Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Gemors in Noordwes Supra se skuld, sê taakspan

Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, het nie leiding in die provinsie gegee nie en was waarskynlik die oorsaak daarvan dat die nasionale regering besluit het om tien provinsiale departemente onder administrasie te plaas.

Supra Mahumapelo Foto: Jabu Kumalo

Dit is een van die bevindings van die interministeriële komitee wat aangestel is om die provinsiale regering te ondersoek. Die tien departemente – insluitend die kantoor van die premier – is in Mei ingevolge die Grondwet onder administrasie geplaas.

Nompumelelo Mpofu, direkteur-generaal van die departement van beplanning, monitering en evaluering, het Donderdag ’n ontleding van die probleme in Noordwes aan die parlementêre ad hoc-komitee oor dié ingryping verskaf.

“Die departement van die premier het nie daarin geslaag om administratiewe leierskap in die provinsie te gee nie en was nie in staat om ’n situasie te verhinder waarin noodsaaklike dienste in duie gestort en wat die ingryping deur die nasionale regering genoodsaak het nie.

“Waarom het ons in dié situasie beland? Waarskynlik omdat die kantoor nie genoeg gedoen het om die situasie te verhinder nie,” het Mpofu gesê.

Gewelddadige betogings weens swak dienslewering het vroeër in die provinsie uitgebreek en inwoners het geëis dat Mahumapelo as premier bedank.

Mpofu het ook die sogenaamde projekbestuurseenhede wat in verskeie departemente aangestel is, as ’n probleem geïdentifiseer en gesê hulle het “meer tot die probleme bygedra as om dit op te los”.

AgriDelight was een van dié eenhede wat ’n kontrak met die provinsiale departement belas met landelike ontwikkeling gehad het. Luidens ’n berig in die Sunday Times het Mahumapelo in Oktober 2016 25 beeste ter waarde van R1,5 miljoen, wat vir opkomende boere bedoel was, as ’n geskenk by oudpres. Jacob Zuma se huis in Nkandla laat aflewer.

Daar was ’n aansienlike toename in ongemagtigde en onreëlmatige uitgawes in die provinsie. Dit het vanaf R8,6 miljard in die 2013-’14-boekjaar tot R15,39 miljard in die 2016-’17-boekjaar gestyg.

Dit het vanaf R8,6 miljard in die 2013-’14-boekjaar tot R15,39 miljard in die 2016-’17-boekjaar gestyg.

Die provinsiale departement van gesondheid het die meeste (R6,4 miljard) hiertoe bygedra, gevolg deur die provinsiale departement van openbare werke (R3,4 miljard), gemeenskapsveiligheid en vervoer (R3,1 miljard) en onderwys (R946 miljoen).

Mpofu het bevind die probleme in die provinsie word oorskadu deur groter probleme in die munisipaliteite. 20 van die 22 munisipaliteite het uiters swak ouditmenings ontvang en 12 van die 22 munisipaliteite is wanfunksioneel en verg dringende ingryping.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister in die presidensie verantwoordelik vir beplanning, monitering en evaluering, wat die sameroeper van die taakspan is, het gesê daar word “een vir een” na munisipaliteite gekyk om te besluit wat met hulle moet gebeur.

Meer oor:  Supra Mahumapelo  |  Noordwes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.