Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Estina: Ace, Zwane het hulle bedrieg, sê kleinboere

Beloftes van vee, reise na Indië vir opleiding en vals hoop op werkgeleenthede is van die griewe oor die Estina-suiwelprojek wat Donderdag aan die openbare beskermer (OB) geopper is.

Busisiwe Mkhwebane, OB, het Donderdag openbare verhore in die Thembelihle-township in Vrede gehou met van diegene wat moes voordeel trek uit die Estina-projek.

Busisiwe Mkhwebane aan woord tydens die openbare verhore in die Thembelihle-township in Vrede. Foto: Bonolo Selebano

Die voordeeltrekkers, almal kleinboere, het vertel hoe hulle destyds deur die LUR vir landbou en landelike ontwikkeling in die Vrystaat, Mosebenzi Zwane, en verskeie ander amptenare na gemeenskapsvergaderings genooi is waar hulle oor die projek ingelig is en gehoor het hoe hulle finansieel by die projek sou baat vind sodra dit op dreef gekom het.

Die OB is vergesel van haar hoof-ondersoeker, Rodney Mataboge, en nog ’n senior ondersoeker, Vanessa Mundree.

Die kleinboere het vertel hoe hulle gevra is om hul identiteitsdokumente na die vergaderings te bring sodat dit Pretoria toe geneem kon word. Van die boere het gesê hulle is vier koeie elk belowe indien hulle op die plaas sou werk.

Diegene wat reeds koeie gehad het, is gevra om dit te verkoop en die provinsiale departement van landbou sou dit vervang met nuwe vee. Sommige is ook aandele van tot 52% in die plaas belowe.

Zwane en die destydse premier, Ace Magashule (tans sekretaris-generaal van die ANC) is daarvan beskuldig dat hulle vals beloftes gemaak het aan gemeenskapslede oor hoe hulle deur die projek bemagtig sou word.

Tebogo Nala, een van die gemeenskapslede, het gesê Zwane en Magashule het vals verwagtinge geskep.

Die OB ondersoek die rol van die Guptas in beweerde geldwisselary en diefstal by die suiwelprojek ter waarde van R250 miljoen.

“Tyden die eerste ontmoeting met Zwane is ons vertel oor die projek waarvan ons die eienaars sou wees. Ace Magashule het ons op ’n ander vergadering vertel van die suiwelplaas en ek is werk as vragmotorbestuurder belowe.”

Makhosini Dlamini, ’n kleinboer, sê Zwane het hom en ander kleinboere oortuig om oor te skakel na suiwelboerdery.

Zwane en ander amptenare het gesê hy moet sy 27 koeie verkoop sodat hy geskikte koeie vir die boerdery van die departement kon kry. Zwane het nie sy belofte nagekom nie, het Dlamini gesê.

Mkhwebane het tydens ’n verdaging van verrigtinge aan joernaliste gesê dat Zwane gevra sal word om te kom getuig sodra sy naam verskeie kere tydens getuienis ter sprake sou kom.

“Ons let op die betrokkenheid van Zwane Qabathe (speaker van die Vrystaatse wetgewer), ons sal hulle moet ondervra. Ons het mnr. Magashule ondervra en indien ons nog inligting by hom moet bevestig, sal ons teruggaan en weer ’n onderhoud met hom voer.”

Die OB ondersoek die rol van die Guptas in beweerde geldwisselary en diefstal by die suiwelprojek ter waarde van R250 miljoen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.