Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Spesiale ondersoek: Korrupsie in water en sanitasie ‘ergste nóg’

Hoe groot is die omvang van korrupsie in die bestuur van ons waterbronne en wat beteken dit vir dienslewering? Jana Marx het gaan uitvind.

Nomvula Mokonyane, voormalige minister van water en sanitasie, in Julie tydens haar getuienis voor adjunkhoofregter Raymond Zondo. Mokonyane het getuig tydens die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping. Sy word na bewering by korrupsie betrek – aantygings wat sy voor die voet ontken. Foto: Getty Images

Korrupsie in die departement van water en sanitasie ná 2014 is “van die ergste wat ons nóg gesien het”, het Mkhuleko Hlengwa, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), tydens die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se terugvoering oor ondersoeke na bedrog en korrupsie in Junie gesê.

Sommige ondersoeke het in suksesvolle hofsake en vonnisopleggings uitgeloop. Ander hofsake is nog aan die gang. Dan het ’n hele klomp nuwe bewerings ook onlangs aan die lig gekom.

“Dit sal nie die land se waterprobleme oplos as korrupsie beëindig word nie, maar ’n doeltreffende veldtog waarmee korrupsie uit die watersektor gewas word, kan ’n omgewing skep waarin groter waterprobleme aangepak kan word. Dit kan watersekerheid verseker – (wat) die primêre doel van die watersektor is,” lui die Money Down the Drain-verslag wat deur die waghondorganisasie Corruption Watch uitgereik is.

Edna Molewa het in Mei 2014 haar termyn as minister van water- en omgewingsake voltooi, waarna Nomvula Mokonyane haar opgevolg het. Mokonyane se termyn as minister van water en sanitasie het in Januarie 2018 tot ’n einde gekom, met Gugile Nkwinti as haar opvolger totdat Lindiwe Sisulu die leisels in 2019 oorgeneem het.

Dié artikel gee ’n breë samevatting van die bewerings van korrupsie en bedrog in die watersektor wat onder die owerhede se vergrootglas is. Dit wys hoe groot die probleem is. Ons wil ook weet hoe hul ondersoeke vorder, wat ondersoek word en wie ondersoek word.

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie in Mei vanjaar in Mamelodi, Pretoria. Foto: Getty Images

Miljarde soek

Die departement het sy eie rekening (die hoofrekening) asook die rekening van sy waterhandelentiteit wat gebruikers vir onverwerkte water belas.

Wat die hoofrekening betref, is 198 diensverskaffers al volgens die departement se voorlegging aan Skoor op 26 Mei ondersoek en 'n bedrag van byna R4 miljard was ter sprake. Volgens die departement is 126 van dié ondersoeke, waarby R1,5 miljard ter sprake is, afgehandel en 72 was nog aan die gang.

Altesame 364 diensverskaffers wat met die waterhandelentiteit sake ten bedrae van R4,5 miljard gedoen het, word ondersoek. Hiervan is 70 afgehandel, maar 294 waar 'n bedrag van meer as R2,5 miljard ter sprake is, was nog aan die gang.

Die departement ondersoek nou al R31 miljard se onreëlmatige besteding oor die laaste tien jaar

Daar het sedert die voorlegging nog bewerings aan die lig gekom en die departement ondersoek nou al R31 miljard se onreëlmatige besteding oor die laaste tien jaar, het Sisulu vanjaar in haar begrotingspos-toespraak in die parlement gesê.

Lees meer hier.

Die departement het by die nasionale tesourie aansoek gedoen vir kondonasie van 'n hele klomp projekte wat die Giyani-grootmaatwaterprojek in Limpopo en twee ander baie duur projekte ("War on Leaks" en "Bucket Eradication") asook die ontsoutingsaanleg by Richardsbaai insluit.

Volgens Sputnik Ratau, departementele woordvoerder, was daar onreëlmatige tenderprosesse en onreëlmatige besteding by dié projekte betrokke, maar die departement meen tog hy kan waarde put uit dié projekte wat hom nagenoeg R9,9 miljard gekos het. Ondersoeke word daarna gedoen en dit strek veel wyer as net interne ondersoeke.

onreelmatige bestedin
vrugteloos

Van die spesiale ondersoekeenheid se grootste ondersoeke behels ongerymdhede in die nasionale departement van water en sanitasie. Van dié ondersoeke duur al jare en nuwe bewerings kom steeds aan die lig. 

Die SOE het op 19 Junie aan Skoor gesê hy ondersoek bewerings van onbehoorlike aankoopprosesse en wanbestuur. In die ondersoeke na aankope is afgekom op oorbesteding, vrugtelose besteding en verkwisting, onreëlmatige besteding, bedrog, diefstal en korrupsie. 

SAP-lisensies

Bewerings van korrupsie, wanoptrede en onreëlmatighede met die toekenning van 'n kontrak aan die Duitse sagtewarereus SAP (System Application and Product) word onder meer ondersoek.

Netwerk24 het berig SAP het toegegee dat hy verkeerd opgetree het in verskeie transaksies waarby vriende van oudpres. Jacob Zuma betrek word, maar wou nie verder kommentaar lewer nie.

Die SOE het bevind die regte prosesse is nie gevolg nie met die toekenning van kontrakte in 2015 en 2016 ter waarde van R950 miljoen. Die departement het nie toestemming gekry om te betaal vir SAP-lisensies wat gekoop moet word om sagteware te gebruik nie. Daar is nie ’n behoeftebepaling vir die verkryging gedoen nie en ook nie daarvoor begroot nie.

Die staat se inligtingstegnologieagentskap (Sita) het die departement na bewering afgeraai om met die verkryging voort te gaan, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie.

Die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, se eie ondersoek steun die SOE se bevindings.

’n Bedrag van R285 miljoen is volgens die SOE reeds aan SAP betaal en hy ondersoek ook bewerings van agterafbetalings ter waarde van R35 miljoen.

Volgens Kaizer Kganyago, die SOE se woordvoerder, het die president reeds in die tweede week van Augustus sy tussentydse verslag hieroor gekry.

Die SOE se spesiale tribunaal het sy hofaansoek vir siviele optrede in die laaste week van Julie ingedien in ’n poging om die geld terug te kry.

Volgens Kganyago hoop die SOE dat die hofbevel hom in staat sal stel om R128 miljoen (2015-kontrak) en R285 miljoen (2016-kontrak) terug te kry. Die SOE wil die ooreenkomste tersyde laat stel.

Die SOE het die bewerings van belasting-teenstrydighede op 9 Julie 2019 na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verwys. Die SAID het by navraag oor sy vordering gesê hy word ingevolge art. 6 van die Wet op Belastingadministrasie verbied om op belastingbetalers se sake kommentaar te lewer.

Foto ter illustrasie: Die hartseer agter die jare lange korrupsie en plundering van staatsgeld is dat die mense wat van die geld afhanklik is om hul lewensgehalte te verbeter, ná twee dekades wat die ANC aan die bewind is, steeds nie toegang tot behoorlike drinkwater en toiletgeriewe het nie. Hierdie foto is van die Kayamandi-plakkerskamp naby Stellenbosch. Foto: Reuters

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is ook in November verlede jaar gevra om ’n voormalige waarnemende direkteur-generaal strafregtelik te vervolg. Adv. Lebo Baloyi, waarnemende hoof van die NVG se gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid, het by navraag via ’n woordvoerder gesê die ondersoek is steeds aan die gang, maar ’n staatsaanklaer is reeds aangewys.

Die departement is ook besig met interne ondersoeke teen die oud-DG. Die verhoor is vir 28 April gereël, maar moes weens die inperking uitgestel word. Volgens Ratau wil die departement die verhoor in persoon eerder as aanlyn doen.

Die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, se eie ondersoek steun die SOE se bevindings.

Bokhutlo (Pono) Senokwane, ’n werknemer van T-Systems South Africa, is in ’n onverwante SAP-saak sewe jaar tronkstraf opgelê nadat hy op 13 Julie 2012 op drie aanklagte van diefstal skuldig bevind is.

Die munisipaliteit het R7,9 miljoen wat vir die projek bedoel was, gebruik om salarisse te betaal.

Senokwane, wat toegang tot die departement se SAP-betaalstelsel gehad het, het die departement se geld in sy persoonlike bankrekening inbetaal.

Volgens My Broadband het Senokwane probeer om R12,8 miljoen te steel, maar kon net R2,84 miljoen in sy sak steek voordat hy gevang is.

Die SOE het ’n siviele saak gemaak om die geld terug te kry, maar dit was onsuksesvol omdat Senokwane se onderneming gelikwideer en hy tronk toe is.

Nog ’n afgehandelde ondersoek behels die opknapping ter waarde van R18 miljoen aan die Pattersonprojek vir die verskaffing van grootmaatwater in die Oos-Kaap. Dit is deur Amatola Water bestuur wat die Sondagsriviervallei-munisipaliteit as ’n implementeringsagent gebruik het.

Dié munisipaliteit het volgens die SOE nie die geld reg gebruik nie. Hy het R7,9 miljoen wat vir die projek bedoel was, gebruik om salarisse te betaal. Die geld word maandeliks in paaiemente aan die departement terugbetaal en R5,8 miljoen is reeds onder toesig van die SOE ingevorder.

Vuwani-staalpypleiding

Dié projek moes skoon drinkwater aan die inwoners van Vuwani in Limpopo verskaf, maar dit was volgens die SOE se inligtingsessie in die parlement deurspek met swak bestuur.

Ascul Construction het in 2012 die tender ter waarde van meer as R50 miljoen bekom om 3 km van die beskadigde pypleiding te herstel. Hy het 45 weke tyd daarvoor gekry, maar volgens die SOE nie by spertye gehou nie.

Pleks van om dié maatskappy te beboet, het die departement na bewering ’n bykomende ooreenkoms aangegaan wat hom nie net van enige boetes gevrywaar het nie, maar nog R16 miljoen is vir kontantvloei aan hom beskikbaar gestel.

Toe die SOE met sy ondersoek begin het, is R29 miljoen reeds aan Ascul Construction betaal.

Die SOE het die departement ook ingelig dat R13 miljoen wat aan Ascul Construction as ’n voorskot betaal is, onreëlmatig was en op vrugtelose besteding en verkwisting neerkom.

Op 9 Februarie 2016 het die DG van die department ’n aanbeveling van die SOE aanvaar om nie nog R8,5 miljoen aan Ascul Construction te betaal nie.

Die SOE se ondersoek na die Vuwani-pypleiding is in 2018 voltooi en daar is bevind dat daar nog glad nie water deur die pypleiding vloei nie met die gevolg dat die gemeenskap steeds geen voordeel daaruit trek nie. Die beskadigde 3 km van die pypleiding is nooit herstel nie.

Die departement het nie voldoen aan die maatreëls vir verkryging of aankope nie en dokumente is nie gehou nie. Die SOE het voorts bevind dat die departement hom nie aan die waarskuwings van die raadgewende ingenieur Bigen Africa gesteur nie. Die betrokke amptenaar by die departement het swart ekonomiese bemagtiging voorgehou as regverdiging vir die onregmatige verdeling van die tender en die verlenging van Ascul Construction se kontrak hoewel Bigen Africa die teendeel voorgestel het.

Dié “baie senior” amptenaar se tugproses is volgens Ratau in die finale fase van afhandeling.

Die SOE het ook die siviele hof genader en sy aanvanklike eis van R140 miljoen tot R95,6 miljoen aangepas.

Die SOE het aan Skoor gesê bewyse oor beweerde bedrog van Ascul Construction en sy direkteur is op 18 September 2018 na die NVG verwys. Die ondersoek is volgens die NVG nog aan die gang, maar ’n staatsaanklaer is reeds aangewys om die saak te lei.

Die SOE het ook aanbeveel dat die departement tugstappe doen teen ’n adjunkdirekteur-generaal. Sy is tydelik geskors en haar verhoor is weens die inperking uitgestel nadat dit aanvanklik vir 14 April geskeduleer was.

Drie ondersoeke teen Ascul Construction, onder meer vir inkomste wat nie verklaar is nie, is na die SAID verwys. Die SAID het op 17 Julie 2019 in ’n brief aan die SOE bevestig dat dit aandag geniet, maar het by navraag gesê sulke sake word as vertroulik beskou.

Die SOE het ook die siviele hof genader en sy aanvanklike eis van R140 miljoen tot R95,6 miljoen aangepas.

Dagvaardings is op 6 Februarie 2018 aan Ascul Construction, Lucas Skosana (direkteur van Ascul Construction), Zandile Yvonne Mathe née Makhathini (adjunk-DG by die departement) en Mpho Joseph Mofokeng (voormalige finansiële hoof by die departement) beteken. Die eis is op 24 Julie 2018 ingedien en die aangeklaagdes het hul pleitverduidelikings in November 2018 ingedien.

Die aangeklaagdes se verweer was van ’n tegniese aard en ’n ingenieur is aangestel om bykomende ondersoeke te doen en moontlike skade te kwantifiseer. Dit het vertragings in die hofprosesse veroorsaak. Die ingenieur het intussen ’n voorlopige verslag verskaf en die saak is aan ’n regter in die hooggeregshof in Pretoria toegewys.

Kganyago het by navraag gesê sodra die kennisgewing geliasseer is, sal die verweerders tyd kry om hul pleitverduidelikings aan te pas of om die aangepaste besonderhede van vordering teen te staan.

Bewerings van bedrog is ook in Februarie na die Construction and Industry Development Board (CIDB) verwys. Die CIDB het op 17 Julie 2019 per brief aan die SOE bevestig dat hy die ondersoek gedoen het.

Rami Moorosi, CIDB-woordvoerder, het aan Netwerk24 gesê die CIDB se ondersoeke is uitgestel hangende die uitslag van die SOE se hofaansoek.

Skosana kon nie vir navrae bereik word nie. Twee selfoonnommers wat glo aan hom behoort, het albei reguit na stempos oorgegaan en sy kantoor het aanhou sê hy is “nog nie in nie” en dat hulle nie sy e-posadres het nie.

Netwerk24 het e-pos-navrae aan sy kantoor gerig, wat gesê het hulle sal sorg dat hy dit kry. Sy kommentaar sal bygewerk word as dit ontvang word.

2014: Betogers eis water in Giyani, Limpopo. Foto: Orlando Chauke/AENS

Ondersoeke na waterrade

Munisipaliteite skuld waterrade meer as R10 miljard, maar dis die enigste probleme wat waterrade ervaar nie.

Sisulu het die voorsitters van waterrade op 5 September aangesê om hulself te suiwer van korrupsie. “Ons het 'n ooreenkoms met julle nodig. Ons sal 'n verklaring onderteken wat ons almal as leiers van waterinstellings verbind om te verseker dat daar geen korrupte bedrywighede in ons omgewing is nie.

"Julle verteenwoordig my in u verskeie waterrade en terwyl julle die voorsitters van hierdie direksies is, sal hierdie omgewing skoongemaak word en korrupsievry wees.”

Sisulu het die waterrade Umgeni, Sedibeng en Magalies die afgelope jaar ontbind as deel van ’n hersieningsproses en omdat haar voorganger, Gugile Nkwinti, nie toestemming by die kabinet gekry het om die aanstellings in Mei 2019 te doen nie. Die aanstellings was dus ongeldig en moes tot niet gemaak word.

Twee waterrade, Lepelle Northern Water en Amatola Water, is onder administrasie geplaas en het hul uitvoerende hoofde geskors hangende ondersoeke.

Lepelle Northern Water

2013: Inwoners van ’n nedersetting naby Giyani in Limpopo karring met ’n waterpyp in ’n poging om af te koel gedurende ’n hewige debat met munisipale amptenare van Giyani oor watertekorte in die area. Foto: Orlando Chauke/AENS

Lepelle Northern Water (LNW) is verantwoordelik vir grootskaalse waterprojekte in Limpopo.

Die ondersoeke teen die LNW en sy bedrywighede hou verband met onder meer die aanstelling van diensverskaffers vir die Giyani-grootmaatwaterprojek.

Dié multimiljoenrand-waterprojek is in 2014 deur oudpres. Jacob Zuma in Giyani begin om water aan duisende inwoners in 55 nedersettings in Limpopo te verskaf.

Die OG en SOE het bevind die korrekte aankoopprosesse is nie gevolg toe kontrakteurs as deel van die nood-ingrype deur die nasionale departement aangestel is nie. Dit hou verband met ’n tender aan LTE Consulting ter waarde van R214 488 006.

Ná ses jaar kos die projek al minstens R3,3 miljard en die inwoners van die Giyani-omgewing het steeds nie water nie.

Daar was geen oorspronklike begroting hiervoor nie en betalings word deur die ouditeur-generaal (OG) as onreëlmatig en vrugteloos gesien.

Daar word verder beweer een van die diensverskaffers se aanstelling is sonder rede bespoedig en dat daar nie vir dié verkrygings begroot is nie

Die SOE het onder meer in 2018 gevind die wateraanleg het net ’n maand gewerk – ook dat daar tussen R1,2 miljoen en R1,4 miljoen stuks betaal is aan boorgate, wat eintlik rondom R100 000 kos.

Die projekbestuurprobleme wat die SOE geïdentifiseer het, sluit in ’n versuim om aan die openbare diensbestuursregulasies te voldoen en aankope op die korrekte manier te doen, ’n versuim om na professionele ingenieursadvies te luister, swak projekbestuur en projekbestuurtoesig deur die departement en swak finansiële bestuur en die hou van rekords.

Die SOE is besig met 'n siviele eis om LTE Consulting se kontrak van byna R2,2 miljard op te skort en dagvaardings is op 28 November 2018 bedien.

Die partye het reeds finale pleitverduidelikings ingehandig en die partye het volgens Kganyago betooghoofde opgestel. “Die SOE het aansoek gedoen om saakbestuur om die toewysing van ’n verhoordatum te bespoedig.”

Die SOE het ook inligting na die CIDB verwys wat wag op die uitslag van die SOE se siviele eis.

In November 2019 het die SOE ’n klopjag by LNW gedoen vir dokumente om ’n koste-ontleding te doen.

Daaruit is dit duidelik dat die LNW aangehou het met dienste selfs nadat ’n dagvaarding op hom bedien is en die koste van die kontrak het van R2,2 miljard tot meer as R3 miljard gestyg. Dié ekstra R1 miljard gaan eenvoudig by die siviele litigasie gevoeg word, het Kganyago aan Netwerk24 gesê.

Die SOE het ’n ingenieur aangewys wat ’n volledige kosteontleding gedoen het en die verslag word tans bestudeer.

Nuwe beweringe het aan die lig gekom dat LNW dienste vir droogteverligtingstegnologie en ondersoekdienste op ’n onreëlmatige manier bekom het. Daar word verder beweer een van die diensverskaffers se aanstelling is sonder rede bespoedig en dat daar nie vir dié verkrygings begroot is nie.

Die SOE het by die president aansoek gedoen om sy ondersoek te verleng.

2014: ’n Vrou van die Mahlathi Village naby Giyani in Limpopo gaan haal water. Foto: Orlando Chauke/AENS

• Waterraad-hoof in die moeilikheid

Phineas Legodi, uitvoerende hoof van LNW onder wie se toesig die Giyani-tenders toegeken is, hou vol hy het niks verkeerd gedoen nie en dat hy bloot “opdragte van Nomvula Mokonyane uitgevoer” het.

Hy het aan Netwerk24 gesê die aanstelling van die diensverskaffer (wat as onreëlmatig beskou word) is nie deur sy waterraad nie, maar deur die nasionale departement onder leiding van Mokonyane, tóé minister van water en sanitasie, gedoen.

Mokonyane het by monde van ’n voormalige woordvoerder aan Netwerk24 gesê: “Mnr. Legodi is al vantevore aangehaal waar hy soortgelyke uitlatings maak. Die SOE is nou al vier jaar besig met die saak. Ek sal nie op dieselfde bewerings reageer en geloofwaardigheid daaraan gee nie. Tot op hede is daar nog geen bewyse gelewer dat ek verkeerd of onwettig opgetree het nie.”

Phineas Legodi, voormalige hoof van Lepelle Northern Water (waterraad) in Limpopo. Foto: Daily Sun

Legodi en sy waterraad is in die SOE en ander forensiese ondersoekers se visier.

Volgens Joe Mathebula, voorsitter van die waterraad se tussentydse direksie,  het die direksie finansiële ongerymdhede, diensweiering “en verskeie ander klagtes soos dié wat deur die SOE en ander entiteite ondersoek word” teen Legodi bekyk.

Sisulu het die tussentydse direksie in Mei aangestel om sake in die waterraad reg te ruk.

Outsourced Risk and Compliance Assessment (Orca) is gekontrakteer om sake by die waterraad te ondersoek.

Netwerk24 het betroubaar verneem Legodi word deur Orca van talle ongerymdhede beskuldig in verband met 'n bedrag van R40 miljoen.

Legodi het intussen bedank.

Lees meer hier.  

Lees meer hier

Nomvula Mokonyane is in 2014 as minister van water en sanitasie, onder die presidentskap van oudpres. Jacob Zuma aangestel. Dié foto is geneem toe Mokonyane nog die premier van Gauteng was voor haar aanstelling as minister. Zuma het saam met haar die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto besoek. Foto: Getty Images

Amatola Water

Sisulu het Amatola Water in die Oos-Kaap in Mei onder administrasie geplaas en ’n tussentydse direksie aangestel.

Nuwe bewerings dat Amatola Water dienste vir droogteverligtingstegnologie en ondersoekdienste op onreëlmatige maniere bekom het, gaan deur die SOE ondersoek word.

R230 miljoen is na bewering aan dié waterraad toegeken vir droogteverligting, waarvan 60% geoormerk is vir die diensverskaffer, Empowering Water Solutions (EWS).

Volgens City Press moes EWS sandonttrekking doen, ’n proses waar water uit sediment onttrek word. Daar is nie vir die dienste begroot nie.

EWS se hoof, adv. Lungile Bomela, het volgens City Press in hofstukke volgehou die tender is op die korrekte wyse bekom.

Die SOE het die nuwe bewerings geëvalueer en by die president aansoek gedoen vir ’n proklamasie om dit te ondersoek. Hulle wag volgens Kganyago nog op goedkeuring om daarmee te begin.

Sisulu het die maatskappy Outsourced Risk and Compliance Assessment (ORCA) op 6 April gehuur om na Amatola Water se sake te kyk.

Op 12 April is ’n tweede firma, Open Water Advanced Risk Solutions (OWARS), aangestel om ’n verdere forensiese ondersoek te doen.

Vuyo Zitumane, geskorste uitvoerende hoof van die Amatola-waterraad. Foto: Facebook/Amatola Waterraad

Die aanstelling het ook ’n leefstyloudit van die uitvoerende bestuurslede, soos die hoof van die Amatola-waterraad, Vuyo Zitumane, ingesluit.

Zitumane is op 23 April geskors en is in ’n bitter hofstryd met die minister en die departement gewikkel.

City Press het berig sy en Legodi beskuldig Sisulu se persoonlike raadgewer, Mphumzi Madekazi, en die ministerie daarvan dat dié druk op hulle geplaas het om sekere tenders toe te ken.

Mdekazi het aan die ondersoekende joernaliste van amaBhungane gesê hy kan nie kommentaar lewer nie, omdat hy nie van die “gerugte” bewus is nie. 

Zitumane het die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ná haar skorsing genader wat gevind het die raad het verkeerd opgetree om haar te skors.

Sy het aangevoer die waterraad het op opdrag van die minister opgetree deur haar te skors.

Amatola Water het in ’n verklaring gesê hy gaan die uitslag laat hersien.

Die waterraad het voorts gesê dit maak geen sin om Sisulu by die uitslag te betrek nie, omdat die waterraad, en nie Sisulu nie, Zitumane se werkgewer is.

Sisulu het by monde van haar woordvoerder, Yonela Diko, gesê sy sien Zitumane se beskuldigings teen haar in ’n baie ernstige lig en noem dit “vals” en “potensieel skadelik”.

Sy het vier weke gelede ’n brief aan Zitumane gestuur om haar verklarings te onttrek en verskoning te vra, maar hulle het volgens Diko nie reageer nie. Sy sal hulle vandeesweek met dagvaardings vir skadevergoeding bedien.

Umgeni Water

Umgeni Water is die naasgrootste waterraad met ’n jaarlikse omset van meer as R2,4 miljard en ’n begroting vir kapitale besteding van meer as R7 miljard.

Dié waterraad is ook ontbind en word bestuur deur ’n tussentydse direksie, terwyl Sisulu nog besig is met permanente aanstellings.

Visvin Reddy, Siboniso Shabalala, William Mapena en ses ander voormalige direksielede het die hooggeregshof in Pietermaritzburg genader om hul afdankings tersyde te laat stel en om die besluit om ’n tussentydse direksie aan te stel, onwettig te laat verklaar.

Lees meer hier.

Hangende dié hersieningsaansoek het hulle verlede week ’n dringende interdik teen die tussentydse direksie probeer bekom om hom te keer om te werk. Reddy en kie het gevra dat die waterraad se uitvoerende hoof intussen as die rekenpligtige amptenaar optree.

Die hof het egter bevind “daar sal geen onherstelbare skade wees” as hy besluit om nie die interdik toe te staan nie en het dit met koste verwerp. Die hoofaansoek (hersieningsaansoek) moet nou nog voorkom.

Die SOE ondersoek nog wanbestuur en korrupsie in geldsake tussen 2012 en 2019. Dit behels projekte ter waarde van honderde miljoene rand.

Die SOE wou in Julie begin het met verwysings, maar kon dit nie deurvoer nie omdat getuies nie beskikbaar is nie.

Die ondersoek is volgens Kganyago aan die gang en tot op hede is die volgende gedoen:

• 80% van alle dokumente wat die SOE vir sy ondersoek nodig het, is bekom (20% kan nie opgespoor word nie)

• Al die sleutelrolspelers by Umgeni Water en verskaffers, kontrakteurs en CPG-vennote is geïdentifiseer, alle dokumente is ontleed en al die geïmpliseerde mense by Umgeni Water en verskaffers, kontrakteurs en CPG-vennote is geïdentifiseer. Dit is minstens 20 persone.

Volgens Kganyago wou die SOE in Julie begin het met verwysings, maar kon dit nie deurvoer nie omdat getuies nie beskikbaar is nie. “Die verwysings sal ná die onderhoude in Augustus afgehandel word,” het hy aan Netwerk24 gesê.

Die SOE voorsien die volgende moontlike uitkomste:

• Tugverhore by die Umgeni-waterraad;

• Verwysing na die NVG vir strafregtelike vervolging;

• Verwysings na die NVG se beslagleggingseenheid; en

• Siviele optrede om verlore geld in te vorder;

Die SOE beplan om teen 30 November 2020 hiermee klaar te wees.

Magalies Water

Die departement het in Mei aan Skoor gesê hy het vorige jare se onreëlmatige besteding ter waarde van R4 616 000 ondersoek.

Twee sake van onreëlmatige besteding is in die 2017-’18-boekjaar aangemeld wat verband hou met die verontagsaming van verkrygingsprosesse. Die ondersoek is steeds aan die gang.

Sedibeng Water

Die departement het in Mei aan Skoor gesê onreëlmatige besteding ter waarde van R419 miljoen word ondersoek, omdat die regte tenderprosesse nie gevolg is nie, die CIDB-proses nie gevolg is nie daar nie drie kwotasies verkry is nie.

Die ondersoek is in 2017-’18 afgehandel en die saak is by die polisie aangemeld. Die SOE het intussen ook hiervan bewus geword en is besig om die saak te evalueer.

Vrugtelose besteding en verkwisting is ook onder die departement se vergrootglas weens laatbetalings aan verskaffers.

Bloem Water

Die departement het onreëlmatige besteding van R1,9 miljoen ondersoek weens die verontagsaming van die tesourie se voorskrifte rakende die verlenging van ’n kontrak. Die departement het in Mei aan Skoor gesê gevolgbestuur is toegepas, maar hy wag nog op kondonasie van die tesourie.

Wat die vrugtelose betalings en verkwisting betref, het Bloem Water ’n onafhanklike professionele diensverskaffer aangestel om twee aankope ter waarde van R10,498,926.08 te ondersoek.

Die volgende geld is daarvolgens ingevorder:

• R616 938 van die kontrakteur;

• R4,5 miljoen moet nog van die konsultant verhaal word. Die konsultant is bereid om op R2,5 miljoen van die R4,5 miljoen te skik. Die res sal volgens die departement in die hof uitbaklei word. Die NVG het nie betyds op navrae hieroor gereageer nie.

Mhlathuze Water

Die departement het ’n ondersoek begin na vrugtelose besteding en verkwisting.

Volgens die departement se inligting aan Skoor in Mei het Mhlathuze Water inligting van twee fluitjieblasers gekry. Die een is deur ’n eksterne diensverskaffer ondersoek en dié bewerings het nie water gehou nie.

Die tweede saak is volgens die inligting in Mei nog ondersoek. Die departement kon nie betyds met nuwe inligting reageer nie.

Die SOE het reeds in 2008 begin om verkrygingsprosesse by die waterraad ondersoek. Dit het die inspeksie, herstel en instandhouding van ondergrondse pype by die afvloei van die Mondi-papieraanleg in die see behels.

Volgens die SOE is amptenare links en regs (onwettig) afgedank en die waterraad se geld is deur werknemers vir hul eie persoonlike sake gebruik.

Ander bewerings sluit in die veiligheidswagte waarop daar onreëlmatig geld bestee is.

Die meeste oorspronklike kontrakte vir ’n tender van meer as R19 miljoen is nooit gevind nie of het nie bestaan nie.

Die SOE het tot die volgende gevolgtrekkings gekom:

• Korrekte prosesse vir die bestuur van die verskaffingsketting is nie gevolg nie;

• Kontrole en beleid was nie voldoende om die risiko of finansiële verlies te verlig of te verminder nie;

• Dokumentasie wat kritiek was vir die ondersoek het net weggeraak;

• Mhlathuze Water het versuim om rekord te hou van die finansiële transaksies, sodat byna ’n miljoen rand se betaalstrokies onopspoorbaar is;

• Die meeste oorspronklike kontrakte vir ’n tender van meer as R19 miljoen is nooit gevind nie of het nie bestaan nie;

• ’n Saak van bedrog en korrupsie is teen ’n werknemer van Mhlathuze Water geopen, asook teen die diensverskaffer wat na bewering omkoopgeld betaal het. Die saak is by die Richardsbaai-polisiekantoor ingedien. Brig. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die Valke in KwaZulu-Natal, het nie ag geslaan op ’n navraag waarom die ondersoek so lank neem nie, en het ook nie op opvolgboodskappe, oproepe of e-posse gereageer nie.

• Drie geïmpliseerde werknemers het bedank voor die afhandeling van die ondersoek.

• Zuma het op 30 April 2013 die SOE se verslag ontvang.

Ratau sê in die geval waar amptenare bedank het, sal die departement strafregtelike klagte by die polisie indien en mense siviel vervolg. As amptenare bloot by een departement bedank en by ’n ander aangestel word, of van een departement na ’n ander oorgeplaas word, “sal die klagte hulle agtervolg”, het Ratau gesê.

Bewerings wou dit onlangs by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping hê dat amptenare van Mhlathuze Water waterprojekte gebruik het om “geld te was” vir die Jacob Zuma-stigting.

Die bedrag ter sprake beloop na bewering meer as R3 miljoen.

Dudu Myeni, stigter en voorsitter van die Jacob Zuma-stigting en voormalige voorsitter van die SAL-direksie én ook voorsitter van Mhlathuze Water, is ook in dié getuienis geïmpliseer.

Ander entiteite wat ondersoek word

Bucket Eradication- en War on Leaks-programme

Daar was geen ongematigde besteding in die 2019-’20 boekjaar nie wat deels ’n veertjie in die nuwe administrasie se hoed is, maar die vorige jare se ongemagtigde besteding hou verband met die Bucket Eradication- en War on Leaks-programme, het die ouditeur-generaal van Suid-Afrika (OG) aan Skoor gesê.

Die SOE het aan Skoor bekend gemaak hy ondersoek R292 269 se oorbesteding by die Bucket Eradication-program en R348 840 by die War on Leaks-program.

Die Bucket Eradication-program probeer om weg te doen met die emmer-toiletstelsel. Sisulu het op 23 Julie in ‘n verklaring gesê daar is al 26 245 toilette gebou, maar 10 202 kan nie spoel nie, omdat hulle nie aan ‘n waternetwerk verbind is nie.

Verskeie betalings van nagenoeg R185 miljoen, R78 miljoen, R75 miljoen en R37 miljoen kan volgens die OG nie regverdig word nie.

Die OG het uit die state van 2018-’19 vasgestel dat sowat R3,4 miljard aan dié program bestee is.

Verskeie betalings van nagenoeg R185 miljoen, R78 miljoen, R75 miljoen en R37 miljoen kan volgens die OG nie regverdig word nie.

Ratau sê die Bucket Eradication-projek “word teruggehou” deur plaaslike regerings se gebrek aan infrastruktuur. “Daar is toilette (in vorige jare, onder ’n ander administrasie) opgerig, maar die plaaslike regerings kon nog nie die nodige infrastruktuur daarstel om byvoorbeeld ’n toilet aan ’n rioolstelsel te verbind sodat dit kan spoel nie.”

Die OG het bevind sowat R2,3 miljard is in die 2018-’19-boekjaar onreëlmatig aan War on Leaks bestee. Geld wat vir ’n bepaalde doel geoormerk is, is sonder toestemming vir iets anders gebruik. Dit behels onder meer betalings van sowat R525 miljoen aan die opleidingsowerheid EWSETA en R523 miljoen aan Rand Water.

Die SOE is besig om die nuwe bewerings te evalueer en het heelwat inligting van die ouditeur-generaal en die departement ingesamel. Hy wil aansoek by die president doen om dit te kan ondersoek.

Snelreaksiespan ontbind

Sisulu het ook haar departement se snelreaksiespan ontbind. In ’n verklaring op 29 Mei neem die minister kennis dat twee werknemers afgedank is.

Die rol van die span is om die departement by te staan om uitdagings uit die weg te ruim en dienslewering te bespoedig.

“Die etiek van die twee werknemers is nie soos myne nie. Hulle het elke beskikbare etiese kode waaraan amptenare in die staatsdiens moet voldoen, verbreek.”

Volgens bewerings het lede die minister se naam gebruik om sake te doen en hulself in die proses verryk.

Inkomati-Usuthu-opvangsgebied-bestuursagentskap

Die departement het in Mei aan Skoor gesê sy interne ouditkomitee het bewerings van onreëlmatige besteding op internasionale reise ondersoek en bevind dit was ongegrond.

Verdere bewerings oor die onreëlmatige toekenning van ’n tender aan ’n diensverskaffer is ondersoek. Die tender was vir kantoorruimte oor vyf jaar ter waarde van R708 170. Die voorlopige ondersoeke het bevind daar is nie aan die interne verkrygingsbeleide voldoen nie en die SEB-status is vervals. Die geïmpliseerde amptenaar is geskors.

Thukela Goedertrouw-waterskema

Die Thukela Goedertrouw-waterskema: ’n Halfgeboude onttrekkingspunt. Foto: SOE

Die SOE ondersoek ’n saak waar die departement ’n diensverskaffer, AECOM, vir 18 maande aangestel het om dienste op ’n noodgrondslag vir die Thukela Goedertrouw-skema te doen. Die nood-aspek kon volgens die SOE nie geregverdig word nie en die verkryging is ook op die verkeerde wyse gedoen.

Die kontrak is op 28 September 2017 toegeken en die waarde is R560 miljoen.

Volgens die SOE se voorlegging aan Skoor het AECOM byna R420 miljoen gekry en op 1 Februarie 2019 daarop aangedring om die kontrak te kanselleer voordat verpligtinge nagekom is. Toe die SOE en die departement die bouperseel besoek, was die nodige toerusting nie eens op die perseel nie.

Volgens Kganyago is dié ondersoek nog aan die gang en op skedule.

Die departement het sy eie interne ondersoeke gedoen en twee werknemers is geïmpliseer. Een is aangekla en wag op ’n verhoordatum. Die tweede moet nog aangekla word.

Baloyi het by navraag via die woordvoerder aan Netwerk24 gesê die tweede beskuldigde moet nog aangekla word.

Die Thukela Goedertrouw-waterskema: ’n Pypleiding wat reeds weens roes gebreek het. Foto: SOE

* Hierdie artikel is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Waarheid Eerste, ’n niewins-maatskappy wat ondersoekende joernalistiek bevorder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.