Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Tyd om Vrede-projek te sluit, sê opposisie

Dit is ’n skreiende skande dat die ANC nie gister in die wetgewer wou toegee aan versoeke dat politici soos Ace Magashule, oudpremier van die Vrystaat, Mosebenzi Zwane en Mamiki Qabathe, oud-LUR’e, moet kom verduidelik wat in die Vrede-suiwelprojek skeefgeloop het nie.

Die DA, EFF en Vryheidsfront Plus het die versoeke gerig en dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, sê dit is “skandalig” van die ANC om dit te ignoreer. Die DA, EFF en Vryheidsfront Plus het die versoeke gerig en dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, sê dit is “skandalig” van die ANC om dit te ignoreer. 

Dié staatsprojek van miljoene rande is gister weer in die gesamentlike komitee vir ekonomiese ontwikkeling en openbare rekeninge bespreek. 

Neels van Rooyen, voorsitter van die openbare rekeninge komitee, het dit as “ ’n mors van tyd” afgemaak.

Jankielsohn sê terwyl die amptenare aan die pen moet ry, word die politici wat betrokke was by die projek, verskoon.

“Van Rooyen is veronderstel om die finansies van die provinsie in die wetgewer te beskerm, maar het sy plig versuim deur die ANC-politici te beskerm wat betrokke was by die besluitneming oor dié projek,” sê Jankielsohn.

E’tsho, wat R1 miljoen per maand betaal word om die projek te bedryf, is glo “die enigste begunstigde”. 

’n Besluit is ook op die vergadering geneem dat die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie (VOK) wat die projek sedert 2014 namens die Vrystaatse departement van landbou bestuur, sy ooreenkoms met die maatskappy Open Waters moet uitbrei sodat ’n soektog kan begin na die honderde koeie wat vermis geraak het voor en ná die VOK se oorname.

Ossie Ozman, uitvoerende hoof van die VOK, het gesê die ooreenkoms met Open Waters is vir minder as R1 miljoen beklink.

Jankielsohn wou weet hoe die koeie kan wegraak as ’n veiligheidsmaatskappy maandeliks R20 000 betaal word om hulle op te pas.

’n Besluit is ook geneem dat daar gesoek gaan word na die R50 miljoen wat nie verklaar kan word nie nadat altesame R70 miljoen in die 2016-’17-geldjaar van tesourie na die Vrystaatse departement van landbou vir die projek oorbetaal is. Die VOK sê hy het net R20 miljoen van die geld ontvang.

Jankielsohn het gesê as daar nie begunstigdes is nie, moet oorweeg word om die projek te sluit en met ’n nuwe projek te begin nadat die oue verkoop is.

Tammy Wessels van die Vryheidsfront Plus het gesê in dié stadium word net R36 000 per maand en sommige maande tot R50 000 uit melkverkope gemaak. Die projek loop steeds op ’n reuse-verlies.

“Ons kan nie die projek aanhou net om E’tsho R1 miljoen per maand te betaal nie.”

Die Valke sal ook gevra word om ondersoek te doen na die Vrede-gastehuis, wat volgens die openbare beskermer se verslag saam met die hoofhek van die plaas R2,6 miljoen gekos het.

Dit was nadat Estina later die titelakte vir die gastehuis gekry het, terwyl die Indiese maatskappy glo geen bydrae tot die projek gemaak het nie.

Estina het in 2016 weer die gastehuis aan Chandrama Bhan Prasad vir R1,35 miljoen verkoop terwyl hy ook die Vrede-suiwelprojek vir Estina bestuur het.

Prasad is nou een van die verhoorafwagtendes oor die projek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.