Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
SA mis VN-teikens: 'Water word nie bestuur nie'

Suid-Afrika sal waarskynlik nie die Verenigde Nasies se skoon-water- en sanitasiedoelwit vir 2030 haal nie, skryf Jana Marx.

Die departement van water en sanitasie het in Februarie vanjaar die Vaaldam se sluise oopgemaak ná swaar reënbuie. Foto: Gallo

Danksy ’n goeie reënseisoen is Suid-Afrika gerat vir die droë wintermaande, het die departement van water en sanitasie (DWS) onlangs in ’n verklaring gesê.

Maar op lang termyn lyk dit nie asof Suid-Afrika die Verenigde Nasies (VN) se skoon-water- en sanitasiedoelwitte vir 2030 haal gaan nie – dít terwyl daar reeds ’n dreigende watertekort van 17% teen 2030 voorspel word.

Prof. Akpofure Taigbenu, professor in wateringenieurswese en hoof van die waternavorsingsgroep en hoof van die skool vir siviele en omgewingsingenieurswese aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê ons dreigende waterkrisis hang nie van die hoeveelheid water in die land af nie, maar eerder van ons waterbestuur.

Selfs met oorvloedige waterbronne het ons goeie waterbestuurstelsels in Suid-Afrika nodig.
Prof. Akpofure Taigbenu

“Die mediaverklaring deur die departement van water en sanitasie weerspieël ’n herhalende tema in waterbestuurskringe – nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd – dat die waterkrisis nié te wyte is aan ’n onvoldoende hoeveelheid water nie, maar weens die bestuur daarvan.”

Ons het op kort termyn en midde-in die pandemie wat hy ’n “katastrofiese droogte” noem, vrygespring.

“Dis afgeweer deur die goeie reëns wat tussen November 2020 en Maart 2021 geval het.”

Maar dit beteken nie ons gaan ons VN-teikens haal nie.

“Selfs met oorvloedige waterbronne het ons goeie waterbestuurstelsels in Suid-Afrika nodig om te verseker dat elke burger toegang het tot betroubare waterverskaffing en rioleringsgeriewe.”

Netwerk24 het navrae aan die DWS gerig, maar hy het nie teen die sperdatum gereageer nie. Kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Die VN se doelwitte

Die skoonwaterdoelwit is die sesde van die VN se 17 doelwitte vir volhoubare ontwikkeling (SDG’s).

Die SDG’s is ’n wêreldwye ingrype deur lidlande om armoede te beëindig, die aarde te bewaar, vrede en voorspoed te verseker en vennootskappe tussen lande te smee.

Die projek is in 2015 van stapel gestuur en die sperdatum waarteen al 17 doelwitte behaal moet word, is 2030.

VN

Elke SDG bestaan uit ’n paar teikens wat almal behaal moet word, voordat ’n SDG ’n regmerkie kan kry.

Wyle minister Jackson Mthembu het in 2019 in Suid-Afrika se verslag aan die VN geskryf: “Die SDG’s gaan net soveel oor ontwikkeling en transformasie as oor die herstel van mense se waardigheid wêreldwyd – nog meer só in Suid-Afrika met sy geskiedenis van ontneming en uitsluiting van die meerderheid van sy mense.”

Dis belangrik vir Suid-Afrika se watersektor om SDG 6 (skoon water en sanitasie) te behaal, maar hierdie doelwit beïnvloed ook ander SDG’s.

Dis geen geheim dat water ons volgende groot krisis gaan wees nie.

Skoon drinkwater en behoorlike riolering het byvoorbeeld ’n invloed op gehalteonderrig. SDG 6 raak as’t ware “lewe onder water”, “lewe op land”, “volhoubare stede en gemeenskappe” en higiëne, om net ’n paar ander SDG-doelwitte te noem.

“Dit kan aangevoer word dat SDG 6 die belangrikste bemagtiger van die ander 16 SDG’s is. Dis vir seker die geval in ’n waterskaars land soos Suid-Afrika . . .” lui die 2019-verslag.

Die SDG 6 se agt teikens sluit in om gelyke toegang tot drinkwater en rioleringsgeriewe vir almal te verseker, besoedeling te verminder, water volhoubaar te gebruik, herwin en hergebruik en natuurlike waterhulpbronne herstel en bewaar.

Maar daar is net nege jaar oor voor 2030.

SDG 6 se agt teikens

6.1) Bereik universele en billike toegang tot veilige en bekostigbare drinkwater vir almal.

6.2) Verkry toegang tot voldoende en billike riolering en higiëne vir almal, en beëindig “oop-ontlasting” (buitelug). Let veral op die behoeftes van vroue en meisies en mense in kwesbare situasies.

6.3) Verbeter watergehalte deur besoedeling te verminder, die storting en die uitskeiding van gevaarlike chemikalieë en materiale te verminder, die hoeveelheid onverwerkte afvalwater te halveer en die herwinning en veilige hergebruik wêreldwyd aansienlik te verhoog;

6.4) Verhoog die doeltreffendheid van die watergebruik in alle sektore aansienlik en verseker volhoubare onttrekking en verskaffing van varswater, sodat minder mense onder waterskaarste ly.

6.5) Pas geïntegreerde waterhulpbronbestuur op alle vlakke toe en werk oor grense heen saam.

6.6) Beskerm en herstel water-ekostelsels, wat berge, woude, vleilande, riviere, waterdraers en mere insluit. Doen dit teen 2020.

6.7) Brei internasionale samewerking en ondersteuning wat kapasiteit betref, na ontwikkelende lande uit. Dit sluit programme soos ontsouting, water-oesting (harvesting), afvalwaterverwerking en tegnologieë vir die herwinning en hergebruik van water in.

6.8) Ondersteun en versterk die deelname van plaaslike gemeenskappe om water- en rioleringsbestuur te verbeter.

‘Ons sal moet vra vir uitstel’

Dr. Kevin Winter van die Future Water-instituut aan die departement van omgewings- en geografiese wetenskappe (Universiteit van Kaapstad), meen egter Suid-Afrika se volgende verslag aan die VN sal moet vra vir uitstel, met verskonings soos dat die pandemie die planne omver gewerp het.

Winter skryf vir die UK se nuusblad hoewel Suid-Afrika waarskynlik nie die enigste land met so ’n pleidooi gaan wees nie, hierdie waterteikens steeds noodsaaklik is vir die land om by sy nasionale ontwikkelingsplan van 2012 (óók met ’n 2030-sperdatum) te hou.

Dis geen geheim dat water ons volgende groot krisis gaan wees nie.

Vishaal Lutchman, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs (Saice), het verlede week in ’n onderhoud oor die Kubaanse ingenieurs in die watersektor opgemerk dat Suid-Afrikaners al teen Covid-19 ingeënt sal wees, maar steeds waterprobleme gaan hê. Dis immers ’n probleem waaroor kenners al ’n dekade waarsku.

waterbronne

So waarom lyk dit asof ons die VN se sperdatum gaan misloop?

• Dreigende watertekort van 17% teen 2030

Hierdie 17%-tekort is volgens die DWS se eie water- en sanitasiemeesterplan wat in 2018 bekend gestel is.

Suid-Afrika het volgens die Wêreldnatuurfonds 22 strategiese waterbrongebiede, 223 soorte rivier-ekostelsels en 792 soorte vleiland-ekostelsels.

Natuurlike waterbronne is egter oneweredig versprei en die 8% van ons landoppervlakte wat uit natuurlike waterbronne bestaan, moet water aan die helfte van die Suid-Afrikaanse bevolking verskaf.

Suid-Afrika en ander lande suid van die ewenaar verwarm vinniger as die res van die wêreld.

Netwerk24 het ook al berig Suid-Afrika is nommer 30 op die lys van die wêreld se droogste lande en hy sal na verwagting geleidelik droër word.

Klimaatsverandering bring nie net temperatuurstygings mee nie. Dit verander ook reënvalpatrone en veroorsaak uiterste temperatuurverskynsels wat gereelder gaan voorkom, soos multijaar-droogtes.

’n Spesiale verslag van die Tussenregeringspaneel van Klimaatsverandering (IPCC) het uitgewys dat Suid-Afrika en ander lande suid van die ewenaar vinniger verwarm as die res van die wêreld.

Temperature in die Suid-Afrikaanse binneland is reeds omtrent 2 °C hoër as ’n eeu gelede en prof. Francois Engelbrecht, ’n klimatoloog aan die Universiteit van die Witwatersrand, het verlede jaar aan Netwerk24 gesê ’n moontlike temperatuurstyging van 6 °C kan vir Suid-Afrika ná 2050 voorlê.

• Toestand van infrastruktuur en swak waterbestuur

Die Vaaldam is propvol nadat hy etlike maande gelede nog ’n kapasiteit van onder 30% gehad het. Dis danksy goeie reënval vroeg in die jaar. Foto: Gallo

Ons min water wat hopeloos te vinnig verdamp, is egter nie ons enigste probleme nie: Vrot infrastruktuur veroorsaak dat die bietjie water wat ons het, nie eens alles by ons uitkom nie.

Die DWS het in sy water- en sanitasiemeesterplan einde 2018 erken dat net 64% van huishoudings toegang tot betroubare dienste het – ’n syfer wat volgens hom laer is as in 1996.

Meer as 3 miljoen Suid-Afrikaners het steeds nie toegang tot enige vorm van basiese waterverskaffingsdienste nie. Volgens die DWS se inligting op 14 Augustus verlede jaar in die parlement het 19 miljoen nie betroubare drinkwaterdienste nie en 14,1 miljoen het nie toegang tot gesonde rioleringsgeriewe nie.

Die DWS wil 'n einde maak aan wateronderbreking ten einde betroubare waterverskaffing te verseker.

Betroubare dienste is om dienste te hê wat wérk. Dit help nie daar kom net dan en wan drinkwater uit ’n gemeenskap se staankraan, of die spoeltoilet is nie aan die sentrale waternetwerk verbind nie.

Die DWS wil 'n einde maak aan wateronderbreking ten einde betroubare waterverskaffing te verseker.

Maar hy erken in sy 2020-aksieplan dat hy reeds ’n teiken misgeloop het om betroubare dienste aan 90% van die samelewing teen 2019 te lewer.

“Dit is baie moeilik om oor die aanwyser verslag te doen, want die laaste keer dat betekenisvolle data oor betroubare waterverskaffing verkry is, was in die 2011-sensus,” lui die aksieplan.

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie. Foto: Gallo

Die DWS erken ook dat munisipaliteite weens stadige dienslewering en die feit dat rioleringsdienste nie geprioritiseer word nie, nié sy teikens gaan haal nie.

Hoewel die plaaslike regering of munisipaliteit verantwoordelik is vir waterverskaffingsdienste aan dorpe en stede in die vorm van watersuiweringsaanlegte, pompstasies, reservoirs en die waternetwerk (pype en so meer), word hulle ondersteun deur waterrade en opvangsgebiedbestuursagentskappe (CMA’s).

CMA’s kan byvoorbeeld omsien na die lisensiëring en die bestuur van waterbronne. Daar is egter oor jare heen nog net twee van nege funksionele bestuursagentskappe vir opvangsgebiede op die been gebring.

’n Aansienlike belegging in nuwe watervoorsieningsinfrastruktuur is nodig.

Projekte wat nie klaarkom nie, korrupsie, wanbestuur en ’n gebrek aan tegniese bevoegdheid is alles redes vir probleme in waterinfrastruktuur op nasionale, provinsiale en munisipale vlak.

“Wat nodig is, is ’n aansienlike belegging in nuwe watervoorsieningsinfrastruktuur; ’n gesamentlike poging om waterverlies te verminder (’n geraamde gemiddelde verlies van 37%) en ’n belegging in innovasies wat daarop gemik is om watergebruik te verminder, water te herwin en te hergebruik sonder om die ontvangende waters, oseane inkluis, te benadeel,” skryf Winter.

• Lees die volledige aksieplan hier.

betroubaarheid

• Swak ekonomiese groei

Soos voorheen genoem, is sekere SDG-doelwitte afhanklik van ander. SDG 8 (ekonomiese groei) word gesteun deur die nasionale ontwikkelingsplan, wat armoede wil elimineer en ongelykheid deur middel van inklusiewe ekonomiese groei wil verminder.

SDG 6 is onderhewig aan SDG 8, waarvan een SDG 8-teiken volhoubare per capita- ekonomiese groei is, spesifiek ’n groei in die bruto binnelandse produk van minstens 7% per jaar in “lande wat die minste ontwikkel is”.

Teen ’n jaarlikse groeikoers van minder as 2% in 2015, wat in 2020 tot -8% afgeneem het, meen Winter Suid-Afrika is nie eens naby daaraan om die gewensde 7% jaarlikse groei in BBP te behaal nie.

En Suid-Afrika is nie eens een van die lande wat die minste ontwikkel is nie.

’n Geraamde R900 miljard is oor tien jaar nodig om die nodige waterinfrastruktuur te bou.

“Lae ekonomiese groei is daarom ’n massiewe uitdaging,” lui die DWS se jongste vrywillige nasionale hersieningsverslag (VNR) aan die VN.

Teen daardie lae groei in BBP ly beleggings in grootskaalse waterinfrastruktuur skade, skryf Winter.

Tekens van hoe die watersektor besig is om ineen te stort, is volgens hom sigbaar in munisipaliteite landwyd.

Jy kan maar net kyk na hoe infrastruktuur verval, wanbetaling vir waterdienste, wanbestuur, korrupsie en “opgeblase” salarisse wat ander belangrike begrotings vir dienslewering inboet.

’n Geraamde R900 miljard is oor tien jaar nodig om die nodige waterinfrastruktuur te bou sodat Suid-Afrika nié ’n 17%-tekort teen 2030 ervaar nie.

“Die (geld)tekort sal moet ingesamel word deur water- en sanitasietariewe te verhoog, maar dit sal nie moontlik wees sonder ekonomiese groei nie,” sê Winter.

Gebrek aan data, swak watergehalte en besoedeling

Daar bestaan ’n geweldige gebrek aan data in die watersektor.

Die DWS erken in sy 2020-aksieplan: “Daar ontbreek konsekwente en akkurate data oor watergebruik en waterverlies in alle belangrike watergebruiksektore soos landbou, nywerhede en munisipaliteite.”

Die DWS noem voorts op ’n paar plekke in die aksieplan dat hy Blou- en Groen Druppel-data moet inspan om sekere besluite te maak, maar Suid-Afrika het in 2014 laas hierdie ontledings gedoen.

Die Blou Druppel-ontleding meet die stand van watersuiweringsaanlegte en munisipaliteite se vermoë om drinkwater te verskaf wat aan die nasionale gesondheidstandaarde (SANS 241) voldoen. Volgens die SANS 241 mag daar byvoorbeeld geen E.coli in drinkwater wees nie.

Ons het dus eintlik nie ’n benul wat ons waterbronne se gehalte tans is nie.

Die Groen Druppel-ontleding meet die toestand van ’n munisipaliteit se afvalwatersuiweringsaanlegte, hoe doeltreffend die diens is of hoe goed die aanleg funksioneer. Dit bepaal hoe skoon die water is wat ná suiwering in riviere vrygelaat word. Netwerk24 het breedvoerig daaroor berig.

Ons het dus eintlik nie ’n benul wat ons waterbronne se gehalte tans is nie.

“Daar is groot leemtes in die data met betrekking tot die hoeveelheid en gehalte van afvalwater wat deur munisipaliteite vrygestel word. Baie munisipaliteite het nie stroommeters nie of hou nie die gehalte van uitvloei dop nie,” erken die DWS. Dis glo in 2012/2013 laas gedoen.

Daar is ook nie tans ’n wetlike verpligting op maatskappye en fabrieke om die data van die afvalwater wat hulle afskei, by te hou nie.

“Die DWS weet nie waar al die watergebruikers met ’n besoedelingspotensiaal (wettig en onwettig) geleë is nie en hoeveel water hulle afskei en van watter gehalte nie,” lui die DWS se eie aksieplan.

Besoedelde water is byna net so erg soos om geen water te hê nie.

Die Hartbeespoortdam in Noordwes vloei sterk ná goeie reën. Foto: Gallo

Volgens Winter is waterverskaffing, -toegang en -beskikbaarheid al dekades lank ’n rede tot groot kommer, “maar die nasionale afname in watergehalte (is) meer kommerwekkend”.

“Dit is baie moeiliker om besoedeling op te los, want dit behels beleggings in tegnologieë wat voortdurend verander, maar dit behels ook ’n belegging in menslike hulpbronne en veral om menslike gedrag te verander.”

Die VNR erken die agteruitgang van Suid-Afrika se varswater-ekostelsels en die gevolglike invloed op watervoorsiening.

Waterekostelsels is soos “natuurlike infrastruktuur” wat beboude infrastruktuur steun. Hierdie ekostelsels, soos ’n rivier, moet nét soos beboude infrastruktuur in stand gehou word, sodat hy kan aanhou om homself te reguleer en tot voordeel vir die omgewing kan wees.

Die meesterplan erken dat baie van ons waterekostelsels nie goed genoeg bewaar word nie en dat dit in sekere dele van die land onder geweldige druk van byvoorbeeld oordrewe landbou, mynbou of verstedeliking is.

Die agteruitgang in watergehalte geld nie net natuurlike waterbronne nie.

Volgens die meesterplan het die land reeds meer as 50% van sy vleiland verloor, met ’n derde van die oorblywende vleiland in ’n swak toestand.

Sommige riviere is verby ’n punt van herstel.

“Slegs 23 van die 300 riviermondings word deur die DWS se nasionale riviermonding-kontroleprogram gemonitor,” lui die DWS se aksieplan.

Volgens die DWS moet hy elke tien jaar hierdie data insamel om neigings te kan bepaal.

Die agteruitgang in watergehalte geld nie net natuurlike waterbronne nie.

Kunsmis en bemesting wat in damme beland, dra by tot kommerwekkende hoeveelhede nitrate en fosfate, wat weer tot ’n skerp vermeerdering van alge lei. Die Hartbeespoortdam in Noordwes is ’n voorbeeld.

Nié net die DWS se skuld nie . . .

Die Fika-Patso-dam in Phuthaditjhaba in die Vrystaat, in Oktober 2019. In 2020 het damvlakke weer gevaarlik laag gedaal. Die goeie reënval vanjaar gaan ons dalk help om die komende winter deur te sien, maar dit beteken beslis nie Suid-Afrika is oor die hond se rug wat ’n waterskaarste betref nie. Foto: Gallo

Volgens Taigbenu kan ons egter nie ál die blaam voor die regering en die DWS se deur plaas nie.

“Ons almal het ’n rol om te speel. Ons moet water slimmer gebruik en moontlikhede van ander waterbronne ondersoek, soos om reënwater in te samel . . .” sê Taigbenu.

Voorheen is berig Suid-Afrikaners gebruik nagenoeg 235 liter per persoon per dag, in vergelyking met die wêreldgemiddeld van 173 liter.

Taigbenu reken die DWS se rol is goeie, verantwoordbare en deursigtige waterbestuur. Hulle moet voorts bewustheid skep vir omsigtige watergebruik en bestaande wetgewing afdwing vir byvoorbeeld watersuiweringswerke of nywerhede wat water in varswaterbronne vrystel.

Die DWS moet volgens hom ook munisipaliteite ondersteun in hul taak om water- en rioleringsdienste aan gemeenskappe te lewer.

“Ek glo dat daar nog tyd is vir ons om reuse-stappe te doen om die VN se skoon-water- en sanitasie-teikens teen 2030 te bereik,” meen hy.

Die departement van water en sanitasie kan nie die probleem alleen oplos nie.

Maar hoe? Winter wys daarop dat die VNR nie melding maak van vennootskappe of samewerking met die privaat sektor nie.

“Dit kom voor asof die departement van water en sanitasie die probleem alleen wil oplos, of minstens ten volle in beheer bly.”

Hy reken waterowerhede “sal buite hulself” moet begin kyk na oplossings.

“Die vorming van ’n onafhanklike waterreguleerder het nog nie gerealiseer nie. (Dit) kan ’n beduidende rol . . . speel om ’n groter deelname van plaaslike gemeenskappe te verseker en openbare-private-vennootskapsprojekte (PPP) te versterk.

“Suid-Afrika moet hierdie brug vind om enige kans te staan om die SDG 6-teikens te haal.”

• Lees die verslag hier: (PDF)

• Lees die VNR hier: (PDF)

* Hierdie artikel is deel van ’n voortgaande ondersoek en is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Waarheid Eerste, ’n niewinsmaatskappy wat ondersoekende joernalistiek bevorder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.