Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Opod ‘nie van stryk’ in ondersoek teen polisie-hoës

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) sal voortgaan met sy ondersoek na top-polisiebase wat na bewering staatsgeld van R45 miljoen wou verduister om destyds stemme op die nasionale konferensie by Nasrec te koop waar pres. Cyril Ramaphosa tot ANC-president verkies is.

Genl. Khehla Sitole
Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris. Foto: Melinda Stuurman

Dít ten spyte daarvan dat die hooggeregshof in Pretoria die afgelope week beveel het dat “geklassifiseerde” dokumente wat deur ’n Pretoriase landdros gebruik is om drie top- polisie-offisiere, insluitende genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, te dagvaar om deur Opod hieroor ondervra te word, terug aan die polisie gegee moet word.

Sitole het vroeër die aansoek by die hooggeregshof saam met twee adjunk- nasionale kommissarisse, sowel as ’n destydse adviseur van Fikile Mbalula toe hy nog minister van polisie was, ingedien.

Moses Dlamini, Opod-woordvoerder, het Vrydag gesê die hooggeregshof se uitspraak sal nie die Opod-ondersoek hieroor in die wiele ry nie.

“Die aangeleentheid sal heel moontlik later strafhof toe gaan. Ons sal hoor wat dié hof sê. Die polisie se aansoek in die hooggeregshof was net ’n taktiek om die onvermydelike te vertraag.”

Sitole het egter Donderdag die hofbeslissing in ’n verklaring verwelkom. Hy het daarin ook aangevoer dat die landdros dagvaardings uitgereik het vir hom en sy twee adjunkte om hulself aan Opod-ondervraging te onderwerp in die “i-View”-ondersoek.

Sitole sê hy het egter die landdros se magte om die dagvaardings uit te reik, deur die hooggeregshof laat hersien. Die landdros is ook gedwing om die dokumente wat vir die dagvaardings oorweeg is, aan die polisie terug te gee.

Robert McBride
Robert McBride, hoof van Opod. Foto: Cornél van Heerden

Robert McBride, Opod se uitvoerende direkteur, het egter in hofstukke in bogenoemde hooggeregshofaansoek van Sitole-hulle aangevoer dat die kern van hul saak daarop berus dat die dagvaardings onwettig was omdat die inligting en dokumente wat daarvoor deur die landdros oorweeg is, “geklassifiseerd” was en dit nasionale veiligheid in gedrang kon bring.

McBride het beweer dat die dokumente eerder betrekking het op die beweerde pleeg van misdade en dat dit “onwettig en onbehoorlik” geklassifiseer is ten einde daardie beweerde misdade toe te smeer.

Oor die Nasrec-beweringe voer McBride in die hofstukke aan dat Opod op 14 Desember 2017 ’n wenk ontvang het dat ’n transaksie van R45 miljoen onbehoorlik geprosesseer word tussen die polisie se misdaadintelligensie-eenheid en ’n maatskappy genaamd I-View.

Dit was glo vir die verkryging van ’n selfoonsein-onderskepper (grabber) “teen ’n opgeblase prys van R45 miljoen”.

Dié toestel kan vir tussen R7 miljoen en R10 miljoen op die ope mark verkry word, meen McBride.

“Daar word vermoed dat die geld wat vir hierdie verkryging bekom is, gebruik sou word om stemme op die ANC se 54ste nasionale konferensie wat van 16 tot 20 Desember 2017 (by Nasrec) in Johannesburg gehou is, te koop,” lui die hofstukke.

Dit lui verder dat Opod later ook beeldmateriaal van ’n vergadering op 13 Desember 2017 by ’n Pretoriase hotel bekom het waar die “nood-aankoop” van die onderskep-toestel glo bespreek is en waar Sitole, sy twee adjunkte, Mbalula se adviseur en die eienaar van I-View teenwoordig was.

Sitole het egter die aankoop gekanselleer nadat Opod hom luidens die hofstukke op 15 Desember 2017 sodanig geadviseer het.

Al wat Dakota Legoete, ANC-woordvoerder, Vrydag in Durban oor bogenoemde beweringe wou sê, is dat McBride as Opod-hoof die beste geplaas is om daarop te reageer, berig Bonolo Selebano.

Meer oor:  Robert Mcbride  |  Moses Dlamini  |  Anc-Konferensie  |  Ondersoek  |  Opod  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.