Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Geskorste gee R8 miljard-tender

Solly Tshitangano, die geskorste verkrygingshoof van Eskom wat die Eskom-baas André de Ruyter vroeër vanjaar van rassisme beskuldig het, het ’n sleutelrol gespeel in die toekenning van ’n bedenklike tender van R8 miljard aan die oliebergingsmaatskappy Econ Oil & Energy.

Solly Tshitangano, die geskorste verkrygingshoof van Eskom.

Die tender is in 2019 toegestaan, selfs al was Tshitangano en sy verkrygingsafdeling reeds bewus van korrupsiebeweringe teen Econ Oil.

Hierdie inligting het aan die lig gekom in ’n spesiale ondersoek deur die regsfirma Bowmans waaroor News24 die afgelope week die sluier gelig het.

Bowmans, een van die land se voorste regsfirmas, het bevind sowat R178 miljard se Eskom-tenders oor die laaste dekade was na bewering korrup.

Dit het gewissel van tenders vir tee en suiker tot kolossale kontrakte vir kragstasies.

Tshitangano is in Februarie geskors nadat hy nie besparingsteikens gehaal het nie.

In Maart het hy ’n brief aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gestuur waarin hy De Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, van magsmisbruik en rassisme beskuldig het. Tshitangano was onder meer gegrief daaroor dat Werner Mouton, ’n oudkollega, kontrakwerk by Eskom gekry het.

Die plan agter my verwydering is om te verseker dat ’n wit man as verkrygingshoof aangestel word.

“Ek is vertel dat die plan agter my verwydering is om te verseker dat ’n wit man as verkrygingshoof aangestel word,” het Tshitangano se brief gelui.

Skoor het op 3 Maart besluit om die beweringe te ondersoek, maar die ondersoek op 7 Maart afgelas nadat Eskom se direksie ’n senior advokaat aangestel het om die beweringe te ondersoek.

Tshitangano beweer verder dat die regte prosedures nie gevolg is met Mouton se aanstelling nie.

Mouton is in Januarie 2020 vir drie maande aangestel om die kontrakte van drie oliemaatskappye te ondersoek waaroor De Ruyter agterdogtig was. Die drie het brandstof-olie van R14 miljard aan kragsentrales verskaf. Een van hulle was Econ Oil.

Toe Bowmans in Mei 2019 op die punt was om groot deurbrake te maak, het vier senior Eskom-amptenare in die vorige bestuur die Bowmans-ondersoek summier beëindig, het News24 berig.

Dit was nadat Bowmans in Januarie 2019 ’n verdoemende verslag oor ongerymdhede met die Econ Oil-kontrakte aan Eskom voorgelê het.

Die vier amptenare, wie se name nie deur News24 genoem is nie, het die besluit om die Bowmans-ondersoek af te las geneem sonder om vir Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, in te lig. Oberholzer het kort ná sy aanstelling in Julie 2018 vir Bowmans gevra om kontrakte wat aan die Kusile-, Medupi- en Ingula-kragstasies toegeken is, te ondersoek.

Nadat die Bowmans-ondersoek in Mei 2019 opgeskort is, het Eskom ’n verdere twee olieverskaffingskontrakte aan Econ Oil toegeken ter waarde van R8 miljard.

Dit is hierdie kontrakte wat deur Tshitangano gemotiveer is, ten spyte daarvan dat hy intieme kennis gehad het van die vorige Bowmans-ondersoek wat ongerymdhede met Econ Oil-kontrakte uitgewys het.

Nadat De Ruyter in Januarie 2020 in sy pos begin het, het hy Bowmans in Mei 2020 gevra om die ondersoek na Econ Oil-kontrakte te hervat en voltooi.

Volgens Sikonathi Mantshan­tsha, Eskom-woordvoerder, is begrotingstekorte destyds as die rede voorgehou waarom die Bowmans-ondersoek toe beëindig is.

“Eskom se bestuur het in hierdie tyd (2019) vir Bowmans ingelig om sekere onvoltooide ondersoeke te finaliseer – behalwe die ondersoek na Econ Oil,” beweer Mantshantsha.

Hy het aan News24 gesê dit is “raaiselagtig” dat die Bowmans-verslag, wat reeds in 2019 ver gevorder was, nooit ingedien is nie.

Die Bowmans-ondersoek het ook bevind kontrakte by die Kusile-kragstasie is gebruik om verskeie Eskom-bestuurders te verryk. Kusile, wat steeds nie volledig in bedryf is nie, sou aan­vanklik R81 miljard kos. Op die ou end is die koste opgejaag tot meer as R160 miljard.

Die meeste van die omkoopgeld moes volgens Bowmans inbetaal word in die Babinatlou-omkoopfonds, wat deur die sakeman Hudson Kgomoeswana bestuur is. Drie Eskom-bestuurders, France Hlakudi, Mildred Nyoka en Diana Motlou, is glo uit hierdie fonds betaal.

Die hooggeregshof in Pretoria het die afgelope week ’n beperkingsbevel van die nasionale vervolgingsgesag se ondersoekdirektoraat goedgekeur om R1,4 miljard se bates van Eskom-bestuur­ders te bevries. Hlakudi en Kgomoeswana is onder die vyf mense en ses maatskappye waarvan bates bevries is.

Die ander drie is Abram Ma­sango, voormalige kapitaalhoof van Eskom, Antonio Trindade, voormalige hoof van Tubular Construction Projects, en Mi­chael Lomas, ’n voormalige direkteur van Tubular. Al vyf staan tereg op aanklagte van bedrog en korrupsie.

Meer oor:  Solly Tshitangano  |  André De Ruyter  |  Korrupsie  |  Skoor  |  Tenders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.