Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Valke moet kyk na bewerings teen Manyi, vra Cope

Die Valke en ander wetstoepassingsowerhede moet dringend die ernstige beweringe van geldwassery teen Mzwanele Manyi en sy African Transformation Movement (ATM) ondersoek, eis Cope.

Mzwanele ManyiFoto: Felix Dlangamandla

Dennis Bloem, Cope-woordvoerder, het Vrydag dié beroep op die owerhede gedoen nadat individue wat glo behoort aan die All Africa Decolonisation Congress (AADC), die party wat Manyi in Desember 2018 gestig en nou vir die ATM verlaat het, Donderdag beweer het Manyi en die ATM wou glo kerke vir geldwassery gebruik.

Edward Mokomele van die AADC het Donderdag ook gesê dat Manyi die voortvlugtende Guptas op 19 Desember 2018 in Dubai ontmoet het om finansiering vir die AADC te bespreek.

Manyi het Vrydag gesê die AADC is “my eiendom” en dat hy reeds die owerhede skriftelik ingelig het om dit as party te “deregistreer”.

“Die party bestaan nie meer nie.”

Hy maak die bewerings af as “snert deur mense wat nie eens AADC-lede is nie, maar deel is van ’n infiltrasie om ons van stryk te bring”.

Oor die Cope-versoek dat die Valke hom en die ATM moet ondersoek, het hy gesê hy is “baie bly oor sulke versoeke”.

“Die Valke moet sommer reguit na die persoon gaan wat die beweringe gemaak het sodat hy die bewyse aan hulle kan verskaf. Dan sal ons sien watter absolute onsin hy praat. Ek versoek sommer die banke ook om hul samewerking oor die bewerings van geldwassery te gee.”

Volgens Manyi is sy prokureurs reeds besig met ’n hofaansoek teen Mokomele weens laster.

Hy sê ook die bewerings dat hy die Guptas besoek het, is onwaar.

“Ek sien geen fout daarmee om die Guptas of enigiemand anders te ontmoet nie. Wat maak dit saak as ek hulle ontmoet het? As dit ’n misdaad is om met die Guptas te praat, dan is ek skuldig. As ek hulle volgende week moet sien, sal ek dit doen. Ek ly nie aan Gupta-fobie nie.”

Bloem sê die bewerings van geldwassery teen Manyi is “baie ernstig en kan nie deur die regering geïgnoreer word nie”.

“Die regering het ’n verantwoordelikheid en plig om die bewerings te ondersoek en indien nodig die gepaste remediërende en strafregtelike stappe te doen,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.