Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Water: ‘Miljarde verlore weens probleme met infrastruktuur’

Swak infrastruktuur bedreig watersekerheid en die opknapping van die land se waterinfrastruktuur is dus een van die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie se belangrikste prioriteite. Jana Marx het ondersoek ingestel na die omvang van dié probleem.

’n Gemeenskaplike staankraan in ’n informele nedersetting. Foto: Ian Carbutt

“Waterinfrastruktuur wat onklaar raak, lek nie net water nie, maar ook geld. Die land verloor jaarliks miljarde rand se inkomste weens waterlekke omdat infrastruktuur oud is en nie in stand gehou word nie,” het Lindiwe Sisulu. minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, aan Netwerk24 gesê.

Die “finansiële lekkasies” vind plaas wanneer water by gebruikers uitkom, maar hulle nie daarvoor betaal nie of rekeninge bloot nie uitgereik word nie.

Sy sê dié geld kon eerder vir ander projekte, soos nuwe grootskaalse infrastruktuurbeleggings, gebruik gewees het om die gehalte van waterdienste te verbeter.

Die Vaaldamwal, met sy oorloop en geslote sluise. Foto: Felix Dlangamandla

Die toestand van waterinfrastruktuur

Gebrekkige instandhouding is ’n brandpunt in die ouditeur-generaal van Suid-Afrika (OG) se jongste ouditverslae (2018/2019): “Die oudits het weer ’n aantal tekortkominge in die ontwikkeling en instandhouding van infrastruktuur geïdentifiseer,” lui Kimi Makwetu se gekonsolideerde verslag oor munisipaliteite.

Volgens die OG is infrastruktuurontwikkelingsprojekte deurspek van onreëlmatige besteding, onderbesteding van begrotings, en verkeerde aankoopprosesse (tenders). Dis boonop ’n groot probleem dat projekte sloer en nie klaarkom nie.

Makwetu se grootste kommer is die “gebrek aan aandag” wat infrastruktuur vir water en riolering geniet. Hy sê in sy munisipale ouditverslag die toestand van infrastruktuur by meer as ’n derde van die munisipaliteite is bloot nie geoudit nie, met 41% van munisipaliteite wat nie beleid vir infrastruktuur het nie.

“Dit is dan nie verbasend nie dat 36% van die munisipaliteite wat vir waterdienste en verwante infrastruktuur verantwoordelik is, waterverliese van meer as 30% aangeteken het,” lui die verslag.

In ’n ander verslag, spesifiek oor die departement van water en sanitasie, meen Makwetu die departement van water en sanitasie se finansiële krisis is hoofsaaklik te wyte aan ’n tekort aan voldoende beplanning van infrastruktuurprojekte en om die begrotings by dié beplanning aan te pas.

Kimi Makwetu, ouditeur-generaal van Suid-Afrika. Foto: Daily Sun

Die South African Institution of Civil Engineering (Saice) het in sy vyfjaarlikse evaluering van die land se infrastruktuur bevind die huidige infrastruktuur kan nie die druk van ’n groeiende bevolking sonder goeie bestuur hanteer nie.

Hoewel dit dalk nie so ooglopend sleg gaan in die groot stede nie, het Saice met die laaste verslag in 2017 al gewaarsku dat mediumtermynbeleggings nodig sal wees om ernstige probleme in die toekoms te voorkom.

Probleme sluit in die veroudering van infrastruktuur, swak gehalte, swak instandhouding, vermorsing van water en die besoedeling van water met rioolvuil.

Een van die nuutste infrastruktuurkrisisse is vandalisme. Trouens, Lebogang Maseko, verbonde aan die departement van water en sanitasie se kommunikasieafdeling, meen vandalisme kan watersekerheid bedreig.

Sy verwys in ’n meningstuk op 10 Julie vanjaar na berigte waar inwoners van Orange Farm, ’n nedersetting in die suide van Johannesburg, watertenks verbrand het, en inwoners van QwaQwa in die Vrystaat glo watertenkwaens se batterye gesteel het.

Die departement het op 4 Augustus vanjaar ’n verklaring uitgereik waarin hy sê vandalisme onderbreek nie net dienslewering nie, maar dit raak ook die departement en veral munisipaliteite se finansiële posisie.

Benewens vandalisme word koperpype, toerusting of mangatdeksels gesteel.

’n Betroubare diens beteken daar is ’n spoeltoilet in die huis wat in staat is om te spoel en aan die dorp se hoofwatertoevoerstelsel verbind is.

Sisulu het vanjaar al toegesien dat sowat 40 000 watertenks landwyd versprei word sodat mense tydens die Covid-19-pandemie water het.

Die werklikheid is egter dat meer as 3 miljoen Suid-Afrikaners steeds nie toegang tot enige vorm van basiese waterverskaffingsdienste het nie. Volgens inligting wat die departement op 14 Augustus aan die parlement gegee het, het 19 miljoen nie betroubare drinkwaterdienste nie en 14,1 miljoen het nie toegang tot gesonde rioolgeriewe nie.

Sowat R33 miljard per jaar is nodig om die herstel en ontwikkeling van infrastruktuur, wat teen 2030 afgehandel moet word, te befonds.

Hoewel 89% van huishoudings al toegang tot waterverskaffingsdienste het, het slegs 64% van hulle (10,3 miljoen) toegang tot “betroubare dienste” – ’n syfer wat volgens die departement van water en sanitasie se meesterplan laer is as in 1996.

’n Betroubare diens beteken daar is ’n spoeltoilet in die huis wat in staat is om te spoel en aan die dorp se hoofwatertoevoerstelsel verbind is. Werkende geriewe is nie oral ’n gegewe nie: 11% van die waterverskaffingskemas is heeltemal disfunksioneel, lui die meesterplan.

Michelle Toxopeüs, ’n navorser van die Helen Suzman-stigting, het verlede jaar geskryf Suid-Afrika se benadering tot instandhouding is reaksionêr pleks van voorkomend. Dit beteken daar word hopeloos te veel geld bestee om herstelwerk te doen wat nie nodig sou wees as daar deurlopende en vroegtydige instandhoudingswerk was nie.

’n Terugwerkende benadering is dus onnodig duur en verkort die lewensduur van die infrastruktuur.

Die Randfontein-afvalwatersuiweringsaanleg aan die Wes-Rand, nadat dit opgegradeer is. Dié aanleg was só oud en verwaarloos dat dit eintlik nie meer gewerk het nie. Foto: Getty Images

’n Mislukte poging tot herstel

Die Grondwet en die Wet op Waterdienste van 1997 bepaal dat elke mens die reg op basiese watervoorsiening en basiese sanitasiedienste het.

Die nasionale ontwikkelingsplan (NDP) van 2011 wat deur oudpres. Jacob Zuma begin is, wou juis die probleem van ongelyke waterverdeling tydens die apartheidsera oplos.

Die NDP, wat onder die voorsitterskap en ondervoorsitterskap van onderskeidelik Trevor Manuel (voormalige minister van finansies) en Cyril Ramaphosa (toe nog die adjunkpresident) opgestel is, het groot gedroom.

“Teen 2030 sal die doeltreffende bestuur van water en die gepaardgaande dienste ’n sterk ekonomie en gesonde omgewing ondersteun.

Volgens die departement van water en sanitasie se meesterplan is die kalf in 2020 egter steeds in die put.

“Al die belangrikste stedelike en nywerheidsentrums sal betroubare waterverskaffing hê, terwyl landelike gemeenskappe deur toenemend doeltreffender landbouwatergebruik ondersteun sal word.

“Natuurlike waterbronne sal beskerm word om oormatige onttrekking en besoedeling te voorkom.

“Water sal erken word as die grondslag vir bedrywighede soos toerisme en ontspanning, wat die belangrikheid van die beskerming daarvan sal beklemtoon. Waar riviere met ander lande gedeel word, sal Suid-Afrika verseker hy kom sy verpligtinge na,” het die plan belowe.

Volgens die departement van water en sanitasie se meesterplan is die kalf in 2020 egter steeds in die put.

Uiteindelik het die watersektor oor die afgelope 20 jaar misluk in sy mandaat vir waterhervorming, of die hertoewysing van water aan swart watergebruikers,” erken die meesterplan.

’n Primitiewe emmertoilet in ’n informele nedersetting. Foto: Getty Images

Suid-Afrika se beskikbare water

Suid-Afrika het volgens die Wêreldnatuurfonds 22 strategiese waterbrongebiede, 223 soorte rivier-ekostelsels en 792 soorte vleiland-ekostelsels.

Die natuurlike waterbronne is egter oneweredig versprei en die 8% van ons landoppervlakte wat uit natuurlike waterbronne bestaan, moet water aan die helfte van die Suid-Afrikaanse bevolking verskaf.

Dit was daarom noodsaaklik dat Suid-Afrika ’n gesofistikeerde infrastruktuur vir grootmaat-waterverspreiding (pyplyne, kanale, ens.) ontwikkel om waterverskaffing uit te brei na gebiede waar dit skaars is.

Ons deel boonop vier rivierdreineringskomme met die buiteland. Dié komme dra by tot 45% van die Suid-Afrika se totale riviervloei.

Benewens ons beperkte waterbronne is van Suid-Afrika se grootste ekonomiese sentra – soos Johannesburg – in ’n deel van die land waar water nie natuurlik vloei nie. Water moet kilometers ver uit onder meer die Vaaldam gepomp word om water aan Gauteng te verskaf.

Projekte wat nie klaarkom nie

Waterinfrastruktuur sluit in infrastruktuur wat water uit bronne soos riviere onttrek, die verspreiding (“conveyancing”) van grootmaat (“bulk”) water, die behandeling of suiwering daarvan vir die verskillende doeleindes, asook verspreiding op plaaslike vlakke.

Die nasionale departement is verantwoordelik vir die groot waterhulpbroninfrastruktuur, wat die damme, pyplyne en kanale insluit. Sy bateregister dui ’n pyplynnetwerk van 1 070 km aan, asook ’n kanaalstelsel wat oor die 8 100 km strek.

Die departement besit egter net 320 (6%) van die 5 248 damme in die land, hoewel hy volgens Saice verantwoordelik is vir 86,4% van water wat opgedam word. Dié 320 damme berg wel 90% van die totale volume beskikbare water in die land op enige gegewe oomblik. Die oorblywende damme is klein en vir plaaslike gebruik bestem.

Die departement beheer verder 257 waterskemas, waarvan 65 (25%) nasionale skemas is. Dis die skemas waar rouwater opgevang word en van een opvangsgebied na ’n ander herlei word. Die oorblywende skemas is waar rouwater versamel en in die onmiddellike opvangsgebied gelewer word.

Talle nuwe skemas wat bedoel is om druk op bestaande infrastruktuur te verlig, kom eenvoudig nie klaar nie.

Rouwater is water wat nog nie aan enige suiweringsprosesse onderwerp is om gehalte, kleur en reuk te verander nie.

Hierdie rouwaterstelsels is egter die laaste paar jaar onder geweldige druk. Talle nuwe skemas wat bedoel is om druk op bestaande infrastruktuur te verlig, kom eenvoudig nie klaar nie. Dit sluit in:

• Fase 2 van die Lesotho-hooglandprojek wat teen Januarie 2020 voltooi moes gewees het, sodat dié skema die Vaalstelsel se vermoë en watersekerheid vir Gauteng kon verhoog.

In Fase 2, wat in 2010 goedgekeur is en waarvoor R7,3 miljard begroot is, wou die regering ’n nuwe dam bou wat 165 m diep is, wat deur ’n 38 km lange watertonnel aan die Katsedam verbind moet word. Die projek is egter vyf tot sewe jaar agter skedule, wat ’n baie groot risiko inhou vir die digbevolkte ekonomiese hartland van Suid-Afrika sou daar weer ernstige droogtes wees.

• Watervoorraad na die Nelson Mandelabaai-metro is beperk weens ’n veeljarige vertraging om fase 3 van die Nooitgedact-laagwaterskema te voltooi. Dié waterskema moet water van die Gariepdam behandel en die pyp is veronderstel om ’n groter toevoer van die Oranjerivierskema af te verseker.

• Die Giyani-grootmaatwaterprojek in Limpopo wat in 2014 deur Zuma begin is om drinkwater te verskaf aan 55 dorpies in Limpopo, is vertraag en werk is gestaak weens tenderonreëlmatighede en wanbetalings aan die nasionale departement. Daar is hofsake hieroor aan die gang. Dié projek kos nou al byna R3,3 miljard en die meeste van die dorpies het steeds nie water nie.

• Die verhoging van die Hazelmeredam-wal in KwaZulu-Natal en van die Tzaneendam in Limpopo. Die vertragings sluit in kontrakgeskille, onwettige mynboubedrywighede en watertekorte. Dit moes tussen Maart vanjaar en 2021 klaar gewees het.

Die Welbedacht-staalpyplyn van 33,7 km is nog onder konstruksie. Dié pyp moet water aan Bloemfontein verskaf. Foto: BloemWater

Grootmaat-infrastruktuurprojekte: Sowat 15 megaprojekte, 53 groot projekte en 38 klein projekte. Vertragings was weens onluste, te min geld, kontraktuele geskille, wanbetalings of vertraging in betalings en kragonderbrekings. Almal moes tussen 2020 en 2021 klaar gewees het.

Daar is verskeie redes vir die onafgehandelde projekte, sowel dié op nasionale as plaaslike vlak. Almal behels óf begrotingstekorte, wanbestuur, óf probleme met verkrygingsprosesse (onreëlmatige tenders). Bewerings van bedrog en korrupsie by van die projekte oor jare heen word later in meer diepte bespreek.

Die meeste van die damme wat in 2017 vir rehabilitasie geoormerk was, is in die voormalige tuislande geleë en voldoen nie aan die vereiste veiligheidstandaarde nie. Van die damme het gebrekkige oorloopkapasiteit en ander het onstabiele strukture.

Die Katsedam, deel van fase 1 van die Lesotho-hooglandprojek, is in 1996 voltooi. Foto: Getty Images

Probleme op nasionale vlak

Suid-Afrikaners gaan nie juis spaarsamig om met hul min water nie. Trouens, inwoners gebruik tussen 235 en 237 liter per persoon per dag, wat baie meer is as die wêreldgemiddelde van 167 liter per persoon per dag. Dit wissel egter van gebied tot gebied.

In die platteland is die watergebruik per capita minder as in dorpe en stede. Om Suid-Afrikaners se waterverbruik te verminder, is dus een van die doelwitte in die departement se meesterplan.

Wanbestuur word oral uitgewys in begrotings en bedrywighede soos instandhouding. Die OG het in sy onlangse inligtingsessie aan die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) die invloed van wanbestuur op die departement se begroting benadruk.

In die verlede was ervare, professionele ingenieurs in senior- en topbestuursposte ’n sleutelelement in besluitnemingsprosesse en die fasilitering van watersake. Saice wys uit hoewel die departement nog in 2017 volgehou het hy het genoeg professionele ingenieurs in diens, dit strydig was met die werklikheid waar meer as 50% van ingenieursposte vakant was.

’n Ontleding deur die Waternavorsingskommissie het in 2015 op groot tekortkominge in die vaardighede van mense wat in die watersektor werk, getoon.

Die departement is in sy meesterplan ook baie bekommerd oor ’n gebrek aan vaardighede onder sy personeel. Daar is ’n kritieke behoefte aan ’n oordrag van kundigheid en vaardighede van ouer, ervare waterbestuurders na jonger, onervare bestuurders in onder meer munisipaliteite.

’n Ontleding deur die Waternavorsingskommissie het in 2015 op groot tekortkominge in die vaardighede van mense wat in die watersektor (die nasionale departement, die opvangsbestuursagentskappe, waterrade en munisipaliteite) werk, getoon.

Op ’n positiewe noot het die getal gegradueerde siviele ingenieurs tussen 2010 en 2015 van 1 000 tot 2 000 gegroei. Dit is egter nie seker hoeveel van dié studente in die watersektor gaan werk het nie.

Volgens die departement is daar genoeg gekwalifiseerde mense wat aansoek doen om in die watersektor te werk. Om die persone uiteindelik aangestel te kry en te behou – veral in plattelandse munisipaliteite – sal altyd ’n uitdaging bly.

’n Ander probleem in die nasionale departement is die hoë arbeidsomset. Volgens die OG het die departement sedert 2009 ’n totaal van agt direkteurs-generaal (waarnemende DG’s inkluis) gehad. Die hoë omset van DG’s en senior personeel in die departement het volgens die OG ’n beduidende uitwerking op sy prestasie. Dít word in die finansies weerspieël.

Probleme op munisipale vlak

Sisulu het by navraag gesê: “Dis baie belangrik dat munisipaliteite hul infrastruktuur in stand hou en waterverspreidingstelsels bestuur, want as waterverliese verminder word sal dit tot massiewe besparings lei en ons in staat stel om daardie gebiede te bereik waar ons nog nie uitgekom het nie.”

Daar is 278 munisipaliteite in Suid-Afrika. Die grondwetlike verpligting om waterdienste te verskaf lê by die 144 munisipaliteite wat as waterdiensowerhede (WSA) optree.

Die plaaslike regering is verantwoordelik vir waterverskaffingsdienste aan dorpe en stede in die vorm van watersuiweringsaanlegte, pompstasies, reservoirs en die waternetwerk (pype, en so meer). Hulle word ondersteun en gereguleer deur nasionale departemente wat die departement van water en sanitasie insluit.

Waterrade en opvangsgebiedbestuursagentskappe (CMA’s) kan munisipaliteite en boere betrek om die water in hul onmiddellike omgewings te bestuur.

Die jongste Municipal Strategic Self-Assessment (MuSSA) in 2019 skets egter ’n rampspoedige beeld van Suid-Afrika se munisipale waterdienste.

• Munisipaliteite in die platteland stort in duie

Luidens die meesterplan is 33% van munisipaliteite disfunksioneel en meer as 50% het geen, of te min, tegniese personeel. Volgens die MuSSA was net 6% se dienste betroubaar.

Volgens die meesterplan staan 27 streeksmunisipaliteite op die rand van ineenstorting en is deur die departement geprioritiseer vir nasionale ingrype. By tien van dié munisipaliteite is die kans minder as 30% dat daar water uit ’n kraan gaan vloei wanneer jy dit oopdraai.

Wateronderbrekings en rioolpype wat oorloop of geblokkeer is, is van die gemeenskap se grootste frustrasies en lei dikwels tot betogings en vandalisme.

Volgens die meesterplan sluit die munisipale waterinfrastruktuurnetwerk meer as 290 000 km se pyplyne in. Nagenoeg 7,7 miljoen huishoudings is hieraan verbind, met meer as 5 miljoen krane binne erwe en meer as 2,1 miljoen krane in die strate.

Instandhouding van die infrastruktuur is belangrik, want dit verhoog die lewensduur, sodat ’n betroubare, volhoubare diens gelewer kan word.

Duur water

• Water sal duurder word in SA.

• Almal, behalwe diegene met toegang tot lopende water, moet minder water gebruik.

• Almal, behalwe armlastiges, moet vir water- en sanitasiedienste betaal.

* Bron: Meesterplan van die departement van water en sanitasie

Volgens Saice lê die probleem nie by ’n gebrek aan goeie wetgewing of beleid om waterdienste doeltreffend te lewer nie. Die probleem lê by die bestuur en implementering daarvan.

Ander uitdagings sluit in die gebrek aan kapasiteit om korrupsie te bestuur, onvolhoubare finansiële modelle, vandalisme, diefstal en onwettige waterverbindings. Die grootste uitdagings hou verband met onvoldoende tegniese kapasiteit om bestaande geriewe te bestuur, te bedryf en in stand te hou, asook die beplanning van nuwe geriewe.

Om nuwe infrastruktuur te bou, dit te bedryf, in stand te hou en dit uiteindelik te vernuwe of te vervang, is nie maklik nie. Die gebrek aan bevoegde mense – veral by munisipaliteite in landelike gebiede – is daarom ’n geweldige probleem.

Die probleem word selfs groter in plekke waar infrastruktuur gebou is, maar daar geen finansiële kapasiteit is om gekwalifiseerde personeel aan te stel om die projekte en nodige begrotings te bestuur nie.

Omdat daar nie aan die aanbevole batebestuurspraktyke vir infrastruktuur voldoen word nie, word geld wat vir die ontwikkeling van nuwe infrastruktuur bedoel word, vir onbeplande herstelwerk gebruik, skryf Saice.

Begrotings vir herstel en instandhouding is onvoldoende – soms omdat munisipaliteite gerieflikheidshalwe die toegewysde geld eenkant hou, met die verwagting dat die nasionale departement dit uiteindelik tog op eie onkoste sal vervang. Dis omdat die departement al per geleentheid noodgedwonge infrastruktuur wat aan munisipaliteite behoort, op sý onkoste moes herstel. Sommige munisipaliteite wil volgens die departement nie die private sektor se hulp inroep nie. Tog benodig hulle dringend die hulp.

Baie van die kleiner munisipaliteite op die platteland is in benarde finansiële posisies: 63% van Suid-Afrikaanse huishoudings verdien minder as R38 000 per jaar en munisipaliteite wat steun op betaling vir dienste deur die huishoudings, is afhanklik van nasionale toelae om dienste te lewer.

Volgens die MuSSA maak 54% van die waterdiensowerhede staat op staatstoelae om 90% van hul kapitaaluitgawes te dek, en 58% vorder minder as 70% van hul inkomste (waterrekeninge) in.

Volgens die meesterplan is sowat 77% van huishoudings in die platteland deel van die armstes van die armes. Dit is gevolglik baie moeilik vir munisipaliteite met ’n lae inkomstebasis om geld in te vorder en die nodige dienste suksesvol te lewer.

LEES OOK: Suid-Afrika se watergehalte.

• Waterverliese

In Januarie 2019 het dit deur ’n parlementêre vraag deur die VF Plus aan die vorige minister van water en sanitasie, Gugile Nkwinti, aan die lig gekom dat Mangaung verlede jaar meer as R13 miljard se water weens lekkasies verloor het. Anders gestel, beteken dit die metro het meer as 36 miljoen liter per dag, ter waarde van R233 miljoen, verloor.

Dié water wat verlore gaan deur lekkasies of kommersiële verliese en gevolglik nie inkomste genereer nie, is volgens die meesterplan een van Suid-Afrika se grootste wateruitdagings.

Sowat 31% van water wat met pype gelei word, kom volgens Saice nie by die gebruiker uit nie omdat dit uitlek. Die OG beraam dit kom neer op ’n verlies van R6,56 miljard per jaar. Volgens die meesterplan wat twee jaar ná Saice se verslag gepubliseer is, verdwyn 35% van gesuiwerde water.

As kommersiële verliese bygetel word, is dié persentasie nader aan 40% van alle munisipale water. Dit beteken munisipaliteite verloor jaarliks sowat R9,9 miljard se potensiële inkomste.

Die redes hiervoor is volgens Saice mislukte stelsels en politieke onwilligheid om skuld in te vorder.

Suid-Afrika kan nie bekostig dat water wegsypel nie. Die Grondwet verplig die staat reeds om gratis water vir basiese gebruik aan behoeftige mense te verskaf.

Riooldienste

Betroubare riolering is ’n basiese diens wat die staat ingevolge die Grondwet moet lewer.

Dis ook deel van die visie wat in die nasionale ontwikkelingsplan van 2030 wat lui “alle Suid-Afrikaners sal toegang hê tot voldoende . . . higiëniese sanitasie om ’n gesonde en waardige lewe te lei . . . ”

In 2014 het die departement van water en sanitasie die verantwoordelikheid vir die lewering van riooldienste by die departement van menslike nedersettings oorgeneem.

Volgens Statistieke Suid-Afrika se steekproef vir algemene huishoudings van 2019, het die agterstand van huishoudings sonder enige rioolgeriewe van 61,7% in 2002 tot 83% in 2018 toegeneem.

Interessant genoeg, bly die getal huishoudings sonder rioolgeriewe konstant. Volgens Saice se 2017-verslag het die agterstand tussen 1994 en 2016 op nagenoeg 4 miljoen huishoudings stilgestaan. Dit is omdat die bevolking net so vinnig gegroei het soos wat die regering mense van basiese sanitasiegeriewe voorsien het.

Politieke druk om volledige spoeltoiletstelsels as ’n intreevlak van sanitasiedienste beskikbaar te stel, het ’n ernstige invloed op die koste van diensverskaffing in sommige dele van die land en vertraag dienslewering omdat goedkoper dienste vinniger gelewer kan word. ’n Spoeltoilet is nie ’n struktuur wat in isolasie in ’n nedersetting opgerig kan word nie. Dit moet aan ’n volledige rioolnetwerk verbind wees.

’n Verdere probleem is bestaande opslaantoilette by byvoorbeeld skole en klinieke wat nie gereeld genoeg leeggemaak word nie.

Die departement van water en sanitasie het in 2013/2014 laas ’n Groen Druppel-prestasiemeting vir afvalwaterstelsels gedoen. Volgens daardie ontledings was 30% van alle groot afvalwatersuiweringsaanlegte in ’n kritieke toestand, wat beteken dat miljoene liter onbehandelde of onvoldoende behandelde rioolvuil daagliks onwettig in riviere en strome invloei.

• Vrot infrastruktuur

Wanneer watersuiwerings- en afvalwatersuiweringsaanlegte in ’n swak toestand is, verhoog dit die risiko vir siektes.

Volgens Saice het sowat 66% van alle afvalwatersuiweringsaanlegte in 2013 kort- tot mediumtermyn ingrype nodig gehad, met 35% wat opgegradeer moes word om ’n groter kapasiteit te hanteer soos wat die bevolking groei.

Sommige van die aanlegte het geen bykomende kapasiteit as die aanvraag na riooldienste in hul direkte omgewings styg nie.

Gedurende die reënvalseisoen kan afvalwatersuiweringsaanlegte benewens die invloei van rioolwater ’n groot invloei van reënwater weens insypeling kry. Suiweringsprosesse word daardeur benadeel omdat hulle nie die verhoogde volume kan hanteer nie.

Die rioolvuilbesoedeling by die Memoriam-begraafplaas in Bloemfontein het so erg geraak dat nabygeleë grafte in die grond wegsak. Duisende liter rioolvuil borrel tussen die treinspoor en begraafplaas en het al ’n riooldam gevorm, lui die VF Plus se verklaring hieroor. Die onverwerkte rioolvuil loop in ’n natuurlike spruit en uiteindelik na die Mockesdam.

Kragonderbrekings raak ook suiweringsprosesse omdat elektriese pompstelsels gewoonlik deel is van die aanleg en oorspoel word.

Rioolwater vloei dan net verby die aanleg in riviere in.

Dis dalk noemenswaardig dat die eThekwini-metro se departement van water en sanitasie in 2014 die Stockholm Industry-waterprys gewen het vir ’n progressiewe projek waar 1,3 miljoen mense binne 14 jaar toegang tot lopende water gekry het en 700 000 toegang tot toilette. Dis egter die uitsondering op die reël.

Netwerk24 het onlangs berig die huidige laste van Vrystaatse munisipaliteite oorskry bates met R2,1 miljard en hulle skuld miljarde rand aan Eskom en waterrade.

Voorts is berig die Vrystaat se water- en rioolinfrastruktuur is verouderd en op die rand van ineenstorting.

Dr. Tseliso Ntili, Vrystaatse hoof van die departement van water en sanitasie, het aan Netwerk24 gesê watersuiweringsnetwerke vir rioolwater stort by 80 van die 82 Vrystaatse dorpe in duie.

Dié dreigende ineenstortings by veel meer munisipaliteite as net in die Vrystaat, kan Suid-Afrika vinniger voor ’n waterkrisis te staan bring as selfs ’n ernstige droogte.

*Hierdie artikel is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Waarheid Eerste, ’n niewins-maatskappy wat ondersoekende joernalistiek bevorder.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.