Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Ondersoek na korrupsie-netwerk by staatsprokureur

Eise van R56 miljard teen die departement van gesondheid wat met belastingbetalers se geld betaal is, is deel van ’n ondersoek na ’n beweerde korrupsie-netwerk waarby die staatsprokureur glo betrokke is.

Die staatsprokureur gee regsdienste aan die staat en sy werknemers.

Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Dinsdag op ’n mediakonferensie in Pretoria aangekondig dat die presidensie die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ’n mandaat gegee het om dié ondersoek te begin.

Dit gaan oor amptenare van die kantoor van die staatsprokureur wat na bewering onreëlmatig met dokters, konstruksiewerkers en private prokureurs saamgewerk het sodat eise teen die staat uitbetaal kan word.

“Amptenare van verskeie departemente, regsorganisasies en lede van die publiek het hul kommer oor die optrede van die staatsprokureur uitgespreek,” het Masutha gesê.

“In baie gevalle het die staatsprokureur met partye buite die hof geskik, waar die sake moontlik in die hof gewen kon word.”

Hy kon nie sê hoeveel private prokureurs en firmas by die beweerde korrupsie-netwerk betrek word nie.

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het op die mediakonferensie bevestig dat eise van R56 miljard wat deur die departement van gesondheid uitbetaal is, deel van die ondersoek vorm. Die ondersoekspan moet nou vasstel hoeveel van die geld onreëlmatig bekom is.

“Baie van die geld is waarskynlik regmatig aan eisers uitbetaal. Dit is so dat pasiënte soms nalatig behandel word of aan wanpraktyke blootgestel word, maar ’n groot gedeelte van die geld kan aan korrupsie toegeskryf word,” het Motsoaledi gesê.

Hy het onder meer verwys na ’n saak waarin ’n man R70 miljoen van die staat geëis het oor ’n besnydenis wat glo verkeerd geloop het. Daar is toe egter bevind dat geen besnydenis plaasgevind het nie. Die saak is na die Valke verwys.

My grief is dat die proses te lank duur, ons moet die netwerk so gou moontlik opbreek.

Andy Mothibi, hoof van die SOE, sê al die kantore van die staatsprokureur in die nege provinsies van Suid-Afrika sal ondersoek word. Dit is ’n ondersoek van groot omvang en sal daarom tyd neem om bevindings te maak, het hy gesê. Indien nodig, sal die ondersoekspan met organisasies in die buiteland saamwerk.

Bheki Cele, minister van polisie, beweer die polisie het ook onder die korrupsie-netwerk deurgeloop.

Volgens hom beloop die eise teen die polisie egter nie naastenby soveel soos dié teen die departement van gesondheid nie. Cele sê hy het klaar met die Valke vergader omdat misdadige optrede tydens die ondersoek oopgevlek kan word. Die Valke kan dan sorg dat die verdagtes vervolg word.

Motsoaledi het gesê hy weet van private prokureurs wat in hegtenis geneem moet word.

“My grief is dat die proses te lank duur, ons moet die netwerk so gou moontlik opbreek.”

Die volgende bewerings sal amptelik deur die SOE ondersoek word:

* Ernstige wanbestuur in die kantoor van die staatsprokureur;

* onwettige optrede deur sekere werknemers van die kantoor van die staatsprokureur;

* onwettige besteding van openbare geld en eiendom;

* onwettige, onreëlmatige of ongemagtigde optrede of transaksies wat met staatseiendom verbind kan word;

* opsetlike of nalatige verlies van openbare geld of die beskadiging van eiendom;

* oortreding van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite; en

* onbehoorlike optrede wat die belange van die publiek in gedrang bring of skade berokken.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.