Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Estina-arrestasies nie oor ‘politiek van die dag’

Die arrestasies oor die Estina-suiwelprojek in Vrede in die Vrystaat is nie vroeër uitgevoer nie weens ’n verandering in politieke leierskap in die land.

Só het die waarnemende hoof van die Valke, lt.genl. Yolisa Matakata, Maandag in die parlement gesê.

Lt.genl. Yolisa Matakata, waarnemende hoof van die Valke.Foto: Lindile Mbontsi

Matakata is die derde agtereenvolgende week deur lede van die portefeuljekomitee oor openbare rekening (Skopa) uitgevra oor dié Gupta-verwante slenter.

Tim Brauteseth (DA) het gesê dit is verontrustend dat die kwessie al in 2013 rugbaar geraak het, maar dat mense eers in Februarie vanjaar in hegtenis geneem is.

“Waarom het dit so lank geduur?” wou hy weet.

Mkhuleko Hlengwa (IVP) het gesê daar was ’n “opfladdering van bedrywighede” in die saak nadat daar in Desember ’n verandering in die ANC se leierskap gekom het en dat hulle ’n versekering wou hê dat geeneen van die aksies “beïnvloed is deur die politiek van die dag nie”.

Matakata het gesê die ondersoek het in Julie 2017 begin.

“Ons het die nasie verskeie kere gerusgestel dat ons besig is met die ondersoek.”

Sy het herhaal dat ’n dossier in November aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gestuur is. Die NVG het sedert Augustus saam met die Valke aan die saak gewerk.

“Ek wil nie hê dit moet lyk asof ons bloot opgetree het omdat daar ’n verandering in die regering was nie.”

Agt mense, waarvan drie regeringsamptenare en vyf Gupta-assosiate, is verlede maand in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat.

Hlengwa wou weet wat oudpres. Jacob Zuma se seun, Duduzane, se status in dié saak was.

Matakata het geantwoord dat net nog een mense aangekeer moet word – Ajay Gupta, wat as ’n voortvlugtige verklaar is.

Sy sê die Valke het nooit gesê dat ’n lasbrief uitgereik is vir Duduzane Zuma nie of dat hy in hegtenis geneem moet word nie.

Sy het egter bygevoeg dat die ondersoek voortduur.

Matakata het twee weke gelede aan die portefeuljekomitee oor polisie gesê dat die NVG nié die staatskapingondersoek belemmer nie, maar wel die vordering om die saak hof toe te vat.

Die week daarna het sy en die nasionale direkteur van openbare vervolgings (NDOV), adv. Shaun Abrahams, voor ’n gesamentlike portefeuljekomitee oor polisie, justisie en korrektiewe dienste verskyn waar Abrahams ontken het dat die NVG voete sleep.

Brauteseth het Matakata gevra of die NVG die strafregstelsel vertraag.

“Ek wil nie sê daar is ’n probleem nie. Ek wil nie die een wees wat sê dat hulle die strafregstelsel vertraag nie,” het sy gesê.

Die NVG se batebeslagleggingseenheid het die Estina-suiwelprojek beskryf as ’n “skema wat ontwerp is om te bedrieg en geld van die departement van landbou in die Vrystaat te steel”.

In 2017 het die #GuptaLeaks-e-posboodskappe getoon hoe R30 miljoen van die projek gebruik is om vir die Gupta-troue by Sun City te betaal. – News24

Meer oor:  Vrystaat  |  Vrede  |  Estina-Suiwelprojek  |  Arrestasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.