Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Spesiale ondersoek: Wanbestuur, korrupsie met water beloop miljarde

Die koste van korrupsie, wanbestuur en onbehoorlike besteding deur die departement van water en sanitasie het die afgelope dekade sowat R31 miljard beloop. Jana Marx kyk na die stand van dié departement se geldsake.

Die Clanwilliamdam aan die Olifantsrivier naby Clanwilliam, soos gesien van die N7 af. Foto: Lerato Maduna

Kimi Makwetu, ouditeur-generaal van Suid-Afrika (OG), die staat se spesiale ondersoekeenheid (SOE), die polisie, die Valke, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Konstruksiebedryfontwikkelingsraad (CIDB) is saam of onafhanklik al jare besig om die departement van water en sanitasie en sy entiteite te ondersoek.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het onlangs ook na bewerings oor dié departement en een van sy entiteite in sy kommissie van ondersoek na staatskaping geluister.

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, het met haar aanstelling in pres. Cyril Ramaphosa se kabinet herhaaldelik beklemtoon dat sy van plan is om die departement te “suiwer”.

In die laaste maande is die departement se benarde finansiële situasie telkemale in die parlement blootgelê.

Die departement se begroting vir die huidige finansiële jaar van R17,2 miljard is met R1,75 miljard besnoei, maar R1,498 miljard is hertoegedeel, wat die aangepaste begroting op R16,959 miljard te staan bring.

Die hertoedeling is bedoel vir projekte waarmee Covid-19 bekamp moet word.

In die laaste maande is die departement se benarde finansiële situasie, wat al oor jare strek, telkemale in die parlement blootgelê.

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, op 6 Augustus in Randfontein aan die Wes-Rand. Foto: Getty Images

Die departement en die OG het baie te sê gehad oor die bestuurstruktuur en onreëlmatige besteding was telkens onder die loep.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, sê onreëlmatige besteding beteken nie noodwendig geld is “weg” nie, dit beteken die proses van besteding was nie korrek nie.

Tog is dit nie nuus dat onreëlmatige besteding telkens wél tot ongerymdhede soos korrupsie gelei het nie.

Sisulu het aan Netwerk24 gesê die miljarde is weens tenders “wat onreëlmatig toegeken is, algehele korrupsie en bedrog deur amptenare”.

Dié artikel gee ’n breë samevatting van die stand van geldsake en swak finansiële beplanning in die watersektor. 'n Volgende artikel sal fokus op die bewerings van bedrog en korrupsie.

Probleme met personeel

Kimi Makwetu, ouditeur-generaal van Suid-Afrika. Foto: Argief

’n Groot kwelling vir Makwetu was die klomp vakatures, die hoë arbeidsomset en ’n algehele gebrek aan die nodige vaardighede in die departement.

Hy het in vorige boekjare se ouditverslae reeds klem gelê op die hoë omset wat veral senior bestuursposte soos direkteurs-generaal (DG) en adjunkdirekteurs-generaal betref omdat dit lei tot onstabiliteit wat die funksionering van die departement en sy waterhandelentiteit nadelig beïnvloed. Die feit dat so baie DG’s vir maande sonder end waarneem, was ook ‘n probleem.

Dit het 'n regstreekse invloed op dienslewering.

Makwetu het aan Skoor gesê 18% van poste in die departement en waterhandelentiteit was teen 31 Maart 2018 vakant; 30% daarvan was vir senior bestuurders. Presies ’n jaar later was 15% van poste steeds vakant. Senior bestuursposte het net minder as ’n derde daarvan uitgemaak.

Herstrukturering om vakatures te vul

Squire Mahlangu, adjunkdirekteur-generaal vir korporatiewe ondersteuning, het op 16 Julie aan die parlementêre komitee oor toedelings gesê dié departement het 7 865 staatsamptenare en 2 938 kontrakwerkers vir konstruksiewerk in diens. Daarvan is 197 ingenieurs en ander deskundiges.

Hy beplan om binne die volgende ses maande alle senior bestuursposte, wat deel uitmaak van die 470 vakatures, te vul. “Van hulle is senior bestuursposte in veral die regulasie-afdeling. Ander het met finansies te doen,” het hy gesê.

Poste is soms vakant omdat amptenare geskors word hangende ondersoeke teen hulle. Dit het meestal te doen met onreëlmatige besteding of korrupsie.

"Ons wil die poste so gou moontlik vul, maar die feit dat ons die struktuur oor vier jaar taamlik gereeld moes verander, is ’n probleem. Julle sal onthou ons het minister (Edna) Molewa gehad wat dood is, toe minister (Nomvula) Mokonyane, toe minister Gugile Nkwinti en nou het ons minister Sisulu. Die kwessie van herstrukturering kom elke keer met ’n nuwe minister ter sprake.”

Poste is soms vakant omdat amptenare geskors word hangende ondersoeke teen hulle. Dit het meestal te doen met onreëlmatige besteding of korrupsie.

Só ’n amptenaar kan nie summier afgedank word nie en bly aan sonder om enigiets te doen totdat die ondersoeke afgehandel is.

Finansiële wanbestuur en onnodige ‘nood-ingrype’

Pres. Cyril Ramaphosa het Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, in Mei tydens ’n besoek aan Rand Water vergesel. Die departement het ’n sentrale bevelsentrum by die waterraad opgerig om sy Covid-19-verligtingsplan te bestuur. Dit behels die verskaffing van water deur middel van watervragmotors en watertenks aan dele in die land, asook arm skole, wat nie toegang tot skoon water het nie. Foto: Getty Images

Oor- en onderbesteding, “nood-ingrype” wat lei tot afwykings van verkrygingsprosesse, projekte wat sloer en ’n onvermoë om geld in te vorder, is van die grootste probleme in die watersektor.

“Die finansiële gesondheid van die water- en sanitasiesektor word uitgedaag deur interne en eksterne faktore wat onbehoorlike besteding, korrupsie en bedrog en swak finansiële prestasie insluit,” het die departement op 26 Mei vanjaar in sy voorlegging aan Skoor bevestig.

Makwetu het aan Skoor gesê hy het in sy oudits van 2018/19 gevind afwykings van regulasies vir bestuur van die verskaffingsketting (SCM) was in die laaste jare algemeen by implementeringsagente soos waterrade.

Volgens die 'Money Down the Drain'-verslag van Corruption Watch moet gevaarligte flikker wanneer politici hulself deel maak van verkrygings- en aanstellingsprosesse.

Die opdragte om “noodverkrygingsprosesse” te volg, het dikwels regstreeks van die minister gekom. Dit het tot miljarde rand se onreëlmatige besteding gelei.

Die vinniger noodverkrygingsprosesse wat die staat gebruik om in “tye van nood” op te tree, maak die stelsel vatbaarder vir korrupsie omdat daar nie by die tesourie se normale noukeurige prosesse gehou hoef te word nie.

Volgens die OG kon die “nood”-aspek van sekere multi-jaarprojekte nie geregverdig word nie. Dit het tot buitensporige koste gelei omdat projekte óf sonder ’n oorspronklike begroting óf met ’n beperkte begroting afgehandel is en verkrygingsprosesse nie gevolg is nie.

Volgens die “Money Down the Drain”-verslag deur die waghondorganisasie Corruption Watch moet politici hulself nie deel maak van verkrygings- en aanstellingsprosesse nie, en waar hulle dit wél doen, moet gevaarligte oor korrupsie flikker. 

Onbeplande onkoste wat oorloop

Onkoste wat weens die gesloer met projekte nie in ’n sekere boekjaar aangegaan word nie, loop soms oor na ’n volgende jaar. Dié koste is meestal nie in die begroting vir daardie volgende jaar ingereken nie, wat beteken die departement gebruik geld daarvoor wat vir iets anders bedoel was.

’n Voorbeeld is die War on Leaks-projek wat in 2015 begin is.

Skuld en wanbetaling

Die feit dat waterdiensowerhede soos munisipaliteite nie hul rekeninge aan die waterhandelentiteit en waterrade betaal nie, vererger die departement se finansiële posisie. Munisipaliteite doen ook nie voldoende instandhouding aan watersuiweringsaanlegte en ander waterinfrastruktuur nie, wat weer lei tot “nood-ingrype” waarvoor die departement nie begroot het nie.

Bloem Water is ’n voorbeeld van ’n waterraad onder erge finansiële druk weens die Mangaung-metro se waterskuld van bykans R1 miljard. Daarby sukkel baie landelike munisipaliteite ook om vir hul grootmaat water te betaal.

Emma Powell, DA-woordvoerder oor water, sanitasie en menslike nedersettings, het Sisulu op 12 November verlede jaar in ’n parlementêre vraag gevra wat die departement doen om die R14,9 miljard wat munisipaliteite waterrade en die waterhandelentiteit skuld, in te vorder.

Sisulu het in haar antwoord gesê die grootste uitdaging is dat 60% van Suid-Afrikaanse huishoudings nie waterrekeninge betaal nie.

Hoewel die meeste van die huishoudings se inkomste so laag is dat hulle vir gratis water sal kwalifiseer, word hul watergebruik nie gemonitor nie. Dit beteken hulle gebruik waarskynlik meer as die water wat aan hulle toegewys is.

Die departement vergader verder met die munisipaliteite wat nie betaal nie, en sluit onder meer in ooreenkomste oor hoe die betaling gedoen word.

Regstappe is teen 65 munisipaliteite gedoen en teen November verlede jaar is uitspraak al gelewer in nege sake teen onder meer Emfuleni, Letsemeng, Mangaung en O.R. Tambo, het Sisulu gesê.

Die OG beskuldig die departement daarvan dat hy nie die nodige stappe gedoen het om onreëlmatige besteding te keer nie.

Die departement dreig ook om water te beperk of af te sny as munisipaliteite nie betaal nie.

Die departement se interministeriële taakspan het onder meer die volgende aanbevelings gedoen om die probleem te takel:

• Vooruitbetaalde of “smart”-meters vir krag en water;

• Die aanstelling van onafhanklike invorderaars vir munisipaliteite; en

• Streng optrede teen wanbetalers voordat die hofproses begin.

Swak bestuur kan nie onreëlmatigheide voorkom nie

Die OG beskuldig die departement in sy verslag oor 2018/19 se boekjaar daarvan dat hy nie die nodige stappe gedoen het om die onreëlmatige besteding te keer soos wat die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die tesourie se regulasies bepaal nie.

Ratau het in reaksie gesê die departement het die OG se verslag deeglik bestudeer en weet van baie klagtes wat oor jare al deur die OG se kantoor aan die lig gebring is.

“Ons het besluit om die skroewe van gevolgbestuur stywer vas te draai,” sê hy.

Toesig oor onreëlmatige en onregmatige besteding in die hoofrekening

Watertenks word aangery na dele van die land wat nie toegang tot skoon water het nie. Water is van kardinale belang in die bekamping van die Covid-9-pandemie. Foto: Marelize Barnard

Altesame 72% van die onreëlmatige koste wat die OG in sy oudit van 2018/19 vermeld, het betrekking op die departement se infrastruktuurprojekte waar implementeringsagente (soos waterrade) nie die regte aankoopprosesse gevolg het nie en die departement nou nog sukkel om van die las ontslae te raak omdat die projekte steeds sloer.

Volgens die departement se voorlegging aan Skoor in Mei, het hy in die 2019/20-boekjaar se voorlopige state al onreëlmatige betalings van byna R9,3 miljard op sy boeke gehad en R7,4 miljard is vir die waterhandelentiteit se rekening aangeteken.

Die bedrae hou egter aan groei. In Julie het Sisulu in ’n begrotingspos-toespraak gesê die R16 miljard het nou tot R31 miljard se onreëlmatige besteding en verkwisting oor tien jaar gegroei.

Sisulu het aan Netwerk24 gesê dit is juis waarom sy adv. Terry Motau, SC, wat by die ondersoek na die VBS Mutual Bank-skandaal betrokke was, en ’n span prokureurs aangestel het om alle verslae oor bedrog, korrupsie en onreëlmatighede te ondersoek.

Die departement het in die grafiek hier onder sy onreëlmatige besteding op die 2019/20-boekjaar vir Skoor op 27 Mei vanjaar uiteengesit:

Interne forensiese ondersoeke en tugoptrede

“Ons bly vasbeslote dat amptenare en diensverskaffers wat betrokke is by korrupsie en die plundering van staatshulpbronne strafregtelik vervolg sal word,” het Sisulu aan Netwerk24 gesê.

Motau se ondersoeke omvat die departement en alle waterrade. Bewerings teen waterrade en senior bestuurders in die nasionale departement moet volgens Sisulu voorkeur geniet.

Van 1 April 2012 tot 31 September 2019 is 249 sake ondersoek, het die departement aan Netwerk24 gesê. 139 is verwys vir tugoptrede, terwyl 110 nie water gehou het nie.

Volgens die departement se voorlegging aan Skoor is 97 amptenare skuldig bevind, 16 is onskuldig bevind en 24 het bedank voordat daar teen hulle opgetree kon word. Een is heraangestel.

Die volgende optrede het op die tugverhore gevolg:

• 13 afdankings;

• Een demosie;

• 17 waarskuwingsbriewe is uitgereik;

• 38 finale waarskuwingsbriewe is uitgereik;

• Agt amptenare is vir ’n maand sonder betaling geskors en het finale geskrewe waarskuwings gekry;

• Agt is vir twee maande sonder betaling geskors en het finale geskrewe waarskuwings gekry;

• 11 is vir drie maande sonder betaling geskors; en

• Een is vir 15 dae sonder betaling geskors.

Minstens 18 sake is na die polisie of Valke verwys vir verdere ondersoek en moontlike vervolging, het Sisulu aan Netwerk24 gesê. Dié amptenare het almal by die nasionale departement gewerk en sluit in werknemers op alle posvlakke.

Mbulelo Tshangana, voormalige waarnemende direkteur-generaal van die departement van water en sanitasie, het in die begrotingsdebat in Julie gesê ’n nuwe stabiliseringskomitee het nog 166 sake opgeneem wat spruit uit die OG se verslae oor die jare.

In die 2019/2020-boekjaar is R966 357 met forensiese ondersoeke teruggekry.

Die interne ouditkomitee het ook ’n klomp ondersoeke gedoen na gevalle wat via ’n klagtelyn en intern aangemeld is. Dié komitee kon onreëlmatige besteding ter waarde van R1,3 miljard verhoed.

Nezar Emilize, uitvoerende oudit-hoof van die departement, het in Julie aan die parlement se staande komitee oor toedelings gesê 42 werknemers is vanjaar al intern ondersoek. Volgens die departement se syfers was byna twee derdes van hulle senior amptenare.

Vrugtelose besteding en verkwisting

Mpumelelo Gantsho staan agter sy huis langs sy emmertoilet in Missionvale in Port Elizabeth in 2016. Foto: City Press

Die OG het in die 2018/19-oudit gevind vrugtelose besteding en verkwisting weens projekte wat nie vorder nie asook bestuursgeld wat deur implementeringsagente aangegaan is, het miljoene rand beloop.

Een voorbeeld is die geld wat deur die Giyani-waterprojek in Limpopo aan buitensporige bestuursbedrae bestee is. Die vrugtelose besteding en verkwisting in die waterhandelentiteite se state (R1,7 miljard) is die gevolg van abnormale koste soos salarisse wat betaal word ondanks die feit dat die konstruksieproses stilstaan.

Soms is rekenings nie binne 30 dae of binne ’n ooreengekome tydperk betaal nie omdat die departement se kontantvloei beperk was weens vorige jare se oorbesteding.

Dit was vir Makwetu kommerwekkend dat hy geen behoorlike ouditbewyse kon vind dat daar opgetree is teen amptenare wat geld onreëlmatig of vrugteloos bestee het nie. Trouens, in sommige gevalle kon hy nie eens bewyse kry dat daar selfs net ’n ondersoek na die bewerings gedoen is nie.

Waterrade word ondersoek en in die geval van Lepelle en Amatola is daar hofsake en talle ander ondersoeke aan die gang.

Wat die waterhandelentiteit betref, is daar volgens die OG nie genoegsame stappe gedoen om alle geld in te vorder nie, omdat hy nie aan al sy klante rekeninge gestuur het nie. 

Die departement het op 26 Mei aan Skoor gesê volgens ’n voorlopige raming sal besteding en verkwisting in die 2019/20-boekjaar net meer as R76 200 beloop. Dit hou volgens hom verband met abnormale koste wat met interne en eksterne konstruksieprojekte aangegaan is.

Ander transaksies hou verband met laat betalings aan entiteite soos Eskom of banke, asook reis- en verblyfkoste vir amptenare wat nie opgedaag het nie. Dié koste word tans van die amptenare verhaal.

Waterrade soos Lepelle Northern Water in Limpopo, Amatola Water in Oos-Kaap en Sedibeng Water in die Vaaldriehoek word ondersoek en in die geval van Lepelle en Amatola is daar hofsake en talle ander ondersoeke aan die gang.

Ophoping van rente en betalings

Die departement het Amatola Water volgens sy voorlegging aan Skoor op 26 Mei nie in die boekjaar van 2018/19 soos deur die tesourie vereis binne 30 dae betaal nadat fakture van die kontrakteur ontvang is nie.

Weens dié vertraging het rente opgehoop. Die projek is in 2018 opgeskort. Die rente en betaling wat die kontrakteur in ooreenstemming met die kontrak geëis het, het teen die einde van die finansiële jaar byna R13 miljoen opgehoop.

Die departement hou vol dié wanbetalings van fakture was weens begrotingsbesnoeiings. Gevolglik het die kontrakteur sy werk opgeskort. ’n Ondersoek is gedoen en aanbevelings sal in werking gestel word.

• Rente op voorgeskiete betalings

Die departement het ’n kontrak ter waarde van R154 miljoen met Bigen Africa, ’n diensverskaffer, gesluit wat verband gehou het met die Clanwilliamdam (die Olifants-Doorn-waterhulpbronprojek). Daarvolgens moes 10% vooraf betaal word.

Die departement het egter nie die voorafbetaling gedoen nie. Bigen Africa het ’n aanmaningsbrief gestuur en toe die departement hof toe gesleep vir die voorafbetaling ter waarde van meer as R13 miljoen sowel as R2,2 miljoen se rente.

Die hof het in Bigen Africa se guns beslis.

• Betaling aan ’n firma sonder dat werk gedoen is

Op 20 April 2018 is ’n firma R17 900 594 betaal vir finansiële bestuursdienste sonder die vereiste vorderingsverslag dat die werk wel gedoen is.

’n Ondersoek het getoon die toekenning van die kontrak was onreëlmatig. Tugoptrede is teen die amptenare ingestel en die saak is aan die polisie oorhandig. Dit dien tans voor die hooggeregshof.

Die departement het aan Skoor gesê geeneen van die betrokke amptenare werk meer by hom nie en almal behalwe een is weg uit die staatsdiens. Die klagte teen dié oorblywende amptenaar, wat bloot na ’n ander departement verskuif het, sal steeds deur die nuwe rekenpligtige amptenaar ondersoek word.

• Water wat verlore gaan

Water wat verlore gaan deur lekkasies of kommersiële verliese en gevolglik nie inkomste genereer nie, tel volgens die departement van water en sanitasie se meesterplan onder Suid-Afrika se grootste wateruitdagings.

Sowat 31% van water wat met pype gelei word, kom volgens Saice nie by die gebruiker uit nie omdat dit langs die pad uitlek. Die OG beraam dit kom op ’n verlies van R6,56 miljard per jaar neer. Volgens die meesterplan wat twee jaar ná Saice se verslag gepubliseer is, verdwyn 35% van water.

As kommersiële verliese bygetel word, is dié persentasie nader aan 40% van alle munisipale water wat jaarliks verlore gaan.

Dit beteken munisipaliteite verloor jaarliks sowat R9,9 miljard se potensiële inkomste.

*Hierdie artikel is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Waarheid Eerste, ’n niewins-maatskappy wat ondersoekende joernalistiek bevorder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.