Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Spesiale ondersoek: Prokureur maak glo miljoene ná ‘onreëlmatige aanstelling’

Miljoene rande is na bewering aan ’n prokureur van die Limpopo-waterraad betaal nadat ’n forensiese ondersoek getoon het hy is nie ingevolge die korrekte prosesse aangestel nie – nogal om forensiese ondersoeke te doen. Jana Marx stel ondersoek in. Hierdie artikel is deel van ’n voortgaande ondersoek en is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Waarheid Eerste, ’n niewinsmaatskappy wat ondersoekende joernalistiek bevorder.

Foto: Unsplash

’n Johannesburgse prokureur word deur ’n forensiese ondersoeker daarvan beskuldig dat hy onreëlmatig aangestel is om die Lepelle Northern-waterraad (LNW) te ondersoek.

Maar in ’n verrassende wending wys Mokone Simon Phambane (48), direkteur van Phambane (Mokone) Incorporated Attorneys en ander wat in die forensiese verslag deur Outsourced Risk and Compliance Assessment (Orca) geïmpliseer word, nou vingers na Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, omdat sy Orca glo onreëlmatig aangestel het om die ondersoeke te doen.

Die LNW het Phambane net meer as R4 miljoen vir sy ondersoekwerk betaal.

Phambane moes bewerings van korrupsie, wanadministrasie en bedrog ondersoek ten opsigte van die Giyani-grootmaatwaterprojek en die personeellede van die LNW wat moontlik daarby betrokke was.

Wie is Phambane?

Phambane verskyn saam met regsreuse soos Cliffe Dekker Hofmeyr, Malatji & Co. en Adams & Adams op bywoningsregisters vir tender-inligtingsessies en hy dien in van die staat se regspanele.

Sy firma bestaan sedert 2010 en die hoofkantoor is in Randburg. Hy het ’n kantoor in Polokwane gehad toe die LNW hom in sy regspaneel aangestel het.

Phambane is ’n geregistreerde lid van die Legal Practice Council (LPC) en beskik volgens die LPC oor ’n getrouheidsfondssertifikaat, wat op 10 Desember verlede jaar aan hom uitgereik is.

Die LNW se sake was in daardie stadium hoog op die spesiale ondersoekeenheid (SOE) en die ouditeur-generaal van Suid-Afrika (OG) se radar en die media het wyd daaroor berig.

Orca het bevind dat meer as die helfte van die LNW se uitgawes vir drie opeenvolgende boekjare (2017-’18, 2018-’19 en 2019-’20)  regskostes vir Phambane was.

Die LNW het Phambane se kontrak ná Orca se verslag beëindig. Phambane het ’n geskil met die LNW verklaar nadat sy dienste beëindig is vir betaling van geld waarop hy meen hy geregtig is.

Hy het in ’n reaksie van 68 bladsye aan Netwerk24 ontken dat sy aanstelling onreëlmatig was en die aantygings in Orca se forensiese verslag “merieteloos” en “ongegrond” genoem.

Lees Phambane se volledige kommentaar hier.

Dié verslag, en die geskil daaroor, word blootgelê in ’n hersieningsaansoek deur die eertydse LNW-hoof Phineas Legodi.

Legodi het by die hooggeregshof in Pretoria aansoek gedoen dat die bevindings tersyde gestel word. Phambane het aan Netwerk24 gesê hy beplan om tot die aansoek toe te tree.

Phambane en die LNW

Phambane en die LNW kom al jare saam. Hy is in 2014 as lid van die regspaneel met die volgende vereistes aangestel:

• Dat die ooreenkoms oor drie jaar strek;

• Dat die toekenning volgens die goedgekeurde pryslys was met ’n jaarlikse styging van 6% oor ’n tydperk van drie jaar; en

• Dat die LNW na goeddunke werk aan die diensverskaffer sal toewys soos en wanneer nodig.

Die omvang van die regspaneel se pligte was volgens die LNW siviele reg (korporatief, omgewingsreg en skuldinvordering), strafreg, aktebesorging (oordrag van eiendom), arbeidsreg, belastingverwante sake en kommersiële reg.

In 2018, nadat die driejaartermyn verstryk het, het die LNW tenderaansoeke vir ’n nuwe regspaneel geopen en Phambane is vir nóg drie jaar in die paneel aangestel.

Volgens die tenderadvertensie lyk die nuwe omvang van pligte byna dieselfde as in die vorige termyn, maar dit sluit belastingverwante sake en kommersiële reg uit.

Die LNW sou Phambane se dienste gebruik soos en wanneer nodig.

Die Lepelle Northern-waterraad in Polokwane, Limpopo, is onder nuwe tussentydse bestuur nadat minister Lindiwe Sisulu die voormalige waterraad ontbind het. Foto: Deaan Vivier

In 2016 was Phambane byvoorbeeld die LNW se prokureur in ’n hofsaak teen ’n diensverskaffer.

In 2019 was Phambane die LNW se opdraggewende prokureur in die raad se arbeidsaak teen Kennedy Tshivhase, voormalige voorsitter van die raad wat sy werk wou terugkry nadat hy geskors is.

In 2015 en 2017 is Phambane aangestel om die munisipale skuld in te vorder van die Mopani-distriksmunisipaliteit, waaronder Giyani val.

’n LNW-regspaneel mag net die dienste lewer wat deur sy vasgestelde pligte bepaal word. Die relevante klousule uit die LNW se handleiding vir die bestuur van verskaffingskettingprosesse lui: “Diensverskaffers in die paneel kan nie opdrag gegee word om werk buite die paneel (se vasgestelde pligte) te verrig nie.”

Volgens Orca was forensiese dienste nie deel van die regspaneel se pligte nie, so die LNW moes ’n nuwe tenderproses van stapel stuur om ’n prokureur vir daardie taak aan te stel.

LNW in die kruisvuur

Die Lepelle Northern-waterraad se kantoorgebou in Polokwane, Limpopo. Foto: Deaan Vivier

Intussen het mediaberigte oor moontlike korrupsie by die LNW ’n storm ontketen. Die SOE en die OG het miljoene rande se beweerde onreëlmatige besteding en tenderongerymdhede by die waterraad oopgevlek.

Die Giyani-grootmaatwaterprojek was die grootste sondaar.

Die OG het gevind dat dié projek, wat bedoel is om die landelike nedersettings in die breë Giyani-gebied van waterdienste te voorsien, teen verlede jaar (ná ses jaar) die LNW al minstens R3,3 miljard gekos het. Tog was die projek met die oudits nie naby aan klaar nie.

LTE Consulting, die raadgewende ingenieursfirma wat verlede jaar R70 miljoen se Covid-19-maskers aan die polisie verkoop het, het die Giyani-kontrak in 2014 ontvang.

Lees meer hier en hier.

Sisulu het benewens die Orca-aanstelling as deel van haar “skoonmaakproses” die waterraad, wat onderworpe was aan Phambane se ondersoek, ontbind en ’n tussentydse raad (LNW-TR) aangestel wat reeds op dreef is om die Giyani-projek weer aan die gang te kry en af te handel.

Kollig op Phambane

Die tussentydse raad het reeds planne opgestel om die Giyani-projek te voltooi en ’n pypleiding van die Nandoni-dam by Thohoyandou na Giyani te bou. Joe Mathebula, voorsitter, sê die pypleiding sal op pad na Giyani verby die Malamulele-nedersetting loop, sodat landelike nedersettings langs die pad ook voordeel daaruit kan trek. Die projek gaan nagenoeg R1,8 miljard kos en oor twee jaar strek. Foto: Grafika24

Toe die Giyani-bewerings in 2019 aan die lig kom en die SOE met ondersoeke begin, het die LNW Phambane aangestel om sy uitvoerende en raadslede te ondersoek.

Benewens Orca se bevinding dat Phambane sonder die regte tenderprosesse aangestel is om hierdie ondersoeke te doen (omdat die aanstelling glo die LNW se eie voorsieningsketting-handleiding oortree), het hy bevind dat Phambane moontlik ’n belangebotsing gehad het.

Dis omdat die personeel wat Phambane kwansuis moes ondersoek, volgens Orca en die LNW-TR dieselfde mense was wat Phambane voorheen as diensverskaffer vir ’n paar projekte ter waarde van miljoene rand gebruik het.

“Die ondersoek deur Phambane Mokone Inc (sic) sluit lede van die uitvoerende (gesag) en die raad in en die diensverskaffer is deur die raad aangestel en deur die uitvoerende (gesag) bestuur. Dit kan ’n belangebotsing by die raad en die uitvoerende (gesag) beteken,” lui Orca se verslag.

“Phambane is aangestel om ’n forensiese ondersoek na bewerings teen die geskorste voorsitter van die raad, raadslede, uitvoerende (lede), lede van die bodtoekenningskomitee en personeel in die voorsieningskettingeenheid te doen,” lui die LNW-TR se reaksie aan Netwerk24.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek ook die Vuwani-staalpypleiding in Limpopo. Hierdie pypleiding moes skoon drinkwater aan die inwoners van die Vuwani-nedersetting verskaf, maar die projek het onder swak bestuur gely. ’n Kontrakteur is in 2012 aangestel om 3 km van die beskadigde pypleiding te herstel. Die SOE kon jare later egter geen teken van enige herstelwerk aan die pyp vind nie. Foto: Deaan Vivier

’n Verdere belangebotsing kan volgens Orca voorkom weens die feit dat Phambane die LNW voorheen in verskeie arbeids- en KVBA-sake (Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie) verteenwoordig het.

Orca meen sodanige belangebotsing kan ’n hele ondersoek ondermyn omdat mense wat dalk met inligting oor ongerymdhede vorendag wil kom, dit nie sal doen nie omdat hulle voel die ondersoek is nie onafhanklik nie.

Phambane se eie ondersoek na die beweerde rolspelers is nooit afgehandel nie, hoewel Legodi tans in straf- en siviele sake gewikkel is wat spruit uit die SOE-ondersoek. Legodi ontken die SOE se bewerings teen hom.

Die LNW-TR het intussen sy interne regsadviseur, wat betrokke was by Phambane se aanstelling, ná ’n dissiplinêre verhoor in die pad gesteek.

Volgens die LNW-TR gaan hy by wyse van ’n hofaansoek Phambane se kontrakte ter syde laat stel.

‘Ons is nie onreëlmatig aangestel nie’

Phambane hou vol geeneen van sy aanstellings waaroor Netwerk24 hom vir kommentaar genader het, was onreëlmatig nie en dat hy die kontrakte kon kry omdat hy reeds in die regspaneel gedien het.

“LNW sou dan van tyd tot tyd, wanneer daar ’n behoefte was, werk toewys aan die prokureurs wat in die paneel aangestel is,” lui sy reaksie aan Netwerk24.

Dis volgens hom die gronde vir albei aanstellings (om Mopani se skuld in te vorder én forensiese dienste te lewer).

Die LNW-TR gee toe dat dit waar is in die geval van die skuldinvordering, maar nié wat die forensiese ondersoeke betref nie. (Sien kassie oor skuldinvordering onderaan die storie.)

LNW-TR het in sy kommentaar aan Netwerk24 beweer dat Phambane die LNW-personeel boonop te midde van die SOE se ondersoeke bygestaan en geadviseer het. Ook dít was volgens die LNW-TR nie binne Phambane se mandaat nie. Soortgelyke aantygings is in die Orca-verslag vervat.

‘Dáárom is ek aangestel’

Phambane (Mokone) Incorporated Attorneys. Foto: Facebook

Phambane het verduidelik dat hy met die forensiese ondersoeke aangegaan het nadat hy en die LNW die Tshivhase-saak gewen het.

Tshivashe het vir sy pos geveg nadat hy geskors is omdat hy na bewering ’n Mercedes-Benz-voertuig plus R1,4 miljoen van Thulani Majola, hoof van LTE Consulting, ontvang het.

Majola het die motorbewerings ten sterkste aan City Press ontken.

“Die raad het toe (ná die suksesvolle saak teen Tshivashe) besluit dat die regspan wat Tshivashe se saak hanteer het, moet voortgaan om die ondersoek te doen om die akkuraatheid van die bewerings teen Tshivhase te bepaal, en om die bewerings van wanadministrasie, bedrog, korrupsie en onbehoorlike optrede teen die raads- en uitvoerende lede en die personeel in die eenheid vir voorsieningskettingbestuur te ondersoek,” het Phambane aan Netwerk24 gesê.

Dit was glo ook die vorige raad se denkwyse.

Die LNW-TR voer aan dat hy in die normale gang van sake waar die werk binne die paneel se mandaat val, ’n versoek aan “een of minstens drie” diensverskaffers in die paneel sou rig. Dit sou blykbaar op ’n roterende basis en “volgens hul vaardigheid” gedoen word.

Die paneellede sou dan versoek word om ’n kwotasie of voorlegging in die pas met hul tariewe in te dien.

Die LNW sou gevolglik die kwotasies wat ontvang is, evalueer, en die paneellid met die hoogste puntetelling vir die spesifieke werk aanstel.

Volgens Phambane het die voormalige voorsieningskettingbestuurder sy regsfirma op 4 Maart 2019 uitgenooi om voorleggings vir die forensiese ondersoeke in te dien, wat ook ’n geprojekteerde begroting insluit.

Die voorlegging het ’n eerste en tweede fase van ondersoeke ingesluit en die ondersoekspan het bestaan uit Phambane, twee advokate en die forensiese ondersoekfirma, Edge Forensic and Risk Consultants.

Fase 1 en 2 van forensiese ondersoeke

Tekens van ’n gebrek aan betroubare waterdienste in die noorde van Limpopo. Hierdie foto is verlede jaar met Netwerk24 se besoek aan die Machele-nedersetting naby Thohoyandou geneem. Foto: Deaan Vivier

Fase 1 is volgens Phambane in Mei 2019 afgehandel. Die kontrak is egter beëindig voordat fase 2, wat reeds laat was, voltooi kon word.

“Fase 1 van die ondersoek is afgehandel en ons het ’n verslag by die raad ingedien, wat later by die minister vir inwerkingstelling ingedien is.”

Fase 1 hou verband met ’n vorige raadslid wie se naam aan Netwerk24 bekend is. Edge Forensic and Risk Consultants het glo ’n tweede verslag oor dié raadslid by die Valke ingedien.

Fase 2, wat die ondersoeke na die wanadministrasie, bedrog, en so meer van LNW-raadslede, die uitvoerende gesag en personeel in die voorsieningskettingbestuur behels, moes teen November 2019 afgehandel wees.

Die proses is volgens Phambane vertraag omdat die LNW hom glo nie voorsien het van die inligting en dokumente waarna hy op soek was nie.

Dis nie presies bekend hoeveel geld Phambane uiteindelik vir sy ondersoekwerk ontvang het nie.

Phambane sê voorts hy het ’n verlenging van sy spertyd aangevra en het uitstel gekry tot Junie 2020. Toe vertraag die Covid-19-pandemie weer die ondersoek.

In hierdie tyd het die minister die ou raad ontbind en die LNW-TR aangestel.

Dis nie presies bekend hoeveel geld Phambane uiteindelik vir sy ondersoekwerk ontvang het nie.

Die LNW-TR het aan Netwerk24 gesê net meer as R4,3 miljoen is aan hom betaal.

Phambane het aan Netwerk24 gesê Edge Forensic is nagenoeg R1,6 miljoen betaal en dat hy self net meer as R2,6 miljoen ontvang het vir werk wat gedoen is. Dis slegs ’n gedeelte van die totale waarde van die kontrak, wat volgens Orca R12 miljoen was. Netwerk24 het die LNW-TR spesifiek oor die waarde van die kontrak gevra, maar dié vraag is nie beantwoord nie.

‘Ons kontrak is nié beëindig, al sê die LNW wát’

Die LNW-TR het aan Netwerk24 gesê Phambane se kontrakte is “onmiddellik beëindig” ná Orca se verslag. Die LNW-TR is ook nog besig met sy eie interne ondersoeke na die saak.

Phambane het egter by navraag ontken dat sy forensiese dienste opgeskort is of dat hy ooit skriftelik in kennis gestel is dat kontrakte beëindig word.

“Ons ooreenkoms met die LNW wat forensiese ondersoeke betref, is nooit deur die tussentydse raad getermineer, soos wat beweer is, nie. Die ooreenkoms het tot ’n einde gekom met die verloop van tyd, ofskoon die ondersoek nie afgehandel is nie.

“Ons bevestig dat ons, voordat die ondersoektyd verstryk het, verskeie e-posse aan die waarnemende uitvoerende hoof van LNW (Ahuiwi Netshidaulu, in Legodi se plek) gerig het om te kan voortgaan en die ondersoek af te handel. Ongelukkig het (ons) geen reaksie gekry nie,” het hy gesê.

Phambane het verder opgemerk dat die LNW-TR “tot my verbasing” nie sy laaste fakture vir forensiese werk betaal het nie.

’n Deel van die kommissie vir Mopani se skuld wat hy ingevorder het, is blykbaar ook nog uitstaande en vorm deel van sy eis teen die LNW-TR.

‘Nuwe hoof het reg opgetree’

Die LNW-TR het namens Netshidaulu volgehou dat hy reg opgetree het. Die raad het by navraag gesê dat Netshidaulu verslae van die werk wat al gedoen is, aangevra het voordat hy besluit het of die kontrak, wat reeds verstryk het, beëindig kan word.

“Weens die feit dat die aanstelling onreëlmatig was, was dit nie raadsaam om ’n verlenging te motiveer en met die kontrak voort te gaan nie,” lui die LNW-TR se reaksie.

Volgens die LNW-TR het die waterraad se projekbestuurder deur Netshidaulu se kantoor vir Phambane laat weet dat hulle nie sy forensiese kontrak gaan verleng nie.

Die LNW-TR se fokus is egter, soos vroeër vermeld, op sy hofaansoek, waarvolgens hy Phambane se kontrakte ter syde wil laat stel.

Phambane het aan Netwerk24 gesê hierdie gebrek aan betaling maak dat hy “geen ander keuse” het as om ’n geskil te verklaar en ’n eis teen die LNW-TR vir die onbetaalde fakture in te dien nie. Hy wil bewys die LNW-TR het die kontrak gerepudieer.

’n Senior advokaat lei die arbitrasie en die LNW-TR het prokureurs aangestel om hom te verteenwoordig en Phambane se eis teen te staan.

Houe na Sisulu en nuwe prokureurs

Phambane het in sy reaksie van 68 bladsye Orca se aanstelling asook dié van LNW-TR se nuwe prokureurs vir die arbitrasie, wie se naam aan Netwerk24 bekend is, bevraagteken. Volgens Phambane dien hulle nie in die LNW se bestaande regspaneel nie.

Legodi grond sy hersieningsaansoek onder meer op Sisulu se aanstelling van die ondersoeker.

Hy voer aan dat die bevindings onwettig en ongeldig is, aangesien die aanstelling volgens hom strydig met die Grondwet was.

Hy voer aan die verslag oortree ook die Wet op Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Paja) en is daarom “administratief onbillik, onregverdig en onwettig”.

Phambane wil nou saam met Legodi toetree tot die hersieningsaansoek. Hy meen dat die media “ ’n veldtog geloods het om ons naam en reputasie te skend”.

Phambane hou vol dat Orca hom nie genader het vir kommentaar tydens die ondersoek nie, en dat hy ook nie die geleentheid gekry het om vertoë te rig teen die “ongunstige bevindings” voordat dit bekend gemaak is nie.

Die vorige raadslede het byvoorbeeld verlede jaar die kantore gesluit sodat die LNW-TR nie toegang tot die gebou kon kry nie.

Netwerk24 het verskeie navrae aan die nasionale departement van water en sanitasie hieroor gerig, maar die departement het nog nie daarop gereageer nie.

Die LNW-TR het aan Netwerk24 verduidelik dat hulle van die reëls afgewyk het om die nuwe prokureurs aan te stel omdat die tussentydse raad met die aanstelling gesukkel het om toegang tot al die LNW se administrasieprosesse te verkry.

Netwerk24 het voorheen berig hoe die vorige raadslede byvoorbeeld verlede jaar die kantore gesluit het sodat die LNW-TR nie  toegang tot die gebou kon kry nie.

“Bo en behalwe die moeilikheid om toegang tot die paneel prokureurs te kry . . . is verstaan dat die aard van die sake wat (die prokureurs) moes hanteer, die aanstelling van ’n prokureur buite die LNW se regspaneel noodsaak om ’n moontlike botsing van belange te vermy . . .” het die LNW-TR gesê.

Die nasionale tesourie is besig om hierdie aanstellingsproses na te gaan.


Skuldinvordering

Hoewel Netwerk24 nie onreëlmatigheid in hierdie aanstellings kon vind nie, het Orca beweer dat Phambane onregverdig voordeel uit Mopani se skuldinvordering getrek het.

Phambane ontken ook hierdie bewering.

Volgens Orca is Mopani en die departement van water en sanitasie die LNW se grootste debiteure. Die departement en Mopani skuld die LNW glo onderskeidelik R85 miljoen en R160 miljoen.

Volgens Phambane het die LNW die prokureurs in die regspaneel op 7 Januarie 2015 uitgenooi om voorleggings vir die invordering van Mopani se skuld in te dien. Hulle het in 2017 weer so gemaak. Phambane is albei kere as skuldinvorderaar aangestel.

“Ek moet vinnig noem dat die skuld wat aan ons (in 2015) oorhandig is, volledig ingevorder is, maar (Mopani) se wanbetaling het voortgeduur, wat uiteindelik agterstallig geraak het en oorhandig is vir invordering,” het Phambane aan Netwerk24 gesê.

Phambane sê hy het in 2015 ’n kommissie van 6,3% en in 2017 ’n kommissie van 9% gekwoteer (wat bereken word op die geld wat hy invorder).

Skuldeise van R336 miljoen is in 2015 aan hom oorhandig, waarop hy nagenoeg R360 miljoen ingevorder het (wat 6,3%-kommissie of nagenoeg R23 miljoen insluit).

Vir die tweede aanstelling het hy glo tot op hede R441 miljoen ingesamel, wat sy kommissie van 9% insluit. As sy inligting korrek is, beteken dit Phambane se kommissie van 9% beloop byna R36,5 miljoen vir hierdie tweede invordering.

Dis egter nie duidelik of hy wél hierdie laaste gelde gekry het nie.

Volgens Phambane is die laaste kommissie nié betaal nie en vorm dit deel van sy eis teen die LNW-TR vir gelde wat nie betaal is toe sy kontrakte beëindig is nie.

Volgens die LNW-TR het Phambane egter meer as R61 miljoen vir sy skuldinvorderingsdienste ontvang.

Phambane het in reaksie aan Netwerk24 ontken dat die LNW enige skade weens die skuldinvordering gely het. Volgens Phambane het hy betalingsooreenkomste tussen Mopani en die LNW gefasiliteer en ingevolge dié ooreenkoms was Mopani self daarvoor verantwoordelik om sy kommissie te betaal en nie die LNW nie. Hy het ook uitgewys dat die betalingsooreenkoms, wat sy kommissie ingesluit het, deur die partye aanvaar is.

“Die bevindings in die Orca-verslag waarop jy staatmaak in soverre die invorderingskommissie wat aan ons betaal is, onreëlmatig en onnodig was, is weer eens misleidend en verkeerd, aangesien die LNW geen geld bestee het om (Mopani) se skuld in te vorder nie,” het hy aan Netwerk24 gesê.

Die LNW-TR het egter aan Netwerk24 verduidelik dat Phambane se kommissie deur die LNW betaal sou word, hoewel hy dit regstreeks van Mopani sou eis – dié dat dit deel van sy geskil teen die waterraad vorm.



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.