Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Hoëvlak-paneel gaan SSA ondersoek

’n Hoëvlak-hersieningspaneel is aangestel om die skandaalgeteisterde staatsveiligheidsagentskap (SSA) se mandaat, kapasiteit en organisatoriese integriteit te ondersoek.

Pres. Cyril Ramaphosa het dit Vrydag aangekondig nadat hy op 8 Mei in die Nasionale Vergadering by die parlement sy planne vir die skep van so ’n hersieningspaneel bekend gemaak het.

Ramaphosa se aankondiging Vrydag het ook op dieselfde dag gekom as wat News24 onthul het dat Pat Mokushane, voormalige hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, ook op klagte van korrupsie, bedrog en geldwassery in hegtenis geneem is.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: DIRCO

Twee onafhanklike bronne het aan News24 bevestig dat Mokushane, sowel as brig. Leonora Bamuza-Phetlhe en nog ’n polisiebeampte van misdaadintelligensie, Donderdagaand aangekeer is. Die drie sal na verwagting binnekort in die handelshof in Pretoria verskyn.

Ramaphosa het behalwe die aankondiging oor die hersieningspaneel vir die SSA op 8 Mei, ook aangekondig dat hy vir Bheki Cele, minister van polisie, aangesê het om ook die voortdurende probleme in die polisie se misdaadintelligensie-eenheid aan te pak.

Een van Cele se eerste stappe was om vir lt.genl. Peter Jacobs in Maart as nuwe misdaadintelligensiehoof aan te stel.

Dié eenheid was in oudpres. Jacob Zuma se twee termyne, toe die omstrede Richard Mdluli nog die hoof was, geteister deur beweringe van korrupsie en wanbestuur en dat dit deur die Zuma-faksie in die ANC teen politieke opponente misbruik is.

Ramaphosa het Vrydag aangekondig dat dr. Sydney Mufamadi, ’n gewese minister van veiligheid en sekuriteit, die hoëvlak-hersieningspaneel oor die SSA se voorsitter sal wees.

Ander paneellede is Barry Gilder, Anthoni van Nieukerk, prof. Sibusiso Vil-Nkomo, Murray Michell, Basetsana Molebatsi, Siphokazi Magadla, Andre Pruis, prof. Jane Duncan en Silumko Sokupa.

Ramaphosa het in ’n verklaring daaroor gesê dat die paneel alle materiële faktore wat tot van die huidige probleme in die SSA gelei het, gaan identifiseer sodat gepaste maatreëls ingestel kan word om ’n herhaling te verhoed.

“Die hoofdoel van die hersieningspaneel is om ’n verantwoordelike en aanspreeklike nasionale intelligensie-vermoë vir die land, in lyn met die Grondwet en relevante wetgewing, te verseker,” het Ramaphosa gesê.

Sy aankondiging oor die hersieningspaneel kom ook kort nadat hy vroeër vanjaar die omstrede Arthur Fraser as direkteur-generaal van die SSA na ’n soortgelyke pos in die departement van korrektiewe dienste (DKD) verskuif het.

Die DA het vroeër egter die konstitusionele hof genader om Ramaphosa se skuif van Fraser na die DKD tersyde te stel omdat die party beweer dat Fraser in sy tyd by die SSA na bewering ’n geheime en parallelle intelligensiediens van sy huis bedryf en miljoene rande se staatsgeld vir persoonlike gebruik aangewend het.

Fraser se skuif het ook gevolg nadat dit aan die lig gekom het dat dr. Setlhomamaru Dintwe, inspekteur-generaal van intelligensie, vroeër vanjaar ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria teen hom gebring het waarin Dintwe onder meer aangevoer het dat Fraser sy sekerheidsklaring teruggetrek het, hom by sy werk ingemeng het en sy ondersoek teen hom ondermyn het.

Ramaphosa het Vrydag ook aangekondig dat hy Charles Nqakula, ’n gewese minister van verdediging, as sy nasionale sekuriteitsadviseur aangestel het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.