Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Spesiale ondersoek: ‘Besoedelde water net so erg soos geen water’

Die besoedeling van waterbronne behoort Suid-Afrikaners te bekommer omdat dit onder meer tot verskeie gesondheidsprobleme kan lei, skryf Jana Marx.

Rommel lê op die walle van die Jukskeirivier wat deur Alexandra buite Johannesburg vloei. Foto: Felix Dlangamandla

As jy net besoedelde water het om te gebruik, is dit byna net so erg soos om geen water te hê nie.

Dít is die gevolgtrekking van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika in sy verslag van 2019 oor watersekerheid.

Luidens die verslag moet besoedeling dringend aandag kry en is die agteruitgang van watergehalte ’n belangrike aanduiding van die druk waaraan waterbronne onderwerp is.

Water word deur verskeie menslike bedrywighede, soos die strooi van rommel en nywerhede, besoedel.

Die Ontwikkelingsbank wys daarop dat ontwikkelingsbesluite bepaal word deur beperkings op waterhulpbronne in ’n gebied. Dié bank benadruk dat dit soms baie duur en moeilik is om besoedelde water vir menslike gebruik te suiwer.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie kan water allerhande siektes soos diarree, cholera, tifus en polio oordra; trouens, 502 000 mense sterf byvoorbeeld jaarliks weens diarree wat deur besmette drinkwater veroorsaak word.

Water word deur verskeie menslike bedrywighede, soos die strooi van rommel en nywerhede, besoedel.

Die departement van water en sanitasie besef die erns van waterbesoedeling en het in Julie vanjaar sy Clear Rivers-veldtog begin om Suid-Afrikaners te vra om die besoedeling van riviere te bekamp.

Die departement het in ’n verklaring gesê dat hy sedert 2017 al 50 strafsake teen besoedelaars geopen het. Nege daarvan is al afgehandel en 15 aansoeke om hofinterdikte is aan die gang.

Rommel in Bloemspruit in Bloemfontein se middestad. Foto: Mlungisi Louw

Rommel

Die strooi van rommel en die ophoping van vullis maak omgewingsaktiviste toenemend bekommerd oor waterbesoedeling.

Heelwat aandag is die laaste paar jaar aan die besoedling van oseane gegee.

Die Kaapstad-metro het byvoorbeeld oor die laaste tien dae van vlak 5 van die staat van inperking en die hele duur van vlak 4 navorsing gedoen oor rommel op Kaapse strande. Twee spanne het op drie strande rommel opgetel: 250 m van 'n strand by Milnerton in Tafelbaai en twee stukke strand van 400 m elk, een by Muizenberg en een oos van Sunrise Beach. 

Gedurende die tien dae van vlak 5 van die inperking is 13 665 items opgetel wat neerkom op een nuwe item per meter per dag. Bykans 94% van alle rommel is van plaaslike produkte afkomstig, maar daar was ook plastiek van byvoorbeeld Asië en Indonesië. 

In die Oos-Kaap is daar in Januarie vanjaar plastiek van tot 50 jaar oud gevind. Dié navorsing is deur die Sustainable Seas Institute (SST) langs twee Oos-Kaapse strande gedoen, berig Daily Maverick.

Navorsers het oor ’n tydperk van tien dae sowat 2 535 items by Cape Recife opgetel, waarvan 65% plastiek was en 7% van ’n vreemde (waarskynlik buitelandse) oorsprong. Items sluit in ’n Cadbury-sjokoladepapiertjie wat sedert 2004 nie meer vervaardig word nie en ’n tandepastabuisie wat minstens 50 jaar oud is.

Die wêreld vervaardig vandag 20 keer meer plastiek as 40 jaar gelede. Dit beteken dat meer as 8 miljoen ton plastiek elke jaar in oseane beland.

Volgens die Verenigde Nasies (VN) se Africa Renewal-tydskrif sal 99% van alle seevoëls teen 2050 plastiek ingesluk het as plastiekbesoedeling nie bekamp word nie.

Die wêreld vervaardig vandag 20 keer meer plastiek as 40 jaar gelede. Dit beteken dat meer as 8 miljoen ton plastiek elke jaar in oseane beland. Minder as 14% van alle plastiek is herwinbaar.

Die ophoping van vullis vererger ook kommer oor omgewings- en waterbesoedeling.

Die VN het in sy Africa Waste Management-verslag bevind sowat 125 miljoen ton munisipale afval is in 2012 in Afrika opgegaar. Daar word verwag dat dié syfer teen 2025 sal verdubbel.

Volgens die VN is afvalstorting in stede algemeen. Dit verhoog die risiko vir siektes, oorstromings en omgewingsbesoedeling.

Organiese afval – soos die afval van mense, diere en plante – lei boonop tot die vrystelling van kweekhuisgasse wat weer klimaatsverandering veroorsaak en vererger.

Dit besoedel ook grond- en oppervlakwater.

’n Strandskoonmaaksessie in 2016. Die see word besoedel wanneer rommel daarin beland. Foto: Jaco Marais

Ontbossing

Waterbesoedeling kan ook veroorsaak word wanneer grond vir landbou en die uitbreiding van stede voorberei word. Wanneer bome en bosse uitgekap word en wortels grond nie meer in posisie hou nie, lei dit tot erosie. Grond wat dan weggespoel word, beland in waterbronne.

Dit vertroebel die water, kan visse se kiewe verstop en veroorsaak dat waterplante wat onder die water groei, nie kan fotosinteer nie weens ’n gebrek aan sonlig.

Die grond versprei ook bakterieë en virusse.

Opdam van riviere

As water te lank opgedam word, sak alle swewende vaste stowwe af na die bodem, wat nutriënte verlore laat gaan. Water het dus dikwels ’n hoër soutinhoud as wat dit moet hê en dit kan ’n invloed hê op landboubesproeiing en vissery in strome wat daardeur gevoed word.

Damme is ook die grootste bron van waterverdamping. Hoe groter die oppervlakte van die dam, hoe meer water verdamp.

Die Vaaldam by Deneysville in die Vrystaat. Foto: Felix Dlangamandla

Nywerhede

Chemikalieë en fabrieksafval wat in water beland, kan die suurvlakke (pH) van die water verander, dit verkleur en die temperatuur van die water beïnvloed. Dit het weer ’n invloed op temperatuursensitiewe mikro-organismes in die water en kan die sout- en mineraalinhoud verhoog. Te veel van hierdie minerale kan gesondheidsprobleme veroorsaak.

Lugbesoedeling wat deur dampe en verbranding veroorsaak word, lei tot suurreën wat in waterbronne soos damme en riviere beland.

Die Engineering News Online berig Suid-Afrika genereer jaarliks meer as 120 miljoen liter olie. Olie, wat talle swaarmetale en chemikalieë bevat, word dikwels sommer in ’n drein afgespoel of op grond uitgegiet van waar dit in riviere of grondwater beland.

Landbou

Wanneer verkeerde landboupraktyke soos oorbeweiding toegepas word, kan erosie ontstaan met die gevolg dat groot hoeveelhede grond wegspoel en in waterbronne beland.

Kunsmis en bemesting wat in water beland, dra by tot kommerwekkende hoeveelhede nitrate en fosfate. Dit kan lei tot ’n skerp vermeerdering van alge in damme wat die dam eintlik ongeskik maak vir sy doel. Die Hartbeespoortdam in Noordwes is ’n voorbeeld hiervan.

Die Hartbeespoortdam in Noordwes is plek-plek toe onder die waterplante en alge. Foto: Felix Dlangamandla

Nitrate kan ook in grondwater beland en die gehalte van boorgatwater verswak.

Hoë vlakke van onkruiddoders en gifstowwe waarmee gewasse gespuit word, vergiftig water en waterlewe.

Die oordeelkundige en korrekte gebruik van kunsmis, onkruiddoders en gifstowwe is dus van die uiterste belang.

LEES OOK: Wat boere en die staat oor water kwel. 

Verstedeliking en kragopwekking

Die toenemende verhuising van mense na stede laat besoedeling toeneem. Besoedeling word deur verskeie faktore veroorsaak: die konstruksie van nuwe huise en paaie, ekonomiese bedrywighede soos mynbou en nywerhede asook die onvoldoende versameling en suiwering van rioolvuil.

Soos die bevolking toeneem, neem mense se behoeftes om te kook en aan beligting ook toe. Die grootste deel van Suid-Afrika se kragopwekking kom van die verbranding van fossielbrandstowwe. Swael en stikstofoksied word gevolglik in die atmosfeer vrygestel en veroorsaak suurreën.

Volgens Maureen Stewart, adjunkdirekteur van Save the Vaal Environment, lei Eskom se beperkings om oorladings op kragnetwerke met volop onwettige verbindings te voorkom, tot ’n ander krisis.

Dit skep probleme met rioolstelsels, omdat die afvalwatersuiweringsaanlegte staatmaak op elektrisiteit. By die Emfuleni-aanleg is daar geen rugsteunbatterye nie. Die elektrisiteitsverskaffing daar is erg onder druk omdat die munisipaliteit nie sy Eskom-rekeninge betaal nie, sê Stewart.

Rook wat by Eskom se Lethabo-kragstasie in die Vaaldriehoek uitborrel is ’n voorbeeld van steenkoolverbranding wat die lug besoedel en tot suurreën lei. Foto: William Horne

‘Ongelukke’

“Ongelukke” kan ook nie buite rekening gelaat word nie. Soms breek ’n brand uit of ’n olietenkskip stort olie. Die uitwerking van dié soort besoedeling hang af van die hoeveelheid en soort stof wat in die water beland.

Mynbou

Mynbou in strategiese waterhulpbrongebiede hou ’n bedreiging op kort- en lang termyn in, sê die departement van water en sanitasie in sy meesterplan.

Mynafval kan die sout- en mineraalinhoud in water verhoog, wat mense siek kan maak. Dit kan die water ook vertroebel en die suurheidsgraad daarvan verander.

Sulfate en arseen is algemeen in grondwater by mynbougebiede. Gebruikers kry diarree as hulle nie gewoond is aan water met sulke hoë sulfaatkonsentrasies nie. Arseen is ’n giftige halfmetaal wat soms as rotgif gebruik word. Klein hoeveelhede is noodsaaklik vir die liggaam, maar te veel daarvan veroorsaak velletsels.

Die toksiese aard daarvan kan probleme in die maag en die dermkanaal veroorsaak. Arseen, wat reuk-, smaak- en kleurloos is, kan deur die vel opgeneem word wanneer mense bad

Suur mynwater kom reeds sedert 2002 in die bolope van die Krokodilrivier voor.

Waar water deur suur mynwater besoedel is, kan hoë konsentrasies yster ook voorkom. Suur mynwater kom byvoorbeeld reeds sedert 2002 in die bolope van die Krokodilrivier voor.

Die departement van water en sanitasie het hangende interdikte teen die Lunathi-myn naby Hendrina in Mpumalanga en Sishen-myn in die Noord-Kaap oor verkeerde watergebruike.

Prof. Anthony (Tony) Turton, ’n wetenskaplike wat verbonde was aan die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), het navorsing in die Witwatersrand gedoen wat hom uiteindelik sy werk gekos het.

Turton het ’n ongepubliseerde manuskrip van sy navorsing aan Waarheid Eerste gegee. Hierin vertel hy hoe hy en ’n span wetenskaplikes watervloei in verlate ondergrondse delfplekke ondersoek het.

Dit was ’n onafhanklike projek wat nie onder die vaandel van die WNNR gedoen is nie.

Hulle het eerstens bewus geword van die styging in die voorkoms van radioaktiewe nukliede, atome wat radioaktiewe energie uitstraal, in veral riviere se opvangsgebiede en slikdamme.

’n Goudmynaanleg in die 1950’s aan die Witwatersrand. Dis myne soos dié wat glo volgens prof. Anthony Turton vir die hoë vlakke van uraan in Gautengse waterbronne verantwoordelik is. Foto: Getty Images

Wonderfonteinspruit, wat uiteindelik in die Mooirivier en dan in die Vaalrivier invloei, het veral kommer gewek, sê Turton.

Later is ontdek dat dit die episentrum van drie groot slikdamme (“tailing dams”) is met uitermate hoë vlakke van uraan. Vir elke ton goud wat oor ’n eeu gemyn is, is tussen tien en honderd ton uraan ook gemyn, maar dit is as mynafval weggegooi.

Die radioaktiwiteit wat bespeur is, het wetenskaplikes al hoe meer bekommer – inwoners van Potchefstroom het immers die water gedrink.

Dragtige diere in die Krugersdorp-wildreservaat, net stroomaf van die afgietingspunt, het spontaan hul fetusse begin aborteer. Die oorsaak was onbekend, maar ’n geochemikus het hoë vlakke van uraan gemeet – vlakke wat volgens Turton 1 000 keer meer was as dié wat die Wêreldgesondheidsorganisasie as aanvaarbaar in die natuur beskou.

Wetenskaplikes het sediment-monsters in riviere en vleilande versamel oral waar goudmyne gedreineer het en uraan bespeur; veral in ’n rivier wat afvalwater (“decant”) van die Winze-myn ontvang.

Dié rivier vloei deur die Krugersdorp-wildreservaat en uiteindelik in die Hartbeespoortdam in.

Tekens van uraan-pluime (“uranium plumes”) is in die boonste dele van die Kliprivier naby Soweto, rondom die Boksburg-meer en al langs die Blesbokspruit gevind.

Vleie is geïdentifiseer as gebiede waar die radioaktiwiteit en swaarmetale akkumuleer.

Daar is vandag nog omstredenheid oor Turton se navorsing. Kenners met wie Netwerk24 gepraat het, is óf heeltemal daarteen gekant óf hulle steun Turton steeds.

Volgens Turton is dit ook waar die zama-zamas, wat op soek was na goud, aan die delf was.

Wetenskaplikes het vasgestel dat die gekombineerde mynhope van Witwatersrand Goldfields sowat 600 kiloton uraan uitgemyn en weggesmyt het – twee derdes hiervan het volgens Turton in die Wonderfonteinspruit beland.

Hulle het ook ’n noue korrelasie tussen die teenwoordigheid van uraan en arseen opgemerk.

Geskille tussen Turton en die WNNR het daartoe gelei dat hy geskors en aan ’n interne tugproses onderwerp is. Sy paaie het uiteindelik in Desember 2008 met dié van die WNNR geskei.

Turton het telefonies aan Netwerk24 gesê die groeiende nedersettings langs die betrokke riviere sou ’n administratiewe nagmerrie vir die staat veroorsaak het. Volgens hom moes die staat óf die inwoners daar wegkry weens die gesondheidsrisiko óf hy moes die probleem eenvoudig laat verdwyn het.

Dit lyk volgens hom asof hulle op laasgenoemde keuse besluit het, maar ’n voormalige direkteur-generaal van die departement sê dit was eerder die geloofwaardigheid van Turton se navorsing wat hulle gekwel het.

Volgens die WNNR se kommentaar in 2008 aan News24 is Turton geskors weens kommentaar wat hy aan die media gelewer het.

Daar is vandag nog omstredenheid oor dié navorsing. Kenners met wie Netwerk24 gepraat het, is óf heeltemal daarteen gekant óf hulle steun Turton steeds.

Op 'n vraag of die regering in enige stadium besluit het om weer na die onderwerp te kyk, het Turton gesê: "Niks het verder gebeur nie."

* Hierdie artikel is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Waarheid Eerste, 'n niewins-maatskappy wat ondersoekende joernalistiek bevorder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.