Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Guptas: Agente verwyder glo inligting voordat Valke toeslaan

Lank voordat die Valke op die Vrede-suiwelskema toegeslaan het om beweerde bedrog en geldwassery te ondersoek, het “agente met opdrag van heel bo” by Estina se kantoor in Vrede opgedaag en alle dokumente, rekenaars en inligting verwyder.

Die Vrede-suiwelplaas waar die Guptas honderde miljoene rand se staatsgeld geplunder het. Foto: Mlungisi Louw

Só sê ’n bron wat gehelp het om die omvang van die Guptas se plundering van staatsbates deur die Vrede-skema te onthul.

Luidens ’n staat van die Vrystaatse departement van landbou is R334 miljoen in minder as twee jaar aan die Guptas se maatskappy Estina betaal.

Volgens die bron hou die gebeure verband met die beweerde diefstal van die skootrekenaar van Elzabé Rockman, Vrystaatse LUR van finansies, in die tyd toe die Valke op Ace Magashule, destydse premier van die Vrystaat, se kantoor toegeslaan het.

Rockman is na bewering by haar huis beroof. Haar skootrekenaar met al die inligting oor die uitbetalings aan die Guptas was op die rekenaar, asook ander belangrike inligting.

“Drie agente met groot, swart karre het by Estina se kantoor op Vrede opgedaag en beslag op die rekenaars, dokumente en ander inligting te lê. Hulle het opdrag van heel bo gehad. Hulle is met alles daar weg.”

Netwerk24 het vandag bankstate van Estina bekom wat wys hoe die Vrystaatse departement van landbou bedrae van tot R50 miljoen op ’n slag aan Estina betaal het. Bykans onmiddellik is groot bedrae dan aan die Bank of Baroda, die Guptas se bank in Indië, oorbetaal.

Die dagblad Volksblad, wat nou deur Netwerk24 met inhoud bedien word, het reeds op 23 Mei 2013 in die berig “Guptas se VS-bande ontbloot” onthul dat die Gupta-familie ook aan die speen van die multimiljoenrandse suiwelprojek by Vrede gesuig het. Dit nadat die Vrystaatse provinsiale regering ontken het dat die Guptas enigsins betrokke is.

In ’n ondersoek is bevind dat die onderneming Linkway Projects een van die aanvanklike projekkonsultante in die suiwelprojek was.

Uit inligting wat ingesamel is, het geblyk daar is bande tussen Linkway en die Guptas.

Volksblad het ook destyds vasgestel dat Atul Gupta, een van die drie Gupta-broers, vergaderings oor die suiwelprojek bygewoon het.

Van die koerant se bevindings is aan Gary Naidoo, woordvoerder van die Gupta-familie, voorgehou en hy het toe erken Linkway is ’n filiaal-maatskappy van die Guptas.

Drie agente met groot, swart karre het by Estina se kantoor op Vrede opgedaag en beslag op die rekenaars, dokumente en ander inligting te lê. Hulle het opdrag van heel bo gehad. Hulle is met alles daar weg.

Hy het gesê Linkway was een van verskeie aanvanklike projekkonsultante wat vir ’n termyn van drie maande teen ’n tarief van R30 000 per maand aangestel is. Dit is toe met ’n beperkte dienskontrak teen R8 000 per maand oor ’n vaste termyn vervang, wat in ’n stadium beëindig is.

“Die totale faktuur was R138 000 (BTW uitgesluit) vir die volle tydperk.”

Naidoo het ook ontken dat die Guptas toe steeds by die projek betrokke was.

Die inligting wat Naidoo verskaf het, is destyds ernstig bevraagteken. Sedertdien het dit duidelik geword die Guptas se betrokkenheid by die suiwelprojek het baie dieper gestrek en was baie meer as wat Naidoo in 2013 voorgegee het.

Uit Volksblad se navrae destyds oor die Guptas se betrokkenheid by die suiwelprojek is afgekom op ’n e-pos tussen ’n diensverskaffer en die onderneming Linkway Projects. Daarin was onder meer Linkway se kontaknommers.

Volksblad het Linkway gebel, maar toe by die koerant The New Age uitgekom. Iemand hier het toe ’n ander telefoonnommer verskaf, maar dit was vir Sahara-rekenaars.

Die Guptas was toe die eienaars van onder meer Sahara-rekenaars en die koerant The New Age.

Meer oor:  Estina  |  Valke  |  Guptas  |  Elzabé Rockman  |  Ace Magashule  |  Vrede  |  Vrede-Suiwelskandaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.