Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Spesiale ondersoek: Data vir waterbestuur ontbreek

Behoorlike data wat die owerhede sal help om doeltreffende waterbestuur toe te pas, ontbreek omdat die Blou Druppel- en Groen Druppel-ontledings lanklaas gedoen is, skryf Jana Marx.

Die Blou Druppel- en Groen Druppel-verslae wat die gehalte van die land se water meet, is in 2014 laas gedoen. Foto ter illustrasie. Foto: iStock

Die nasionale departement van water en sanitasie wil streng regulasies toepas om te verseker die water en waterdienste wat mense gebruik, is van ’n goeie gehalte. Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, het aan Netwerk24 bevestig dat sy die Blou Druppel- en Groen Druppel-ontledings wil laat herleef.

Dié ontledings bied noodsaaklike data vir waterbestuur. Tog is dit jare laas gedoen.

Die Blou Druppel-ontleding meet die stand van watersuiweringsaanlegte en munisipaliteite se vermoë om drinkwater te verskaf wat aan die nasionale gesondheidstandaarde (SANS 241) voldoen. Volgens die SANS 241 mag daar byvoorbeeld geen E.Coli in drinkwater wees nie.

Die Groen Druppel-ontleding meet die toestand van ’n munisipaliteit se afvalwatersuiweringsaanlegte, hoe doeltreffend die diens is of hoe goed die aanleg funksioneer. Dit bepaal hoe skoon die water is wat ná suiwering in riviere vrygelaat word.

Die Waternavorsingskommissie het dit in 2014 soos volg verduidelik: Afvalwatersuiwering (behandeling van afvalwater) is die proses waar organisasie en anorganiese materiaal uit die afvalwater verwyder word om dit weer aanvaarbaar genoeg te maak om in die natuur (in riviere) vry te laat. Dié tegnologie kan baie duur wees en benodig ’n hoë tegniese kundigheid, spesialis-aanlegoperateurs en spesifieke toerusting.

In 2016 het Suid-Afrika volgens ’n verslag van die Waternavorsingskommissie ’n gemiddeld van 78,8% van sy beskikbare vermoë om afvalwater te suiwer, aangewend.

Daar is tans 152 waterdiensowerhede (munisipaliteite, waterrade of ander entiteite) wat afvalwater deur 824 aanlegte vir afvalwaterversameling en -suiwering behandel.

So was daar ook volgens die Waternavorsingskommissie in 2014 nog 1 085 stelsels vir die verskaffing van drinkwater wat deur munisipaliteite bestuur word.

’n Waterverskaffingstelsel is ’n stelsel wat insluit die onttrekking van water uit hulpbronne, suiwering en ook verskaffing aan mense.

In 2016 het Suid-Afrika volgens ’n verslag van die Waternavorsingskommissie ’n gemiddeld van 78,8% van sy beskikbare vermoë om afvalwater te suiwer, aangewend.

Dit beteken Suid-Afrika het in teorie ’n surplusvermoë van 22,2% gehad vir die hantering van toekomstige aanvraag. Dié 22,2% was ’n nasionale gemiddeld en is al wat beskikbaar is soos mense meer word en meer rioleringsgeriewe gebruik.

Sommige aanlegte het toe reeds geen vermoë gehad om ’n groter aanvraag te hanteer nie.

Vuil water beland in ’n natuurlike stroom. Foto ter illustrasie. Foto: iStock

Totstandkoming van die Druppel-verslae

Tussen 2008 en 2013 het waterkenners in opdrag van die staat deur die land gereis en elke stelsel van waterdiensverskaffing (soos suiweringswerke) geoudit.

’n Blou Druppel-telling van onder 30% het beteken dat die munisipaliteit geensins aan die vereistes voldoen het nie en dat daar dringend op nasionale vlak ingegryp moet word.

Die Waternavorsingskommissie se verslag van 2016 het swak of onvoldoende afvalwatersuiwering as een van die grootste oorsake van waterbesoedeling in Suid-Afrika uitgewys. Dié probleem het veral kop uitgesteek danksy toenemende verontagsaming van nasionale waterwetgewing, wat juis veronderstel is om waterhulpbronne te beskerm.

Die meeste rioolvuil uit stedelike gebiede is volgens die kommissie nie behoorlik behandel voordat dit vrygestel is nie. Die rede daarvoor was onvoltooide of niewerkende aanlegte vir die suiwering van afvalwater, of aanlegte wat oorlaai en verkeerd bestuur word.

Volgens die minister se meesterplan is ’n gebrek aan vaardighede om bates behoorlik te bestuur stééds ’n probleem.

Destyds was daar ’n gebrek aan opgeleide operateurs by baie aanlegte en die werk moes met beperkte begrotings bestuur word.

Volgens die minister se meesterplan is ’n gebrek aan vaardighede om bates behoorlik te bestuur stééds ’n probleem.

Volgens die Waternavorsingskommissie is ander uitdagings te min bedryfskapitaal, ’n gebrek aan beplanning om voorsiening te maak vir groeiende gemeenskappe, ’n gebrek aan voldoende menslike hulpbronne en ’n tekort aan samewerking tussen die belanghebbendes in munisipaliteite.

Die kommissie het tóé al die belangrikheid van verbeterde regulasies benadruk.

AfriForum het sedert 2014 sy eie jaarlikse Blou en Groen Druppel-ontledings gedoen. Hy gebruik van sy plaaslike takke daarvoor en doen die ontledings in samewerking met iWater Solutions in Bloemfontein. Volgens Lambert de Klerk, omgewingshoof van AfriForum, hang die getal aanlegte wat per provinsie getoets word, af van die teenwoordigheid van AfriForum-lede in daardie gebiede.

Die Theewaterskloofdam naby Villiersdorp in die Wes-Kaap. Foto: Jaco Marais

LEES OOK: Hoe word ons water besoedel.

Nasionale Blou Druppel-uitslae (2014 - 2019)

Die staat het vir sy Blou Druppel-verslag van 2014 net meer as 1 000 verskaffingstelsels vir drinkwater geoudit.

Om Blou Druppel-status te verkry, moet ’n prestasiepunt van 95% of hoër behaal word.

Die nasionale syfer in 2014 was egter 79,6%, wat ’n afname van 8% sedert 2012 beteken.

Dit beteken die gemiddelde nasionale gehalte van drinkwater en die verskaffing van drinkwaterdiens het afgeneem.

Nét 44 waterverskaffingstelsels het in 2014 Blou Druppel-status behaal. Dis minder as die helfte van die stelsels wat in 2012 Blou Druppel-status behaal het.

Die invloed wat die verwaarlosing van stelsels vir waterverskaffing op die gehalte van water of dienslewering kan hê, is ook gemeet.

Ingevolge die eerste Blou Druppel-verslag in 2009 is daar tot op ’n vlak van 93,3% aan die nasionale mikrobiologiese standaarde voldoen.

Hoe swakker die toestand van ’n aanleg, hoe groter word die risiko dat die foute in byvoorbeeld die infrastruktuur die watergehalte en/of dienslewering kan beïnvloed. ’n Gebarste pyp by die aanleg kan byvoorbeeld veroorsaak dat onverwerkte rioolvuil uitsyfer voordat dit gesuiwer word en in skoon water beland.

Die risiko-ontleding van 2014 vir Blou Druppels het getoon dat 61% van stelsels vir drinkwaterverskaffing ’n lae tot medium-risiko inhou, maar dit het ook aangedui dat 155 waterverskaffingstelsels (15%) dringende ingrype benodig.

Ingevolge die eerste Blou Druppel-verslag in 2009 is daar tot op ’n vlak van 93,3% aan die nasionale mikrobiologiese standaarde (SANS) voldoen.

Dié verslae meet die kieme (lewende organismes) in water wat mense kan siek maak. In 2012 het drinkwater tot op die vlak van 97,3% aan die standaarde voldoen. In 2014 was die syfer meer as 97%.

In 2014 het 86% van munisipaliteite “goeie” of “uitmuntende” status behaal vir mikrobiologiese standaarde wat drinkwater betref, maar slegs 70% van munisipaliteite het “goeie” of “uitmuntende” status behaal vir die gehalte van hul bedrywighede.

AfriForum het in sy Blou en Groen Druppelprojek in 2018 14 uit 199 stelsels vir die verskaffing van drinkwater verskaf. Die grootste sondaar was Noordwes.

In 2019 het AfriForum die gehalte van drinkwater by suiweringsaanlegte in 206 dorpe en stede getoets. Die resultate het aansienlik beter gelyk as in 2018, maar vier aanlegte (Brits, Delaryville, Sannieshof en Stella) het steeds nie aan die gehaltestandaarde vir drinkwater voldoen het nie.

Die Steenbrasdam in die Hottentots-Hollandberge naby Gordonsbaai loop oor. Foto: Kaapstad-metro

Nasionale Groen Druppel-uitslae (2014 – 2019)

Die Groen Druppel-oudit meet water vir huishoudelike verbruik van die pompstasie totdat dit in watersuiweringswerke beland, die suiweringsproses self en die gehalte van die water wat agterna weer vrygestel word.

Al 152 munisipaliteite is in 2012/2013 geoudit.

Dit het ingesluit sowat 824 aanlegte vir afvalwatersuiwering, asook 14 aanlegte in die Krugerwildtuin wat deur die departement van omgewingsake bestuur word.

Die nasionale Groen Druppel-syfer in 2013 was 73,8%, ’n rapsie beter as die vorige jaar.

Maar 248 van alle aanlegte was toe in ’n kritieke toestand (met ’n syfer onder 30%) en het dringende ingrype benodig.

Dit beteken dat die aanlegte op die rand van ineenstorting is en dat rioolvuil in die rivierstelsel vrygestel word – soos in die omgewing van Vanderbijlpark gebeur het, sê De Klerk.

Die provinsie met die meeste probleme wat aanlegte betref, was die Vrystaat, gevolg deur Mpumalanga en die Oos-Kaap. Gauteng het geen stelsels met kritieke probleme gehad nie.

60 aanlegte het Groen Druppel-toekennings behaal, ’n verbetering op vorige jare.

Die standaarde bepaal dat daar nie meer as 1 000 eenhede E. coli per 100 ml in gesuiwerde rioolwater mag wees nie.

Waar die Groen Druppels die hele ketting van dienslewering meet, fokus die risiko-ontleding net op suiwering, dit wil sê hoe goed ’n aanleg water suiwer.

Altesame 121 suiweringsaanlegte het steeds ’n ernstige risiko ingehou en die reguleerder (soms munisipaliteite en soms onafhanklike kontrakteurs) moes stappe doen om probleme so gou moontlik op te los.

Die departement het in 2014 tot die gevolgtrekking gekom dat sy Groen Druppel-prestasie sedert die vorige toetsing verbeter het, maar dis ’n ope vraag of dit steeds in 2020 die geval is.

AfriForum het in Mei en Junie 2019 die rioolwaterstelsels van 124 dorpe getoets – 65 het nie aan standaarde vir gehalte voldoen nie, vergeleke met 51 uit 108 in 2018.

Die standaarde bepaal dat daar nie meer as 1 000 eenhede E. coli per 100 ml in gesuiwerde rioolwater mag wees nie.

Volgens die organisasie se toetse besoedel vyf provinsies (Gauteng, Noordwes, Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu-Natal) die omgewing meer as verlede jaar. Die Wes-Kaap se resultate het dieselfde – en taamlik aanvaarbaar – gebly.

“Die besoedeling van die Vaalrivier is grootliks te wyte aan munisipale rioolvuil wat onbehandeld of onvoldoende behandel is en dan in die rivier gestort word,” lui die verslag.

Die verslag sê voorts 55% van die dorpe langs die Vaalrivier met rioolaanlegte wat deur AfriForum getoets is, besoedel die rivier op ’n daaglikse grondslag.

“Daar vind natuurlik ook baie besoedeling plaas weens onverwerkte rioolvuil wat vrylik uit mangate, kanale en pompstasies loop na sytakke van die Vaalrivier asook die Vaalrivier self.”

Die riviere vol riool moet dan ten duurste weer gesuiwer word vir gebruik. Dié rouwater word soms net so uitgepomp vir die besproeiing van landerye.

water

Blou Druppel en Groen Druppel-uitslae per provinsie

Gauteng

Staat se Blou Druppel-uitslae: 2014

Gauteng is die provinsie wat in 2014 die beste gevaar het wat goeie drinkwatergehaltebestuur en -gehalte betref, hoewel daar ’n afname van 6% was sedert die vorige toetsing (van 98% in 2012 tot 92% in 2014).

Tien munisipaliteite se 29 waterverskaffingstelsels is geoudit. 17 van die 29 stelsels is onder Rand Water se beheer, terwyl drie deur Magalies Water en twee deur Joburg Water bestuur word.

Geen stelsel het ’n syfer van onder 50% (swak tot kritieke toestand) gekry nie. Hoewel die gemiddelde risikopersentasie tot 17% gestyg het, het die meeste stelsels in 2014 ’n relatief goeie status gehad.

Die Hartbeespoortdam in Noordwes. Foto: Felix Dlangamandla

AfriForum se Blou Druppel-uitslae: 2015 tot 2019

Al 49 skemas vir waterverskaffing wat in 2019 getoets is, het skoon drinkwater gehad. Toetse is in die Johannesburg-metro, Tshwane-metro, Ekurhuleni-metro, Emfuleni-munisipaliteit, Midvaal-munisipaliteit, Mogale City-munisipaliteit en Rand West-munisipaliteit (Randfontein, Westonaria) gedoen.

Pretoria-Wes (onder beheer van die Tshwane-metro) het in 2016 nog ’n hoë fenol- en chroomkonsentrasie bevat. Dis egter intussen weer op standaard gebring.

• AfriForum se Groen Druppel-uitslae: 2019

Van die 20 afvalwatersuiweringsaanlegte wat in 2019 in Gauteng getoets is, het 13 nie aan die standaarde voldoen nie.

Centurion-Wes (Suiderland) en Kameeldrift (Baviaanspoort) onder die beheer van Tshwane-metro, het ’n E. coli-telling van meer as 100 000 eenhede per 100 ml gesuiwerde water getoon.

Al drie suiweringsaanlegte in Vanderbijlpark was ver onder standaard. Die E. coli-telling by die Leeukuil-aanleg was hoër as 10 000 eenhede en by Rietspruit en Sebokeng was dit hoër as 50 000 eenhede per 100 ml gesuiwerde water.

Wes-Kaap

• Staat se Blou Druppel-uitslae: 2014

Die Wes-Kaap het tweede beste gevaar in 2014.

122 waterverskaffingstelsels is geoudit. Die provinsiale syfer het egter afgeneem van 94,2% in 2012 tot 88,5% in 2014.

Die gemiddelde risikokoers het met sowat 10% gestyg vergeleke met die vorige jaar. Dit hou verband met onder meer swak drinkwatergehalte en ondoeltreffende watergebruik.

Weskus-munisipaliteite het ook swakker vertoon: Saldanhabaai 69% (95% in 2012), Bergrivier 64% (91% in 2012) en Swartland 74% (95% in 2012).

• AfriForum se Blou Druppel-uitslae: 2015 tot 2019

Die 25 waterverskaffingsdienste onder leiding van die Kaapstad-metro en die munisipaliteite Bergrivier, Matzikama, Cederberg, George, Overstrand, Langeberg, Mosselbaai, Stellenbosch, Oudtshoorn, Hessequa en Drakenstein wat getoets is, het almal skoon drinkwater gehad. Die waterverskaffingsdiens van die Mosselbaai-munisipaliteit wat in 2018 ’n hoë vlak van fosfate gehad het, was weer skoon.

• AfriForum se Groen Druppel-uitslae: 2019

Die Wes-Kaap het van al die provinsies in 2019 die beste gevaar. Slegs die aanleg in Kaapstad Kraaifontein (Scottsdene) het ’n E. coli-telling van meer as 1 000 eenhede per 100 ml gesuiwerde water gehad.

Die Bergrivierdam in Franschhoek. Foto: Jaco Marais

KwaZulu-Natal

• Staat se Blou Druppel-uitslae: 2014

In KwaZulu-Natal, wat ’n gemiddeld van 86% behaal het, is 209 waterverskaffingstelsels wat deur 14 waterdiensowerhede bestuur word, geoudit.

Van die stelsels word bedryf deur munisipaliteite; ander deur die Umgeni en Mhlathuze-waterrade (onderskeidelik 31 stelsels en twee stelsels). uThukela Water bestuur 34 stelsels en Water and Sanitation Services SA in 89 stelsels. Sommige stelsels is ook onder beheer van nywerhede soos Sappi, asook Spoornet en TongaatHulett.

Sowat 18 stelsels was in ’n kritieke toestand, wat beteken die gehalte van drinkwater en/of die toestand van dienslewering was nie op standaard nie.

KwaZulu-Natal se syfer het in 2014 met 6% gedaal vergeleke met 2013.

• AfriForum se Blou Druppel-uitslae: 2015 tot 2019

Agt uit tien waterverskaffingsdienste is getoets en almal was “skoon”. Dit sluit in Pongola, Richardsbaai, Newcastle, Margate en Vryheid. Laasgenoemde het in 2015 laas ’n onaanvaarbare E. coli-telling getoon.

• AfriForum se Groen Druppel-uitslae: 2019

In 2019 was net een van die sewe getoetste afvalwatersuiweringsaanlegte op standaard (Utrecht). Die ander se E. coli-tellings het gewissel tussen meer as 1 000 eenhede en meer as 5 000 eenhede per 100 ml gesuiwerde water (in Vryheid).

Vrystaat

• Staat se Blou Druppel-uitslae: 2014

Die Vrystaat se algehele vermoë om waterdienste te verskaf, het met 7,2% afgeneem (82,1% in 2012 tot 74,9% in 2014).

20 waterdiensowerhede wat nagenoeg 79 stelsels vir waterdiensverskaffing bestuur, is geoudit.

Dit sluit in stelsels wat deur Bloem Water, Sedibeng Water, Maluti-a-Phofung (MAP) Water en Rand Water beheer word.

Vyf stelsels was in ’n kritieke toestand en het net tussen 0% en 31% presteer.

Die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit en MAP Water as diensverskaffer is in 2014 aangewys as die munisipaliteit in die provinsie wat die beste presteer het. MAP het in 2014 'n Blou Druppel-telling van 97,66% behaal. Tog word dié munisipaliteit nou deur die spesiale ondersoekeenheid vir ongerymdhede ondersoek.  

• AfriForum se Blou Druppel-uitslae: 2015 tot 2019

Van die 23 waterverskaffingstelsels wat getoets is, het almal skoon drinkwater gehad.

Volgens AfriForum is Bloemfontein se drinkwatergehalte sedert 2013 in ’n goeie toestand.

In die platteland was daar ook ’n reuseverbetering. Bothaville se hoë fosfaatinhoud van 2018 is iets van die verlede.

Hoewel Villiers nie in 2019 getoets is nie, het dit in 2018 skoon gemeet nadat dit in 2017 nog ’n onaanvaarbare inhoud van fekale kolivormige bakterieë getoon het. Dié bakterieë kom van onverwerkte rioolvuil wat in die water beland.

Hertzogville se water, wat in 2018 ’n telling van meer as 1 000 eenhede E. coli per 100 ml gesuiwerde water gehad het, was in 2019 weer drinkbaar.

• AfriForum se Groen Druppel-uitslae: 2019

In die Vrystaat is 17 afvalwatersuiweringsaanlegte in 2019 getoets. Slegs drie (Heilbron, Parys en Sasolburg) het die standaarde behaal. Die E. coli-tellings in Hertzogville, Welkom, Bultfontein en Bethlehem was meer as 10 000 eenhede elk.

Bloemfontein het meer as 1 000 eenhede per 100 ml gesuiwerde water gemeet.

Oos-Kaap

• Staat se Blou Druppel-uitslae: 2014

Die gemiddelde in die Oos-Kaap het van 82% in 2012 tot 72% in 2014 afgeneem.

16 waterdiensowerhede wat drinkwater deur 155 stelsels verskaf, is geoudit; 63 hiervan het tellings van minder as 50% behaal.

Van die waterdiensowerhede wat hier beheer neem, sluit in Amatola Water (61 stelsels) en Nelson Mandelabaai wat dienste in twee streeksmunisipaliteite lewer.

Private diensverskaffers soos Sintec SA Consulting beheer ook ’n stelsel.

Niemand in die provinsie het Blou Druppel-status behaal nie. Trouens, wat drinkwatergehalte en bestuur van waterbates betref, was 61 en 48 stelsels onderskeidelik in ’n kritieke toestand, wat beteken dié stelsels het nie die vermoë om gesonde drinkwater deur ’n betroubare diens te lewer nie.

• AfriForum se Blou Druppel-uitslae: 2015 tot 2019

Van die 15 dienste vir waterverskaffing wat geïdentifiseer is, is vyf in 2019 getoets. Aliwal-Noord (gediens deur Walter Sisulu-munisipaliteit) se water is weer drinkbaar nadat dit verlede jaar nog ’n hoë fosfaatinhoud gehad het.

Burgersdorp, onder leiding van dieselfde munisipaliteit, het ook skoon drinkwater gehad, asook Elliot (Sakhisizwe-munisipaliteit), Jeffreysbaai (Kouga-munisipaliteit) en Port Elizabeth (Nelson Mandelabaai-metro). Eliot het in 2013 laas ’n hoë E. coli-telling getoon.

Queenstown (Lukhanji-munisipaliteit) is nie weer getoets nie nadat sy monsters in 2018 ’n fekale kolivormige bakterieë-telling van meer as 3 000 getoon het.

• AfriForum se Groen Druppel-uitslae: 2019

In die Oos-Kaap is Aliwal-Noord, Elliot, Jeffreysbaai en Port Elizabeth getoets. Net Elliot se gesuiwerde afvalwater het aan die standaarde voldoen.

Mpumalanga

• Staat se Blou Druppel-uitslae: 2014

Mpumalanga is die enigste provinsie wat ’n verbetering in 2014 getoon het: 69,9% vergeleke met 60,9% in 2012.

Dis egter kommerwekkend dat 51 stelsels tellings van minder as 50% gehad het.

Die drie swakste stelsels was Msukaligwa (18%), Dipaleseng-munisipaliteit (11%) en die ThabaChweu-munisipaliteit (9%).

Dit maak dus ook sin dat die gemiddelde risiko in die provinsie van 28,6% in 2012 tot 65,5% toegeneem het.

Dit beteken die munisipaliteite kan nog goeie gehalte drinkwater verskaf, maar dat hy vinnig besig is om agteruit te gaan.

18 waterdiensowerhede wat water deur 100 stelsels water lewer, is geoudit. Van die stelsels word beheer deur Rand Water, die Tshwane-metro, Eskom en Optimum Coal Holdings, ’n steenkoolmyn wat voorheen deur die Guptas besit is, maar tans in sakeredding is.

• AfriForum se Blou Druppel-uitslae: 2015 tot 2019

In Mpumalanga is sowat 32 waterverskaffingsdienste gemeet en almal het skoon drinkwater gehad. Volgens die toetse het Mpumalanga in 2017 laas plek-plek probleme gehad met fekale kolivormige bakterieë en E. coli.

• AfriForum se Groen Druppel-uitslae: 2019

Van die 23 aanlegte wat getoets is, het 15 aan die standaarde voldoen en agt nie. Benewens E. coli in van die plekke se water het Machadodorp en Nelspruit onderskeidelik abnormale vlakke van fosfate en nitrate (vermoedelik uit vrugbare landbougrond) getoon.

Noord-Kaap

• Staat se Blou Druppel-uitslae: 2014

Die Noord-Kaap se Blou Druppel-telling het van 68,2% tot 67,7% in 2014 afgeneem.

173 stelsels vir waterverskaffing wat deur 27 waterdiensowerhede bestuur word, is geoudit. Hiervan beheer Sedibeng Water 41 stelsels en vyf private myne vyf stelsels.

Dis egter belangrik om te noem dat 82 van die 173 stelsels onder 50% gemeet het wat diensverskaffing betref, met 58 stelsels in die hoërisiko-kategorie en vier stelsels (sluit in Witbank en Swartkopdam) in ’n kritieke risikokategorie. Dit beteken dié stelsels was in 2014 op die rand van ineenstorting.

• AfriForum se Blou Druppel-uitslae: 2015 tot 2019

Toetse is in sowat 13 dorpe gedoen, wat Upington, Kimberley, Kuruman, Vaalharts en Postmasburg insluit. Al die toetse was skoon. Hoewel daar in vorige jare aansienlik minder toetse gedoen is, het Noord-Kaap nog altyd goeie resultate gehad wat drinkwater betref.

• AfriForum se Groen Druppel-uitslae: 2019

Benewens Springbok en Kimberley wat E. coli-vlakke van meer as 1 000 eenhede per 100 ml gesuiwerde water getoon het, was die ander ses afvalwatersuiweringsaanlegte wat getoets is, op standaard.

Noordwes

• Staat se Blou Druppel-uitslae: 2014

Noordwes is saam met Limpopo onder die provinsies met die swakste watergehalte en swakste dienslewering in 2014.

Die provinsie se Blou Druppel-telling het van 78,7% in 2012 tot 63% in 2014 gedaal.

11 waterdiensowerhede wat water deur 95 stelsels verskaf, is geoudit. Dit sluit in waterrade soos Sedibeng Water (bedryf 44 stelsels), Magalies Water (ses stelsels), Botshelo Water (11 stelsels) en Rand Water (twee stelsels).

61% van die stelsels vir waterverskaffing het onder 50% in die diensverskaffingsoudit gemeet, terwyl 41 stelsels ’n hoë risiko toon en 15 ’n kritieke risiko. 58 stelsels was in ’n swak tot kritieke toestand en die departement benadruk in die verslag ingrype was dringend nodig.

Daar was ook ’n styging in die provinsie se gemiddelde risiko-telling. Dit beteken drinkwatergehalte was besig om te verswak.

• AfriForum se Blou Druppel-uitslae: 2015 tot 2019

Noordwes se drinkwater was in 2019 op vier plekke in ’n bedenklike toestand. Van die 28 aanlegte wat getoets is, was vier onder die standaard.

In Brits is ’n hoë fosfaat-telling (meer as 50) gemeet. Dit lyk ook asof die fosfaat-probleem (meer as 100 eenhede) wat Delareyville in 2018 beleef het, verminder het (meer as 25), maar beslis nie verdwyn het nie. Hier is nou ook ’n nitrate-telling van meer as 25.

’n Mens moet egter nie jou mond aan die drinkwater van Sannieshof en Stella sit nie. Stella het in die ses jaar dat sy drinkwater getoets is, net een keer ’n “skoon” resultaat gehad. Die ander jare was daar nitrate bo toelaatbare vlak en E. coli in die water. In 2019 was die nitrate weer ’n probleem.

In Sannieshof is die fosfaatvlakke te hoog. Dis egter verblydend dat daar geen nitrate soos in die vorige jaar gemeet is nie.

Waar Swartruggens, Vryburg en Schweizer-Reneke in 2018 hoë vlakke van fekale kolivormige bakterieë en/of E. coli en/of fosfate getoon het, lyk dit asof die probleem in 2019 opgelos is. Dit geld ook Ottosdal, wat ’n fosfaat-telling van meer as 25 eenhede in 2018 gehad het.

• AfriForum se Groen Druppel-uitslae: 2019

Van die 21 afvalwatersuiweringsaanlegte wat in 2019 getoets is, het net ses aan die standaarde voldoen. Onder dié wat nie die paal gehaal het nie, het Coligny ’n E. coli-telling van meer as 100 000 getoon. Dit is onder die hoogste tellings in die land.

Zeerust, wat in die laaste ruk baie in die nuus was weens kwessies van dienslewering, het ’n E. coli-telling van meer as 10 000 getoon. Lichtenburg se E. coli-telling was meer as 50 000 eenhede per 100 ml gesuiwerde water weens rioolvuil wat deur foutiewe infrastruktuur by die aanleg in vars water beland, sê De Klerk.

Limpopo

• Staat se Blou Druppel-uitslae: 2014

Die Blou Druppel-telling in Limpopo het met ’n onrusbarende 17,9% afgeneem. Limpopo, met ’n persentasie van 62%, het naas Noordwes die heel swakste in 2014 gevaar.

11 waterdiensowerhede wat 74 waterverskaffingstelsels bestuur, is geoudit.

• AfriForum se Blou Druppel-uitslae: 2015 tot 2019

Altesame 17 stelsels vir waterverskaffing is gemeet. Dit sluit die Letaba en Olifantsruskampe in die Krugerwildtuin in. Alle drinkwater het in 2019 “skoon” resultate opgelewer.

Dit gaan beter by Ellisras, wat in 2017 en 2018 nog E. coli en fekale kolivormige bakterieë opgelewer het. Polokwane het in 2014 laas E. coli-tellings getoets.

• AfriForum se Groen Druppel-uitslae: 2019

Van die ses afvalwatersuiweringsaanlegte wat in Limpopo getoets is, het net Tzaneen en Warmbad “skoon” resultate gehad.

*Hierdie artikel is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Waarheid Eerste, ’n niewins-maatskappy wat ondersoekende joernalistiek bevorder.

waarheid

Meer oor:  Afriforum  |  Departement Van Water En Sanitasie  |  Lindiwe Sisulu  |  Gauteng  |  Kwazulu-Natal  |  Limpopo  |  Noordwes  |  Oos-Kaap  |  Vrystaat  |  Noord-Kaap  |  Wes-Kaap  |  Mpumalanga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.