Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Kom vertel ons jou weergawe, mnr. Zuma – Maseko

“Kom vertel jou kant van die saak, mnr. Zuma. Ek wil dit graag hoor.”

Themba Maseko Foto: Argief

Dit was Donderdag in wese die boodskap van Themba Maseko, ’n voormalige hoof van die regering se kommunikasie- en inligtingsdiens (GCIS), aan oudpres. Jacob Zuma toe hy hom uitgedaag het om voor die Zondo-kommissie van ondersoek in Johannesburg sy weergawe van gebeure te gee rakende Maseko se getuienis.

Maseko het so gereageer nadat adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie na staatskaping, Donderdag Ajay en Rajesh Gupta se aansoek van die hand gewys het om getuies voor die kommissie te kruisondervra.

Zondo het gesê vir so lank as wat die Gupta-broers nie bereid is om na Suid-Afrika terug te keer om persoonlik voor die kommissie te getuig nie, sal hulle nie toegelaat word om getuies te kruisondervra nie.

Zondo het egter nie daar opgehou nie. Hy het gevra dat Zuma – wat Woensdag vir studente op die kampus van die Walter Sisulu-Universiteit gesê het dat daar nie so iets soos staatskaping is nie – ’n eedsverklaring by die kommissie moet indien oor die bewerings in Maseko se getuienis en ook dié van Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP.

Oudpresident Jacob Zuma. Foto: Felix Dlangamandla

Dit is hieroor dat Maseko sê hy sien uit na Zuma se weergawe. Maseko het getuig dat Zuma druk op hom uitgeoefen het om die Gupta-broers te “help” om regeringsadvertensies vir hul koerant The New Age te kry.

“Die land wag om sy weergawe van die verhaal te hoor. Hy sal aan die nasie moet kom verduidelik wat sy weergawe is. Ek sien daarna uit,” het Maseko by die kommissie aan Netwerk24 gesê.

Hy het in reaksie op Zuma se toespraak Woensdag gesê dit is skokkend. “Ek weet nie wie hom die raad gee om sulke verklarings te maak nie.”

Mentor het vroeër voor die kommissie getuig dat Zuma teenwoordig was by die Guptas se huis in Saxonwold, Johannesburg, toe die broers haar die pos van minister van openbare ondernemings aangebied het.

Zondo het ook toestemming gegee dat Duduzane Zuma, wat sentraal geplaas is in die Guptas se beweerde plundering van staatsbates, vir Mcebisi Jonas, voormalige minister van finansies, mag kruisondervra.

Jonas het vroeër voor die kommissie getuig dat Duduzane Zuma ’n ontmoeting in 2010 tussen hom en die Gupta-broers gereël het, waar Jonas omkoopgeld van R600 miljoen aangebied is.

Toe hy genader is met die vraag of die Gupta-broers ooit weer na Suid-Afrika sal terugkeer om getuies te kruisondervra, het adv. Mike Hellens SC, wat die Guptas verteenwoordig, gesê hy sal hom nie by ’n bespreking daaroor laat betrek nie.

“Ek het geen kommentaar nie. Ek kan nie kommentaar lewer oor hangende sake nie,” het hy gesê.

Alex Mashilo, nasionale woordvoerder van die SAKP, het ’n beroep op die Valke gedoen om hul pogings te verskerp om ’n lasbrief uit te reik vir Ajay Gupta sodat hy na die land kan terugkeer.

“Hulle ontwyk inhegtenisname deur die Valke en vervolging deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG),” het Mashilo gesê.

Protas Madlala, ’n politieke ontleder, het gesê die kommissie kan vrugteloos wees as die Guptas nie na die land terugkeer om te antwoord op die bewerings teen hulle nie.

“Hulle (die Valke en NVG) behoort die uitleweringsooreenkomste tussen Suid-Afrika en die land waar die Guptas hulle bevind, te bekyk. Hulle is die sleutelspelers. As hulle nie kom nie, sal die kommissie nutteloos wees,” het Madlala gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.