460 Suid-Afrikaners tussen 2006 en 2016 geëmigreer het.

Die grootste groep was tussen 25 en 44 jaar oud, waarvan die meeste tussen 25 tot 29 jaar oud was.

’n Immigrant word, volgens Stats SA, gedefinieer as iemand wat 12 maande of langer in ’n ander land woon. Die ander land word dus die persoon se nuwe woonplek. Die persoon word dan as ’n emigrant vir Suid-Afrika gesien, en as ’n immigrant vir die nuwe land waarin hy of sy woon.

emigrasie

Gauteng het verreweg die meeste mense tussen 2006 en 2016 verloor (37 413 emigrante) en KwaZulu-Natal die tweede meeste (14 062 emigrante). Die Wes-Kaap volg kort op KZN se hakke.

emigrasie

Netwerk24 het in April verlede jaar berig dat die aantal mense wat emigrasie as die rede vir die verkoop van hul huise aangegee het, het in vergelyking met vorige jare in 2017 en 2018 verdubbel. Dít blyk uit FNB se eiendomsagentepeiling vir die eerste kwartaal van 2019.

In dié kwartaal het 14,2% van alle mense wat hul huise verkoop het, emigrasie as rede aangegee. Dit is ’n skerp styging van die 10% in die vierde kwartaal van 2018. In die middel van 2019 was die styging 13,4%.

Verkope weens emigrasie is algemener in kusstreke en in luukse woonbuurte, en ’n hele 18,8% van die superrykes – dus byna ’n vyfde – verkoop om te emigreer.

Emigrasie is die derde grootste rede waarom mense hul huise verkoop, meen FNB.

Wessels sê hy het in Januarie vanjaar vergader met drie beleggingsbankiers wat gesê het hulle soek oorsese kopers om huise op Suid-Afrikaanse landgoedere, kusdorpe en wildplase te koop, omdat Suid-Afrikaners nie meer genoegsaam tot die koopmark bydra nie.

Netwerk24 berig in Mei 2019 dat altesame 42% van gegradueerde beroepslui wat aan die versekeraar PPS se peiling deelgeneem het, wil emigreer.

PPS se indeks vir gegradueerde beroepslui (GPI) is uit ’n peiling onder slegs 5 837 PPS-lede saamgestel. PPS is ’n versekeraar vir beroepslui, onder wie ingenieurs, medici en rekenmeesters.

Motshabi Nomvete, bemarkingshoof van PPS, sê die aantal gegradueerde beroepslui in onder meer die mediese, rekenkundige, regs-, ingenieurswese- en korporatiewe bedryf wat toegewyd tot ’n loopbaan in Suid-Afrika bly, het gedaal, al word die behoefte aan hul vaardighede net groter.

“Volgens ons peiling oorweeg Suid-Afrika se geskoolde beroepsmense toenemend die opsie om te emigreer aangesien hulle die finansiële vermoëns het en gekwalifiseerd is om te gaan,” sê Nomvete.

“So ’n tendens het groot implikasies vir die ontwikkelingsdoelwitte van die land.”

Netwerk24 het in 2018 berig dat Jack Hammer, ’n maatskappy wat bestuurders werf en hul menings peil, in 2018 bekend gemaak het dat die geskoolde bestuurders wat bereid is om Suid-Afrika vir beter geleenthede te verlaat, het in 2018 op 86% gestaan.

In 2016 het 47% van die bestuurders met wie hy onderhoude gevoer het, gesê dat hulle ’n oorsese werkaanbod ernstig sal oorweeg. Dit het skerp gestyg tot 78% in 2017 en in 2018 tot 86%.

Volgens Stats SA se 2016-sensusopname het die meeste mense in 2015 geëmigreer.

emigrasie

Migrasie oor die wêreld heen

Emigrasie is nie eie aan Suid-Afrika nie. Mense oor die wêreld heen verlaat graag hul vaderland vir groener weivelde.

Die databank bepaal hoeveel migrante op ’n bepaalde tydstip in ’n bepaalde land is.

In 2019 was daar ’n geraamde 272 miljoen internasionale migrante ter wêreld – dus mense wat nie ten tyde van die peilings in hul lande van herkoms gewoon het nie.

Volgens die VN is ’n internasionale migrant iemand wat sy of haar land van herkoms verlaat en in ’n ander land gaan woon.

Die totale getal internasionale migrante het van 2015 af van 248 miljoen tot 272 miljoen in 2019 gestyg. Hoewel daar ’n styging in getalle is, het die aantal internasionale migrante in verhouding tot die wêreld se groeiende bevolking sedert 1970 taamlik stabiel gebly.

Die redes vir emigrasie wêreldwyd sluit in veiligheid (veral vir vroue en kinders), ’n soeke na ’n verandering in leefstyl wat die klimaat, besoedeling, ruimte, natuur en natuurskoon behels, geldsake, beter opvoedkundige geleenthede vir hul kinders, werkgeleenthede, hemelhoë belasting in die land waar hul woon, beter gesondheidsmoontlikhede elders, godsdienstige spanning wat ’n lewe in die tuisland ondraaglik maak of ’n regering wat sy burgers verdruk.

Wessels sê die hoofredes waarom Suid-Afrikaners van ’n hoë inkomstegroep emigreer, is die verstarrende politieke en ekonomiese beleidsraamwerk.

“Die ANC bly veranker in ’n sentrale staatsgedrewe filosofie wat die vryheidskeuses van individue en instellings erg aan bande lê. Die owerheid druk die ras-demografiese sjabloon af op alles in die land en dwing daardeur mense om elders ’n heenkome te soek.”

Hy sê dinge soos beurtkrag, ’n ondoeltreffende polisiediens, lae onderwysstandaarde, en vrese vir grondonteiening sonder vergoeding speel ook ’n rol.

Volgens Stats SA emigreer mense “weens ’n verskeidenheid redes, wat werk, studie en sake insluit”.

Suid-Afrika vandag en hoe ons hier uitgekom het

Dis ’n feit dat Suid-Afrika se bevolking die laaste paar jaar gegroei het. Die toename in bevolkingsgroei kan grootliks aan ’n hoër lewensverwagting (van 53,5 jaar in 2005 tot 64 jaar in 2017) toegeskryf word, berig BizNews.

Volgens die nuusdiens kan dit ook toegeskryf word aan ’n afname in vigsverwante sterftes – van 49,2% in 2006 tot net meer as 25% in 2017, wat waarskynlik deur die regering se veldtogte om antiretrovirale middels gratis beskikbaar te stel aangehelp is.

’n Grafiek deur Stats SA oor die land se middeljaar-bevolking in 2019  voorspel dat daar tussen 2016 en 2021 ’n geraamde 1,01 miljoen swart Afrikane die land gaan binnekom, asook 60 791 persone van Indiese en/of Asiatiese afkoms.

Dieselfde grafiek toon dat 115 906 wit mense die land in die tydperk van vyf jaar sal verlaat. Die totale invloei tussen 2016 en 2021 in Suid-Afrika is volgens Stats SA 1 039 749. Die grafika gee nie data van wit mense wat inkom, of swart mense wat emigreer nie.

Volgens Daily Maverick is Stats SA die enigste bron wat die rasverdeling in sy migrasiedata aandui en daar is geen verduideliking hoe hierdie projeksies gemaak word nie.

‘Breinkwyn’ onder kundiges van alle rasse

Die vraag is egter of die Suid-Afrikaanse bevolking groei met die vaardige mense wat die land vir ekonomiese voorspoed benodig.

Volgens die departement van binnelandse sake se Witskrif oor internasionale migrasie wat in 2017 hersien is, het miljoene Suid-Afrikaners sedert 1994 hul nuwe paspoorte (wat in die nuwe Suid-Afrika uitgereik is en ’n nuwe landswapen op het) gebruik om die buiteland te besoek, te studeer, te werk en sake te doen. Toeriste en migrante met vaardighede het gehelp om ons ekonomie en kenniskorps op te bou.

Die departement gooi egter wal dat hy nie suksesvol is om gesogte internasionale migrante, soos mense met vaardighede en sakelui, te trek en te behou nie.

“Inteendeel, die oorgrote meerderheid van internasionale migrante is óf asielsoekers met ’n lae vlak vaardighede, óf diegene wat op grond van familie-verwantskappe (familie se visums) in die land mag woon. Hierdie syfers is kommerwekkend vir die land, gegewe dat die bedoeling van die internasionale migrasiebeleid is om ekonomiese groei deur middel van sake, kritieke vaardighede, studie en besoekers (toeriste) te bevorder,” lui die Witskrif.

Meer as 520 000 Suid-Afrikaners het volgens die Witskrif tussen 1989 en 2003 geëmigreer. Die Witskrif raam ook ’n jaarlikse toename van 9% in die getal mense wat die land verlaat.

Altesame 120 000 van die emigrante tussen 1989 en 2003 was gekwalifiseerde mense. Dit verteenwoordig sowat 7% van die totale professionele arbeidsmag in Suid-Afrika en is agt keer meer as die professionele mense wat na Suid-Afrika immigreer (inkom om te bly).

Volgens Wessels se raming het daar in 2020 al 450 000 professionele mense die land sedert 1990 verlaat.

“Die staatsinkomste wat deur belasting aangevul word, is hier erg onder druk. Mense met vaardighede is meestal die land se belastingbetalers. Ons het reeds 450 000 belastingbelaters verloor,” sê Wessels.

Die verlies aan kundiges word ’n “breinkwyn” genoem.

Volgens Jack Hammer se meningspeiling vir bestuurders is die rasverdeling tussen die bestuurders wat graag oorsee wil werk, eweredig. Altesame 49% swart bestuurders sal ook wil emigreer as hulle die kans kry.

“Suid-Afrika verloor sy beste en knapste mense, nie net sy witste nie,” lui die verslag. “Dit is nie net die ‘packing for Perth’-brigade wat hul internasionale opsies oorweeg nie, maar ook swart professionele mense.”

Packing for Perth” verwys na wit Suid-Afrikaners wat ná apartheid Australië toe getrek het.

Waarom trek hulle en waarom kom hulle terug?

Wessels skryf in sy blog dat die uittog ná 2003, gedurende die “Mbeki-Manuel-groeijare”, gesneller is “deur die toenemende onbekwaamheid van ’n regering wat departemente en staatsbeheerde entiteite radikaal in niks minder as fronte getransformeer het nie”.

Oudpres. Thabo Mbeki was in daardie jare aan die bewind en Trevor Manuel was sy minister van finansies.

“Op township-vlak het die ontevredenes hul toevlug tot diensleweringsprotesoptogte geneem,” skryf Wessels.

“Op professionele vlak het hulle hul tasse gepak en hulle tot die emigrasietoonbank gewend, met hoogs gekwalifiseerde swart mense wat nou hul wit eweknieë oortref, verbind in solidariteit deur ’n diep, nie-rassistiese ‘gatvolheid’ op die glybaan van korrupsie, wetteloosheid, treurige dienslewering en die ondermyning van eiendomsregte.”

Sakelui emigreer met behulp van vaste beleggings in die buiteland.

Wessels sê tussen 1990 en 2003 het meestal wit mense, ondanks die land se stabilisering onder leiding van wyle oudpres. Nelson Mandela en Mbeki, geëmigreer.

“Die laaste fase van die (oudpres. Jacob) Zuma-katastrofe, sowel as die ANC se aanvaarding van onteiening sonder vergoeding, het tot ’n bespoediging van die emigrasie van geskoolde mense gelei: Hierdie keer oor alle rassegroepe heen,” sê Wessels.

Die laaste fase van die (oudpres. Jacob) Zuma-katastrofe, sowel as die ANC se aanvaarding van onteiening sonder vergoeding, het tot ’n bespoediging van die emigrasie van geskoolde mense gelei: Hierdie keer oor alle rassegroepe heen.

John Dunn, immigrasiekonsultant van Sable International, het aan Netwerk24 gesê daar is ’n groot toename in emigrasie-aansoeke by die firma – ’n toename van soveel as 285% sedert 2015. Dié konsultant fokus onder meer op emigrasie na Australië, Brittanje en Ierland.

“Nadat ons minister van finansies (toe Nhlanhla Nene) laat in 2015 deur die president van daardie tyd (Zuma) afgedank is, het mense die omvang van die korrupsie en kwessies in ons regering begin verstaan. Dinge soos korrupsie, veiligheid, grondonteiening, politieke en fiskale onsekerheid is besliste dryfvere. Die meeste Suid-Afrikaners is nog steeds lief vir ons land en is op soek na ’n veiligheidsnet of plan B,” sê Dunn.

Angel Jones, uitvoerende hoof van Homecoming Revolution, ’n werwingsfirma wat spesialiseer in ‘breinwins’ en om wêreldwye Afrika-talent na die kontinent terug te bring, het aan CBC Africa gesê mense verlaat die land meestal oor beroepsvooruitsigte.

Die hoofrede vir hul terugkeer is vriende en familie, sê sy. “Mense oorsee wil by die huis wees en hul kinders terugbring huis toe met die grootouers om die draai…”

Sy sê mense keer ook terug op soek na ’n “gevoel van behoort” en ’n innoverende loopbaan.

Sy sê aan CBC Africa sy kry gereeld te doen met professionele mense in hul laat 20’s en vroeë 30’s wat onlangs getroud is en met ’n gesin wil begin.

“Hierdie mense verlaat die land in die hoop dat die gras groener aan die ander kant is, maar dis nie noodwendig die geval nie.”

Dr. Jakkie Cilliers van die ISS sê ook: “Deesdae sien ons mense wat emigreer sonder dat hulle enige benul het van wat vir hulle voorlê … Dis amper asof hulle vlug. Mense is op pad Viëtnam toe en plekke wat hulle glad nie ken nie. In baie gevalle lê daar groot leed vir hulle voor.”

Julian Pokroy, ’n immigrasieprokureur van Pretoria, sê hy kry met ontsettend baie mense te doen wat na Suid-Afrika terugkeer. “Die feit bly staan: Die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie. As jy baie geld het, kan jy enige plek gaan woon, maar mense pas nie noodwendig aan nie. Ons ken xenofobie dié kant, maar weet jy hoe erg dit oorsee kan raak?” vra hy.

Hy sê die kultuurverskille wat mense vang, kan tussen mense van dieselfde velkleur ook wees. “Suid-Afrikaners is spesiale tipe mense.”

Pokroy sê hy ken ’n sielkundige wat spesialiseer in posttraumatiese stresversteuring, wat weens die groot behoefte sy praktyk na Australië geskuif het. Hy spits hom toe op Suid-Afrikaners wat sukkel om in Australië aan te pas.

“Hy sê vir my die meeste egskeidings en gevalle van selfdood waarmee hy te doen kry, is onder Suid-Afrikaners wat nie kon aanpas nie.”

Uittog van superrykes

Die New World Wealth het deur navorsing bevind dat Suid-Afrika reeds geweldige rykdom verloor het.

Die organisasie noem hierdie superrykes high net-worth individuals (HNWIs), wat beteken hulle het ’n netto waarde van meer as $1 miljoen (sowat R15 miljoen). Daar is net 14 miljoen HNWI’s ter wêreld, lui die verslag.

Volgens New World Wealth het sowat 3 000 HNWI’s Suid-Afrika in die laaste tien jaar verlaat.

Die meeste het na die Verenigde Koninkryk, Australië en Amerika uitgewyk. Switserland en Portugal blyk ook gewild te wees, aldus die studie.

Ander lande wat in 2018 ’n invloei van HNWI’s beleef het, is Monaco, Malta, Mauritius, Letland en Hongkong.

Luidens die verslag bestaan daar ’n “wanindruk” dat lande soos Indië en Suid-Afrika van die onveiligste lande vir vroue is en dit skrik mense soms glo verkeerdelik af.

“Dis belangrik om daarop te wys dat die twee lande deel is van die 58 lande wêreldwyd wat ’n taamlik betroubare misdaadstatistiek byhou. Dit is dus onregverdig om te sê dat dié lande die onveiligste is… Vroue kan enige seksuele aanranding vrylik in hierdie twee lande aanmeld. Inderwaarheid is Indië en Suid-Afrika moontlik tussen 80ste en 90ste van die 195 lande wêreldwyd wat as die veiligste vir vroue gereken word.”

Kiesers

emigrasie

Dis interessant dat van al die Suid-Afrikaners in die buiteland slegs 14 124 geregistreer is om aan Suid-Afrikaanse verkiesings deel te neem, lui die Verkiesingskommissie se jongste statistiek.

Die meeste geregistreerde kiesers (7 322) woon in Europa.

In Afrika is die meeste kiesers, buiten in Suid-Afrika self, in Lesotho (488), gevolg deur Botswana (288) en Zambië (198).

In China is daar altesame 282 kiesers en in die Verenigde Arabiese Emirate ’n totaal van 1 032, waarvan 808 in Dubai en 224 in Abu Dhabi geregistreer is. In Israel stem sowat 90 Suid-Afrikaners.

Londen het met 4 264 verreweg die meeste Suid-Afrikaanse kiesers in Europa. In Duitsland is daar 458 en in Frankryk 216.

Hoewel Kanada ’n gewilde bestemming vir Suid-Afrikaners is, is slegs 152 geregistreer om te stem. Interessant genoeg, woon daar 772 kiesers in Kuba. Kiesers in Suid-Amerika is maar yl gesaai, met slegs 88 in totaal. In Nieu-Seeland stem 92 mense en in Australië slegs 218.

Wat die groot Amerikaanse stede betref, woon daar ’n skamele 64 kiesers in Chicago, 96 in Los Angeles en 268 in die stad New York. In Washington wend 180 mense hulle op stemdag tot die Suid-Afrikaanse stembus.

Expat-belasting: D-dag kruip nader

Dis nog net ’n paar weke voordat Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, moontlik veel meer belasting as voorheen sal moet betaal, berig Netwerk24.

Dit is wanneer wysigings aan die Inkomstebelastingwet in werking tree wat die vrystelling op inkomste van Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, net tot die eerste R1 miljoen beperk. Die wysiging raak almal wat meer as 183 dae in die buiteland werk, ongeag of hulle daar is met ’n tydelike werkpermit of werk met die doel om permanente burgerskap te bekom.

Alle inkomste meer as dit, insluitende byvoordele soos behuisings-, onderwys- of vervoertoelae, sal volgens die gewone plaaslike belastingtabelle belas word.

Die veranderings raak veral Suid-Afrikaners wat in lande in die Midde-Ooste werk waar hulle tot dusver geen belasting betaal het nie.

Suid-Afrikaners wat hul Suid-Afrikaanse burgerskap in die buiteland wil behou, sal hieraan moet gehoor gee, al woon hulle in ’n ander land, anders kan hulle moontlik in hegtenis geneem word die oomblik wanneer hulle weer hul voete in Suid-Afrika sit.

Waarheen trek Suid-Afrikaners?

Van die Suid-Afrikaners in die buiteland woon die meeste (210 000) in Brittanje, het die Pew Research Center bevind.

’n Geraamde 190 000 woon in Australië, 100 000 in Amerika en 60 000 woon in Nieu-Seeland. Dit is volgens ’n ontleding van statistieke tussen 1990 en 2017.

Die Pew Research Center grond sy statistiek op die Verenigde Nasies se data.

Kaplan en Höppli bevind in hul studie dat die Suid-Afrikaners in die sogenaamde “Groot Vyf”-lande tussen 2000 en 2017 amper tot meer as 624 000 verdubbel het – ’n gemiddelde netto toename van sowat 1 500 mense per maand.

Die Groot Vyf- Engelssprekende lande is die Verenigde Koninkryk, Amerika, Kanada, Australië en Nieu-Seeland.

Die minste mense het na Kanada verhuis, met net meer as 100 Suid-Afrikaners wat jaarliks tussen 2000 en 2017 geëmigreer het.

Die skerpste toename in getalle was in Australië (130%), met sowat 6 200 mense per jaar wat tussen 2000 en 2017 daarheen geëmigreer het.

Australië se departement van binnelandse sake het in die 2018-’19-boekjaar aan altesame 2 217 Suid-Afrikaners permanente burgerskap toegeken.

Hierdie data fokus net op die “permanente toevoegings” tot Australië se bevolkingsgetal.

’n Immigrasiekonsultant in Australië het aan Kaplan en Höppli gesê die aansoeke van Suid-Afrikaners wat hulle in 2018 verwerk het, was 77% meer as in 2015. In die eerste twee maande van 2019 alleen was die styging in aansoeke sedert 2015 altesame 228%.

Meer as die helfte van Suid-Afrikaanse immigrante wat hulle in 2016 in Australië bevind het, was beroepslui (34%) of bestuurders (16,9%). ’n Verdere 13,8% was klerke of administrateurs, 11,5% was tegnici en 8,4% was in gemeenskaps- en persoonlike dienste.

Australië het in 2017 met behulp van ’n nuwe soort visum, die Temporary Sponsored Parent Visa, dit ook makliker gemaak vir oumas en oupas om saam met kinders te emigreer.

Die grootouer moet dan net “geborg” (onderhou) word vir die tydperk wat hulle in die buiteland woon. Dieselfde roete kan deur Brittanje se Elderly Dependent Visa gevolg word.

Kanada se Parents and Grandparents Programme, wat ook op die borgbeginsel werk, is egter gestaak tot ’n nuwe proses vir opneming ontwikkel is.

In 2000 het na raming minder as 30 000 Suid-Afrikaners in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) gewoon. In 2017 was daar na raming meer as 100 000 – meer as drie keer soveel, het Kaplan en Höppli bevind.

“Die oorgrote meerderheid van die emigrante na die Golfstate is tydelik en baie (maar nie almal nie) sal uiteindelik na Suid-Afrika terugkeer. Dit is egter baie waarskynlik dat diegene wat terugkeer, dit slegs doen wanneer hulle aftree of nadat hulle ’n goeie deel van hul werklewe in die buiteland deurgebring het. Dit beteken dat hul terugkeer na Suid-Afrika die breinkwyn slegs in ’n beperkte mate sal versag,” lui die studie.

JP Breytenbach, direkteur van Breytenbachs Immigration Consultants wat in Suid-Afrikaanse en Britse emigrasie spesialiseer, sê die firma sien jaarliks ’n styging van 10% in mense wat na Brittanje wil verhuis.

“Mense se redes is baie uiteenlopend en ons het kliënte uit alle ekonomiese sektore en van alles rasse. Daar is ook baie ondernemings wat wil uitbrei na die internasionale mark, en in Brittanje takkantore wil oopmaak,” sê Breytenbach.

Hy sê Suid-Afrikaners gaan ook graag Brittanje toe om buitelandse werkervaring op te doen en studente wil hul vlerke sprei en verder gaan studeer.

Die gewilde Universiteit van Oxford en die Cambridge-universiteit is net van die groot akademiese instellings in Brittanje.

“So, met Brittanje is dit dikwels trekfaktore wat insluit: uitbreiding na die internasionale mark, internasionale werkervaring, asook die geleentheid om aan prestige-universiteite te studeer,” sê Breytenbach.

Hy sê redes wat aansoekers gewoonlik gee is noue bande wat hulle reeds het met mense daar, om die misdaad in Suid-Afrika te ontvlug en beter geleenthede vir hul kinders. “Ons sien ook mense wat nie tans werk het nie, en hoop om in Brittanje werk te bekom. Al hoe meer Suid-Afrikaanse rugbyspelers is betrokke by Britse klubs en dit laat Suid-Afrikaners nog meer tuis voel!”

Volgens Breytenbach behou baie Suid-Afrikaners hul Suid-Afrikaanse burgerskap en keer soms weer terug na Suid-Afrika nadat hulle Britse burgerskap ontvang het.

Breytenbach sê Britse statistiek gee ’n goeie aanduider van Suid-Afrika se Britse emigrasiegetalle:

emigrasie

Volgens John Dunn van Sable International doen talle Suid-Afrikaners wat geen bande met die buiteland het nie met behulp van beleggingsmoontlikhede aansoek om permanente verblyf elders. Portugal, Malta, Siprus en Amerika is in so ’n geval gunstelinge.

Wessels sê hoe hoër ’n land se werkloosheidsyfer, hoe strenger sal hy wees om emigrante in te neem. “Kanada, wat ’n lae werkloosheidsyfer het en kundiges soek, maak dit maklik vir gekwalifiseerdes om die land binne te kom. Duitsland maak byvoorbeeld baie ruimte vir IT-spesialiste. As daar goeie groei is, lae werkloosheid en ’n tekort in bepaalde rigtings is, sal lande mense inneem.”

Hy sê dis die probleem wat Suid-Afrika in sy eie Witskrif uitlig – die feit dat hy nie ’n ordentlike immigrasiebeleid het waaruit hierdie gevolgtrekkings gemaak kan word nie.

Die tyd wat dit neem om te emigreer hang af van die land en soort visum waarvoor aansoek gedoen word.

Lewenskoste

Die Big Mac-indeks is ’n wêreldwye, onafhanklike indeks wat ’n goeie aanduiding gee van hoe pryse wêreldwyd vergelyk deur die reële waarde van goedere te bekyk.

Dis gegrond op wat ’n enkele McDonald's Big Mac-hamburger jou in verskillende lande sal kos.

Aangesien baie lande verskillende geldeenhede het, word die gestandaardiseerde Big Mac-pryse bereken deur die gemiddelde nasionale Big Mac-prys met die jongste wisselkoers in Amerikaanse dollar om te skakel.

Die Big Mac word gebruik omdat dit in byna elke land beskikbaar is en deur ’n standaard-resep en -proses vervaardig word.

Die gemiddelde prys vir ’n Big Mac in Switserland was in Januarie vanjaar $6,71 (R101). Daarteenoor kos ’n Big Mac in Suid-Afrika maar $2,15 (R32,22), wat Suid-Afrika ’n gunstige land maak om in te woon.

So wat nou?

Kaplan skryf dié plofbare gevolgtrekking in sy rubriek in die Daily Maverick: “Daar is geen gekwalifiseerde plaasvervangers vir diegene wat vertrek nie. As plaasvervangers gevind kan word, word dit aangeleer ten koste van vaardighede wat elders aangewend word. Daar is oral ’n gebrek aan vaardighede. Tekorte aan onderwysers verlam skole; tekorte aan geskoolde dokters en verpleegkundiges verlam hospitale. As ’n onderneming sluit omdat die eienaar emigreer, wag daar ’n ander onderneming in gereedheid om sy plek in te neem?

Wessels sê die feit dat Eskom se omkeerplanne dit nou moontlik maak vir die private sektor om te tender is ’n voorbeeld waar Suid-Afrika mense met vaardighede kan trek.

Pokroy sê dis waar dat die staat nie veel van ’n immigrasiebeleid het nie, maar hou vol hulle is bewus van die probleem en dat dit duidelik is in beleggingsmoontlikhede wat beskikbaar gestel word.

“Dit gaan oor die balansering van dinge. Daar wag nie noodwendig ’n beter lewe in Brittanje nie. Die ekonomie het wêreldwyd afgeneem. Nederland en ander Europese lande kry ook swaar.”

As die staat iets kan verander om dit makliker vir geskoolde immigrante te maak om Suid-Afrika binne te kom, sal dit sy dienslewering wees. “Die departement van binnelandse sake se proses om visums te verwerk moet verbeter...”

Meer oor:  Emigrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.