Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Prasa gee verslag 335 dae laat

Die parlement gaan nou uiteindelik die geleentheid kry om die ouditeur-generaal (OG) se verslag oor die finansiële wanbestuur by die Passasierspooragentskap (Prasa) te bespreek – nadat parlementariërs amper ’n jaar daarvoor moes wag.

Blade Nzimande

Sipho Sithole, Prasa-woordvoerder, het aan Rapport bevestig dat die OG se verslag vir die 2016-’17-boekjaar einde verlede maand by die parlement ingedien is. Dit is egter 335 dae te laat.

Die OG, Kimi Makwetu, het reeds verlede jaar sy verslag – wat blykbaar erg krities is oor die grootskaalse finansiële ongerymdhede by Prasa – aan die Prasa-bestuur oorhandig.

Kragtens wet moes Prasa teen 30 September verlede jaar dié verslag by die parlement indien. Prasa het egter in gebreke gebly om dit te doen sonder om ooit te verduidelik waarom.

Manny de Freitas, DA- woordvoerder oor vervoer, het verlede maand ’n verslag – wat hy beweer die OG se verslag is wat Prasa uit die openbare domein probeer hou – aan die media gelek.

Die verslag skets ’n prentjie van ’n chaotiese bankrotspul waar geld na willekeur gesteel word. Daarvolgens was Prasa met ’n verlies van R1,7 miljard verlede jaar op die rand van ’n finansiële ineenstorting. Daar is geen stelsels wat on­reëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes kan identifiseer nie en dié wat onreëlmatig bestee, word nie vasgevat nie.

Die meeste tenders word toegeken op ’n manier wat nie “regverdig, billik, deursigtig, mededingend en kostedoeltreffend” is nie.

In ’n steekproef het die OG 36 tenders bekyk. Elke een was onreëlmatig.

In 92% van gevalle is daar nie aan interne prosesse of regulasies voldoen nie. Tendervereistes is in 33% van gevalle geïgnoreer. In vyf gevalle het die verskaffer wat deur die tenderpaneel aanbeveel is nie die tender gekry nie en in nog vyf gevalle is maatskappye sonder kontrakte aangestel.

Prasa-amptenare het in verskeie gevalle nooit hul eie belangebotsings verklaar nie.

De Freitas het ná sy bekendmaking van die verslag strafregtelike klagte aanhangig gemaak teen Prasa se tussentydse raad.

Dr. Blade Nzimande, minister van vervoer, wat saam met Prasa die verslag by die parlement moet indien, sê egter die verslag wat De Freitas aan die media gelek het, is nie dié van die OG nie.

Prasa wou nie die afgelope week ’n afskrif van die OG se verslag aan Rapport gee sodat dit vergelyk kan word met die DA se weergawe nie en het gesê die verslag sal eers openbaar gemaak word as dit in die parlement bespreek word.

Probleme by Prasa het die afgelope dekade tot ’n drastiese afname in passasiersgetalle gelei. Volgens die ekonoom Mike Schüssler het treinpassasiers sedert 2009 met 58% gedaal. Volgens syfers was daar in Januarie slegs 24,78 miljoen treinpassasiers teenoor die 54 miljoen per maand in 2009.

Treindienste is verreweg die goedkoopste openbare vervoermiddel in Suid-Afrika.

In die Wes-Kaap het vandale sedert 2015 meer as 150 treinwaens laat uitbrand. Riana Scott, Metrorail-woordvoerder, sê die brandstigting was laas so erg in die 1980’s. Die Spoorveiligheidsreguleerder (RSR) het nie Prasa se veiligheidspermit einde Julie hernu nie.

Meer oor:  Treindienste  |  Prasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.