SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Familie van Magnus Malan eis verskoning
Genl. Magnus Malan

Die familie van genl. Magnus Malan, ’n oudminister van verdediging in die destydse NP-regering en destyds ook hoof van die weermag, vra net dat Chris Steyn, medeskrywer van die boek Die seuns van Bird Island, om verskoning vra vir die “smeerveldtog wat deur die boek gevoer is”.

Die familie het by monde van genl.maj. Gert Opperman, woordvoerder van die familie, gereageer nadat ’n private ondersoeker in September verlede jaar geen bewyse kon vind wat Malan, wat in 2011 dood is, en oudmin. Barend du Plessis (79) met bewerings van pedofilie op Bird-eiland verbind nie.

Netwerk24 het albei die forensiese verslae bekom.

Die Seuns van Bird Island het op 5 Augustus verlede jaar verskyn en handel oor die voormalige ministers se beweerde seksorgies met jong seuns tydens “visvanguitstappies” op dié eiland naby Port Elizabeth.

Malan, asook John Wiley, destyds minister van omgewingsake, is by die seksmisdrywe betrek en by name genoem.

Daar word in die boek verwys na ’n “derde minister wie se naam op regsadvies weerhou word”, maar Du Plessis, destyds minister van finansies, het homself in die week nadat die boek bekendgestel is, in ’n onderhoud met Rapport geïdentifiseer en ’n bykomende verklaring verskaf “omdat ek in elk geval toe reeds geïdentifiseer is”.

Die Malans eis verder ’n verskoning van “ander joernaliste wat die slagoffers van haar (Steyn) en Minnie se swartsmeerveldtog geword het”.

Chris Steyn Foto: Jaco Marais

Minnie het homself om die lewe gebring kort voordat die boek amptelik bekend gestel is.

Volgens Opperman het die betrokkenes hulle aan “kwetsende taal” en “lasterlike verdagmakery” skuldig gemaak.

“Die familie beoog nie in dié stadium om by regstappe rakende die kwessie betrokke te raak nie, maar vertrou dat die betrokkenes deur hul gewete en sin vir regverdigheid gelei sal word om die onwaarhede wat verkondig is, reg te stel,” sê Opperman.

Steyn wou nie reageer nie op die uitlatings deur die Malan-familie en die feit dat hulle ’n verskoning eis.

Sy wou ook nie op die inhoud van die verslag kommentaar lewer nie, omdat sy dit nie gesien het nie.

“Ek ontken ten sterkste dat ek enige inligting of bewerings in die boek gefabriseer het. Die bewerings in die boek word nie deur my persoonlik gemaak nie, maar deur mense met direkte kennis van die saak, onder andere Dave Allen se eie broer, Geoff Allen. Ek het al die bewerings akkuraat weergegee. Die bewerings word nou amptelik deur die polisie ondersoek en hierdie ondersoek moet sy loop neem.”

Tafelberg, uitgewer van die boek, het by navraag gesê: “Die Menseregtestigting het De Swardt aangestel om ’n ondersoek te doen en hy het ’n verslag ingedien. Tafelberg was nie by die ondersoek betrokke nie en het ook nooit dié verslag gesien nie. Ons kan dus geen kommentaar op die verslag of die ondersoek lewer nie. Op die ander vrae het Tafelberg geen kommentaar nie.”

Tim Fletcher, prokureur van Cliffe Dekker Hofmeyr, wat vir die stiging optree, sê De Swardt en dr. Klatzow het gehelp met die ondersoek.

bird-eiland
bird-eiland

“Hul ondersoek en enige verslae wat daaruit gespruit het, is vertroulik en dit is teleurstellend dat dit nou blyk dat iemand dit aan julle gegee het. Julle is nie geregtig op daardie inligting nie. Julle kan dit net wettig hê met die instemming van my kliënte, die Minnie-gesin, wat nie toestemming gegee het nie.

“Dit sluit in gesprekke met mnr. De Swart oor sy mandaat, die terme en enige optrede van dr. Klatzow wat hy waargeneem het tydens sy ondersoek.

“Wat ek wel kan bevestig, is dat inligting wat betrekking het op bewerings in Die seuns van Bird Island in die loop van die ondersoek verkry is en ons opdrag was om daardie inligting oor te dra aan brig. Harri, hoof van die Wes-Kaapse eenheid vir kinder- en gesinsgeweld. Die inligting is aan hom gegee en ons stel voor dat julle jul navrae oor die strafregtelike ondersoek aan brig. Harri rig.”

De Swardt ontken dat hy ooit ’n amptelike kontrak en nieopenbaarmakingsooreenkoms met die stigting gesluit het.

Genl.maj. Jeremy Veary, Wes-Kaapse speurhoof, aan wie Harri rapporteer, het by navraag gesê die polisie kan nie kommentaar lewer op ’n ondersoek wat nog aan die gang is nie. Op ’n vraag of daar vordering is met “die ondersoek”, het Veary instemmend geantwoord, maar benadruk die media moet versigtig wees om onmiddellik afleidings te maak oor wat ondersoek word en wat die ondersoek behels.

“Ons ondersoek sake gegrond op aantygings deur ’n persoon of persone wat na vore gekom het. Ons werk totaal onafhanklik. ’n Boek deur ’n joernalis en derdeparty-feite het niks met polisieprosedures te doen nie en die polisie word nie daardeur beïnvloed nie. Dit kan, of kan dalk nie dieselfde ding wees nie,” het Veary gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.