Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Spesiale ondersoek: Watergehalte in SA – van die beste of haglik

Dit is nie meer vreemd om gru-stories uit die platteland te hoor soos dat die karkas van ’n bobbejaan in die drinkwater beland het nie. Die owerhede erken die land se watergehalte is aan die afneem en dat hulle moet ingryp ter wille van watersekerheid in die toekoms. Jana Marx het dié situasie van nader bekyk.

Die Vaalrivier in Junie. Foto: Felix Dlangamandla

Legioensiekte wat deur bakterieë in waterpype veroorsaak word, het weer kop uitgesteek nadat geboue tydens die staat van inperking lank leeg gestaan het.

Edna Molewa, oudminister van omgewingsake, is in 2018 aan dié siekte dood nadat sy dit in China opgedoen het.

Legioensiekte is egter maar net een van ’n hele klomp siektes wat Suid-Afrikaners weens besmette water kan opdoen.

Die situasie wat die gehalte van water in dié land betref, is nie oral ewe rooskleurig nie.

Die South African Institution of Civil Engineering (Saice) het in sy jongste vyfjaarlikse verslag oor infrastruktuur bevind drinkwater in huise in stede is van topgehalte, maar in die platteland is dit soms helpmate ’n ander storie.

As water skoon en helder lyk en nie vreemd ruik of smaak nie, dink mense dit is van ’n goeie gehalte. Tog kan alles nie met die blote oog raakgesien word nie.

In die departement van water en sanitasie se jongste meesterplan gee hy toe dat die swak bestuur en gebrekkige instandhouding van munisipale watersuiweringswerke, vandalisme by watersuiweringsaanlegte, mynbou, ekonomiese bedrywighede, nedersettings en landbou ’n nadelige invloed op watergehalte het.

Helder, reuklose water kan opgeloste stowwe of kieme bevat wat selfs die dood kan veroorsaak, terwyl water wat vreemd ruik, nie noodwendig onveilig is om te drink nie.

Dis daarom noodsaaklik dat drinkwater en gesuiwerde rioolwater wat byvoorbeeld in riviere gepomp en deur boere vir besproeiing gebruik word, gereeld getoets word – iets wat die nasionale departement van water en sanitasie jare gelede laas bestuur het.

Watergehalte beskryf die toestand van water wat chemiese, fisiese en biologiese eienskappe insluit – gewoonlik ten opsigte van die geskiktheid daarvan vir ’n spesifieke doel.

Volgens prof. Ingrid Dennis, ’n grondwaterkenner aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sluit water in Suid-Afrika wat aan gehaltestandaarde moet voldoen, dié vir huishoudelike gebruik, ontspanningsdoeleindes (swem en hengel), nywerheidsgebruik soos kragopwekking, landbouwater en water-ekostelsels in.

Drinkwater moet byvoorbeeld aan ’n heeltemal ander standaard voldoen as water wat vir besproeiing gebruik word.

In die departement van water en sanitasie se jongste meesterplan wat in November verlede jaar bekend gestel is, gee hy toe dat die swak bestuur en gebrekkige instandhouding van munisipale watersuiweringswerke, vandalisme by watersuiweringsaanlegte, mynbou, ekonomiese bedrywighede, nedersettings en landbou ’n nadelige invloed op watergehalte het.

Die agteruitgang van ons watergehalte plaas nie net mens en dier se gesondheid in gedrang nie, maar het ’n negatiewe invloed op natuurlike water-ekostelsels. Dis ook geweldig duur (en soms onmoontlik) om waterbronne wat só agteruit gegaan het, te herstel.

Swak watergehalte vererger die probleme wat klimaatverandering teweeg bring, waaroor ons minder beheer het.

As water weens droogtes reeds skaars is en die bietjie wat wel beskikbaar is, is onbruikbaar, kan Suid-Afrika vinniger as verwag in groot moeilikheid beland.

Verwoesting van ekologiese infrastruktuur

Drinkwater moet gereeld getoets word. Foto ter illustrasie. Foto: iStock

Suid-Afrika het ’n ryk verskeidenheid water-ekostelsels. Dit bestaan uit onder meer riviere, vleilande en riviermondings. Dié ekostelsels en hul opvangsgebiede vorm die “ekologiese infrastruktuur”.

Volgens die Wêreldnatuurfonds het Suid-Afrika al soveel kritieke vleilande, riviere en natuurlike waterreservoirs uitgeput en besoedel, dat ons die natuur se vermoë om ons van skoon water te voorsien, verlaag het.

Volgens die meesterplan is riviere onder geweldige druk weens opdamming en wateronttrekking wat vloei belemmer, met gevolglike vernietiging van natuurlike plantegroei teen rivierbeddings.

Die indringing van uitheemse plantegroei en besoedeling by die punte waar water ná suiwering in riviere gestort word, is problematies. Vleilande is onder druk weens mynbou, konstruksiewerke, grondbewerking, stedelike ontwikkeling en oorbeweiding wat tot gronderosie kan lei.

Die meesterplan verduidelik onder meer dat afgegradeerde vleiland byvoorbeeld sy vermoë verloor om water in tye van droogte vry te stel om die grondwatervoorraad aan te vul.

Die vernietiging van vleiland verwoes die habitat van baie voëls en visse en kan lei tot die vernietiging van natuurlike damme stroomaf, wat weer oorstromings veroorsaak.

’n Verswakte ekologiese infrastruktuur verhoog weer die druk op beboude infrastruktuur en maak dit kwesbaarder vir vloede. Dit verhoog ook instandhoudingskoste en herstelkoste, wat beteken dis soms meer kostedoeltreffend om ekologiese infrastruktuur te rehabiliteer as om aanhoudend nuwe infrastruktuur te bou en te herstel.

Die departement erken in sy meesterplan ekologiese infrastruktuur word onderbenut. Dit kan ’n groot rol speel in opbrengs op beleggings (OOB) in beboude infrastruktuur soos damme, veral as die instandhouding van die ekologiese infrastruktuur in die beplanningsfase en konstruksie van so ’n dam vervat word.

Die vernietiging van vleiland verwoes die habitat van baie voëls en visse en kan lei tot die vernietiging van natuurlike damme stroomaf, wat weer oorstromings veroorsaak, lui inligting van Rand Water.

Die departement wil teen 2021, in samewerking met die departement van omgewingsake en opvangsgebiedbestuursagentskappe (CMA’s) die strategiese waterhulpbrongebiede en kritieke grondwaterherstelgebiede, asook water-ekostelsels as bedreigde of bewaarde gebiede laat verklaar.

Huidige toestand van ons water

Die Waternavorsingskommissie het in 2017 ná ’n studie van vyf jaar bevind dat baie riviere onaanvaarbare vlakke van mikrobiologiese organismes bevat, wat nie aan internasionale fekale riglyne (“faecal guidelines”) vir veilige besproeiing voldoen nie, berig Farmers’ Weekly.

Die studie het onvoldoende rioolgeriewe en rioolsuiweringswerke as een van die primêre redes vir besoedeling van besproeiingswater uitgewys. Rioolgeriewe in landelike gebiede is soms glad nie in staat om die groot bevolkings in ’n bepaalde gebied te hanteer nie.

watergehalte

Volgens Dennis vergiftig onverwerkte rioolvuil die groot riviere in Suid-Afrika. Hoë konsentrasie plantvoedingstowwe (nutriënte) bevorder onbeheerste groei van alge.

Die meesterplan meld dat die gesondheid van riviere tussen 1999 en 2011 in al nege van die land se waterbestuursgebiede agteruitgegaan het.

Die aantal riviere wat in ’n swak ekologiese toestand is, het tussen 1999 en 2011 vyf keer meer geword. Baie riviere is eenvoudig verwoes.

Net so het die sytakke of spruite wat in ’n swak ekologiese toestand is, oor dieselfde tydperk verdubbel.

Dis nou nege jaar later en dit gaan nie beter nie.

Gesonde spruite speel dikwels ’n kritieke rol om die vloei en watergehalte van die hoofriviere te handhaaf.

Daar word beraam dat Suid-Afrika al meer as 50% van sy vleiland verloor het. Van die oorblywende 3,2 miljoen ha is ’n derde in so ’n swak toestand dat dit nie langer watervloei kan reguleer en water kan suiwer nie.

Luidens die meesterplan word die regulering van damveiligheid (dus hoe “gesond” ’n dam is) ernstig bedreig weens beperkte gekwalifiseerde personeel.

Daar is tans minder as 100 goedgekeurde professionele damveiligheidsmense in Suid-Afrika. Dit is een gekwalifiseerde persoon vir elke 50 damme op die damveiligheidsregister. Meer as 66% van dié mense is ouer as 60.

Daar loop volgens ’n onlangse verklaring deur die VF Plus steeds rioolvuil, wat ook bloed van plaaslike abattoirs bevat, in die Vaalrivier – dié keer omdat die Ngwathe- plaaslike munisipaliteit (Parys, Vredefort, Heilbron, Koppies, Edenville) glo genoop is om van tyd tot tyd beurtkrag toe te pas wat rioolpompe laat staan. Foto: VF Plus

’n Voortslepende probleem is rioolvuilbesoedeling in die Vaalrivier. Volgens Maureen Stewart, adjunkvoorsitter van Save the Vaal Environment (Save), is die probleem van onverwerkte rioolvuil wat in die Vaalrivier vloei, ná tien jaar nog nie opgelos nie.

Volgens Rand Water se Barrage Weekly-kennisgewings toon verskillende toetspunte in die Vaalrivier enigiets van lae tot uitermate hoë tellings van E. coli. Hoe hoër die E. coli-telling, hoe meer rioolvuil dryf in die rivier. ’n E. coli-telling van 400 per 100 ml water is onaanvaarbaar. In die eerste week van Julie was die E. coli-telling by een van die toetspunte tot soveel as 34 480.

Die Vaaldam is die vierde grootste dam in die land en Gauteng se primêre waterverskaffer.

’n Gebrek aan instandhouding hier is dus kommerwekkend.

Die Emfuleni-afvalwatersuiweringstelsel – wat bestaan uit drie suiweringsaanlegte, 44 pompstasies en nagenoeg 1 600 m lange pyplyne – het in 2017 in duie gestort weens ’n gebrek aan instandhouding en omdat infrastruktuur nie by die groeiende bevolking kan tred hou nie.

In November 2018 is weermagingenieurs ontplooi om die stukkende pompstasies te herstel, maar hulle het nie genoeg geld gekry nie en moes die program staak nadat sewe pompstasies herstel is, berig Daily Maverick.

Die Ekurhuleni Water Care Company (Erwat) het die soldate in 2019 vervang, maar het tot laat in die jaar gewag vir geld om te kon voortgaan, sê Stewart. Erwat se kontrak is teen einde Junie vanjaar opgeskort en nie hernu nie.

Hul fokus was die verwydering van blokkasies uit pype asook tonne rommel in 25 km se pyplyne. Volgens Stewart het Save se pleidooie dat hulle ook herstelwerk aan die suiweringsaanlegte en pompstasies doen, glo geen gehoor gevind nie.

Daily Maverick het in 2019 berig byna R300 miljoen is al aan die operasie bestee. Dit is deel van die R1,1 miljard wat nodig is om die hele rivierstelsel te rehabiliteer.

Tydens sy besoek aan die Sebokeng-afvalwatersuiweringsaanleg het adjunkpres. David Mabuza ook glo sy “teleurstelling” oor die projek se stadige tempo uitgespreek.

Vaalrivier
Volgens die Brittanica Encyclopedia is die Vaalrivier ’n noordelike sytak van die Oranjerivier. Dit strek tussen die Sterkfontein Beacon naby Breyten in Mpumalanga en sluit 1 210 km in ’n suidwestelike rigting naby Douglas by die Oranjerivier aan. Die rivier vorm die grootste deel van die Vrystaat se provinsiale grens. Die Klip-, Wilge-, Vals, Vet- en Rietrivier sluit ook by die Vaalrivier aan.

In ander dele van die land word soortgelyke probleme ervaar. Zeerust in Noordwes was die afgelope tyd pal in die nuus weens dienslewering en in Junie het munisipale werkers afgekom op ’n vrot bobbejaankarkas in ’n reservoir waaruit inwoners se drinkwater kom.

Dit lyk ook nie asof die Kaapstad-metro sy stryd teen rioolvuilbesoedeling van die Milnerton-strandmeer en die Dieprivier-opvangsgebied in Kaapstad wen nie, het Netwerk24 in Junie berig.

Die E. coli-telling neem hier drasties toe, het die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) gesê. Outa het betrokke geraak nadat inwoners van Milnerton teen die besoedeling in opstand gekom het.

Die VF Plus het in ’n verklaring geskryf oor rioolvuilbesoedeling in die Dan Pienaar-woongebied in Bloemfontein. Duisende liter rioolvuil beland daagliks in stormwaterslote sowel as die Bloemspruit en vloei in die Modderrivier, voedingskanaal van die Krugersdrifdam, via die Renosterspruit.

Talle boere en inwoners van Soutpan is afhanklik van water uit die Krugersdrifdam vir landbou- en huishoudelike doeleindes.

Luidens die verklaring vloei onverwerkte rioolvuil van Dan Pienaar deur stormwaterkanale in ’n spruit wat deur die Tempe-weermagbasis se gholfbaan vloei en uiteindelik in Bloemspruit beland.

“Rioolvuilbesoedeling in Mangaung het so erg geraak dat die departement van gesondheid dreig om die Tempe-gholfbaan te sluit weens die ernstige gesondheidsgevare wat die besoedeling vir spelers inhou,” lui die verklaring.

Onverwerkte rioolvuil vloei van die Dan Pienaar-woonbuurt in Bloemfontein deur stormwaterkanale in ’n spruit in wat deur die Tempe-gholfbaan vloei en uiteindelik in die Bloemspruit beland.

Rouwater

Rouwater is water wat nog nie aan suiweringsprosesse onderwerp is om die gehalte, kleur en reuk van die natuurlike toestand te verander nie.

Rouwatergehalte behels die chemiese, fisiese en biologiese eienskappe van waterbronne soos riviere, damme, mere, vleie, riviermondings en grondwater.

Volgens die departement van water en sanitasie se meesterplan is daar volgehoue agteruitgang wat die gehalte van rouwater betref. Dit hou ’n bedreiging in vir ekonomiese groei, maatskaplike ontwikkeling, gesondheid en higiëne en die funksionering van water-ekostelsels (riviere, vleie, riviermondings, en so meer) in.

Die gehalte van rouwater verswak wanneer afvalwater wat deur munisipale suiweringswerke en fabrieke vrygestel word, kunsmis of insekdoders in landbougrond, swak rioolgeriewe asook besoedelde stormwater daarin beland.

Hoe swakker die gehalte van rouwater, hoe duurder raak die suiweringsprosesse.

Dit is gewoonlik goedkoper om water te suiwer by die punt van waar dit vrygestel word, voordat dit in ’n groter waterbron soos ’n dam beland. Dis omdat besoedeling by hierdie punt nog relatief gekonsentreerd en ingeperk is.

Die departement meen die koste vir die herstel van besoedeling moet deur die besoedelaar gedra word en nie deur die ontvangers van die water of deur die staat nie.

Besoedeling van oppervlakwater en grondwater

Oppervlakwater is volgens National Geographic alle water bo die grond, soos riviere, mere, vleie, reservoirs en selfs die see.

Oppervlakwater vorm deel van die watersiklus, waar water verdamp, opstyg, kondenseer en weer na die aarde toe val in die vorm van neerslag.

Reënval voed waterbronne op die oppervlak. Waterbronne verloor water deur verdamping en wanneer water in die grond wegsypel.

grondwater

Oppervlakwater en grondwater is albei reservoirs wat mekaar kan voed en aanvul. Net soos oppervlakwater in die grond kan wegsak en deel word van die grondwater, kan grondwater opbeweeg na die oppervlak om weer oppervlakwater aan te vul wanneer dit nie genoeg reën nie. Fonteine is ’n voorbeeld hiervan.

’n Verslag oor Suid-Afrika se watersekerheid deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika in 2017 het bevind grondwatergehalte verskil van plek tot plek en is soms heeltemal ongeskik vir menslike inname of selfs landbou. Grondwater is baie kwesbaar vir plaaslike besoedeling – veral waar die bevolking dig is of daar ekonomiese bedrywighede plaasvind.

Dinge wat die gehalte van oppervlakwater raak, sluit in:

• Kleur en stabiliteit

Benewens rioolvuil wat by die oppervlakwater invloei, dra riviere in die bergopvangsgebiede ("mountain catchments") aan die suidelike kuslyn water wat deur organiese sure verkleur is. Dit noop 'n duur en moeilike behandelingsproses.

• Soutkonsentrasie

Riviere wat deur die droë binneland vloei, dra water met 'n hoë soutinhoud en het dus 'n souterige smaak. Dit is ook duur om sout uit water te verwyder.

Riviere in die noorde en ooste van die land het gewoonlik water van 'n goeie gehalte, behalwe as dit deur menslike bedrywighede besoedel is. 'n Voorbeeld hievan is die Vaalrivier aan die onderkant van die Vaaldam, wat 'n hoë soutinhoud het weens die afloop van die goudmyne aan die Witwatersrand.

• Eutrofikasie

FJ Botha het in 'n meestersgraadverhandeling by die NWU oor die Hartbeespoortdam geskryf eutrofikasie kom in damme voor weens "ooramatige belading met voedingstowwe of nutriënte". Veral onverwerkte rioolvuil asook uitgeloogde kunsmisstowwe wat in riviere beland, dra volgens Botha tot eutrofikasie by.

Eutrofikasie in die Hartbeespoortdam in Noordwes in Junie vanjaar. Foto: Felix Dlangamandla

Elemente wat soms in grondwater voorkom, sluit in:

• Chloried: Chloriedvlakke styg dikwels in warm, dor gebiede en kom veral in grondwater aan die westelike en suidelike kuslyne van die Kaap voor. Die inname van ’n hoë inhoud van chloried kan naarheid en braking veroorsaak.

• Fluoried: Verhoogde vlakke kom voor in grondwater in die sentrale en westelike dele van die land, asook die streke met baie steenkool. Fluoried kan skade aan die skelet veroorsaak en wit vlekke op tande veroorsaak. Dis duur om hierdie vlekke te verwyder.

• Arseen: Dis ’n suur en kom veral in grondwater by myne voor. Dit kan selfs arseenvergiftiging veroorsaak.

• Nitrate: Boorgattoetsmonsters toon hoë nitraat-vlakke waar landboubedrywighede voorkom of puttoilette gebruik word. Dis giftig.

• Soutinhoud: Grondwater in droë streke waar klipformasies meestal sedimentêre klippe van mariene-oorsprong is, bevat hoë soutkonsentrasies. Leiklip in die Karoo is ’n voorbeeld hiervan. Dit is baie duur om sout uit water te verwyder.

• Kalsium en magnesium: Die grondwater in die dolomitiese gebiede (Gauteng, Noordwes en Mpumalanga) is baie hard. Dit het gewoonlik geen gesondheidsimplikasies vir water nie. Dit kan egter lei tot verstoppings in pype en aanpaksel aan die elemente in byvoorbeeld ketels.

• Yster en/of mangaan: Behandeling hiervoor is goedkoop en maklik.

’n Vergrote foto van ’n waterpyp wys hoe kalkaanpaksel die pyp se werking belemmer. Foto: Getty Images

Munisipale water

Munisipaliteite moet gereeld verslae oor die gehalte van drinkwater aan die departement van water en sanitasie verskaf.

Instellings wat dit nié doen nie, kan skuldig bevind word aan ’n misdaad en beboet word, tronkstraf opgelê word, of albei, sê Outa. Of munisipaliteite dit doen, is ’n ope vraag.

waterverbruik

Munisipaliteite gebruik die tweede meeste water in die land (27%).

Maar verouderde, verwaarloosde infrastruktuur en swak plaaslike bestuur het ’n direkte invloed op die gehalte van water wat by mense uitkom, hetsy of hulle daardie water drink, kos daarmee afspoel of daarin was.

Die Wêreldnatuurfonds het die toestand van ons waterhulpbronne in 2018 se Water Files as “besoedel en oorbenut” beskryf.

Op woonbuurtvlak is daar probleme met vullisverwydering. Mense strooi rommel, vullissakke skeur oop en bemors die strate en motors lek olie. Dié afvalmateriaal beland in stormwaterpype en dan in riviere.

Op munisipale vlak is daar groot tekortkominge in baie riool- of afvalwatersuiweringswerke.

Daar is ook krisisse met personeel se bevoegdheid wat watergehalte moet bestuur.

In dig bewoonde gebiede is die suiweringswerke bloot nie in staat om die hoë vlakke van afval te hanteer nie, of infrastruktuur is in so ’n toestand dat rioolvuil óf geensins óf slegs gedeeltelik gesuiwer word.

Die onverwerkte rioolvuil word weer in riviere vrygestel, wat gemeenskappe of boerderye stroomaf beïnvloed.

Swak wetstoepassing by myne en nywerhede veroorsaak ook dat besoedelde water in riviere en in grondwater beland.

Daar is ongeveer 80 000 wettige watergebruikers, wat onder meer lisensies het om water uit natuurlike waterbronne te pomp. Dit sluit byvoorbeeld ’n boer met ’n plaasdam of ’n watersuiweringsaanleg in.

Daar is voorts geen beheer oor waterplante wat vinnig versprei en water gebruik wat eerder na strome toe moet vloei nie.

Daar is ongeveer 80 000 wettige watergebruikers, wat onder meer lisensies het om water uit natuurlike waterbronne te pomp. Dit sluit byvoorbeeld ’n boer met ’n plaasdam of ’n watersuiweringsaanleg in.

Die nasionale departement is verantwoordelik om standaarde vir water- en rioleringsdienste te bepaal en tariewe uit te werk. Die munisipaliteite moet sorg dat tariewe betaal word.

Die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) bepaal die standaard vir die gehalte van water, insluitend nasionale standaarde vir drinkwater (SANS 241).

Sommige munisipaliteite voldoen nie aan dié standaarde nie.

Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, het aan Netwerk24 gesê sy wil weer lewe in die Blou Druppel-, Groen Druppel- en Geen Druppel-program blaas.

Uitslae is laas in 2014 gepubliseer. Dit is veronderstel om elke jaar gedoen te word sodat Suid-Afrikaners ’n duidelike prentjie kan kry van die gehalte van hul water.

Ná die eerste reeks toetse van 2013 het die departement gesê die risiko rondom drinkwaterdienste is ernstig en dat twee derdes van waterverskaffingstelsels in 2013 sonder geskikte of bevoegde toesighouers bestuur word.

Luidens die departement se eie ontledingsgids wat in die vroeë 2000’s gepubliseer is, moet daar minstens elke drie maande monsters van riviere, strome, fonteine en putte ingesamel word. Die ideaal is tweeweekliks. Die gids stel voor dat damme minstens elke ses maande getoets word, hoewel elke twee maande meer ideaal is. Boorgate moet verkieslik elke ses maande getoets word.

Die Mail & Guardian het in 2017 ’n diepteverslag oor Suid-Afrika se rioolwerke gepubliseer en die gevolgtrekking gemaak dat die munisipale rioolstelsel grotendeels in duie gestort het.

Van die 824 rioolsuiweringsaanlegte laat minder as 10% skoon water vry – dit is gelyk aan 50 000 liter onvoldoende verwerkte rioolvuil wat elke sekonde vrygelaat word.

Dit word toegeskryf aan ’n gebrek aan instandhouding. Die wêreldwye beste praktyk is vir ’n munisipaliteit om ’n bedrag gelykstaande aan 15% van die waarde van ’n aanleg per jaar op instandhouding te bestee. Maar instandhoudingsbegrotings loop dikwels erg onder korrupsie deur.

Wat gaan die departement daaraan doen?

Die departement het in sy meesterplan doelwitte vir doeltreffende waterbestuur uiteengesit. Hy wil onder meer al teen vanjaar die Blou Skerpioene opdrag gegee het om groot “waterdiewe” – diegene wat nie gehoor gee aan wateronttrekkingsmaatreëls en -wetgewing nie – te identifiseer en te vervolg.

Hy wil ook munisipale verordeninge ontwikkel en in werking stel wat watergehalte moet beskerm en die grootste besoedelaars (wat munisipaliteite insluit) in die land sal identifiseer sodat hulle vervolg kan word.

Teen 2023 wil die departement ’n strategiese aksieplan vir die rehabilitasie en opgradering van die 17 swakste afvalwatersuiweringsaanlegte ontwikkel en in werking stel.

Die departement wil ook ’n gespesialiseerde munisipale ingrypingseenheid vir water en sanitasie skep wat uit ’n span kenners bestaan. Hulle moet diagnostiese ontledings doen sodat waterdiensowerhede in volgorde van hul prestasie gelys kan word en kyk waar nasionale ingrype nodig is.

* Hierdie artikel is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Waarheid Eerste, ’n niewins-maatskappy wat ondersoekende joernalistiek bevorder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.