Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Waaroor wroeg ons en die res van die wêreld?

Suid-Afrikaners lê blykbaar nagte wakker oor werkloosheid en staatskorrupsie.

Ons kwel ons meer hieroor as 27 uit 28 ander ontwikkelde en ontwikkelende lande wêreldwyd wat daaroor gepeil is.

Misdaad het ons net so gespanne. Trouens, ons is só bekommerd oor hierdie drie kwessies dat ander belangrike dinge soos armoede, onderwys en sedelike verval – hoewel ook baie belangrik – net nie nou prominent op ons radar is nie.

Dit is die slotsom waartoe die navorsingsmaatskappy Ipsos Suid-Afrika, ’n deel van die Ipsos-groep, in sy jongste verslag, “What Worries the World”, kom.

Die peiling word maandeliks in 28 lande onder mense met internettoegang gedoen.

Hoewel 79% van die 500 Suid-Afrikaners wat aan die studie deelgeneem het, meen dat die land op die “verkeerde pad” is, is hulle nie alleen nie, sê Mari Harris, direkteur van Ipsos.

Gemiddeld glo net 39% van die onderskeie respondente oor die wêreld heen dat hul lande op die regte pad is.

Die studie

Ipsos se verslag, wat in Januarie uitgereik is, toon die uitkoms van ’n steekproef wat tussen 20 Desember 2019 en 3 Januarie vanjaar gedoen is.

“Ons vra gereeld die vrae soos vervat in die verslag omdat dinge aan die verander is,” sê Harris.

Die navorsing is deel van ’n maandelikse projek, Global Advisor, wat deur Ipsos se kantoor in Kanada behartig word.

Die sake waaroor mense gepols word, hou verband met dit wat in die wêreld gebeur en kwessies wat die hoofstroomnuus haal.

Altesaam 17 bekommernisse word in die navorsing getoets. Dit sluit in armoede en maatskaplike ongelykheid, werkloosheid, misdaad, korrupsie, gesondheidsorg, onderwys, belasting en inflasie, immigrasiebeheer, ekstremisme en terrorisme.

Die vraelys word aanlyn voltooi. Altesaam 19 508 mense tussen die ouderdomme van 16 en 74 jaar het die jongste vraelys voltooi. Benewens Suid-Afrika word die vraelys in Australië, Brittanje, Duitsland, Indië, China, Suid-Korea, Saoedi-Arabië, Brasilië, Rusland, Amerika, Israel en Kanada voltooi.

In 2012 was werkloosheid ’n groot wêreldwye bekommernis in die 28 lande wat aan die steekproef deelgeneem het. Die jongste studie toon dat daar oor die afgelope paar jaar ’n effense afname in die kommer hieroor is.

Mense se kommer oor gesondheidsorg het sedert 2012 min of meer dieselfde gebly.

“Die laaste tien tot 20 jaar het ons vetsug by kinders en die klimaatkrisis as kwessies bygevoeg, asook sedelike verval en ekstremisme. Terrorisme was nog altyd deel van die vraelys, maar nie ekstremisme nie,” sê Harris.

Die laaste tien tot 20 jaar het ons vetsug by kinders en die klimaatkrisis as kwessies bygevoeg, asook sedelike verval en ekstremisme. Terrorisme was nog altyd deel van die vraelys, maar nie ekstremisme nie.

Die navorsers van Ipsos beskou terrorisme as erkende terroriste se handelinge, waar ekstremisme meer verband hou met ekstreme politieke of godsdienstige oortuigings.

Volgens die studie het terrorisme tussen Desember 2015 en Augustus 2016 groot kommer by inwoners van Frankryk, Brittanje, België en Duitsland gewek. Dit was ook in hierdie tyd dat hierdie lande onder terroristeaanvalle deurgeloop het.

Op Vrydag 13 November 2015 het terroriste van die Islamitiese Staat aanvalle oor die hele Parys uitgevoer. ’n Jaar later het ’n terroris met ’n vragmotor tussen ’n skare mense in gery. In Brittanje was daar in 2015 en 2016 drie noemenswaardige aanvalle. Duitsland het ook onder ’n reeks aanvalle deurgeloop.

“In 17 van die 28 lande – in tradisionele, Westerse demokrasieë soos Australië, Kanada, België en Duitsland, is die internet wyd genoeg beskikbaar om die hele land se bekommernisse oor die onderskeie sake te peil,” sê Harris.

In die ander 11 lande, waaronder Suid-Afrika, is die steekproef egter nie so verteenwoordigend van die hele bevolking nie, sê sy.

“Suid-Afrika se internet-trefwydte is in die omgewing van 75%. So jy kan nie sê dat die data wat hier uit die studie kom, alle Suid-Afrikaners verteenwoordig nie.”

Sy sê ’n mens kan wél aflei dat dit verteenwoordigend van “aanlyn Suid-Afrikaners” is.

“Dis meer die middelklas en meer gegoede mense wat aan die studie deelneem, maar die steekproef sluit jong mense, mense oor alle rassegroepe en ook mense op die platteland in.”

Van die Afrika-lande is dit net Suid-Afrika wat aan die studie deelgeneem het omdat te min burgers in ander lande toegang tot die internet het.

Ipsos-navorsers het bevind dat die grootste bekommernisse in die onderskeie lande het die afgelope 100 maande waarin die studie gedoen is (sedert 2010), redelik onveranderd gebly. Dit beteken egter nie dat die lande nie deur maatskaplike, politieke en ekonomiese maalkolke is wat plaaslik of selfs wêreldwyd ’n impak kon hê nie.

waaroor wroeg die wêreld

Waaroor wroeg die wêreld?

Dis opmerklik dat daar nie ’n enkele wêreldwye bekommernis uitstaan nie, maar eerder vyf groot bekommernisse, naamlik korrupsie op regeringsvlak, armoede, werkloosheid, misdaad en geweld, asook gesondheidsorg.

waaroor wroeg die wêreld

Soos die studie jaar ná jaar gedoen word, het die navorsers opgemerk dat daar ’n algehele verbetering in die gemoedstoestand van mense is wat hul onderskeie ekonomieë betref – ’n styging in optimisme oor die laaste paar jaar soos wat die wêreldekonomie ná 2008-’09 stelselmatig herstel het.

Die “herstel” blyk egter nog nie heeltemal van toepassing te wees op Suid-Afrika nie, waar die grootste bekommernisse in die jongste studie steeds werkloosheid en korrupsie is.

Suid-Afrika op die verkeerde pad?

Volgens aanlyn Suid-Afrikaners is die land op die verkeerde pad.

Van al die lande is net Italië meer angstig as Suid-Afrikaners oor die rigting waarin hul land beweeg.

Tog is ons kommer nie so uniek nie, meen Harris. Indië het binne ’n maand met sommer 11 persentasiepunte in sy optimisme geval!

Oor die algemeen raak mense egter minder en minder tevrede met hul lande, het die studie sedert 2012 gewys.

“Die vraag oor of jou land op die regte of verkeerde pad is, is ’n ongelooflike aanwyser, want jy sien dikwels probleme raak oor die rigting waarin ’n land beweeg nog voordat jy die spesifieke kwessies oor byvoorbeeld die ekonomie of politiek begin raaksien. Dis soos ’n radar wat jou vooraf waarsku dat daar dinge aan die gebeur is en onrus aan die broei is.”

Volgens die data is Suid-Afrikaners en die Franse ewe bekommerd oor die rigting waarin hul land beweeg, met die Spanjaarde kort op hul hakke. Die verskil is maar ’n enkele persentasiepunt.

“Die meeste mense in die wêreld, amper twee derdes, sê hul land beweeg in die verkeerde rigting. En dit is nou al lank die geval,” sê Harris.

Die enigste lande waar 50% of meer burgers redelik tevrede is, is Indië, Saoedi-Arabië en China.

Harris is egter nie te verbaas dat Suid-Afrikaners meen dat hul land op die verkeerde pad is nie. “Ons sien dit elke jaar in die landwye studies wat ons doen. So ek was nie geskok daaroor nie. Maar wat interessant is, is dat die lande wat dieselfde as ons voel, almal in Wes-Europa is: Spanje, Frankryk en Italië. Dit gaan ekonomies baie sleg met Italië en Spanje. Met die koronavirus-uitbreking in Italië gaan die onsekerheid seker net toeneem.”

Oor ’n toename in optimisme (15 persentasiepunte) onder die Britte, sê Harris: “Brittanje het ge-Brexit. Die studie is ’n maand voor (die uiteindelike) Brexit gedoen. Die arme Britte het drie jaar gesukkel om net êrens te kom . . . Uiteindelik is daar nou sekerheid vir hierdie ouens.”

Werkloosheid en korrupsie

Suid-Afrika, met ’n persentasie van 62%, loop loshande voor onder die lande wat oor staatskorrupsie en werkloosheid bekommerd is. In albei gevalle is ons kommer dubbeld soveel as die wêreldgemiddeld.

Die syfers is egter die laaste tien jaar redelik stabiel, sê Harris.

Ná Suid-Afrika volg Italië en dan Suid-Korea en Spanje. “Italië het regtig ’n probleem met werkloosheid en dit gaan ook nie goed met die ekonomie nie. Suid-Korea het ’n ekonomiese en politieke bekommernis, want hoewel hulle die laaste aantal jare ekonomies goed gevaar het, het die groei begin stagneer. Wie gaan groot beleggings maak in Suid-Korea met die politieke bedreiging wat Noord-Korea vir hulle inhou?” vra Harris.

Wat Indië se kommer oor werkloosheid betref, het hulle gewoon te veel mense wat reuse-eise aan ekonomiese ontwikkeling stel, meen Harris. Indiërs se kommer hieroor het sedert die vorige steekproef in November 2019 met 11 persentasiepunte gestyg.

In Duitsland en Nederland is min mense oor werkloosheid bekommerd. Onderskeidelik net 9% en 7% van die deelnemers aan die steekproef is bekommerd daaroor.

Volgens Harris is ’n groot probleem met Suid-Afrika se werkloosheidsyfer dat die onderwys- en opleidingstelsels nie die vaardighede produseer wat die land nodig het nie.

“Ons het aan die een kant die groot probleem met werkloosheid, maar aan die ander kant het ons ’n enorme tekort aan vaardighede. Die mense wat deur die onderwysstelsel kom, is nie in staat om die werk te kan doen wat nodig is nie.”

Sy sê ’n ander probleem is ongeskoolde arbeid. “Met die meganisering en outomatisering van die werkplek kan ’n masjien dieselfde werk doen as mense, en masjiene staak nie eintlik nie. Ons het werkloosheid oor die hele spektrum, maar veral onder die ongeskoolde werkmag.”

Die jongste werkloosheidsyfer van 29,1% is vandeesmaand bekend gemaak. Sowat 40% van Suid-Afrikaners tussen die ouderdomme van 15 en 34 is werkloos, en ook nie besig met die een of ander vorm van opleiding of tersiêre onderrig nie, sê die regering.

Soveel kinders wat klaarmaak met skool, gaan nooit in hul lewe ’n werk kry nie. Dit maak ’n mens baie hartseer.

Harris is bekommerd oor werkloosheid onder jong mense. “Soveel kinders wat klaarmaak met skool, gaan nooit in hul lewe ’n werk kry nie. Dit maak ’n mens baie hartseer.

“Ek dink nie die regering kan werk skep nie, maar ek dink die regering kan mense in staat stel om werk te skep. Ons arbeidswette is nie gunstig vir werkskepping nie.

“Dinge wat die regering wél kan doen, is om diegene wat uit die skool kom en regtig nie universiteit of TVET-kolleges toe kan gaan of ’n werk kan kry nie, deel te maak van ’n soort nasionale program waar hulle in een of ander rigting opgelei word. Ek dink aan diensplig in die ou dae, maar in plaas daarvan kan jy ’n vaardigheid aanleer. Ek dink die regering kan daar ’n baie groot rol speel.”

Harris sê die probleem met leerlinge wat nie matriek voltooi nie, is ’n ander baie groot kwessie in die land.

waaroor wroeg die wêreld

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, sê by navraag aan Netwerk24 die departement plaas jaarliks nagenoeg een miljoen graad 1-leerlinge in skole.

In 2019 het 616 754 leerlinge matriek voltooi. Hy sê dis egter belangrik om te verstaan dat almal wat “skool verlaat” voordat hul matriek geskryf het, nie noodwendig in sak en as gaan sit nie maar hulself wel in die een of ander ambag of vaardigheid bekwaam.

Ipsos het in ’n ander studie in Oktober en November 2018 onder 3 500 Suid-Afrikaners bevind dat werkloosheid onder vroue baie hoër as onder mans is. Wat meer is, is dat dit vir Suid-Afrikaners belangriker is dat ’n man eerder as ’n vrou ’n werk het. Uit die studie het dit geblyk dat 23% meen dit is belangriker dat ’n seun onderrig ontvang, as ’n meisie (19%).

Harris skryf dit toe aan die heersende patriargale stelsel wat die land net nie kan afskud nie.

Hoewel werkloosheid vir groot kommer sorg, hou onderwys Suid-Afrikaners nie juis wakker in die nag nie.

Volgens Harris is dit belangrik om daarop te wys dat die studie nie noodwendig onder lande gedoen is wat werklik probleme met hul onderwysstelsel het nie. “Ek is verbaas oor Suid-Korea wat nie bekommerd is oor sy onderwys nie, maar wel oor werkloosheid. Dit is vir my teenstrydig. Lande soos Pole (11%) en Italië (10%) hoef nie bekommerd te wees oor hul onderwys nie, want hulle stelsels is baie goed. In Israel, wat die tweede meeste van almal hieroor wroeg, is dit ’n kwessie van veiligheid in skole en aan die ander kant die mededinging tussen die Israeli’s en Palestyne, sê Harris.

Volgens Harris dra immigrante ook by tot mense se vrees om hul werk te verloor.

Wat staatskorrupsie betref, is Suid-Afrika heel bo aan die lys van 28 lande (met 58% van die deelnemers wat hieroor bekommerd is), met Rusland kort op sy hakke (57%) en dan Maleisië (53%).

Kan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping bydra tot Suid-Afrikaners se bewustheid van korrupsie? “Dit kan wees, maar Suid-Afrika was nog altyd bekommerd oor korrupsie,” sê Harris.

“Die Zuma-tydperk het dit baie vererger – van die Nkandla-kwessie en die wapenskandaal af ...”

Volgens die Ipsos-navorsing wat in November en Desember 2017 gedoen is, is dit duidelik hoe die vertroue in oudpres. Jacob Zuma en die regering se vermoë om korrupsie hok te slaan sedert 2009 aansienlik afgeneem het.

Hierdie studie is onder 3 500 Suid-Afrikaners gedoen. Sedert Mei 2009 het die vertroue in Zuma geleidelik en later drasties afgeneem. Die grootste daling was tussen Mei 2015 en Mei 2016 toe die vertroue met 15 persentielpunte gedaal het.

Aan die ander kant is Duitsland, Nederland en Swede glad nie bekommerd oor korrupsie nie. “Daar is eenvoudig genoeg geld,” meen Harris.

“Maar ek dink staatskorrupsie is ’n probleem op baie plekke, maar daar word net nie altyd daaroor gepraat nie. As ’n mens oor Duitsland praat – in die ou Oos-Duitsland was korrupsie ’n groot probleem. Italië het ook oor die jare heen probleme daarmee gehad met byvoorbeeld die mafia. Korrupsie is net nie oral so maklik om raak te sien nie.”

Misdaad en geweld is naas werkloosheid en korrupsie Suid-Afrikaners se grootste bekommernis, maar Mexiko en Peru wroeg nog meer daaroor as ons.

Armoede en maatskaplike ongelykheid

Armoede en ongelykheid is nie juis vir Suid-Afrika (nommer 18 uit die 28 lande) so ’n groot bekommernis nie – die 29% van Suid-Afrikaners wat hieroor bekommerd is, is eintlik baie na-aan die wêreldgemiddeld (34%).

Maar Harris sê dit beteken nie dat dit nié vir die land belangrik nie.

“Ons drie grootste bekommernisse, werkloosheid, korrupsie en misdaad, maak dat ons so daarop gefokus is dat ons die ander dinge as minder belangrik in hierdie stadium beskou. Dis ons drie groot probleme.

“Ons het ander groot probleme, maar ons mense meen ‘kom ons hanteer net eers hierdie drie, dan sal ons ons oor die ander bekommer’.”

Die verskille tussen ontwikkelde en ontwikkelende lande is ook sigbaar in die studie. Amerika en Swede, waar dit ekonomies baie goed gaan, is uit die aard van die saak geensins bekommerd oor armoede en ongelykheid nie.

In teenstelling daarmee is Rusland, ’n ontwikkelende land, die meeste bekommerd oor armoede en ongelykheid (60%). “Pres. Wladimir Poetin het die grondwet van die land onlangs laat verander om meer mag onder hom te sentreer. Die Russe is nie noodwendig tevrede met hul regering nie, maar die regeringsklas – die doema – het ongelooflik baie mag in Rusland.”

Ná Rusland is Chili en Hongarye die meeste oor armoede en ongelykheid bekommerd, met laasgenoemde wat van maand tot maand al meer angstig daaroor raak. Duitsland lê vierde. Harris vermoed dit is weens die instroming van immigrante en mense se vrese wat nog spruit uit die jare toe Duitsland uit ’n oostelike en westelike deel bestaan het.

“Daar was die laaste ruk ’n sterk toename in Nazi-ekstremisme in die land en die Alternatief vir Duitsland-beweging wat groot steun in die voormalige Oos-Duitsland geniet.”

Dinge waaroor Suid-Afrika nié bekommerd is nie

Belasting is nie iets waaroor Suid-Afrikaners juis wroeg nie, blyk uit die studie. “Die lande wat bekommerd is oor belasting, is almal lande wat ekonomies redelik goed vaar: Saoedi-Arabië het te veel geld, maar sy burgers betaal ook baie belasting. België en Kanada betaal ook baie belasting. Almal is Wes-Europese lande, behalwe Saoedi-Arabië. In Swede is die hoë belasting nie ’n probleem nie, want hulle kry waarvoor hulle betaal.”

Volgens Harris is dit weer eens ’n geval dat Suid-Afrika net soveel ander groot probleme het dat belasting nie tans op die radar is nie.

Gesondheidsorg is ook nie iets waaroor diegene wat aan die studie deelgeneem het, te veel wakker lê nie. “Brittanje se spanning daaroor kom oor gesondheidsorg wat ’n groot kwessie in die verkiesing was.

“Dis vreemd dat Turkye (met die minste spanning hieroor – 3%) nie hieroor bekommerd is nie as jy dink hoe baie vlugtelinge daar is.”

Volgens Harris sal die kommer in China, wat die sesde grootste kommer oor gesondheid het, nou weens die uitbreking van die Covid-19-virus toeneem. Dieselfde geld Japan en Maleisië, asook Australië, “want as die res van die wêreld nies, dan begin Australiërs die ritteltits kry”, sê Harris.

Klimaatsverandering

Dit is een van die nuwer toevoegings tot die studie. Hoewel die klimaatkrisis en ander kwessies wat die omgewing bedreig, die hele wêreld raak, kry dit nog nie oral ewe veel aandag nie. Dit kan wees weens ’n gevoel van vertraagde verantwoordelikheid, of omdat die ander probleme tans gewoon groter is.

Dit lyk of Kanada, China, Duitsland, Brittanje en Australië die meeste angs oor klimaatsverandering ervaar. Australië loop loshande voor weens die bosbrande daar, sê Harris. “Duitsland het ’n sterk gewete daaroor. Duitsland is ’n uiters geïndustrialiseerde land, so besoedeling is vir sy burgers ’n probleem. In China kan hulle (weens lugbesoedeling) nie eens aldag die son sien nie.”

Dis interessant dat Nederland, wat hom op sy groen praktyke roem, onder die tien bekommerde lande oor klimaatsverandering is. Harris sê Nederland sukkel met metaangas weens die talle beeste daar.

Immigrasiebeheer is nie werklik op Suid-Afrika se radar nie – aan die een kant omdat daar soveel teenstrydighede in die immigrasiebeleid is, sê Harris. Daarteenoor is Duitsland en Amerika erg bekommerd oor die instroming van immigrante.

Dit is iets waaroor Suid-Afrika feitlik geensins bekommerd is nie, maar wat hulle inderdaad meer behoort te pla, sê Harris.

Sedelike verval

“Dit is nie nou al iets wat mense wêreldwyd baie laat wroeg nie, maar dit sal in die toekoms dalk toeneem. China en Japan, wat die meeste en tweede meeste kommer hieroor het, is baie bekommerd oor oorsese invloede op hul tradisionele gebruike.

Saoedi-Arabië en die VSA is ook bekommerd dat die instroming van mense hul moraliteit negatief kan raak. Hulle (die Amerikaners) is eintlik ongelooflik konserwatief. As jy gaan kyk na hul politieke opvattings, is dít waarom Donald Trump die president is,” sê Harris.

Sy sê Suid-Afrika is ook oor rassegrense heen konserwatief.

Is gendergeweld hier dalk die resultaat van sedelike verval? “Gendergeweld is ’n reuse-probleem vir vroue en sommige mans in Suid-Afrika, maar oor die algemeen kry dit nie genoeg aandag nie. Mense maak nog nie die verband tussen gendergeweld en sedelike verval nie . . . Ons behoort hieroor bekommerd te wees.”

Inflasie, terrorisme en ekstremisme is ook nie vir Suid-Afrika problematies nie.

“Ons inflasie is in bedwang. Indien Zimbabwe op die lys was, was dit nommer een daar,” meen Harris.

Terrorisme is feitlik vir geen Suid-Afrikaners ’n bekommernis nie, wat op 1% die heel minste kommer hieroor toon.

Die land wroeg wel met een persentasiepunt meer oor ekstremisme, “weens ekstremisme onder politici en die publiek aan die linker- en regterkant van die politieke spektrum”, maar dis steeds nie probleem nie.

Dit sal interessant wees om te sien waaroor Suid-Afrikaners bekommerd is wanneer hul gedagtes nie meer deur staatskorrupsie, werkloosheid en misdaad oorheers word nie. Dalk kan vinniger optrede teen korrupte staatslui ’n bietjie ruimte skep om aandag op iets soos sedelike verval te vestig, wat waarskynlik aanleiding tot baie van die misdaad in die land gee.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.