Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Ondersoek na vergoeding duur voort

Die regering finaliseer wetgewing wat daarop gemik is om die groot gaping tussen die verdienste van maatskappye se hoogs besoldigde baas en dié van die laags besoldigde werknemer in die kollig te plaas.

Foto:

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het Dinsdag in sy begrotingsrede gesê ’n nuwe wet wat bepaal dat maatskappye die gaping in vergoeding bekend maak, “sal binne 60 dae gefinaliseer word”.

Die doel is om strenger beheer uit te oefen oor buitensporige betalings vir direkteure asook groter deursigtigheid oor eienaarskap en finan­siële verslae.

“Nog wysigings aan die Maatskappyewet is nodig om die gruwelike ongeregtigheid van buitensporige betaling te takel,” het Patel gesê.

Madelein Burger, ’n vennoot by die regsfirma Webber Wentzel, sê dis onseker na watter “nuwe wet” die minister verwys: is dit die 2019-weergawes, die weergawe van April 2021 of ’n wysiging van laasgenoemde?

Die Wysigingswet op Maatskappye van 2018 is in September 2018 in die Staatskoerant gepubliseer vir kommentaar. Sedertdien is verskeie nie-amptelike weergawes vir bespreking versprei, waarvan die jongste in April vanjaar.

Burger sê die 2021 nie-amptelike weergawe van die wetsontwerp maak voorsiening daarvoor dat die gaping in betaling tussen hoogs en laags besoldigde bekend gemaak word, asook die gaping tussen die gemiddeld van die 5% hoogs besoldigde werknemers teenoor die gemiddeld van die 5% laags besoldigdes.

Dié weergawe meld nie wat as onaanvaarbaar sal tel nie, sê Burger. Dit is ook onseker wat Patel met “finaliseer” bedoel. Beteken dit ’n konsepwet sal vir kommentaar gepubliseer word of gee hy te kenne daar sal geen geleentheid vir openbare kommentaar wees voor dit ’n wet van die parlement word nie, vra Burger.

In dié stadium lyk dit of alle openbare maatskappye, genoteer of ongenoteer, en alle ongenoteerde maatskappye aan die vereistes oor vergoedingsinligting sal moet voldoen. Kenners het in Januarie vanjaar aan Rapport gesê so ’n wet kan teen 2022 van krag wees.

Patel het aan eNCA gesê die inligting oor betalingsgapings sal aandeelhouers ’n groter sê gee oor betaling en die besluit sal nie net by die direksie berus nie. “Die gaping is ’n probleem omdat nie almal in alle werkplekke verbind is tot ’n gedeelde toekoms vir almal nie.”

Volgens die minister sal die bepalings nie salarisse voorskryf nie.

Sedert die wêreldwye finansiële krisis in 2008 is daar toenemend kritiek op die buitensporige vergoeding van sekere maatskappye se bestuurders en hoofde, terwyl die wêreld teen ongelykheid veg.

PwC se verslag oor die vergoeding van nie-uitvoerende direkteure toon die mediaan-vergoeding van nie-uitvoerende voorsitters van JSE-genoteerde maatskappye was in 2020 R934 000. Dit kom neer op sowat R78 000 per maand.

Volgens BankservAfrica se indeks oor betaling het ’n werkende individu in Suid-Afrika in Februarie gemiddeld sowat R13 044 huis toe geneem.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se kwartaallikse indiensnemingsopname was die gemiddelde maandelikse verdienste (bonusse en oortydbetaling ingesluit) in November 2020 R23 133, teenoor R22 429 in November 2019.

Volgens Burger skryf die nie-amptelike weergawe van 2021 nie enige oplossing of stappe voor nie, maar die beleid moet driejaarliks op die jaarvergadering goedgekeur word.

Kenners het aan Rapport gesê in Brittanje, waar ’n meer beperkte bekendmaking van die gaping sowat ’n jaar gelede verpligtend geword het, het mense wel vrae begin vra oor buitensporige vergoeding.

Meer oor:  Ebrahim Patel  |  Salarisse  |  Ongelykheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.