Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Spesiale ondersoek: 'Waterkaping' – híér kan net die rykes 'n kraan oopdraai

Baie Suid-Afrikaners het ná 26 jaar van demokrasie nog nie betroubare waterdienste nie. Jana Marx het in Limpopo gaan kyk hoe mense met watertekorte saamleef.

’n Staankraan sonder ’n kop in die Machele-nedersetting tussen Giyani en Vuwani lek water. Foto: Deaan Vivier

Die gemeenskaplike kraan langs die grondpad het nie meer ’n kop nie.

“Kyk, ’n mens moet dit met ’n tang oopdraai,” sê Calvin Mbiza, terwyl hy demonstreer hoe inwoners van die Machele-nedersetting in Limpopo water tap.

Mbiza se huis is teenaan ’n grondpad tussen die Giyani- en Vuwani-nedersetting, in die noordooste van die provinsie.

Ek is bly dit reën – nou is daar water in die kraan
Calvin Mbiza

Hy wonder hardop of mense die kop steel sodat hulle alleenreg op die water kan hê; hy weet nie juis wat anders ’n mens met ’n kraan se kop kan doen nie.

Dit reën liggies.

“Ek is bly dit reën – nou is daar water in die kraan,” sê Mbiza. Maar die kraan werk nie altyd nie. “Soms kom daar vir dae nie water uit nie. Ander kere werk die kraan vir tot drie maande nie.”

Calvin Mbiza verduidelik die Machele-dorpie se watersituasie. Hy meen inwoners is dankbaar vir reën, want dan is hulle minstens verseker van water. Foto: Deaan Vivier

Ndove Khensani, sy buurvrou, knik instemmend. Dié kraan staan net buite haar familie se lappie grond en hulle deel die water met mense op ’n paar ander erwe.

“As daar nie water in die kraan is nie, moet ons ver loop met die blou dromme om water te gaan haal,” sê sy en wys met haar vinger in die rigting van ’n bult.

Netwerk24 is besig met ’n ondersoek na bewerings van waterkaping, wat insluit hoe onreëlmatighede, wanbestuur en korrupsie die uitbreiding van waterinfrastruktuur en waterdienslewering lamgelê het.

Die infrastruktuur soos ’n pyp en ’n kraan kan dalk daar wees, maar dit beteken nie daar gaan water uitkom nie

Die departement van water en sanitasie, sy waterrade en ’n paar diensverskaffers is ook onder die owerhede se vergrootglas weens miljarde rand se onreëlmatige tenders oor jare heen. Dit sluit waterprojekte in die Giyani- en Vuwani-omgewing in.

Die nuwe administrasie is op rekord oor hoe hulle alles in die stryd werp om die watersektor te “suiwer”, maar die gemors is só groot dat die wiel maar stadig draai.

Die slagoffers: Suid-Afrikaners wat ná 26 jaar van demokrasie nog nie betroubare waterdienste het nie.

Tenks is net vir die rykes

Maelly Zitha, ’n plaaslike Tsonga-musikant, sê hy kan nie vertonings hou sonder drinkwater vir sy gehoor nie. Basiese behoeftes, soos om te bad voor ’n vertoning, is ook ’n uitdaging weens die onbetroubare waterdienste in die omgewing. Foto: Deaan Vivier

Ons loop Maelly Zitha, ’n plaaslike Tsonga-musikant van die Sikhunyani-dorpie in Giyani raak. Hy wag op ’n rygeleentheid huis toe.

“Ek kan nie optree as daar nie water is nie. Ek glo mense (met plekke waar hy kan optree) nie meer as hulle sê hulle hét watergeriewe nie. Mense kan nie na my vertonings toe kom as daar nie drinkwater is nie.”

Hy verduidelik die infrastruktuur soos ’n pyp en ’n kraan kan dalk daar wees, maar dit beteken nie daar gaan water uitkom nie.

“Dis nou laatmiddag. Ek wil gaan bad voor ’n vertoning vanaand, maar daar is nie nou water in Sikhunyani nie.”

Net ryk mense besit ’n watertenk. Ons kan dit nie bekostig nie
Sizwe Maweya

Sizwe Maweya, Zitha se vriend, sê hulle “koop” water by inwoners met boorgate op hul erwe.

“20 liter kos R1 en 25 liter kos R2,50.”

En watertenks?

“Net ryk mense besit ’n watertenk. Ons kan dit nie bekostig nie,” sê Maweya.

Gebreekte of verouderde waterinfrastruktuur is ’n algemene verskynsel in Vuwani. Foto: Deaan Vivier
Stukke pyp lê plek-plek langs die pad buite Vuwani. Foto: Deaan Vivier

By Vuwani stop ons by stukke van ’n staalpyp wat op ’n sypaadjie langs die pad lê. Dit roes al.

Vuwani se watertekorte het eers ná 1996 begin, vertel ’n inwoner wat vrees vir sy veiligheid en daarom nie sy naam wil bekend maak nie.

Hier in Vuwani waar hy woon, het hulle net op Maandae, Woensdae en Vrydae water in die huis.

’n Kontrakteur is in 2012 aangestel om 3 km van die beskadigde pyp te herstel. Die SOE kon jare later geen teken van enige herstelwerk vind nie.

Die Vuwani-staalpypleiding moes skoon drinkwater aan die inwoners van die nedersetting verskaf, maar die projek was volgens die spesiale ondersoekeenheid (SOE) deurspek met swak bestuur.

’n Kontrakteur is in 2012 aangestel om 3 km van die beskadigde pyp te herstel. Die SOE kon jare later egter geen teken van enige herstelwerk aan die pyp vind nie.

Netwerk24 het voorheen berig die ondersoek is aan die gang en dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid ’n staatsaanklaer vir die saak aangewys het.

Die saak is ook op die Construction & Industry Development Board (CIDB) en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se radar en die SOE se siviele hofproses om R96 miljoen terug te kry, is ook aan die gang.

Die Giyani-grootmaatwaterprojek

Blou waterdromme in Machele. Waterhouers is ’n algemene gesig in die noordooste van Limpopo, waar baie inwoners nog ver moet loop om water aan te dra. Foto: Deaan Vivier

Die Giyani-grootmaatwaterprojek is in 2014 deur oudpres. Jacob Zuma en die destydse minister van water en sanitasie, Nomvula Mokonyane, van stapel gestuur om water aan duisende inwoners in 55 nedersettings in die Mopani-distrik van Limpopo te verskaf.

Tog het die ouditeur-generaal van Suid-Afrika en die SOE gevind die departement het nié die regte tenderprosesse gevolg toe ’n kontrakteur van Midrand, LTE Consulting, vir die projek aangestel is nie.

Ná ses jaar kos die projek al minstens R3,3 miljard en die inwoners van die landelike dele van Giyani het steeds nie betroubare (of enige) watertoevoer nie.

Ongelukkig het ons voor droë krane te staan gekom.
Machwene Semenya

Die SOE voer ook ’n stryd in die siviele hof om die geld wat aan die kontrakteur betaal is, te probeer terugkry.

Die portefeuljekomitee oor menslike nedersettings, water en sanitasie het in Februarie vanjaar in ’n verklaring ná ’n besoek aan Giyani gesê hy is baie teleurgesteld om te sien dat inligting dat 22 van die 55 dorpies reeds by die waterprojek baat, vals is.

“Ons het doelbewus versoek om van die 22 dorpies te besoek om eerstehands te kyk na die watervoorsiening. Ongelukkig het ons voor droë krane te staan gekom,” het Machwene Semenya, voorsitter van die komitee, gesê.

Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, het intussen die Lepelle Northern Water-waterraad ontbind en ’n tydelike direksie aangestel hangende ondersoeke na die vorige waterraad.

Departement erken die probleem

Die kantoor van Lepelle Northern Water, Limpopo se waterraad, in Polokwane. Foto: Deaan Vivier

Die nasionale departement het in sy watermeesterplan erken net 64% van huishoudings het toegang tot betroubare dienste – ’n syfer wat laer is as in 1996.

Betroubare dienste is om dienste te hê wat wérk. Dit help nie ’n gemeenskaplike kraan het net elke tweede week water nie.

Luidens die meesterplan is die mislukking van sommige munisipaliteite om betroubare water- en riooldienste te lewer grootliks weens ’n gebrek aan tegniese vaardighede, institusionele kapasiteit en fondse om water- en afvalwaterinfrastruktuur behoorlik te bestuur en in stand te hou.

Joe Mathebula, ’n sakeman en voorsitter van Lepelle Northern Water se tussentydse waterraad, het aan Netwerk24 gesê een van die groot uitdagings is dat die munisipaliteite in die noorde omring word deur arm nedersettings.

“Jy kan eenvoudig nie ’n munisipaliteit in die stad en ’n munisipaliteit in ’n landelike gebied met mekaar vergelyk nie. Dis baie moeilik vir enige munisipaliteit om dienste te lewer sonder ’n behoorlike inkomste (van sy inwoners).”

Vordering

Die Nsamarivier wat onderdeur die grondpad tussen Giyani en Vuwani deurloop, was met Netwerk24 se besoek heeltemal droog, al het dit verlede week goed in die omgewing gereën. Foto: Deaan Vivier

Mathebula sê die proses is aan die gang om die pyplyn van die Nandoni-dam na Giyani te bou.

Dit sluit pype in wat op pad na Giyani verby die Malamulele-nedersetting loop.

“Dis om seker te maak landelike nedersettings al langs die pyplyn trek ook voordeel uit die water,” het hy gesê.

Volgens Mathebula sal die projek nagenoeg R1,8 miljard kos en oor twee jaar strek.

Dit sluit ’n nuwe watersuiweringsaanleg by die Nandoni-dam in, wat benewens die Mopani-distrik waarin Giyani val, die Vhembe-distrik (noord) en dele van die Capricorn-streke sal baat.

“Die sukses van die projek sal volg nadat ons aandag gegee het aan uitstaande kwessies waardeur gemeenskappe rondom Nandoni en aangrensende gebiede in die gesig gestaar word.”

* Hierdie artikel is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Waarheid Eerste, ’n nie-winsmaatskappy wat ondersoekende joernalistiek bevorder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.