Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Waar kry Kim sy luukse motors?

Waar kry Kim Jong-oen, leier van Noord-Korea, sy luukse Mercedes- en Rolls-Royce-motors terwyl talle sanksies teen Noord-Korea ingestel is?

’n Verslag wat Dinsdag uitgereik is, toon hoe Kim met ’n ingewikkelde smokkelnetwerk deur ses lande dit reggekry het om twee peperduur, luukse, gepantserde Mercedes-Maybach S600 Guard-motors in te voer.

Kenners glo dié smokkelroetes kan ook vir ander veeldoelige goedere gebruik word wat onder meer vir die land se kernwapen- en missielprogram gebruik word.

Die Center for Advanced Defense Studies (C4ADS), ’n nieregeringsorganisasie in Washington in Amerika, het die verslag Lux and Loaded saamgestel.

Daarmee hoop die opstellers dit sal lig werp op die leemtes in die sanksies wat omseil kan word.

’n Motor waarin Kim Jong-oen van Noord-Korea glo ry, in die strate van Beijing, China. Foto: Reuters/Thomas Peter

Hier is die motors gesien

Volgens die verslag het Kim in Oktober 2018 in Pjongjang, die Noord-Koreaanse hoofstad, met ’n nuwe Rolls-Royce Phantom aangekom toe hy die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, ontmoet het.

Net drie maande later is hy in ’n ander luukse motor op die Koreaanse Sentrale Televisiediens gesien; ’n gepantserde Mercedes-Maybach S600 Guard ter waarde van meer as $500 000 (byna R7 miljoen).

The New York Times berig twee van hierdie motors vir Kim is van Pjongjang na Singapoer met ’n vragvliegtuig geneem sodat Kim daarmee na vergaderings met pres. Donald Trump en pres. Wladimir Poetin kon ry. Pres. Xi Jinping van China, asook pres. Moon Jae-in van Suid-Korea het onlangs saam met Kim in van sy luukse motors in Pjongjang gery.

Hoe kom dit daar?

Die verslag toon die logistieke ketting van hoe dié soort luukse Mercedes’e wat aan staatshoofde bemark word, uit Europa in Noord-Korea aangekom het.

Luidens die verslag loop die pad van die twee motors van Rotterdam in Nederland deur China, Japan, Suid-Korea en Rusland na Noord-Korea. Op pad het die motors deur verskeie Noordoos-Asiese handelaars se hande gegaan.

Die verslag wys dat die kommersiële entiteite wat betrokke is by die verskepings van duur, luukse goedere in verskeie jurisdiksies bedrywig is. Hulle het merkwaardige verskepings- en hanteringsvermoëns en dryf waarskynlik ook op ander gebiede met Noord-Korea handel.

C4ADS skryf op sy webwerf dat gesogte luukse goedere groot ooreenkomste met veeldoelige goedere vir Noord-Korea se wapenprogram het. “Dit is skaars, gespesialiseerde produkte met hoë geldwaarde en groot simboliese belang vir die Kim-regime.”

Anders as veeldoelige goedere is die gepantserde motors egter maklik om te identifiseer met handels- en hawe-rekords in die openbare domein.

Die organisasie sê hulle het openbare dokumente soos korporatiewe registers, handelsregisters, skeepsdata, doeane-dokumente en die sosiale media gebruik om vas te stel hoekom lande wat sanksies instel, Noord-Korea nie kan verhoed om luukse goedere in te voer nie, en presies hoe daardie goedere verkry word.

Pres. Donald Trump van Amerika stap na Air Force One op die Noi Bai- internasionale lughawe in Hanoi, Viëtnam, ná sy beraad met Kim Jong-oen van Noord-Korea. Foto: Reuters

Die sanksies

Volgens C4ADS het die Verenigde Nasies in 2006 streng sanksies teen Noord-Korea ingestel om luukse goedere uit die land te hou. Tog het Noord-Korea dit reggekry om tussen 2015 en 2017 luukse goedere ter waarde van ongeveer $191 miljoen uit sowat 90 lande te bekom. Dit sluit glo meer as 800 luukse voertuie in.

Die verslag dui op die tekortkominge met die sanksies, wat in 2016 verskerp is, berig The New York Times.

Huisgenoot hetin Maart 2019 berig hierdie is een van die paar koeëlvaste spogmotors van Kim Jong-oen. Foto: Gallo/Getty

Hoe is dit gedoen?

Die verslag het bevind dat die twee Mercedes’e Rotterdam in Nederland verlaat het onderweg na Dalian, ’n Chinese hawestad, van waar die motors na Osaka in Japan verskeep is en toe na Boesan in Suid-Korea. Die motors het Suid-Korea op ’n vragskip verlaat.

Vir die vredesberaad in April 2018 ry die Noord-Koreaanse leier Kim Jong-oen na die grens met Suid-Korea. Lyfwagte draf saam met die motor. Foto: Getty

Volgens C4ADS het die skip toe op sy AIS-stelsel gewys hy is op pad na die Russiese hawestad Nachodka waar hy op 5 Oktober sou aankom.

Maar die skip se AIS-data het tussen 1 en 19 Oktober opgehou om sy bewegings te wys. Hoewel die stelsel nie bewegings wys wanneer skepe ver op die oopsee is nie, is dit moontlik dat dit afgeskakel is. Dit is volgens die verslag algemeen vir skepe wat sanksies wil omseil.

Toe data van die vragskip se AIS-data weer ontvang is, was die skip byna waar dit van die stelsel af verdwyn het, maar volgens C4ADS het dit nou in die teenoorgestelde rigting terug na Boesan gevaar.

Op 2 November het dit by die hawe-doeane in Suid-Korea gewys die skip vervoer antrasiet-steenkool van Nachodka af, terwyl Nachodka geen rekord van die skip se aankoms of vertrek daar het nie.

Op 7 Oktober, twee dae ná die verwagte aankoms van die vragskip, het drie Ilyushin-II-76-vragvliegtuie van Noord-Korea se staatslugdiens na verneem word van Pjongjang na Wladiwostok in Rusland gevlieg.

Dié vliegtuie word gereeld gebruik om gepantserde voertuie vir Noord-Korea se elite te vervoer. Hulle word egter selde in Wladiwostok gesien, lui die verslag.

Die Noord-Koreaanse konsulaat in Wladiwostok het nie op ’n versoek ’n verduideliking aan C4ADS gegee vir dié ongeskeduleerde vlugte nie.

“Ons het nie direkte bewyse gevind dat die ooreenstemmende besoeke van die vragvliegtuie en die vragskip in die Russiese Verre-Ooste verband hou nie. Hoewel, gegewe die swaarvrag-vermoëns van die vliegtuie en hul rol om Kim se gepantserde limousines te vervoer, is dit moontlik dat die vliegtuie die Mercedes’e kon oplaai,” lui C4ADS se verslag.

* CNN en The New York Times het berig hulle het kommentaar van Mercedes-Benz gevra, wat bevestig het hulle gaan die kopers van dié soort motors se agtergrond na om te verseker hulle oortree nie sanksies nie. Dit is egter onduidelik wie die aanvanklike kopers van die motors was.

* Lees die verslag hier.

* Netwerk24 het nie C4ADS se verslag onafhanklik nagegaan nie.

Meer oor:  Kim Jong-Oen  |  Noord-Korea  |  Smokkel  |  Sanksies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.