Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Spesiale ondersoek: Dís wat boere en staat oor water kwel

Die landbousektor gebruik die meeste water in die land en moet begin om nuwe tegnologie te gebruik om te verhoed dat water deur onder meer besproeiing verlore gaan, skryf Jana Marx.

’n Gronddam op ’n plaas in die Suid-Vrystaat. Damme in die Vrystaat het die eerste keer in jare weer water ná ’n intense droogte van vyf jaar of meer. Foto: Charles Smith

Suid-Afrika sal sy voedselproduksie moet verdubbel om die groeiende bevolking se mae vol te hou, het by die land se eerste simposium vir volhoubare infrastruktuurontwikkeling aan die lig gekom.

Dit beteken boere gaan óf meer water benodig óf bloot meer kos moet lewer met die water wat beskikbaar is.

Klimaatsverandering en voorspellings dat droogtes van etlike jare die land se nuwe normaal gaan word, beteken egter dat die water nie meer gaan word nie.

Trouens, Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, maak in haar nuwe meesterplan vir water baie spesifieke melding van landbou se hoë waterverbruik – ook van water wat vermors word.

Infrastruktuurprojekte in die landbousektor was op die agenda van die meer as 600 verteenwoordigers van die regering, die private sektor, sowel as plaaslike en internasionale ontwikkelingsbanke en -finansiers wat die simposium op 23 Junie bygewoon het.

Die herstel van waterinfrastruktuur is een van Lindiwe Sisulu se hoofprioriteite.

Pres. Cyril Ramaphosa het by die simposium terugvoering gegee oor 276 infrastruktuurprojekte wat die afgelope vyf maande vir volhoubaarheid beoordeel is. Dit sluit in beleggings vir energie, water en ook landbou.

“Ons het besluit om landbou ook in te sluit vanweë sy kapasiteit om werk te skep. Dit kan tot die hernuwing van landelike ekonomie lei,” het Ramaphosa gesê.

Benewens dié onlangse projekte het Sisulu aan Netwerk24 gesê die herstel van waterinfrastruktuur is een van haar hoofprioriteite.

Die Suid-Afrikaanse instituut vir siviele ingenieurswese (Saice) het in sy jongste verslag oor infrastruktuur beraam dat 35% tot 45% van die water wat deur landbou gebruik word, gedurende besproeiing verlore gaan – hoofsaaklik omdat skemas in ’n onherstelbare toestand is of hul ekonomiese lewensduur oorskry het.

LEES OOK: Die impak van klimaatsverandering en droogte.

Die land het 16,7 miljoen ha bewerkbare (vrugbare) grond. Dis omtrent 13,7% van die totale oppervlakte. Weiveld beslaan omtrent 83,9 miljoen ha, of 68,6% van die totale grondoppervlakte. Dit beteken landbougrond in Suid-Afrika maak net meer as 80% van die land se oppervlakte uit.

Die 13,7% se vrugbare grond is min vergeleke met lande soos Indië, waar omtrent 53% van grond vrugbaar is.

Tog is Suid-Afrika die enigste land in Afrika wat nog in staat is om vir al sy mense kos te gee, sê Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne by Agri SA.

Landbou is die sektor in die land wat die meeste water gebruik, maar ook die een wat voedselsekerheid bepaal.

Landbou dra tussen 4% en 5,3% by tot die bruto binnelandse produk (BBP) en onregstreeks tot tussen 14% en 30%. Volgens die departement van water en sanitasie se jongste meesterplan wat in November verlede jaar uitgereik is, was die waarde van primêre landbouproduksie in Suid-Afrika in 2016 altesame R263,2 miljard.

Die landbousektor, wat meer as 30 000 kommersiële boere insluit, is ook van die grootste werkskeppers in die land. In 2019 het net meer as 5% van alle Suid-Afrikaners volgens die Wêreldbank op plase gewerk.

Die produsering van mielies het ’n regstreekse impak op die ekonomie. Foto: iStock

Die departement van water en sanitasie is om verskeie redes bekommerd oor landbouwater:

• Watergebruik te hoog

Hoewel boerderye oor die jare al hoe minder geword het, het die vlak van produksie meestal konstant gebly. Dit beteken die oorblywende boere het bloot meer intensief begin boer.

Om die vraag en aanbod van water te balanseer, sal Suid-Afrika sy vraag na water moet verminder, en terselfdertyd sy aanbod vir die groeiende bevolking en ekonomie moet verhoog, meen die departement in sy meesterplan.

Die landbousektor gebruik tot 61% van alle beskikbare water. Hoewel dit verreweg die meeste van alle sektore is, is dit volgens Rabie steeds minder as die wêreldgemiddelde van 70%.

Volgens ’n studie deur die Waternavorsingskommissie ondersteun besproeiing tussen 25% en 30% van ons nasionale landbouproduksie. Die res is droëlandboerdery of veeboerdery.

Besproeiing is na raming verantwoordelik vir tot 90% van gewasse van hoë waarde (soos aartappels, groente en vrugte), asook vir tussen 25% tot 40% van produksie van industriële gewasse (soos suikerriet en katoen).

Baie Suid-Afrikaanse boere steun swaar op besproeiing. Foto ter illustrasie. Foto: iStock

Om die vraag na water te verminder, moet nuwe tegnologie gebruik word en daar moet verhoed word dat water deur besproeiing en ander infrastruktuur verlore gaan. Waterverbruik moet streng gereguleer word en betalings vir waterverbruik moet ingevorder word.

Volgens die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika se verslag in 2019 oor watersekerheid is daar heelwat ruimte vir verbetering in die landbousektor se waterverbruik.

“Die tegnologie vir meer doeltreffende besproeiing is welbekend,” lui die verslag. Oplossings is mikro- of drupbesproeiing.

Boere betaal ook ’n veel laer tarief as ander verbruikers vir onbehandelde water.

Die Ontwikkelingsbank merk egter op dat boere dalk nie genoeg op die laer watertariewe spaar om te vergoed vir die hoë koste van nuwe praktyke en tegnologie nie.

Die betroubaarheid van waterdienste in stede staan op ’n gemiddeld van 98%. ’n Tekort word slegs vir elke 50 jaar voorspel.

“Die koste van water is maar net een kostekomponent van landbou. Ander insetkoste, byvoorbeeld die koste van elektrisiteit om water te pomp, saad, arbeid, brandstof, ensovoorts dra alles by tot die koste van landbou. Daarbenewens bepaal boere nie die koste van hul produkte nie. Die mark bepaal dit. Boere is prysnemers en afhanklik van wat in die mark vir hul produkte aangebied word,” sê Rabie.

Boere betaal onder meer laer tariewe vir onbehandelde water omdat sekerheid van beskikbaarheid en lewering van hul water nie gewaarborg is nie, verduidelik Rabie.

“Ons boere kry die water wat oorbly nadat almal reeds gekry het. Ons is dus nooit seker of ons sal kry en van watter gehalte die water is wat ons kry nie.”

Volgens die Ontwikkelingsbank is instellings soos Eskom wat krag opwek tot 99,5% seker van hul water. Hulle is so seker, dat die aanname gemaak word dat hulle net een maal elke 200 jaar sal kortkom. Tog gebruik hulle net 2% van water.

Die betroubaarheid van waterdienste in stede staan op ’n gemiddeld van 98%. ’n Tekort word slegs vir elke 50 jaar voorspel.

Boere is egter van jaar tot jaar gemiddeld net sowat 80% seker daarvan dat hulle water vir besproeiing sal kry. Daar word voorspel dat hulle elke vyf jaar kan kortkom.

Boere is nie altyd seker dat hulle wel water vir besproeiing sal kry nie. Foto: iStock

Die departement is reeds besig met maatreëls om die landbousektor se water beter te reguleer en waterverbruik te verminder, want hy meen enige persentasievermindering sal ’n beduidende impak op die totale vraag na water hê.

Hy wil byvoorbeeld besproeiingsrade (’n instelling wat voor die Nasionale Waterwet van 1998 gestig is) omskep in plaaslike waterbestuursinstellings. Die poging om water verder te desentraliseer beteken beter bestuur en besparing op grondvlak.

Alle besproeiingsrade moes al in 1999 in agentskappe vir waterverbruik verander het. ’n Beleid om agentskappe vir waterverbruik en besproeiingsrade tot niet te maak, is toe in 2013 deur die kabinet goedgekeur, maar steeds het niks gebeur nie.

Daar bestaan tans 90 verenigings vir waterverbruik en 177 besproeiingsrade wat gemeenskaplike waterbronne moet bestuur. Dit sluit ook die bestuur van infrastruktuur vir besproeiing en staatswaterskemas in.

Die departement wil graag die punt bereik waar hy ’n benadering volg van 'geen water' as daar geen betaling is nie.

Die department het in sy nuwe meesterplan ’n “padkaart” uitgewerk om alle besproeiingsrade en agentskappe vir waterverbruik in plaaslike instellings vir die bestuur van waterhulpbronne te omskep.

Die Strategiese Watervennootskapnetwerk (SWPN) en die Wateradministrasiestelsel (WAS) se vrylating-module is by verskeie besproeiingskemas ingestel.

Die WAS maak dit moontlik om die regte hoeveelheid water van ’n waterbron vir verbruik vry te stel soos deur die aanvraag bepaal. Sodoende word watervermorsing voorkom.

Die departement wil graag die punt bereik waar hy ’n benadering volg van “geen water” as daar geen betaling is nie. Dit sal alle sektore geld – ook landbou.

• Meters en doeltreffende waterverbruik

’n Ander bekommernis volgens die meesterplan is kostelose (unmetered) water. Dit beteken water word sonder toestemming onttrek (waterdiefstal) en vermors sonder dat daar boek van gehou word.

Die departement het in 2017 die gebruik van nuwe watermeters ingestel en boere het ’n sperdatum gekry vir die installering van die nuwe meters op hul eie onkoste. Die Covid-19-pandemie het egter die proses vertraag. Boere wag nou vir die nuwe sperdatum wat in die Staatskoerant gepubliseer moet word. Van die datum van publikasie af sal hulle dan nog drie maande kry om die meters te installeer.

Volgens Rabie is watermeters ontsaglik duur. “Dit kos tussen R15 000 en R16 000 vir ’n nuwe meter. As jy nou ’n paar meters op jou plaas moet installeer, raak dit ’n duur speletjie. Boere het ’n paar vrae hieroor: Waar presies installeer jy dit? Wat maak jy met die lesings? Wat maak die staat met jou lesings? Gaan hulle nou jou waterverbruik monitor en sonder jou toestemming beperk?”

Om te meet is om te weet. ’n Boer moet sy waterverbruik meet ten einde doeltreffend te kan boer.
Janse Rabie

Maar ondanks boere se bekommernisse, sê Rabie Agri SA steun die meting van waterverbruik. “Om te meet is om te weet. ’n Boer moet sy waterverbruik meet ten einde doeltreffend te kan boer. Die regering, bestuursagentskappe, besproeiingsrade en verenigings van waterverbruikers moet weet hoeveel water verbruik word en deur wie om die bron doeltreffend te kan bestuur.”

Die departement is saam met die departement van omgewingsake besig om die strategiese waterbrongebiede (waar vars water in byvoorbeeld berge ontspring) as bewaringsgebiede te laat verklaar. Hy meen die meet van waterverbruik in die landbou en die verwydering van staatsubsidie op landbouwaterkoste waterbewaring sal bevorder.

“Die regering het in die verlede waterinfrastruktuur gebou wat baie duur was. Hy het die koste van sulke infrastruktuur nie regstreeks van waterverbruikers verhaal nie en dus die infrastruktuur en lewering van die water gesubsidieer. Deur sulke subsidies weg te neem, sal water dus aansienlik duurder word, met die moontlike gevolg dat verbruikers (insluitende boere) meer omsigtig sal wees met hul gebruik,” verduidelik Rabie.

’n Grensdraad verdeel ’n plaasdam wat oor twee plase in die Suid-Vrystaat strek. Dit toon hoe verskillende boere dikwels ’n waterbron moet deel. Daar sit ’n dooie sekretarisvoël in die draad vas. Hy het vermoedelik te laag gevlieg. Foto: Charles Smith

Boere se bekommernisse

• Bestuur van waterinfrastruktuur

As minister van water en sanitasie is Sisulu die bewaarder van Suid-Afrika se water. Onder haar is ’n hele hiërargie van bestuursvlakke.

Volgens Rabie is die afwenteling van die bestuur van waterhulpbronne na streek- en opvangsgebiedvlak ideaal. “Dis hoekom waterbestuur nie genasionaliseer moet word nie. Bestuur water daar waar dit gebruik word. ’n Sentrale persoon in Pretoria weet nie wat met ’n waterpyp in die platteland aangaan nie,” sê Rabie.

Die plaaslike regering of munisipaliteit is verantwoordelik vir waterverskaffingsdienste aan dorpe en stede in die vorm van watersuiweringsaanlegte, pompstasies, reservoirs en die waternetwerk (pype en so meer). Hulle word ondersteun en gereguleer deur nasionale departemente, wat die departement van water en sanitasie insluit.

Waterrade en agentskappe vir die bestuur van opvangsgebiede (CMA’s) kan munisipaliteite en boere betrek om die water in hul onmiddellike omgewings te bestuur.

CMA’s kan byvoorbeeld omsien na die lisensiëring en die bestuur van waterbronne. Verenigings van watergebruikers kan weer omsien na infrastruktuur, soos pyplyne en kanale.

Daar is egter nog net twee van nege funksionele bestuursagentskappe vir opvangsgebiede op die been gebring. Die departement neem kennis daarvan in sy meesterplan.

Alle besproeiingsrade moes volgens die meesterplan al in 1999 in agentskappe vir watergebruik verander het. ’n Beleid om agentskappe vir watergebruik en besproeiingsrade tot niet te maak, is al in 2013 deur die kabinet goedgekeur.

• Swak watergehalte en besoedeling

Rioolgeriewe in landelike gebiede is soms heeltemal onvoldoende vir groot bevolkings. Stukkende waterinfrastruktuur lei ook tot besoedeling.

Boere pomp egter steeds water vir besproeiing uit riviere wat met rioolafval besoedel is.

’n Voorbeeld is die liters onverwerkte riool wat volgens ’n verklaring van die VF Plus op 30 Junie toe al vir dae lank uit ’n mangat in Welverdiend, Carletonville, gestroom het. Die riool vloei deur klein stroompies en beland uiteindelik in die Wonderfonteinspruit.

Boere het in die verlede rivierwater uit die Wonderfonteinspruit vir besproeiingsdoeleindes gepomp, maar moes dit staak weens die voortdurende vloei van riool in die spruit. Ondergrondse water word ook op hierdie manier besoedel, wat boorgate se watergehalte erg beïnvloed.

Onverwerkte riool stroom uit ’n mangat in Welverdiend, Carletonville. Dit vloei in klein stroompies wat uiteindelik in die Wonderfonteinspruit beland.

Dis belangrik om daarop te let dat landbou in eie reg ook besoedeling kan veroorsaak. Wanneer verkeerde landboupraktyke gevolg word, soos wanneer oorbeweiding plaasvind, kan erosie ontstaan wat heelwat grond kan laat wegspoel.

LEES OOK: Suid-Afrika se watergehalte.

Wanneer dié grond in natuurlike waterbronne beland, beïnvloed dit die helderheid en die sout- en mineraalinhoud in die water.

Kunsmis en bemesting wat in water beland, dra by tot kommerwekkende hoeveelhede nitrate (soute) en fosfate. Dit kan lei tot ’n skerp vermeerdering van alge in damme, wat die dam eintlik ongeskik maak vir sy doel. Die Hartbeespoortdam is ’n voorbeeld.

Landbouweekblad haal die wetenskaplike Kobus du Plessis aan wat sê in sommige stelsels word tot 50% van die kapasiteit van kanale in die arm somermaande deur wateronkruid beset. Dit veroorsaak dat kanale oorloop en lei tot 'n verlies aan gewasse weens die ondervoorsiening van water. 

"As net 10% van die watereveries uit besproeiingskanale weens indringerplante soos alge en akwatiese makrofiete in Suid-Afrika beperk kan word, sal besproeiingsboere jaarliks 'n bykoemnde 500 miljoen kubieke meter water vir hul gewasse beskikbaar hê," sê Du Plessis. 

Nitrate kan ook in grondwater beland en die gehalte van boorgatwater verswak.

Hoë vlakke van onkruiddoders en gifstowwe waarmee gewasse gespuit word, vergiftig water en die waterlewe. Die oordeelkundige en korrekte gebruik van kunsmis, onkruiddoders en gifstowwe is dus van die uiterste belang. 

LEES OOK: Suid-Afrika se Druppel-verslae.

• Verhandeling van watergebruiksregte nou verbied

Omdat elke druppel van Suid-Afrika se water reeds aan die mense van die land toegewys is, "besit" niemand water nie, maar almal het gebruiksreg.

Die Ontwikkelingsbank het in sy verslag van 2019 die verhandeling van hierdie gebruiksvoorregte aangemoedig. "Hierdie meganisme word dikwels voorgestel om groter doeltreffendheid van waterverbruik deur prysvasstelling te bevorder. Dit kan gedoen word binne 'n enkele sektor en streek (byvoorbeeld onder boere in dieselfde gebied), tussen sektore en/of tussen gebiede wat aan fisieke beperkings onderwerp is," lui die verslag.

Die oordrag van watergebruiksregte is in Januarie 2018 ingevolge 'n omsendbrief van die departement van water en sanitasie op die spits gedryf. Daarin word die oordrag van watergebruiksregte tussen verskillende persone, 'n praktyk wat al vir baie jare aanvaar word, verbied. Nêrens in die Nasionale Waterwet van 1998 was daar enige uitdruklike verbod op die handel of oordra van regte nie.

Tot voor die omsendskrywe was dit 'n algemene praktyk wat die departement se goedkeuring weggedra het.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Watergebruikerverenigings, die Doornkraal Besigheidstrust en die De Kalk Besigheidstrust het toe 'n verklarende bevel hieroor versoek en die hof het in Junie vanjaar teen hulle beslis. Volgens die hof kan watergebruiksregte wel oorgedra word, maar dat dit nie verkoop mag word nie. Die verhandeling van watergebruiksregte lei volgens die hof tot diskriminasie teen diegene wat nie watergebruiksregte kan bekostig nie. 

Die hof het ook bepaal dat die verkoop van watergebruiksregte op die privatisering van water neerkom, voorheen benadeelde persone uit die landbousektor hou en gelyke toegang tot water in die wiele ry.

“Die uitspraak het verreikende gevolge vir die kommersiële landbousektor,” sê Wayman Kritzinger, voorsitter van Agri SA se Natuurlike Hulpbronne Sentrum van Uitnemendheid, in ’n verklaring.

Volgens Rabie is die implikasie dat boere dan eerder hul gebruiksregte vir hulself sal hou, of hulle dit gebruik of nie. “Gestel jou oes word deur hael platgeslaan, maar jou buurman s’n nie: Jy kon in die verlede jou gebruiksreg vir daardie jaar opsê en aan jou buurman oordra om te gebruik. Dit kan ook beteken dat daar ’n demper op nuwe uitbreidings sal wees.”

’n Brug oor die Caledonrivier naby Vanstadensrus in die Vrystaat. Die Caledonrivier is ’n belangrike wateraar vir boere en dorpe in die Vrystaat en Lesotho. Foto: Charles Smith

• Die kopseer van waterlisensies

Die Nasionale Waterwet bepaal elke boer met ’n waterbron op sy plaas moet in besit van ’n wettige waterlisensie vir daardie bron wees om van daarvan gebruik te kan maak in ooreenstemming met die voorwaardes van sodanige lisensie. Elke slag as daar ’n nuwe boorgat geboor word, moet daar om ’n nuwe lisensie aansoek gedoen word.

Die departement het ’n vergunning gemaak vir boere wat reeds in besit was van wettige waterbronne op hul plase voordat die wet in werking getree het. So ’n boer staan bekend as ’n “bestaande regmatige watergebruiker”. Dit was dus nie nodig dat dié boere aansoek doen om nuwe waterlisensies nie.

Die departement sien dít egter as ’n tydelike oplossing en beoog in sy meesterplan om alle bestaande regmatige watergebruikers te verplig om teen 2030 hul waterverbruik te laat lisensieer.

Aansoeke vir lisensies het voorheen jare lank gesloer. “Voor die minister se aankondiging kon dit jare – vyf tot sewe jaar – geduur het. Dit het so lank gevat dat boere eenvoudig gevoel het dis nie die moeite werd om aansoek te doen nie,” sê Rabie.

Maar intussen het die departement sy sokkies opgetrek en talle aansoeke afgehandel en ’n groot agterstand ingehaal, sê hy.

’n Ander ding wat boere steeds moedeloos maak, is die mededinging om lisensies. ’n Waterbron soos ’n rivier kan net ’n spesifieke aantal gebruikers hê. “ ’n Boer sal soms sukkel om ’n lisensie te kry, maar die myn reg langs hom sal die lisensie kry.”

Volgens Rabie illustreer die mededinging vir water tussen landbou, mynbou, ander nywerhede, dorpsontwikkelings en huishoudelike gebruik hoe ingewikkeld waterhulpbronbestuur in ’n land soos Suid-Afrika werklik is.

Water, die departement se transformeerder

’n Trop Afrino-skape op ’n plaas in die Suid-Vrystaat.Foto: Charles Smith

Een van die eerste stappe wat ná 1994 gedoen is om ongelykheid in die samelewing te probeer herstel, was om die Nasionale Waterwet in te stel. Dit is volgens Rabie een van die beste waterwette ter wêreld.

Sedert dit in werking getree het, behoort al die water in die land dus aan alle Suid-Afrikaners en almal het reg daartoe.

Transformasie in landbou was in die 1990’s ’n prioriteit omdat ongeveer 95% van alle landbouwater na raming deur wit kommersiële boere gebruik is. Die bepaling in die wet vir die bestaande regmatige watergebruiker is ingestel as deel van die oorgangsfase na ’n getransformeerde landbousektor.

Ondanks die wetgewing, beleide en vooruitsigte van transformasie in landbou, erken die departement in sy meesterplan dat daar sedertdien nog nie veel gebeur het nie. Bestaande regmatige watergebruikers beheer volgens die meesterplan steeds die grootste volume landbouwater in die land.

In ’n oorsig oor die nasionale water en sanitasie-meesterplanne aan die portefeuljekomitee oor menslike nedersettings, water en sanitasie op 18 Augustus het die departement gesê hoewel 61% van water vir landbou aangewend word, gebruik swart boere net 5%.

Jy kan waterlisensies gebruik om die landboubedryf te hervorm
Mbulelo Tshangana, voormalige waarnemende direkteur-generaal van die departement van water en sanitasie.

Wat grondhervorming betref, wys die departement daarop dat grond soms sonder waterregte na nuwe eienaars oorgedra word. Die nuwe boer moet dus nou opnuut aansoek doen vir ’n waterlisensie.

“Jy kan waterlisensies gebruik om die landboubedryf te hervorm,” het Mbulelo Tshangana, voormalige waarnemende direkteur-generaal van die departement, aan die portefeuljekomitee gesê.

Tshangana het onder meer gesê die departement van water en sanitasie “besit water”, wat Agri SA omgekrap het.

Lees meer hier.

In sommige gevalle het die vorige eienaars hul wettige watergebruiksregte verkoop, sodat die water nie saam met die grond na nuwe begunstigdes oorgedra kon word nie.

Volgens die instituut vir armoede-, grond- en landbouerstudies word meer as 70% van kommersiële plase deur wit boere besit. Suid-Afrika het omtrent 39 000 wit kommersiële boere en 5 300 swart boere (volgens die African Farmers Association of South Africa). Daar is meer as 5 000 geregistreerde damme (met ’n damwal van hoër as 5 m) in die land. Die meeste plaasdamme word privaat besit.

Die besproeiingstrategie wat deur die departement van landbou ontwikkel is, het onbenutte waterskemas geïdentifiseer waar daar potensiaal is om besproeiing vir swart boere uit te brei.

* Hierdie artikel is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Waarheid Eerste, ’n niewins-maatskappy wat ondersoekende joernalistiek bevorder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.