Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Spesiale ondersoek: ‘Water volgende krisis wat wag’

Terwyl die land se ekonomie ly weens die staatskaping wat Eskom op sy knieë gedwing het, wag ’n volgende krisis op Suid-Afrikaners. Korrupsie en wanbestuur het veroorsaak dat ’n reeds droë land se netwerk van watervoorsiening in duie kan stort, met potensieel katastrofiese gevolge as daar nie dringend ingegryp word nie. Jana Marx het ondersoek ingestel en skets die ontstellende omvang van dié krisis.

Die leë Theewaterkloofdam, terwyl Dag Zero teen einde Januarie 2018 vir Kaapstad nadergekruip het. Foto: Gallo Images

Die Covid-19-pandemie het ’n klomp probleme in die Suid-Afrikaanse samelewing blootgelê. Een daarvan is die kommerwekkende stand van die land se watersekerheid. Dit is veroorsaak deur probleme waaraan daar vir jare lank nie aandag gegee is nie. Dit sluit in die toestand van die infrastruktuur, watergehalte en die vermoë (of onvermoë!) van die regering op nasionale en plaaslike vlak om waterdienste te lewer en sy geld reg te bestuur.

Volgens die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika gebruik Suid-Afrikaners relatief baie van die beskikbare water in die land, maar daar is genoeg om in al sy behoeftes te voorsien tot ná 2025. Die huidige probleme en uitdagings van die toekoms hou eerder verband met beperkte finansiële bronne en institusionele vermoë.

In die eerste van 'n reeks artikels kyk ons na die situasie in 2020 en probeer bepaal hoe groot die omvang van die krisis werklik is.

Ons kyk na die invloed van klimaatsverandering en ook na die uitwerking wat ’n kombinasie van aardverwarming en die swak bestuur van waterbronne op Suid-Afrika se watertoekoms kan hê.

Daar ís hoop, maar dan moet almal – elke Suid-Afrikaner én die regering – nou alles in die stryd werp om ’n ramp te voorkom.

Voorts lê die spore van wanbestuur en korrupsie diep. Hoeveel geld is verlore omdat mense nie weet hoe om dit te bestuur nie, of bloot die geld in hul sakke druk? Die spesiale ondersoekeenheid, die nasionale vervolgingsgesag, die boubedryf se ontwikkelingsraad (CIDB), die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die staande komitee oor openbare rekeninge en die nasionale departement van water en sanitasie self is almal skynbaar besig om die verrotting te ondersoek. Ons wil weet hoe hulle vorder? Wat hulle ondersoek? Wie hulle ondersoek?

In die tweede reeks artikels verskuif die fokus na die mense wat na bewering die probleme veroorsaak het. Ons lê bewerings teen betrokkenes bloot, maak verbintenisse waar staatsamptenare agter maatskappyname probeer wegkruip en gee daardie mense kans om op dié bewerings te antwoord.

Ons vra vrae oor die onnodige vertragings van konstruksieprojekte, agteraf-betalings, baantjies vir boeties, omkoopgeld en soms blatante bedrog.

In die laaste reeks artikels kyk ons na wat gedoen word en wat gedoen behoort te word om ons waterprobleme op te los.

Daar ís hoop, maar dan moet almal – elke Suid-Afrikaner én die regering – nou alles in die stryd werp om ’n ramp te voorkom.

* Hierdie reeks ondersoekende artikels is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Waarheid Eerste, ’n nie-winsmaatskappy wat ondersoekende joernalistiek bevorder.

‘Wat as daar nie water is nie?’

In die stryd teen die koronavirus het die regering Suid-Afrikaners opdrag gegee om gereeld hul hande met water en seep te was.

36% van huishoudings in die land sou onmiddellik kon sê: “Maar wat as ons nie water het nie?” Want vir dié 36% van Suid-Afrika se bevolking is dit nie ’n gegewe dat daar water sal uitloop wanneer hulle ’n kraan oopdraai nie: 19 miljoen mense het nie toegang tot betroubare drinkwater nie en 14,1 miljoen mense het nie toegang tot veilige rioolgeriewe nie.

Dít is die verhaal wat die departement van water en sanitasie se jongste syfers op 14 Augustus vanjaar oor Suid-Afrika se kritieke watersituasie vertel. Die syfers word ondersteun deur minstens twee onafhanklike verenigings waaraan siviele ingenieurs behoort.

Miljoene mense het nog nie toegang tot skoon water in hul huise nie. Hier dra vroue van Khayelitsha naby Kaapstad water van ’n gemeenskaplike kraan met emmers aan, tydens die droogte en watertekorte in 2018. Foto: Getty Images

Dis ’n kommerwekkende situasie in ’n land waar die Grondwet daarvoor voorsiening maak dat elke landsburger die reg tot kos, water en basiese waterdienste het.

Die Covid-19-pandemie se spoor van verwoesting het volgens die South African Association of Engineering (SAAE) die soeklig laat val op die jarelange agteruitgang van watersekerheid.

“As dit (die bedreiging van watersekerheid) voortgaan, kan Suid-Afrika se volgende krisis veroorsaak word deur die wydverspreide ineenstorting van waterdienste,” het die SAAE in Mei vanjaar in ’n adviesskrywe aan pres. Cyril Ramaphosa gesê.

Die ingenieurs is baie bekommerd dat ’n droogte soortgelyk aan dié wat die Kaap in 2018 op sy knieë gedwing het, ook tot “Dag Zero”-risiko’s in die res van die land kan lei.

Organisasies moes oor die jare ingryp om die regering se werk vir hulle te doen.

Imtiaz Sooliman, hoof van die noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers, het onlangs aan Murray la Vita gesê hulle het in die afgelope twee jaar 400 boorgate gesink waarby duisende mense baat gevind het. “Ons waterwaens verskaf tans 550 000 liter water per week aan desperate inwoners,” het hy gesê.

Die tyd vir praat is verby.
David Mahlobo, adjunkminister van menslike nedersettings, water en sanitasie

Die Nelson Mandelabaai-metro waarsku reeds sy inwoners op Facebook om water te bespaar en lekkasies aan te meld, of om die nagmerrie van “Dag Zero” te beleef.

En inwoners van Polokwane is teen einde Augustus gewaarsku om hulle voor te berei op ’n moontlike “Dag Zero” nadat die vlak van die Ebenezerdam buite die stad na slegs 13% gedaal het.

Thembi Nkadimeng, burgemeester, sê die moontlikheid bestaan dat dié dam in Haenertsburg, 50 km buite Polokwane, in die toekoms nie meer ’n betroubare waterbron sal wees nie.

Die departement van water en sanitasie is net so bewus daarvan.

“ Suid-Afrika word deur ’n waterkrisis in die gesig gestaar. Dit word veroorsaak deur onvoldoende instandhouding en (’n tekort aan) beleggings in waterinfrastruktuur, herhaalde droogtes wat gedryf word deur klimaatverandering, ongelyke toegang tot water en sanitasie, die agteruitgang van watergehalte en ’n gebrek aan bevoegde wateringenieurs,” wil die departement se meesterplan, wat in November verlede jaar bekend gestel is, dit hê.

“Ons wil nie soos Eskom word nie,” het Mbulelo Tshangana, voormalige waarnemende direkteur-generaal van die departement, op 18 Augustus aan die portefeuljekomitee oor menslike nedersettings, water en sanitasie gesê.

“Die tyd vir praat is verby,” het adjunkminister David Mahlobo gesê.

“Dis nou nodig om te begin werk. As ons nie beweeg nie – soos met die kragsituasie – kan ons dieselfde probleem (as Eskom) kry. Ons kan nie dieselfde roete loop as met Khusile en Medupi nie. Mense het water so gou soos gister nodig.”

Die gevolge van klimaatsverandering, stygende temperature en droogtes op ’n waterdiensverskaffingstelsel wat skaars in “normale temperature” die druk kan hanteer, kan die finale nekslag wees wat die land in ’n algehele waterkrisis dompel.

LEES OOK: Die impak van klimaatsverandering op Suid-Afrika. 

Water en die ekonomie

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, het in Mei watertenks van die Deense ambassade in Mamelodi, Pretoria, ontvang. Die watertenks is deel van haar departement se strategie om Covid-19 te bekamp. Foto: Getty Images

Benewens die mens se basiese oorlewing, is daar feitlik nie ’n enkele ekonomiese sektor wat sonder water sal voortbestaan nie.

Die departement gee toe dat ’n tekort aan waterhulpbronne “ ’n beduidende invloed op die herlewing van die ekonomie sal hê” en boonop armoede sal vererger.

“Toegang tot water is die sleutel tot ekonomiese vooruitgang en beter lewenstandaarde,” het Tshangana aan die parlementêre komitee gesê.

Prof. Anthony (Tony) Turton, ’n wetenskaplike wat verbonde was aan die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR), se navorsing het klem gelê op die verband tussen water en die land se bruto binnelandse produk (BBP).

Hy het sy navorsing aan Netwerk24 se Waarheid Eerste-projek beskikbaar gestel. Hy skryf onder meer daar is met die bou van die Gariepdam en die Oranje-Vis-tonnel in 1966 begin met ’n proses waarin water deur menslike ingryping van een gebied of van een rivierloop na ’n ander oorgedra is.

Die land steun steeds vir die helfte van sy BBP op die Oranjerivier-opvangsgebied.

Dit word veral in droë lande gedoen waar reën skaars en reënval onvoorspelbaar is.

Dié “rondskuif van riviere” het groot ekonomiese potensiaal ontsluit met ’n konsekwente jaarlikse ekonomiese groei van sowat 7%.

Die land steun steeds vir die helfte van sy BBP op die Oranjerivier-opvangsgebied.

’n Studie wat die Wêreldbank oor Ethiopië gedoen het oor die tydperk 1982-2000, dui volgens Turton daarop dat die ekonomie goed vaar wanneer dit goed reën. Die ekonomie vaar weer swak as dit droog is.

’n Studie oor die tydperk 1979-1993 in Zimbabwe steun dié bevindings.

Duur prys van verwaarlosing, korrupsie

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, het op 16 Julie 2019 kort ná haar aanstelling in haar begrotingspos-toespraak die koue, harde feite voorgelê: In 1994 het ’n geraamde 15,2 miljoen mense nie toegang tot basiese waterdienste gehad nie en sowat 20,5 miljoen het geen sanitasiegeriewe gehad nie.

Toe het die bevolking sowat 40 miljoen getel, van wie 27 miljoen volgens Sisulu swart was.

Volgens die jongste sensus van 2018 woon daar nagenoeg 58 miljoen mense in Suid-Afrika.

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie. Foto: Getty Images

Die ANC-regering het hom ná apartheid voorgeneem om die ongelyke verdeling van water in die land te herstel, maar Sisulu gee toe dat “ons nie juis verder gevorder het nie”.

Die departement gebruik in sy meesterplan eenvoudig die woord “misluk”.

Tog was daar pogings om die land se waterkapasiteit te verhoog – die ANC het 14 nuwe damme gebou sedert hy aan die bewind gekom het.

“Ons besef dat ons die 30ste droogste land ter wêreld is en ons erken die behoefte om kapasiteit so vinnig moontlik te verhoog soos ons toegang tot water hervorm,” het Sisulu in die begrotingspos-toespraak gesê.

“Die ironie is dat geeneen van die damme toeganklik is vir die plaaslike bevolking wat rondom hulle woon nie.”

LEES OOK: die probleme in waterinfrastruktuur se impak op landbou.

Die Hartebeespoortdam se oorloop. Plantegroei weens ongereguleerde rioolvuilstorting is besig om die dam onbruikbaar te maak. Foto: Felix Dlangamandla

’n Watertekort van 17% word volgens die watermeesterplan reeds teen 2030 voorspel as watersekerheid nie ’n dringende prioriteit word nie.

Die departement, onder leiding van Sisulu en haar adviespaneel wat bestaan uit voormalige direkteurs-generaal, gaan solank voort met dié meesterplan wat belastingbetalers sowat R33 miljard per jaar (R900 miljard oor tien jaar) uit die sak sal jaag.

Dít is die prys wat betaal moet word vir die jarelange verwaarlosing van infrastruktuur, wanbestuur en korrupsie.

Die watermeesterplan bevat ’n tydlyn van alles wat die departement moet doen en behaal om watersekerheid teen 2030 te verseker.

Sputnik Ratau, departementele woordvoerder, sê die sanitasiemeesterplan is in wording.

Volgens ’n inligtingsessie in die parlement op 18 Augustus is ’n tekort aan geld ’n baie ernstige probleem.

“Minstens R126 miljard is nodig om sleutelprojekte vir waterhulpbronontwikkeling te finansier wat in die volgende tien jaar in werking gestel moet word.”

LEES OOK: Die toestand van Suid-Afrika se waterinfrastruktuur.

Die minister en die meesterplan beklemtoon die rampspoedige situasie ten opsigte van die departement se munisipale dienslewering; data wat deur ingenieurs beaam word.

• Die interministeriële taakspan oor basiese dienste het 57 munisipaliteite geïdentifiseer wat verantwoordelik is vir waterdiensverskaffing van meer as 87% van alle huishoudings in informele nedersettings, of aan mense wat agter in iemand se erf woon.

• Hierdie 87% van huishoudings verteenwoordig meer as 50% van die beraamde agterstand in die verskaffing van waterdiens. Dit is mense wat nie toegang tot basiese geriewe het nie. Volgens Statistieke Suid-Afrika se bevindings in die steekproef vir algemene huishoudings in 2019 het 83% in 2018 toegang tot behoorlike sanitasiedienste gehad, wat beteken die agterstand was toe om en by 17%. Hierdie gebiede is volgens Sisulu die brandpunte van diensleweringsbetogings.

• Meer as die helfte (sowat 56%) van afvalwatersuiweringsaanlegte en 44% van watersuiweringsaanlegte wat drinkwater verskaf, is volgens die jongste beskikbare syfers in ’n swak toestand; 11% is disfunksioneel.

• Sowat 40% van waterdiensowerhede (afdelings by munisipaliteite wat water beheer) word as uitermate kwesbaar beskou en 38% as baie kwesbaar, skryf die SAAE. In gewone Afrikaans beteken dit die waterdiensowerhede staan op die rand van ineenstorting. Sisulu sê in haar begrotingspos-toespraak 33% van dié waterdiensowerhede is reeds disfunksioneel en 50% van hulle het geen of beperkte personeel. Net 6% se kwesbaarheid was laag, wat beteken goeie dienslewering kan van hulle verwag word.

Munisipaliteite 'verloor' jaarliks gemiddeld 35% van hul water deur lekkasies en ander struktuur- of boekhoufoute.

• Volgens die SAAE, maak 54% van alle waterdiensowerhede staat op staatstoelaes vir meer as 90% van hul kapitaalbesteding vir water; 58% vorder minder as 70% van hul jaarlikse inkomste in.

• 41% van munisipaliteite maak geen geld nie.

• Munisipaliteite “verloor” jaarliks gemiddeld 35% van hul water deur lekkasies en ander struktuur- of boekhoufoute. Sou dié water behoue kon bly, sal dit ’n inkomste van R9,9 miljard beteken. Volgens die SAAE is die verliese by sommige munisipaliteite meer as 40%.

• Die ouditeur-generaal het in sy munisipale oudits gevind ’n derde van munisipaliteite in die land het eenvoudig nie in die laaste boekjaar die toestand van hul water- en sanitasiedienste ontleed nie.

• Hoewel ’n allemintige 89% van Suid-Afrikaanse huishoudings al toegang tot infrastruktuur vir waterverskaffing het (volgens SAAE is dit nader aan 95%), erken die departement net 64% van hulle het toegang tot betroubare dienste – ’n syfer wat volgens die departement van water en sanitasie se meesterplan laer is as in 1996. Dit beteken net 64% van huishoudings is seker dat daar vandag, môre en oormôre water sal uitloop as hulle ’n kraan oopdraai.

“Betroubare riooldienste” is ook iets heel anders as om “rioolgeriewe” te hê. Dit help byvoorbeeld veel as nedersettings as deel van ’n mediaveldtog ’n klomp spoeltoilette kry wat nie kan spoel nie, omdat infrastruktuur of water nie beskikbaar is nie.

Inwoners van die informele nedersetting Wolwegat in die Kaap dra hul water in emmers van die watervragmotor huis toe terwyl die Covid-19-pandemie heers. Foto: Jaco Marais

LEES OOK: Suid-Afrika se watergehalte.

Bestuursprobleme wat lei tot korrupsie

“Ons het infrastruktuur wat verouder, en dit sonder die nodige vaardighede en steun om ons probleme betyds te bestuur. Dit het daartoe gelei (dat ons) op konsultante moet staatmaak, en soos julle almal weet, is hierdie dienste nie goedkoop nie,” het Sisulu verlede jaar in haar begrotingspos-toespraak gesê.

Die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge en die ouditeur-generaal van Suid-Afrika het vanjaar al ’n paar maal met die departement vergader om die omvang van dié probleem te probeer bepaal.

Gebrekkige instandhouding is ’n regstreekse gevolg van wanbestuur en onbevoegdheid. The South African Institution of Civil Engineering (Saice) het in sy vyfjaarlikse verslag oor die toestand van infrastruktuur, bevind verwaarlosing van instandhouding was in drie opeenvolgende verslae (dus evaluering oor ’n tydperk van 15 jaar tot 2017) die ernstigste en mees konstante probleem.

LEES OOK: Besoedeling van Suid-Afrika se waterprobleme.

Alexandra by Sandton is aan die walle van die Jukskeirivier geleë. Foto: Felix Dlangamandla

Die Saice-verslag sê die hoofrede is swak bestuur op nasionale en plaaslike vlak, wat neerkom op swak beplanning, onnodige vertragings in implementering en ’n “kommerwekkende afname in institusionele bevoegdheid” in die staatsektor. Die gebrek aan ingenieursvaardighede lê veral op munisipale vlak waar baie van die infrastruktuur bedryf en in stand gehou moet word, sê Saice.

Die minister weet dit. In haar begrotingspos-toespraak het sy erken “ons waterbestuur is swak”. “Die grondwetlike verantwoordelikheid vir waterverskaffing en sanitasie lê by die 144 munisipaliteite wat as waterdiensowerhede optree.”

Sy het gesê munisipaliteite is ook genoop om werk uit te kontrakteer, want die amptenare het nie die nodige vaardighede om infrastruktuur self te herstel nie.

“Ons bestuur van projekte is swak, wat tot vertragings lei. Dit, tesame met swak kommunikasie, het groot skade berokken aan die persepsie wat mense oor ons het.”

Korrupsie in die departement van water en sanitasie ná 2014 is 'van die ergste wat ons al gesien het'.

Die parlement se staande komitee oor toedelings het op 16 Julie, nes talle ander komitees voorheen, sy kommer uitgespreek oor die 470 vakante poste in die departement, asook die korrupsie en wanbestuur oor etlike jare.

Op 19 Junie vanjaar het Mkhuleko Hlengwa, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), tydens die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se terugvoering oor ondersoeke na bedrog en korrupsie, gesê dat die korrupsie in dié departement ná 2014 “van die ergste (is) wat ons al gesien het”.

2014 is ook die jaar dat oudpres. Jacob Zuma Nomvula Mokonyane as minister van water en sanitasie aangestel het.

Mokonyane word onder meer deur getuienis wat voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gelewer is, by korrupsie betrek. Sy ontken dié bewerings.

Nomvula Mokonyane, vorige minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, tydens ’n besoek aan die Vaaldam in 2017. Foto: Gallo Images

Finansiële wanbestuur is een van die grootste probleme wat Sisulu geërf het. Dis hoekom “so baie van ons top-amptenare op nasionale en munisipale vlak ondersoek word”.

Die spesiale ondersoekeenheid was sedert 2012 reeds besig met ondersoeke na korrupsie in die departement, maar dit was nog op ’n taamlike klein skaal.

Finansiële state toon miljarde rand se onreëlmatige besteding of tenderprosesse wat gesystap is – dikwels in ruil vir allerhande gunsies.

“Ons het ’n verslag ontvang dat meer as R16 miljard se projekte (tenders) onreëlmatig uitgereik is, wat toegesmeerde korrupsie en bedrog deur amptenare insluit. Daarom het ons adv. Terry Motau, SC (wat die ondersoek na die VBS Mutual Bank-skandaal gelei het) en ’n span gerekende prokureurs aangestel om alle bedrog, korrupsie en onreëlmatige verslae na te gaan en om seker te maak dat alle aanbevelings ten volle in werking gestel word. Ons is vasbeslote dat amptenare en diensverskaffers wat betrokke is by korrupsie en die plundering van staatshulpbronne, met die volle mag van die gereg te doen sal kry,” het Sisulu aan Netwerk24 gesê.

Sy het intussen bekend gemaak dié bedrag beloop al sowat R31 miljard.

Dit sluit in 249 ondersoeke na staatsamptenare wat tussen 1 April 2012 en 31 September 2019 by die nasionale department gewerk het, waarvan 139 water gehou het. Hulle is onderwerp aan dissiplinêre prosesse: 86 is skuldig bevind, 14 is onskuldig bevind en 24 het voor dissiplinêre verhore bedank. Tugstappe sluit in 13 afdankings, een verlaging in rang, 11 amptenare wat vir drie maande sonder betaling geskors is en ses wat vir twee maande sonder betaling geskors is, wat finale geskrewe waarskuwings insluit. 18 sake is na die polisie of Valke verwys vir ondersoek en moontlike strafregtelike vervolging.

En dié syfers sluit slegs staatsamptenare in die nasionale departement in – nie amptenare op provinsiale vlak nie.

Mense vererger krisis

Die invloed van korrupsie en wanbestuur is verreikend, het ’n ondersoek daarna in die departement die afgelope jare bevind. ’n Mens kan maar net ’n kraan oopdraai waaruit daar geen water uitkom nie, sien hoe riviere gebuk gaan onder besoedeling of lees van mense wat siektes weens vuil water en onhigiëniese toilette opdoen.

LEES OOK: Suid-Afrika se Druppelverslae.

Inwoners van die informele nedersetting Wolwegat in die Kaap kry water by tenkwaens. Foto: Jaco Marais

Die beweerde korrupsie is oral in die platteland en kom ook voor in Gauteng, die ekonomiese hartland van Suid-Afrika. Dit steek kop uit in groot waterprojekte in die Wes-Kaap, Limpopo, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

Dink maar aan die Giyani-grootmaatwaterprojek in Limpopo wat in 2014 deur Zuma begin is om drinkwater aan 55 landelike dorpies in Limpopo te verskaf. Dié projek is vertraag en werk is uiteindelik gestaak weens tenderonreëlmatighede en wanbetalings. Hofsake en ondersoeke is aan die gang.

Die projek kos nou al nagenoeg R3,3 miljard en water word steeds nie aan die meeste mense in die omgewing gelewer nie.

Of daar nou omkoopgeld of agteraf-betalings betrokke was – almal behalwe die veronderstelde begunstigdes het by die projekte baat gevind, blyk uit Netwerk24 se ondersoek.

Die departement se finansiële gesondheid word tans bedreig deur die beweerde korrupsie, onbehoorlike besteding (onreëlmatige en vrugtelose besteding en verkwisting) en sy swak finansiële posisie.

Die nasionale tesourie en die departement van water en sanitasie hanteer tans onreëlmatige besteding wat neerkom op meer as R9 miljard.

Die ouditeur-generaal van Suid-Afrika het geen ongemagtigde betaling in die 2019/2020-boekjaar gevind nie, maar net in die vorige boekjaar is daar nog so ’n inskrywing van nagenoeg R641 miljoen, het Frans Moatshe, waarnemende finansiële hoof, aan die parlement se staande komitee oor toedelings gesê.

Vrugtelose besteding en verkwisting hou volgens die jongste oudits meestal verband met abnormale koste wat in interne en eksterne konstruksieprojekte aangegaan is. Ander hou verband met onder meer boetes op onder meer agterstallige Eskom-rekeninge en hoë rente op agterstallige terugbetalings aan banke.

Die nasionale tesourie en die departement van water en sanitasie hanteer tans onreëlmatige besteding wat neerkom op meer as R9 miljard.

Suid-Afrika is ’n droë land, wat doeltreffende waterbestuur en -gebruik soveel meer noodsaaklik maak.

Die krisis waardeur ons in die gesig gestaar word, is een wat deur mense vererger is.

* In die volgende reeks artikels lê ons bewerings teen betrokkenes bloot en vra moeilike vrae oor die onnodige vertragings van konstruksieprojekte, agteraf-betalings, baantjies vir boeties, omkoopgeld en soms blatante bedrog.

Die Theewaterskloofdam naby Villiersdorp was in Januarie 2018 (foto links) minder as 14% vol tydens die hoogtepunt van die Wes-Kaapse waterkrisis. In die foto regs, net ’n paar maande ná die versengende droogte, was dit net meer as 70% vol. Foto: Jaco Marais


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.