Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Wat jy moet weet van die Covid-19-miljarde

In ’n tyd waarin Suid-Afrika op sy weerloosste is, word geld om die impak van die koronaviruspandemie op die land en sy mense te verlig, links en regs “geplunder”. Jana Marx het gaan kyk waar die geld vandaan kom, waarvoor dit bedoel is en hoe dit aangewend word.

Tenderbedrog in ’n tyd van lewe en dood.

Só beskryf ’n politieke ontleder die bewerings van korrupsie en onbehoorlike besteding van die koronavirushulpfondse.

Pres. Cyril Ramaphosa was skerper in sy weeklikse nuusbrief: “Om te probeer voordeel trek uit ’n ramp wat daagliks van ons mense se lewens eis, is die optrede van aasvreters. Dis soos ’n trop hiënas wat ’n gewonde prooi omsingel,” skryf hy.

In dié plofbare nuusbrief het hy belowe dat oortreders ernstig gestraf sal word.

“Korrupsie tydens ’n nasionale ramp is ’n besonder afskuwelike soort misdaad.

“ ’n Mens kan ook nie verduidelik waarom ’n raadslid noodkospakkies wat vir die armes bedoel is, vir hul eie familie sal opgaar nie, of waarom ’n ander raadslid watertrokke op pad na arm gemeenskappe na hul eie huis sal herlei nie. Dis onmoontlik om te verstaan wat ’n hele gesin, waarvan een lid geld gesteel het wat vir werkloses bedoel is, sal dryf om op ’n kooptog te gaan, karre te koop, en vir opgraderings en skoonheidsbehandelings en selfs grafstene te betaal.”

Die president slaan die spyker op die kop.

Om te probeer voordeel trek uit ’n ramp wat daagliks van ons mense se lewens eis, is die optrede van aasvreters. Dis soos ’n trop hiënas wat ’n gewonde prooi omsingel.
Cyril Ramaphosa

Nuusberigte is vrot van bewerings van mense wat hulself uit geld wat bedoel is vir kospakkies, maatskaplike toelaes, die aankoop van persoonlike beskermde toerusting (PPE’s) en die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se spesiale Covid-19-Ters-fonds verryk.

Baie van dié geld is deur gewone Suid-Afrikaners vir ’n goeie doel geskenk.

Hoe is dit moontlik dat so iets gebeur?

Die vinniger noodverkrygingsprosesse te midde van die pandemie maak die stelsel meer vatbaar vir korrupsie omdat die tesourie se normale prosesse nie gevolg hoef te word nie.

Prof. Erwin Schwella, kenner van regeerkunde en openbare aanspreeklikheid en dekaan van die Skool vir Sosiale Innovasie aan die Hugenote Kollege in Wellington, sê daar is drie “hekkies” wat korrupsie moet stuit, selfs in die geval van noodverkrygings waar die regulasies minder streng is:

• Bevoegdheid om tenderprosesse behoorlik te kan deurvoer;

• ’n Verbintenis of morele oortuiging om die regte ding te doen; en

• ’n Goeie toesighoudende proses.

“Ons weet daar is ’n beperkte bevoegdheid onder amptenare en byna geen verbintenis om dinge reg te wil doen nie.

“ ’n Mens sou dink dat, selfs as mense nie bevoeg is nie, daar in ’n lewe-en-dood-situasie soos hierdie nie korrupsie sal plaasvind nie. Dat dit wel plaasvind, dui op die graad van morele verval,” sê Schwella.

“ ’n Tender moet deur ’n senior uitvoerende politieke ampsbekleder of amptenaar afgeteken word. As hulle verkeerd of korrup afteken, moet ’n ouditeur dit kan optel en dit moet selfs tot strafregtelike optrede kan lei.

“Die nasionale gesondheidsdepartement verskaf geld uit sy begroting sodat die uitvoerende funksies op provinsiale en munisipale vlak verrig kan word. Die LUR’e van gesondheid speel ’n regstreekse rol in die verkrygingsprosesse,” sê Schwella.

’n Tender moet deur ’n senior uitvoerende politieke ampsbekleder of amptenaar afgeteken word. As hulle verkeerd of korrup afteken, moet ’n ouditeur dit kan optel en dit moet selfs tot strafregtelike optrede kan lei.
Dr. Bandile Masuku, LUR vir gesondheid in Gauteng. Foto: City Press

Dr. Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, word nou betrek by ’n onreëlmatige tender waarby koning Thandisizwe Diko, die man van Ramaphosa se eie woordvoerder, Khusela Diko, na bewering betrokke is.

Masuku is met spesiale verlof hangende die ondersoek na die tender ter waarde van R125 miljoen vir PPE. Hy ontken die bewerings teen hom.

Volgens Schwella is die premier die persoon met die finale toesig in ’n provinsiale tenderproses. David Makhura, premier van Gauteng, ontken hy het van dié tender geweet.

“As hy nie geweet het nie, het hy ’n probleem, want hy moet dit sy werk maak om te weet. As hy geweet het, het hy ’n groter probleem . . .”

Volgens Schwella lyk dit wel asof die ANC besef hy is besig om vir homself ’n geweldige politieke verleentheid te skep. “Sy steun neem dramaties af en daarom moet hy dinge begin regkry. Die nuut ontdekte politieke wil het dalk meer met dalende steun as verhoogde moraliteit te doen,” meen Schwella.

Ondersoeke kring uit

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se ondersoeke na koronavirusbedrog strek nou al oor al nege provinsies, het Kaizer Kganyago, woordvoerder, aan Netwerk24 gesê.

Die SOE is een van nege instellings wat deel vorm van ’n nuwe “sentrum” wat deur Ramaphosa aangesê is om die talle bewerings van korrupsie en onreëlmatige besteding van Suid-Afrika se hulpverleningsgeld te ondersoek.

Hulle het die bevoegdheid om alle beweringe van onreëlmatighede te ondersoek (en hoef dus nie vir elke ondersoek weer aansoek by die president te doen nie).

In Gauteng alleen, ondersoek die SOE volgens Kganyago “nagenoeg 90 maatskappye”.

Die Oos-Kaap was onlangs in die nuus met sy omstrede “motorfiets-ambulanse” ter waarde van R10 miljoen. Dit is een van onreëlmatighede wat die SOE in dié provinsie ondersoek.

Die SOE het verlede Donderdag ’n klopjag op die kantore van die Matzikama-munisipaliteit in die Wes-Kaap uitgevoer. Drie deursoeking- en beslagleggingsoperasies is tegelykertyd by drie persele gedoen, onder meer die munisipale kantore op Vredendal en die kantore van ’n verskaffer wat PPE’s ten bedrae van R1 miljoen aan die munisipaliteit gelewer het.

Ander eenhede in die “sentrum”, soos die Valke, is ook hard aan die werk.

Hulle het verlede Donderdag ’n klopjag op die Nkomazi-munisipaliteit in Mpumalanga uitgevoer ná bewerings van bedrog en onreëlmatige verkrygingsprosesse

Brig. Hlangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, sê by navraag dié tenders hou almal verband met PPE’s ter waarde van R27 miljoen.

Mulaudzi sê die Valke sit nie en wag vir die SOE om sake na hulle te verwys nie; hulle is intussen besig met hul eie ondersoeke.

Llewellyn Prince berig die Openbare Beskermer (OB) se kantoor is die afgelope vier maande oorval met Covid-19-verwante klagtes wat beweerde korrupsie met tenders insluit.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, het Maandagoggend in ’n verklaring gesê sowat 450 mense het haar kantoor genader met klagtes omdat hul aansoeke vir die R350-toelae vir werkloses deur die departement van maatskaplike ontwikkeling afgekeur is.

Verder het die OB-kantoor ook talle klagte oor beweerde korrupsie met Covid-19-tenders ontvang, soos ’n R400 miljoen-tender vir e-leerdienste in die Oos-Kaap, die Beitbrug-grenspos-omheiningsprojek van R37 miljoen en ’n tender van R30 miljoen vir inligtingstegnologie in Gauteng.

Wat kan gedoen word om die korrupsie te keer?

Die DA het Vrydag Tito Mboweni, minister van finansies, se beroep op provinsiale LUR’e van gesondheid om die name van al die maatskappye aan wie hul PPE-tenders toegeken het, bekend te maak, geloof.

Mkhuleko Hlengwa, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), het Vrydag aan Netwerk24 gesê die komitee gaan ’n spesiale vergadering oor die kwessie skeduleer al is die parlement in reses. “Die komitee beskou korrupsie in ’n ernstige lig en glo dit moet geprioritiseer word.”

Karam Singh, hoof van ondersoeke by die waghondorganisasie Corruption Watch, sê Suid-Afrika het ’n strukturele probleem ten opsigte van die manier waarop aankope gedoen word en om bedrog en korrupsie op te spoor wanneer dit plaasvind. Volgens Singh kom die probleem regdeur die staatsektor voor.

“Ons het groter deursigtigheid nodig. Alle verkrygingsdata moet gereeld gepubliseer word om onreëlmatige prysbepaling en moontlike sameswering, botsing van belange en baantjies vir boeties te bespeur.”

Die C-19-koalisie, wat organisasies en waghonde soos die Ahmed Kathrada-stigting, Corruption Watch, Freedom Under Law en Johannesburg Against Injustice insluit, het Donderdag in ’n verklaring selfs voorgestel diegene met geen agtergrond van werk op ’n sekere gebied, moet summier gediskwalifiseer word in tenderprosesse. Hulle meen ook maatskappye wat betrokke is by Covid-19-korrupsie se name behoort op ’n spesifieke register te verskyn om te verhoed dat daar hoegenaamd in die toekoms met hulle sake gedoen word.

koronavirus

Die verskillende verligtingskemas en hulpfondse

Die staat het verskeie hulpfondse wat deur private individue aangevul word om die impak van die pandemie te verlig.

In Maart het die regering hom toespits op belastingverligting, die beskikbaarstelling van rampverligtingsfondse, noodverkrygingsprosesse, steun aan werkers deur middel van die WVF en finansiering aan kleinsakeondernemings.

Rampverligtingsfondse kan beskikbaar gestel word ingevolge die Wet op Rampbestuur.

In April het Mboweni ’n inspuiting van R800 miljard aan die ekonomie belowe. Hiervan is R500 miljard ’n fiskale hulppakket wat Ramaphosa in April aangekondig het.

Die R500 miljard kom van ’n herprioritisering (rondskuif) van bestaande geld in die begroting en uit lenings van skenkers. Skenkers sluit in genoteerde maatskappye, invloedryke individue, multilaterale ontwikkelingsbanke wat buurlande bystaan, die Afrika-Ontwikkelingsbank, die Nuwe Ontwikkelingsbank (oftewel die Brics-bank) en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

Die tesourie het die grootste herprioritisering by algemene staatsdienste en maatskaplike ontwikkeling gedoen, gevolg deur onderwys en kultuur, ekonomiese ontwikkeling, veiligheid en sekuriteit. By gesondheid is die minste skuiwe gemaak.

1. Gesondheid

Volgens die tesourie se aangepaste begroting is R20 miljard aan munisipaliteite en provinsiale regerings beskikbaar gestel om hulle op die koronaviruspandemie voor te berei.

Volgens die tesourie sluit dit ongeveer R466 miljoen se rampbestuursfondse aan provinsiale departemente in om PPE’s aan te koop.

Francois Williams het onlangs berig net Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes het die volle bedrag uit die vorige jaar se begroting wat hiervoor toegeken is, bestee.

Wanneer geld nie voor die einde van ’n sekere boekjaar bestee word nie, sal die tesourie dit vir ’n ander doel aanwend.

’n Verdere R150 miljoen is op 8 Mei aan munisipaliteite oorbetaal uit die 2020-’21-boekjaar se begroting, maar nog net Gauteng, KwaZulu-Natal, Noordwes en die Wes-Kaap het oor die besteding daarvan verslag gedoen.

Dit is geld wat bedoel is vir die ontsmetting van openbare geriewe, tydelike sanitasie en afval- en vullisverwydering. Die munisipaliteite is veronderstel om die geld van Mei tot Oktober vanjaar te bestee.

Byna R1,5 miljard van die departement van water en sanitasie se begroting is hertoegewys sodat provinsies dringend watertenks kon verskaf en dit vol kan hou op plekke waar mense nog nie toegang tot vars water het nie.

2. Oorlewing

Alle maatskaplike toelae wat die staat reeds toeken (kindertoelae, pleegsorg, gestremdheid, ens.), is vir ses maande – dus van Mei tot Oktober – verhoog, berig Hanlie Stadler.

• Kindertoelae: Dit het van R445 per maand in Mei met R300 (tot R745) gestyg, en van Junie tot Oktober met R500 (tot R945).

Alle ander toelae het met R250 per maand vir die volgende ses maande gestyg.

• Ouderdomstoelae: Styg van R1 860 tot R2 110 vir mense tot 75 jaar oud en van R1 880 tot R2 130 vir mense ouer as 75 jaar.

• Gestremdheids- en sorgafhanklikheidstoelae: Styg van R1 860 tot R2 110.

Die bykomende R50 miljard uit die hulpfonds sluit ’n spesiale Covid-19- maatskaplikenoodtoelae in, wat vir ses maande geld.

Dié toelae van R350 per maand is bedoel vir mense wat werkloos is en tans geen ander maatskaplike toelae of steun van die WVF ontvang nie. Die departement van maatskaplike ontwikkeling administreer dié toelae.

Teen 22 Julie het reeds 4,5 miljoen werklose mense hierdie toelae ontvang. Dis ’n totaal van R2,2 miljard vir aansoeke tot en met Mei.

Sassa het in ’n verklaring gesê hy het begin met dubbelbetalings vir die R350-toelae vir Junie en Julie, nadat hy agter geraak het met aansoeke.

Die departement van maatskaplike dienste het in samewerking met die Solidariteitsfonds, nieregeringsorganisasies en gemeenskapsorganisasies ver meer as die teiken van 250 000 kospakkies landwyd uitgedeel. Meer daaroor later in die artikel.

3. Steun vir maatskappye en werkers

Covid-19-Ters

Die WVF se tydelike Covid-19-verligtingskema het teen 27 Julie reeds sowat R34 miljard in April, Mei en Junie aan salariseise uitbetaal en 7,5 miljoen werkers gehelp. Daar is in totaal van R40 miljard hiervoor bewillig en die WVF glo hy sal die volle bedrag gebruik.

Die skema, wat aanvanklik op 30 Junie ten einde sou loop, is tot 15 Augustus verleng. Uitbetalings sal dus ook vir Julie en die helfte van Augustus gedoen word.

Elvira Wood berig R16,5 miljard van die R34 miljard is aan Gautengse werknemers betaal nadat 256 393 werkgewers hier eise ingedien het.

Die minste eise is van werkgewers in die Noord-Kaap ontvang. R342 miljoen is aan werknemers in dié provinsie betaal nadat 9 612 werkgewers eise ingedien het.

Betalings in ander provinsies is soos volg:

  • Wes-Kaap: 124 479 eise (met uitbetalings van R5,7 miljard);
  • KwaZulu-Natal: 96 992 eise (R5,2 miljard);
  • Oos-Kaap: 42 573 eise (R5,2 miljard);
  • Mpumalanga: 35 549 eise (R1,8 miljard);
  • Vrystaat: 33 120 eise (R1,1 miljard);
  • Limpopo: 22 619 eise; (net minder as R1 miljard); en
  • Noordwes: 21 140 eise (R960 miljoen).

Die WVF sê hy het ook net meer as R1 miljard betaal aan buitelanders wat in Suid-Afrika werk.

Tshepiso Maphatane, risikohoof van die WVF, het die parlement vroeg in Julie ingelig oor 75 gevalle van bedrog met die Covid-19-Ters-skema wat ondersoek word. Talle dien reeds voor die howe.

Die departement van arbeid se Vergoedingsfonds word ook steeds ingespan. Dié fonds doen betalings aan werknemers wat die koronavirus by die werkplek opdoen. Luidens ’n verklaring op 15 Julie is 1 769 eise al by dié fonds ingedien.

Tussen 1 April en 13 Julie is R921 miljoen aan gesondheidsorgpraktisyns vir eise voortspruitend uit beserings en/of siekte aan diens uitbetaal.

Hulp aan klein, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s)

R200 miljard se kredietwaarborgskema deur handelsbanke word gesamentlik deur die Reserwebank en die nasionale tesourie gewaarborg om ondernemings te help om hul bedryfskoste te dek, soos salarisse, huur en die betaling van verskaffers.

R70 miljard is as belastingverligting gegee, meestal in die vorm van die tydelike uitstel van belastingbetalings. R130 miljard word van ander begrotingsitems bekom wat nou nie meer prioriteit is nie.

Sowat 8 500 ondernemings het teen 23 Julie reeds hierby baat gevind. Byna 14 000 aansoeke is toe nog oorweeg.

Die reëls vir hierdie skemas is intussen verslap om meer ondernemings te kan help.

Die meeste banke het betalingsvakansies vir ’n maksimum van drie maande toegestaan aan mense wie se inkomste verminder het omdat hulle gedurende die strengste fases van die inperking nie kon werk nie.

Die hulp vir KMMO’s is aangevul uit skenkings van welgestelde Suid-Afrikaners soos die Ruperts, die Oppenheimers, Patrice Motsepe en geaffilieerdes.

  • Nicky en Jonathan Oppenheimer het teen 29 Julie al 90% van die geld in die South African Future Trust (SAFT) uitbetaal (R1,25 miljard). Luidens die familie se inligting is 9 387 KMMO’s en byna 90 000 werknemers hierdeur gehelp. SAFT het hande gevat met Absa, FirstRand Bank, Nedbank en Standard Bank.
  • Die Ruperts en Remgro Bpk. se Sukuma-verligtingsprogram vir klein- en middelslagondernemings, wat ook R1 miljard beskikbaar gestel het, het binne etlike dae nadat dit op 23 Maart begin is, volle kapasiteit bereik. Trouens, daar was ná drie dae al 10 000 aansoeke, lui ’n verklaring deur Business Partners, wat die fonds bestuur. Aansoeke is gesluit nadat daar aansoek gedoen is om hulp ver bo die beskikbare R1 miljard.
  • Op 28 Maart het die sakeman Patrice Motsepe en verwante maatskappye soos die Motsepe-stigting ’n verdere R1 miljard beskikbaar gestel. Motsepe het sy geld beskikbaar gestel vir PPE’s vir gesondheidswerkers, handreinigers en ander ontsmettingsmiddels vir armes, die voorsiening van watertenks en rioolgeriewe in arm gemeenskappe op die platteland en in stedelike gebiede, die bou van bykomende klaskamers in hulpbehoewende skole en om sielkundige dienste beskikbaar te stel.

Ten spyte van al die ingrypings het die kredietburo Trans Union onlangs in ’n aanlyn ondersoek bevind dat nege uit tien kleinsakeondernemings in Suid-Afrika klippe kou weens die staat van inperking.

Netwerk24 het berig hulle sukkel óf om sake aan die gang te hou of het klaar tou opgegooi en (minstens vir eers) hul deure gesluit. Boonop vrees net minder as die helfte (47%) dat hul ondernemings dalk nie die pandemie gaan oorleef nie.

Tussen 2,5 miljoen en 3,6 miljoen Suid-Afrikaners het in April vanjaar hul werk verloor. Nagenoeg die helfte van hulle het hul werk permanent verloor. Die ander helfte is tydelik afgelê of op onbetaalde verlof geplaas.

kleinsake

Daar is ook kleiner fondse gestig om spesifieke beroepe by te staan. ’n Voorbeeld is die fonds ter waarde van R1 miljoen om joernaliste te help wat tydens die pandemie finansieel sukkel. FirstRand en sy filiale het R500 000 geskenk en MTN R500 000. Die fonds is gestig deur die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef).

Skuldverligting en hulp aan kleinsakeondernemings en spaza-winkels

Die staat se kleinsakefinansieringsagentskap (Sefa) het tot en met 22 Mei 35 865 aansoeke vir sowat R5 miljard se hulp ontvang, maar nog net 1 501 aansoeke teen daardie datum goedgekeur.

In daardie stadium was nog net R530 miljoen uitbetaal en kon 21 580 werkgeleenthede beskerm word, het Lindokuhle Mkhumane, waarnemende direkteur-generaal van kleinsakeontwikkeling, gesê.

Netwerk24 het Moira Mogomotsi, woordvoerder van die departement, vir nuwe inligting gevra, maar dit steeds nie ontvang nie.

Drie van die programme sluit in:

  • Kleinsakeverligtingskema wat lenings toestaan sodat ondernemings hul bedryfskoste kan dek;
  • Sakegroei- en veerkragtigheidsfasiliteit wat gerig is op KMMO’s wat plaaslik ontsmettingsmiddels vervaardig; en
  • Spaza-winkel-ondersteuningsprogram.

Sowat R100 miljard se lenings

Die regering het vroeg reeds gesê hy sal sowat R100 miljard moet leen om die R500 miljard-hulppakket aan te vul. Teen 29 Julie het Suid-Afrika al altesame sowat $5,6 miljard (meer as R97 miljard teen die huidige wisselkoers) vir die koronaviruspandemie geleen.

  • Die Afrika-ontwikkelingsbank het op 23 Julie ’n lening van $288 miljoen aan Suid-Afrika goedgekeur. Lees meer hier.
  • Die Nuwe Ontwikkelingsbank, oftewel die Brics-bank, het in Junie $1 miljard (sowat R17,4 miljard) aan Suid-Afrika geleen. Dié geld word in een paaiement aan Suid-Afrika oorbetaal.
  • Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het Suid-Afrika se versoek om nood- finansiële hulp ten bedrae van $4,3 miljard toegestaan. Dié bykomende finansiering is ’n laerentelening wat die regering se fiskale hulppakket gaan aanvul.
  • Mboweni het gesê die land wil ook sowat $2 miljard by die Wêreldbank leen.

Invloedryke Suid-Afrikaners en genoteerde maatskappye het ook bykomende steun gebied aan die staat se gesondheidsreaksie:

Naspers het R1,5 miljard bygedra, waarvan R500 miljoen na die Solidariteitsfonds is. Die ander R1 miljard is gebruik word om beskermende drag en toerusting asook ander mediese voorraad in China aan te koop om Suid-Afrikaanse gesondheidswerkers te ondersteun. Dis in samewerking met die Chinese regering en die internet-reus Tencent gedoen. Netwerk24 het berig Ramaphosa het hierdie PPE’s reeds in ontvangs geneem en dis na hospitale versprei.

Teen 14 April kon die organisasie Business for South Africa (B4SA), wat geskep is om die private sektor se hulp en kundigheid te koördineer, reeds mediese toerusting van R400 miljoen vir gesondheidspersoneel in die staats- en private sektor aangekoop, danksy die ruim skenkings.

Netwerk24 het berig daar is met die hulp van die Solidariteitsfonds, die Motsepe-stigting, RMB en Naspers 900 000 steriele handskoene; 20 000 gesigskerms; 1,12 miljoen N95-maskers; 6 miljoen chirurgiese maskers vir gesondheidswerkers; 8,5 miljoen chirurgiese maskers vir pasiënte; en 200 ventilators aangekoop.

Ninety One en Ethos Private Equity het die Ninety One SA Herstelfonds (’n beleggingsfonds) ter waarde van R10 miljard van stapel gestuur. Die plan is om die geld van pensioenfondse in te samel. Die maatskappye wil hiermee ’n resessie beveg.

Netwerk24 het Vrydag navraag hieroor gedoen en sal binnekort meer duidelikheid kan gee oor hoe die fonds gaan werk.

Die Amerikaanse regering het deur sy ontwikkelingsagentskap (USAid) R8,6 miljoen bygedra tot die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) se plan om sogenaamde handwasstasies op 150 plekke in hoofsaaklik informele nedersettings in Suid-Afrika op te rig.

Die Amerikaners het ook deur middel van USAid altesame 1 000 ventilators en meegaande toerusting aan die land geskenk.

Die ventilators met verskepingskoste ingesluit beloop $20 miljoen en het reeds in Mei in die land aangekom, het Netwerk24 berig.

Sanlam het R2,5 miljard “van sy eie geld” beskikbaar gestel om maatskappye by te staan wat onder finansiële druk verkeer.

Al die banke het hul eie verligtingsfondse op die been gebring.

Solidariteitsfonds

Die Solidariteitsfonds word nie deur die SOE en ander wetstoepassingsowerhede vir korrupsie ondersoek nie, het die fonds aan Netwerk24 bevestig.

Dié fonds is net nog ’n manier vir die regering om in vennootskap met nieregeringsorganisasies (NRO’s) en gemeenskapsorganisasies hulp aan behoeftige gesinne te verskaf.

skeninkings

R3,05 miljard is op 29 Julie deur maatskappye, staatsamptenare en gewone mense geskenk om die impak van die pandemie te versag. Nagenoeg R3,07 miljard is tot op hede aan die fonds belowe.

Die fonds sê by navraag meer as R2,097 miljard is al goedgekeur vir uitbetalings.

Die vier fokuspunte is gesondheid (PPE’s en ander mediese toerusting), steun aan armes of humanitêre verligting (kospakkies), fondsinsameling, en opleidingsprogramme of bewusmakingsveldtogte om mense se gedrag te verander.

Sover is R1,929 miljard vir die gesondheidsreaksie aangewys, R137 miljoen vir humanitêre verligting en R31 miljoen vir opleiding en bewusmakingsveldtogte (die Solidariteitsveldtog).

Teen 29 Julie is die volgende geld al uitbetaal:

• Gesondheid: R888 miljoen

• Humanitêre verligting: R125 miljoen

• Solidariteitsveldtog: R28 miljoen

In ’n voorlegging aan die parlementêre komitee oor maatskaplike ontwikkeling in Mei, het die fonds gesê 70% tot 75% van sy geld gaan na die gesondheidsreaksie, 20% tot 25% na hulpbehoewendes (kospakkies) en 5% tot 10% na die veldtogte.

skenkings

Die Solidariteitsfonds word deur die private sektor bestuur en laat individue, maatskappye en lede van die internasionale gemeenskap toe om belastingaftrekbare skenkings te maak.

Van die grootste skenkers sluit in Mary Oppenheimer, dogter van die mynmagnaat Harry Oppenheimer, en haar dogters. Hulle het R1 miljard geskenk wat luidens ’n verklaring aangewend is vir die verligting van mense se alledaagse behoeftes soos kos, medisyne, algemene versorging en ook vir die bekamping van geslagsgeweld.

Naspers, die Elma Suid-Afrika-stigting, die Hasso Plattner-stigting en die Suid-Afrikaanse regering het ook ruim bygedra. Sien die grafika vir ’n uiteensetting van die skenkings.

Van die regulasies wat ingestel is om seker te maak die fonds se geld word reg bestuur, is onder meer oorsig deur eksterne en interne ouditeurs (onderskeidelik Ernst & Young en PwC), prokureurs wat toesig hou(ENS Africa), ’n subkomitee en ’n raad wat kyk na die toedeling van geld. Professionele dienste word pro bono gelewer.

10 miljoen

Gesondheidsreaksie (R1,929 miljard toegewys, R888 miljoen uitbetaal)

Hierdie deel van die fonds word aangewend vir die aankoop van PPE’s en ander mediese noodvoorraad. Dit was ’n korttermyn-, vinnige ingryping wat veral op die maande van Mei, Junie en Julie gerig was.

Die geld vir die gesondheidsreaksie is veel minder as die geld wat deur die regering vir gesondheid gemobiliseer word. Die doel daarvan is nie om die regering se eie verkrygingsprosesse oor te neem of te vervang nie.

Die Solidariteitsfonds wil bloot dié dinge teiken wat die regering nie vinnig genoeg kan doen nie, of kritieke goedere en dienste betaal wat buite die staat se vermoë val.

Die fonds se eerste ingrypings is op 7 April goedgekeur. Dit het R815 miljoen deur twee toelaes aan die departement van gesondheid behels om mediese voorraad en PPE’s te bekom. R670 miljoen was vir dringende mediese voorraad en PPE’s vir gesondheidswerkers in staatshospitale en klinieke; en R145 miljoen was vir PPE’s vir gesondheidswerkers in die gemeenskap.

Tot en met 29 Julie het die fonds al 41,5 miljoen PPE-eenhede ter waarde van R673,3 miljoen aangekoop. Sowat 36,6 miljoen PPE-eenhede is ontvang, en 26,9 miljoen is by staatshospitale en ander staatsgeriewe landwyd afgelaai. Dit sluit in steriele handskoene, hospitaaljurke, maskers, handreinigers, stewelbedekkers en gesigskerms.

Wat oor is sal volgens die fonds in ooreenstemming met die vereistes van die departement van gesondheid versprei word.

Voorheen is berig 2 miljoen N95-maskers wat van Future Med Co ter waarde van R94 miljoen aangekoop is, voldoen nie aan die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) se gehalte nie.

Die fonds het aan Netwerk24 gesê hy wag op nog toetse voor ’n besluit daaroor geneem word. Die maskers word bewaar totdat die fonds tevrede is met die gehalte daarvan.

Die volgende geld is tot en met 24 Julie vir die gesondheidsreaksie bestee

PPE’s

  • PPE vir gemeenskapsgesondheidswerkers: R68,6 miljoen;
  • Nood-PPE vir hospitale: R551,9 miljoen; en
  • Nood-PPE vir gemeenskapsgesondheidswerkers: R25,3 miljoen

Toetsing

  • Toetstoestelle vir die nasionale gesondheidslaboratoriumdienste: R179,8 miljoen;
  • Toetsing in akademiese laboratoriums: R28,2 miljoen.

Dr. Jonathan Broomberg, hoof van die solidariteitsfonds se gesondheidsreaksiespan, het op 17 Julie op ’n mediakonferensie gesê ’n verdere R88 miljoen is belê om virologielaboratoriums by sewe universiteite te omskep om koronavirustoetse te kan verwerk. R250 miljoen is in totaal vir toetsing toegewys, is voorheen berig.

Ventilators

• Nasionale ventilatorprojek (prototipe-ontwikkeling): R5,3 miljoen; en

• WNNR-vervaardiging van ventilators: R25,5 miljoen.

Voorheen is berig dit behels die vervaardiging van 20 000 ventilators wat R22,3 miljoen sal kos. Hierdie ventilators sal teen einde Augustus gereed wees, betyds vir die verwagte piek van infeksies teen einde September.

Die grafiek hieronder is ’n verdere uiteensetting van PPE-data tot en met 13 Julie. Die syfers word kwartaalliks hersien.

mediese toerusting

PPE in provinsies

Die Solidariteitsfonds het tot op hede 41,5 miljoen eenhede PPE’s bestel. Die tabel toon die jongste verspreiding van PPE’s na die nege provinsies.

PPE

Veldhospitale

Die Solidariteitsfonds het R405 miljoen goedgekeur om openbare hospitale in koronavirusbrandpunte van noodsaaklike mediese toerusting te voorsien.

Die Solidariteitsfonds sê by navraag die geld gaan tussen die drie brandpunte – Gauteng, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap – verdeel word om die gesondheidstelsel gereed te kry vir die piek van infeksies.

Sy skenking is hoofsaaklik bedoel vir noodsaaklike hoësorgtoerusting, wat hospitaalbeddens, ventilators en hoëvloei-suurstofmasjiene insluit.

Die meeste geld is aan Gauteng toegeken – R209 miljoen om hoësorgtoerusting te bekom en die tydelike hospitaalgeriewe by Nasrec en in Pretoria aan te vul.

Die Wes-Kaap het R120 miljoen ontvang om beddens en ventilators te bekom.

Vir die Oos-Kaap is R76 miljoen goedgekeur. Dié provinsie ondervind ’n groot gebrek aan hospitaalbeddens.

In plaas van ventilators is daar ook hoëvloei-suurstofmasjiene aangeskaf, wat kostedoeltreffender is.

Humanitêre hulp: Kospakkies en hulp teen geslagsgegronde geweld (R137 miljoen toegewys, R125 miljoen uitbetaal)

Tot op 24 Julie is geld so bestee:

• Kospakkies aan 300 000 huishoudings: R117,3 miljoen;

• Steun teen geslagsgegronde geweld (nasionale skuilingbeweging): R7,6 miljoen

Kospakkies word in samewerking met ’n hele klomp rolspelers soos volg toegedeel en versprei:

• 25% deur die departement van maatskaplike ontwikkeling se Community and Nutrition and Development Centre (CNDC)

• 50% deur groot nieregeringsorganisasies wat kos versprei, soos Food Forward South Africa, Afrika Tikkun, Islamic Relief en die Lunchbox Fund.

• 25% deur ’n reeks gemeenskapsorganisasies en godsdiensgebaseerde organisasies, wat die SA Raad van Kerke, die C-19 People’s Coalition, Hope Africa en die Rural Democracy-trust insluit.

Soveel kospakkies is tot en met 24 Julie versprei:

• 59 811 deur die departement van maatskaplike ontwikkeling se Community and Nutrition and Development Centre (CNDC)

•151 276 deur groot nieregeringsorganisasies wat kos versprei, soos Food Forward South Africa, Afrika Tikkun, Islamic Relief en die Lunchbox Fund.

• 69 000 kospakkies deur 17 gemeenskapsorganisasies en godsdiensgebaseerde organisasies, wat die SA Raad van Kerke, die C-19 People’s Coalition, Hope Africa en die Rural Democracy-trust insluit.

• 23 500 koskoopbewyse is in samewerking met die SA Raad van Kerke versprei.

Opleiding/veldtogte (Solidariteitsveldtog): R31 miljoen toegewys, R28 miljoen uitbetaal

Só is geld tot en met 24 Julie bestee:

• Radio-opvoedingsveldtog: R7 miljoen

• Vervaardiging en verspreiding van opvoedkundige materiaal: R1,33 miljoen;

• Gedragsveranderingsveldtog: R2,13 miljoen;

• Citizens in Solidarity-produksie: R2,72 miljoen; en

• Citizens in Solidarity-media: R14,6 miljoen.

Hoe bepaal die Solidariteitsfonds die aanvraag?

Die nasionale departement van gesondheid doen maandeliks vooruitskattings oor PPE-behoeftes. Dié vooruitskattings is gegrond op epidemiologiese modelle wat die koronavirusinfeksiekoers voorspel.

Dit word in ooreenstemming met die Wêreldgesondheidsorganisasie se riglyne gedoen, wat bepaal hoeveel PPE’s per gesondheidswerker benodig word. Staatsgeriewe doen opnames en stel die Solidariteitsfonds van tekortkominge in kennis.

Hoe werk ’n tenderaansoek aan die Solidariteitsfonds?

B4SA hanteer die Solidariteitsfonds se verkrygingsprosesse. Die organisasie verwys alle tendervoorleggings na die Solidariteitsfonds se fidusiêre komitee vir oorweging.

Dié komitee grond sy besluit op die volgende kriteria:

• Hoe dringend is die aankoop?

• Slaag die goedere die gehaltetoets?

• Is dit die beste prys?

• Wat is die aansoeker se status ten opsigte van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en is hy plaaslik geleë? As aan die eerste drie kriteria voldoen is, sal die Solidariteitsfonds voorkeur gee aan plaaslike ondernemings en SEB-verskaffers.

Sodra die komitee sy besluit geneem het, word die aansoek op ’n aanlyn verkrygingstelsel afgehandel.

Hoe besluit die Solidariteitsfonds watter provinsie of hospitaal kry wat?

Toekennings word gedoen op grond van hoeveel toerusting ’n gesondheidsfasiliteit reeds het, sowel as die geraamde behoefte oor ’n sekere tydperk.

PPE’s word na ’n spesifieke kliniek, hospitaal, depot of streekkantoor versprei en deur ’n verteenwoordiger van die nasionale gesondheidsdepartement in ontvangs geneem.

Toerusting word (gratis) versprei na gelang van die gesondheidsdepartement se opdragte en vooruitskattings.

Net ’n klein hoeveelheid PPE’s word vir die private sektor aangekoop en weer teen kosprys aan hulle verkoop.

Ander staatsfondse vir koronavirusverligting

Die departement van toerisme se Toerismeverligtingsfonds het R200 miljoen beskikbaar gestel om KMMO’s in die toerismesektor te steun.

Volgens Hlengiwe Nhlabathi-Mokota, woordvoerder van die department, kon die departement net 4 000 van die 7 284 aansoeke wat ingedien is, help.

Op 30 Julie was die aansoeke per provinsie soos volg:

• Oos-Kaap: 457

• Vrystaat: 134

• Gauteng: 1 017

• KwaZulu-Natal: 607

• Limpopo: 294

• Mpumalanga: 238

• Noordwes: 162

• Noord-Kaap: 124

• Wes-Kaap: 967

Die departement van landbou se Covid-19-landbourampfonds het R1,2 miljard beskikbaar gestel om die impak van die koronavirus op voedselproduksie en -sekerheid te verlig.

Aansoeke het op 22 April gesluit.

55 155 aansoeke is teen die sperdatum ontvang.

Reggie Ngcobo, ministeriële woordvoerder, het by navraag gesê 14 500 aansoeke ter waarde van R515 miljoen is goedgekeur en die meeste aansoekers het hul koopbewyse by landbou-insetverskaffers landwyd gaan haal.

“Die departement moet nog ’n finale rekonsiliasie doen omdat verskaffers nog besig is om fakture in te dien vir die koopbewyse wat afgehaal is,” sê sy.

Die departement van sport, kuns en kultuur het ’n R150 miljoen-verligtingsfonds om kunstenaars, sportlui en tegniese personeel te ondersteun. Provinsiale departemente het gesamentlik nog R50 miljoen beskikbaar gestel, wat die totaal op R200 miljoen te staan bring.

Aansoeke vir hulp het op 6 April gesluit.

Op 3 Augustus is die volgende syfers bekend gemaak:

• Altesame 5 322 aansoeke is ontvang, waarvan 4 602 in aanmerking gekom het vir hulp;

• 117 aansoeke moet nog afgehandel word;

• ’n Totaal van R61 miljoen is al aan begunstigdes uitbetaal en ’n verdere R77 miljoen is toegewys vir ’n “tweede fase” van betalings;

• Die voorgestelde bedrag per aansoeker in die tweede fase is R2 200 per maand (R95 tot R100 per dag) en sal drie maande lank betaal word; en

• 11 666 aansoekers kan uit die R77 miljoen betaal word, waarvan:

• 1 818 kunstenaars teen R12 miljoen ÷ 6 600 (R2 200 x 3 maande)

• 9 848 sporyvroue en -mans teen R65 miljoen ÷ 6 600 (R2 200 x 3 maande).

Die departement werk saam met die departement van kleinsakeontwikkeling en het ’n verdere R22 miljoen weggesit vir kunsinstellings.

Die Solidariteitsfonds het ook 10 000 kos- en kontantkoopbewyse van R700 elk beskikbaar gestel (in totaal: R7 miljoen).

Meer oor:  Koronavirus  |  Tenderbedrog  |  Korrupsie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.