Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Steinhoff se web van sake nie gou ontrafel

Ná ’n forensiese ondersoek van 14 maande wat meer as R100 miljard se bedrog wat oor ’n dekade gepleeg is, blootgelê het, is dit steeds nie duidelik wie presies almal baat gevind het by die massiewe Steinhoff-gekonkel nie.

Dit is wel duidelik dat ’n klein groepie voormalige Steinhoff-bestuurders onder die leiding van een senior bestuurder, waarskynlik die voormalige bestuurshoof Markus Jooste, met buitestanders, wat op die oog af onafhanklik was, geheul het om beleggers te flous. Dié “buite- maatskappye” was egter inderwaarheid na aan die groep of selfs onder hulle beheer.

Markus Jooste Foto: getty images

Dit blyk uit ’n oorsig oor die lank verwagte verslag van die ouditgroep PwC wat laat Vrydagmiddag bekend gemaak is. PwC is in Desember 2017 aangestel om die katnes oop te krap.

Dit het gevolg ná Deloitte, Steinhoff se ouditeur, nie die groep se finansiële state wou afteken nie weens beweerde ongerymdhede. Jooste het toe bedank, en die aandeelprys het oornag in duie gestort.

Hoewel die verslag die werkswyse uiteensit wat gebruik is vir ’n oëverblindery wat tot so ver soos 2009 terugstrek, stel PwC dit duidelik daar is nog baie vrae oor wie agter die entiteite sit en in wie se sak die geld wat uit Steinhoff gestroop is, beland het.

PwC het inligting verkry van 22 huidige en voormalige direkteure en bestuurders van Steinhoff. Hul verslag beslaan uit meer as 3 000 bladsye en 4 000 aanhangsels. Die ondersoek strek oor verskeie lande.

Steinhoff gaan nie die volledige verslag aan aandeelhouers of die publiek bekend maak nie.

Jooste word in die verslag nie by name genoem nie. Dit word wel duidelik gestel dat hy en “sekere ander individue” hulself nog nie beskikbaar gestel het om met PwC te praat nie.

Kragtens wetgewing in van die lande waar Steinhoff regstappe teen diegene wat by die bedrog betrek word wil doen, moet hulle eers ’n kans gegun word om op die bewerings te antwoord.

Van die sleutelbevindinge sluit in dat die senior bestuurder (waarskynlik Jooste), die poppemeester was wat die bevele gegee het. Die groep verdagtes het volgens PwC onwettige inkomste bewimpel of sommer op groepsvlak opgemaak en toegewys aan sukkelende bedryfseenhede van die groep as “bydraes”. Inkomste en uitgawes is beknoei. Die bedryfseenhede het meestal kontant ontvang van ander eenhede in die Steinhoff-groep of van buite deur ’n web van onderlinge lenings en skuld.

Die verdagte transaksies was kompleks, het verskillende entiteite betrek en oor jare gestrek. Vir die skyn van wettigheid is dit gerugsteun deur regsdokumente wat dikwels agterna opgestel en dan terugdateer is.

PwC het bevind dat Steinhoff se wins en die waarde van sy bates weens die onderduimshede hopeloos te hoog aangedui is in sy finansiële state. PwC wys die vernaamste sogenaamde onafhanklike buitepartye wat gebruik is uit as die Campion/Fulcrum-, die Talgarth- en TG-groep. Daar is egter ook ander entiteite met soortgelyke name; ’n strategie om verwarring te skep, sê PwC.

Die swendelaars het ook fiktiewe inkomste “geskep” deur voor te gee dat sekere maatskappye (eintlik maar Steinhoff-entiteite) aan ander Steinhoff-maatskappye geld skuld. Die skuld is herklassifiseer en opgebreek as verskillende bates, en soms afgeskryf teen onderlinge betalings en die toewysing van skuld aan verskillende ondernemings in die Steinhoff-groep. Lenings is rondgeskuif tussen Steinhoff-bedrywighede onderlinge en tussen hulle en die derde partye om die indruk te skep dat die oorspronklike skuld betaal is.

Eiendom is herklassifiseer en die waardasies kunsmatig verhoog deur huurkontrakte aan te gaan met Steinhoff-ondernemings ver bo heersende pryse.

Steinhoff sê hy bepaal nog die impak van PwC se bevindings.

Meer oor:  Markus Jooste  |  Steinhhoff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.