Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Korrupsie onder polisielede in Gauteng gedy glo – verslag

Die meeste beweerde korrupsie onder polisielede kom in Gauteng voor, luidens nuwe inligting van die burgerregteorganisasie Corruption Watch.

Luidens die verslag wat Donderdag bekend gemaak is, is die meeste klagte (52,8%) teen polisielede in Gauteng aanhangig gemaak. Johannesburg en Pretoria is die stede waar die meeste klagte in die provinsie voorkom.

In KwaZulu-Natal (KZN) is 10,8% en in die Wes-Kaap 8,3% van die klagte aangemeld. Die minste klagte kom uit die Noord-Kaap (1,6%), gevolg deur Noordwes (3,2%) en die Vrystaat (3,8%). 4,5% van die klagte kom uit onderskeidelik Limpopo, Mpumalanga en die Oos-Kaap.

Melusi Ncala, die projekleier van Corruption Watch wat die verslag saamgestel het, sê sedert die organisasie sewe jaar gelede gestig is, is 24 500 voorvalle van beweerde wandade deur polisielede by hulle aangemeld.

“Dit wys dat die publiek nie vertroue in die polisie het nie. Wat kommerwekkend is, is dat daar toenemende voorvalle is waar polisielede glo geld of seksuele gunste by vroue afpers,” sê Ncala.

Die meeste klagte (33%) is oor beweerde omkopery, waarna 23% handel oor die beweerde misbruik van mag. 18% van die klagte is weens die beweerde versuim om hul pligte as polisielede na te kom.

Watter polisielede het die meeste klagte teen hulle?

* speurders – 26%

* ondersoekbeamptes – 26%

* kapteins – 12%

* konstabels – 10%

* adjudant-offisiere – 8%

Die beweerde misbruik van regeringshulpbronne maak 5% van die klagte uit.

Ncala sê daar is ook ’n toename in polisiedossiere wat “wegraak” wanneer polisielede omgekoop word.

“Dit dui op sameswering tussen misdadigers en die polisie wat veronderstel is om laasgenoemde agter tralies te kry en die publiek te beskerm.”

’n Groot probleem in die Wes-Kaap is die toename van 40% waar polisielede glo gewelddadig teen veral vroue optree.

Ncala sê een van die klagte wat by hulle aangemeld is, is van ’n vrou wat ’n saak van gesinsgeweld aanhangig gemaak het. Haar man het glo ’n teenklag teen haar ingedien. Die vrou is glo in ’n sel toegesluit en ’n polisielid het haar gevra waar op haar liggaam het sy tatoes.

“Toe sy weier om te sê is sy gedreig dat hy haar sal deursoek, want hy het die reg om dit te doen.”

Voorvalle is ook aangemeld waar dossiere van gesinsgeweld tussen neus en ore verdwyn het.

Daar is ook klagte by Corruption Watch ingedien oor mense, veral in die Wes-Kaap, wie se huise deurgesoek word deur polisielede kort voordat hulle glo dwelmhandelaars sou aanmeld.

Kol. Brenda Muridili, nasionale polisiewoordvoerder, sê die verslag sal eers bestudeer word en die polisie se regsafdeling sal geraadpleeg word voordat enige kommentaar gelewer kan word. Sy sê die minister van polisie stel misdaadstatistieke slegs een keer per jaar bekend.

Meer oor:  Corruption Watch  |  Kwazulu-Natal (Kzn)  |  Wes-Kaap  |  Gauteng  |  Korrupsie  |  Polisielede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.