Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
NWU skarrel oor MBA van Jan Taks se IT-hoof

Dit was nie net die onsamehangende reaksie van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se hoof van inligtingstegnologie (IT) dié week op televisie en voor die Nugent-kommissie wat ’n beroering onder belastingbetalers veroorsaak het nie.

Mmamathe Makhekhe-Mokhuane

Haar MBA-kwalifikasie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het die universiteit se sakeskool glo laat skarrel om sy reputasie te red.

Rapport verstaan die universiteitsowerhede het Mmamathe Makhekhe-Mokhuane se verhandeling kort ná haar getuienis voor die kommissie aangevra. Dit gaan aan onafhanklike instansies voorgelê word vir evaluering om te verseker dat dit op peil is.

Makhekhe-Mokhuane het Saterdag in ’n verklaring om verskoning gevra vir haar gedrag voor die kommissie en in ’n televisie-onderhoud.

“Ek vra sonder voorbehoud om verskoning aan almal wat teleurgesteld is of aanstoot geneem het oor hoe ek albei situasies hanteer het. Daar is geen verskoning of regverdiging daarvoor nie,” het sy gesê.

Louis Jacobs, woordvoerder vir die NWU, het aan Rapport bevestig dat Makhekhe-Mokhuane einde 2003 aan die voormalige Universiteit van Noordwes (voorheen die Universiteit van Bophuthatswana) haar MBA verwerf het. Dit was voordat dié universiteit in Mafikeng in 2004 met die Potchefstroomse Universiteit in die NWU saamgesmelt het.

Makhekhe-Mokhuane is luidens die SAID se jaarverslag verlede jaar in Mei aangestel as een van Tom Moyane, die geskorste kommissaris, se topbestuurders. Luidens die verslag het sy in die eerste 11 maande sedert haar aanstelling R3,06 miljoen verdien, oftewel R278 000 per maand of R1 738 per uur.

Tog het sy kleigetrap voor die Nugent-kommissie met bisarre verduidelikings oor waarom die SAID se IT-stelsels en veral eFiling nie gemoderniseer word nie.

Sy het dit aan begrotingstekorte toegeskryf, maar kon nie verduidelik wat met die R270 miljoen gedoen word wat die tesourie vroeër vanjaar vir modernisering van IT toegestaan het nie.

’n Vraag waarom sy net vier van die 14 vergaderings bygewoon het wat oor die saak gehou is, het sy afgemaak as “geklassifiseerde nonsens”.

Toe regter Robert Nugent aanbied om die notules van die vergaderings aan haar te wys, het sy gesê sy het ’n oogsiekte en kan nie lekker sien nie. Nugent het sommer ook onder haar tong deurgeloop toe sy terugkap dat sy nie aan hom verantwoordbaar is nie: “Met respek, beskerm my.”

Dit was egter haar verduideliking oor die SAID-personeelbestuur wat selfs Nugent oorbluf gelaat het: “Die Drakensberg Seunskoor is in 1867 gestig en in 2018 is meisies steeds nie toegelaat om vir die koor te sing nie.”

Makhekhe-Mokhuane se beskikbare CV’s dui daarop dat sy afgesien van haar MBA, hoofsaaklik ’n handvol sertifikate vir kort kursusse het. Sy het in ’n kort tydjie ’n indrukwekkende klomp poste beklee waaronder by die Noordwes-provinsie se verbruikersraad; by parke en toerisme; en in die staat se finansies-afdeling voordat sy in die premier se kantoor gedien het.

Toe was sy hoof van IT in die nasionale departement van vervoer en die departement van kommunikasie voordat sy tydens Nomvula Mokon­yane se termyn in die departement van water en sanitasie gedien het.

Die NWU se MBA is verlede jaar op grond van ’n peiling onder werkgewers deur Financial Mail aangewys as die sewende gewildste. Dit is een van die bekostigbaarste MBA’s in die land – 100 studente het in 2017 aan dié universiteit vir die graad geregistreer.

Alf Lees van die DA het intussen ’n skriftelike vraag by die parlement ingedien oor presies hoe Makhekhe-Mokhuane vir haar pos gekwalifiseer het. “Ons inligting is dat minstens een van haar kwalifikasies nie presies is wat sy voorhou nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa het Moyane tot Vrydag gegee om te sê waarom hy sy pos moet behou.

Mark Kingon, waarnemende kommissaris, het Vrydag voor Nugent vir Ramaphosa, die minister van finansies en SAID-werknemers “onvoorwaardelik” verskoning gevra. “Ons uitvoerende bestuur is stukkend. Ons het nou visioenêre leierskap nodig,” het ’n emosionele Kingon gepleit.

Lees ook Pieter Malan se rubriek in Stemme.

Meer oor:  Mmamathe Makhekhe-Mokhuane  |  Said  |  Nugent-Kommissie  |  Sars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.