Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Spesiale ondersoek: Klimaat kan voedselsekerheid vernietig

Landbou in Suid-Afrika sal die ergste ly onder droogtes en waterskaarste wat deur klimaatsverandering veroorsaak word. Dit sal voedselsekerheid in die land in gedrang bring, skryf Jana Marx.

Tuli-vleisbeeste en hul donkievriende op ’n plaas in die Suid-Vrystaat. Die droogte raak nie net saaiboere nie, maar ook die vleisbeesbedryf. Foto: Charles Smith

As aardverwarming wêreldwyd nie doeltreffend bekamp word nie, kan Suid-Afrika se landboubedrywighede in die tweede helfte van die 21ste eeu in duie stort, voorspel kenners.

Dit kan voedselsekerheid in Suid-Afrika vernietig.

Suid-Afrika is reeds nommer 30 op die lys van die wêreld se droogste lande en hy sal na verwagting geleidelik droër word.

“In dié stadium stuur die wêreld op ’n gemiddelde temperatuurstyging van 3 °C of meer af in die tweede helfte van die 21ste eeu,” sê prof. Francois Engelbrecht, ’n klimatoloog aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Dit beteken ’n temperatuurstyging van 6 °C kan ná 2050 Suid-Afrika se voorland wees.

“As Suid-Afrika se temperatuur met 6 °C toeneem, is daar ’n risiko dat die mielie-oes heeltemal kan misluk. Die vleisbeesbedryf is ook nie volhoubaar in sulke hitte nie,” sê Engelbrecht.

Temperature in die Suid-Afrikaanse binneland is reeds omtrent 2 °C hoër as ’n eeu gelede.

Volgens Albi Modise, woordvoerder van die department van omgewingsake, het die spesiale verslag van die Tussenregeringspaneel van Klimaatsverandering (IPCC) Suider-Afrika as ’n brandpunt geïdentifiseer.

“Die verslag het uitgewys dat die groter Suider-Afrikaanse streek as ’n geheel reeds sistematiese, mensgemaakte (“anthropogenic-induced”) klimaatsverandering beleef. Temperature in die Suid-Afrikaanse binneland is reeds omtrent 2 °C hoër as ’n eeu gelede,” het Modise in antwoord op navrae gesê.

“Meer noord – oor Botswana – is temperature besig om teen ’n tempo van omtrent 3 °C per eeu te styg. Botswana is trouens een van die streke met die hoogste temperatuurstygings in die hele Suidelike Halfrond.”

Boonop is reënval ook ’n probleem in Suid-Afrika.

Die departement van water en sanitasie het op 18 Augustus aan die parlementêre portefeuljekomitee gesê 65% van die land se jaarlikse reënval is minder as 500 mm, en 21% kry minder as 200 mm.

Rekordlae damvlakke

Die departement van water en sanitasie het op 19 Augustus bekend gemaak damvlakke, soos dié van die Vaaldam, is gevaarlik laag.

Op 26 Augustus het die departement gesê Suid-Afrika se damvlakke het die afgelope drie maande met 9% gedaal – van 75,2% tot 66,6% – maar dat daar geen rede is om paniekerig te wees nie, omdat dit normaal is vir hierdie tyd van die jaar.

Die damvlakke is oor ’n tydperk van twee weke gemeet.

• Die Vaaldam het tot 39,6% gedaal. In die ooreenstemmende tyd verlede jaar was die dam se vlak 62,3%.

• Die Grootdraaidam se vlak het van 80,6% tot 79,9% gedaal.

• Die Sterkfonteindam se vlak het van 94% tot 93,5% gedaal. Verlede jaar was dit 92,2%.

• Die Bloemhofdam se vlak het van 98,8% tot 98,2% gedaal.

• Die Mohaledam in Lesotho se vlak het van 7,5% tot 6,7% gedaal.

• Die Katsedam in Lesotho se vlak het van 30,1% tot 28,7% gedaal. Dis meer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar (18,8%).

Waterhulpbronne bedreig

Klimaatsverandering bring nie net temperatuurstygings mee nie. Dit verander ook reënvalpatrone en veroorsaak uiterste temperatuurverskynsels wat gereelder gaan voorkom, soos multijaar-droogtes.

Suid-Afrika se hoogste reënvalgebiede is in bergagtige gebiede in die Oos-Kaap en die Wes-Kaap en die Drakensberge.

Hoewel dié gebiede slegs 10% van die land se oppervlakte uitmaak, is dit verantwoordelik vir die water van 50% van ons riviere, lui die Water Files-verslag van die Wêreldnatuurlewefonds (WWF) in 2018.

Die meeste mense in groot stede is van hierdie waterbronne afhanklik.

Die jaarlikse brande in Australië eis miljoene diere se lewens. Foto: iStock

• Die invloed van minder reën en verdamping op waterbronne

Die hoeveelheid water wat beskikbaar is, hang af van die balans tussen reën en verdamping. Hoe warmer dit is, hoe meer verdamp vog in die grond en water in waterbronne.

Suid-Afrika se natuurlike watersiklus word baie erg deur klimaatsverandering geraak. As die waterbalans met byvoorbeeld 10% afneem, sal die rivierafvoer met sowat 30% afneem.

Die teendeel is ook waar: As die waterbalans met 10% toeneem, sal die rivierafvoer met 30% toeneem, sê prof. Bob Scholes, ’n klimatoloog aan die Universiteit van die Witwatersrand wat spesialiseer in die uitwerking van klimaatsverandering in die toekoms.

’n Studie deur Neha Koovergee, ’n Wits-student onder leiding van Scholes, het bevind verdamping weens klimaatsverandering (’n temperatuurstyging van meer as 2 °C) is die belangrikste rede vir ’n afname in die afvoer van die Slangrivier, ’n sytak van die Tugelarivier.

Hoewel reënval in dié omgewing ook met 10% afgeneem het, was dit slegs ’n bykomende oorsaak.

Die studie het ook bevind klimaatsverandering in hierdie streek het die potensiaal om ander groot riviere soos die Vaal-, Pongolo- en die Usuturivier te beïnvloed.

Die Tugelarivier aan die bopunt van die Tugela-waterval.Foto: iStock

• Die invloed van El Niño én klimaatsverandering

Een van die belangrikste oorsake van somerdroogtes in die oostelike dele van Suid-Afrika is die El Niño-verskynsel.

Dit kom elke tweede of sewende jaar voor wanneer die water rondom die ewenaar in die oostelike deel van die Stille Oseaan warmer as gewoonlik is.

Dit veroorsaak dikwels warm en droër toestande. As dit egter met klimaatsverandering gepaard gaan, raak dit potensieel verwoestend.

Netwerk24 het in 2015 berig El Niño het volgens die Wêreld-meteorologiese Organisasie (WMO) die gemiddelde temperatuur van die tropiese Stille Oseaan met minstens 2°C laat styg.

Dit was die eerste keer dat die invloed van El Niño en klimaatsverandering werklik saam gevoel is, sê Engelbrecht. Hy wys in dié verband daarop dat 2016 die warmste jaar tot dusver was sedert daar rekord gehou word en dat 2015 die 3de warmste jaar, net ná 2019, was.

Dié spesifieke El Niño is volgens Engelbrecht die sterkste wat tot nog toe aangeteken is. Die vorige super-El Niño’s was in 1997 tot 1998.

Volgens Engelbrecht dui voorlopige navorsing daarop dat sterk El Niño’s soos dié van 1997/98 en 2015/16 meer gereeld kan voorkom weens wêreldwye verwarming.

Die son sak oor ’n plaas in die Suid-Vrystaat. Foto: Charles Smith

• Voedselsekerheid in gedrang

Landbou sal die ergste ly onder klimaatsverandering. Droogte en waterskaarste kan landbou maak of breek.

Die droogte van 2015/16 was wydverspreid in Suider-Afrika en moet gesien word as ’n aanduiding van die groot gevaar van multijaar-droogtes in die streek wat deur klimaatsverandering veroorsaak word, sê Engelbrecht.

“In 2015 het Botswana 20% van sy beeste verloor en in 2016 nog 20%. In Noordwes en die noorde van KwaZulu-Natal het beesboere net so erg skade gely. In die Krugerwildtuin moes uitdunning plaasvind omdat daar net nie genoeg weiding vir al die diere was nie.

“En die vlak van die Vaaldam het tot sowat 25% gedaal teen die einde van die droogte in 2016. Dit was alles te wyte aan die wydverspreide uitwerking van droogte en hittegolwe,” sê Engelbrecht.

Klimaatsverandering maak dit egter al hoe moeiliker om te weet wat ’n volgende jaar se oes kan oplewer.

Dié droogte duur voort.

Thoko Didiza, minister van landbou, het op 1 Mei aangekondig die land sal na verwagting vanjaar sowat 17,5 miljoen ton graan lewer, ’n toename van 31% vergeleke met 2019. Dit word as die tweede beste oes in die geskiedenis beskryf.

Klimaatsverandering maak dit egter al hoe moeiliker om te weet wat ’n volgende jaar se oes kan oplewer, meen landboukenners.

Volgens Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, bestee Suid-Afrikaners 16% van hul totale inkomste aan kos en 73% daarvan word weer bestee aan voedselprodukte wat die een of ander vorm van mielies insluit.

• Hoe raak mielies die ekonomie?

Suid-Afrika verbruik jaarliks ’n gemiddeld van 11,5 miljoen ton mielies. As enigiets minder as 11,5 ton geproduseer word, moet mielies ingevoer word om in die aanvraag te voorsien.

Mieliepryse styg dan maklik met tot R5 000 per ton, wat Suid-Afrika se stapelvoedsel onbekostigbaar maak vir sy eie mense.

As daar ’n surplus is (meer as 11,5 miljoen ton), kos mielies ongeveer R2 500 per ton. Mielies kan dan uitgevoer word om ekstra inkomste vir Suid-Afrika te genereer.

Die Kaap het deur radikale waterbeperkings oor maande toegesien dat die krane nie op ’n dag droog word nie.

Hoewel daar baie probleme (soos waterinfrastruktuur, grondbestuur, titelaktes en ’n gebrek aan finansiering) in die landbou is, behoort klimaatsverandering al meer aandag te geniet.

In November 2019 skryf prof. Peter Johnston van die Universiteit Kaapstad op The Conversation oor die probleem van stygende temperature.

Volgens hom word die produksie van mielies, koring, vrugte én wyn hierdeur bedreig. En ’n afname in landboubedrywighede kan kwalik bekostig word.

Johnston haal die World Food Programme van 2016 se verslag aan wat toon dat graanproduksie per hektaar nie vinnig genoeg toeneem om die groeiende wêreldbevolking te voer nie.

Dag Zero wink vir ander provinsies

Suid-Afrika het ongeag klimaatsverandering in elk geval oor die algemeen ’n waterkrisis, sê Scholes.

“Ons waterverbruik het gestyg weens ons bevolkingsgroei, verstedeliking, die behoeftes van nywerhede en uitgebreide besproeiing. Dis op ’n punt waar daar nie meer op dieselfde tyd aan alle behoeftes voldoen kan word nie,” sê Scholes.

“Die droogte tussen 2015 en 2017 in die Kaap was ’n goeie aanduiding van die uitwerking wat klimaatsverandering op die land se winterreënvalstreek kan hê,” sê Engelbrecht.

Die Kaap het deur radikale waterbeperkings oor maande toegesien dat die krane nie op ’n dag droog word nie.

Engelbrecht wys daarop dat die IPCC se verslag van 2018 aantoon dat dit waarskynlik is dat somerreënval in Suider-Afrika sal afneem as daar ’n wêreldwye temperatuurstyging van 1,5 °C is, met verdere afnames as die temperatuur met 2 °C sou styg.

Boonop word meer gereelde multijaar-droogtes in die somerreënvalgebiede verwag, sê Engelbrecht.

Dit beteken volgens hom dat daar ’n toenemende risiko is dat Gauteng ook ’n “Dag Zero-tipe droogte” kan beleef.

Inwoners van Polokwane berei ook voor vir ’n moontlike 'Dag Zero' nadat die vlak van die Ebenezerdam buite die stad einde-Augustus na slegs 13% gedaal het.

“Gegewe die waarnemings en projeksies dat reënval afneem en verdamping toeneem . . . dit maak klimaatsverandering net soveel erger. Wanneer jy die toenemende risiko van droogtes wat meer as twee jaar lank duur byreken, is ons bestaande infrastruktuur vir waterberging onvoldoende om erge watertekorte in die toekoms in Gauteng te voorkom,” sê Scholes.

Cara-Lee Dorfling het op 6 Julie vanjaar berig Dag Zero wink ook vir Hankey en Patensie in die Oos-Kaap, wat deur die Kouga-munisipaliteit bestuur word. Dit kan volgens ’n konserwatiewe vooruitskatting reeds teen middel van September werklikheid word.

Die dam se watervlak het op Vrydag 3 Julie op 6,94% gestaan en op Maandag 20 Julie, danksy ligte reën, tot 7% gestyg. Water kan egter net tot ’n vlak van 3,1% uitgelaat word. Die dam se uiters lae watervlak het gedeeltelik daartoe gelei dat die departement van waterwese vir die nuwe waterjaar, wat op 1 Julie begin het, streng beperkings op waterkwotas ingestel het.

Marietie Louw-Carstens het berig inwoners van Polokwane in Limpopo berei ook voor vir ’n moontlike “Dag Zero” nadat die vlak van die Ebenezerdam buite die stad einde-Augustus na slegs 13% gedaal het.

“As daar gekyk word na die reënvalpatroon van die afgelope jare en die voorspellings vir reën vanjaar, moet ons alles doen om ’n ‘Dag Zero’ te vermy,” het Thembi Nkadimeng, burgemeester, gesê.

Die Nelson Mandelabaai-metro het op 7 Augustus nog op sy Facebookblad gewaarsku dat water bespaar moet word, want “eersdaags gaan water iets van die verlede wees”.

Die heel nuutste projeksies van toekomstige veranderings in temperatuur-reënvalpatrone oor die Katsedam in Lesotho word in die grafiek hier onder aangetoon. Die grafiek toon aan dat meer gereelde multijaar-droogtes ’n wesenlike vooruitsig is vir die “megadam”-gebied in die ooste van Suid-Afrika, wat van kritieke belang is om Gauteng van water te voorsien.

Die Katsedam in Lesotho.Foto: iStock
katsedam
Simulasies van klimaatsverandering oor die opvangsgebied van die Katsedam in Lesotho, vir die tydperk 1850 tot 2100 indien daar lae of swak klimaatingrype plaasvind (as die Parys-ooreenkoms byvoorbeeld nie in werking gestel word nie). Die projeksies kom van wêreldwye klimaatmodelle wat deelneem aan die Coupled Model Intercomparison Project Phase Six (CMIP6) van die World Climate Research Programme (WCRP). Jaarlikse reënvalafwykings (X-as = persentasieverandering) en temperatuurafwykings (Y-as = grade Celcius) word relatief tot die 1850-1900 verwysingsperiode getoon. Die grafiek dui aan dat drastiese afnames in reënval en meer gereelde multi-jaardroogtes in die nabye toekoms verwag kan word, en dat dit in die 21ste eeu verder kan toeneem. Terselfdertyd word drastiese temperatuurtoenames geprojekteer.

Hoewel die departement van water en sanitasie nie tans nasionale waterbeperkings handhaaf nie, is streke plek-plek besig om self water te bespaar.

Die Kaap handhaaf steeds vlak 1-waterbeperkings. Daar is ook waterbeperkings in die Nelson Mandelabaai-metro.

Isaac Dhludhlu, woordvoerder vir Joburg Water in Johannesburg, het by navraag gesê die stad is sedert 2016 onderhewig aan vlak 1-waterbeperkings “en ons het geen planne om dit op te hef nie”.

Vlak 1 beteken volgens Dhludhlu onder meer inwoners mag nie tussen sesuur in die oggend en sesuur in die aand tuine natlei of sypaadjies en motoropritte met tuinslange afspuit nie.

Die Kaapstad-metro is selfs strenger. Dáár mag munisipale water net vir een uur lank per eiendom vóór 09:00 of ná 18:00 op Dinsdae en Saterdae vir natlei gebruik word. Tuinslange moet ’n selfafsluit-sproeikop hê.

Suid-Afrika se bydrae tot die stryd teen klimaatsverandering

’n Woestynlandskap in die Noord-Kaap. Foto: iStock

In ’n poging om klimaatsverandering te bekamp, het Suid-Afrika saam met 196 lande die Parys-ooreenkoms in 2016 onderteken. Die doel daarvan is om die styging in temperatuur in dié eeu onder 2 °C te hou.

Ingevolge die ooreenkoms moet ontwikkelde lande steun aan ontwikkelende lande verleen.

Elke land het sy eie teikens om die vrystelling van kweekhuisgasse teen 2050 drasties te verminder.

Suid-Afrika het ’n goeie beleid teen klimaatsverandering wat deur die departement van omgewingsake en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) gedryf word, sê Scholes.

“Suid-Afrika speel ’n prominente rol in onderhandelings en om die ontwikkelde wêreld by die stryd teen klimaatsverandering te betrek. Hoewel Suid-Afrika net 1% tot die wêreld se probleem bydra, moet jy deur voorbeeld lei as jy met gesag aan dié debat wil deelneem.

“Ons het egter ’n hele energiestelsel (Eskom se kragopwekking) wat op fossielbrandstowwe gebou is en ons hou daarmee vol, ondanks pleidooie vir groen krag. Omgewingsake en Dirco kan doen wat hulle wil, maar die departement van minerale hulpbronne en die departement van energie neem die besluite in hierdie verband. Daar is dus ’n gat in die middel van ons beleid,” sê Scholes.

“Suid-Afrika het voorgeneem om probleme dringend te probeer oplos en ons vrystellings in ooreenstemming met wêreldwye teikens te kry, terwyl ons ons nasionale omstandighede as ’n ontwikkelende land in ag neem,” sê Modise.

Suid-Afrika sal ook probeer om by bestaande klimaatverandering aan te pas, deur byvoorbeeld watersekerheid te bevorder omdat droogtes gereelder voorkom.

“Ons het ’n historiese nalatenskap van massiewe ontwikkelingsuitdagings, wat hoë vlakke van armoede en werkloosheid insluit en ons het ’n groot hoë-koolstofinfrastruktuur. Ons kan dit nie oornag verander nie,” sê hy.

Die departement van energie se geïntegreerde hulpbron-plan maak voorsiening vir massiewe beleggings in groen krag. Dit sal die groot hoeveelheid kweekhuisgasse wat deur kragopwekking veroorsaak word, oor die volgende tien jaar begin verminder.

Daar sal probeer word om die vrystelling van kweekhuisgasse tussen 2025 en 2030 te beperk, tussen ’n beste scenario van 398 metrieke ton en 614 metrieke ton.

“Terselfdertyd moet dit egter gepaard gaan met ’n ‘billike oorgang’ vir werkers en gemeenskappe in die sektore wat geraak word, sodat niemand agtergelaat word nie,” sê Modise.

Suid-Afrika sal ook probeer om by bestaande klimaatverandering aan te pas, deur byvoorbeeld watersekerheid te bevorder omdat droogtes gereelder voorkom.

Suid-Afrika sal sy tienjaarplan om klimaatsverandering te bekamp vanjaar saamstel. Hy sal dit aanstaande jaar by die Verenigde Nasies se konferensie oor klimaatsverandering voorlê.

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, het gesê aanpassings rondom klimaatsverandering “gee Suid-Afrika die geleentheid om die gesondheid van die ekonomie te transformeer en veerkragtigheid te bou . . . Dit sal verseker dat voedselproduksie nie bedreig word nie, infrastruktuur veerkragtig is en voortgesette, volhoubare ekonomiese ontwikkeling in werking stel,” het Creecy gesê.

Klimaatsverandering is egter maar een van die oorsake van ’n moontlike waterkrisis waardeur ons in die gesig gestaar word. Ander faktore soos waterbesparing en goeie staatsbestuur van ons waterhulpbronne en -infrastruktuur is van kardinale belang as ons die uitwerking van droogtes in die toekoms wil verlig. Dis nou belangriker as ooit om die regering aanspreeklik te hou vir sy wanbestuur van die stelsel van waterverskaffing deur die jare.

*Hierdie artikel is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Waarheid Eerste, ’n niewins-maatskappy wat ondersoekende joernalistiek bevorder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.