Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ondersoeke
Zuma meng in by intelligensie-agentskap, bevind paneel
Oudpres. Jacob Zuma Foto: Reuters

Elemente van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) is tydens die bewind van oudpres. Jacob Zuma ingespan om politieke faksiegevegte in die ANC te veg, luidens ’n verslag van ’n paneel wat die land se intelligensiedienste ondersoek het.

Siyabonga Cwele en David Mahlobo, albei voormalige ministers van staatsveiligheid, asook Thulani Dlomo, voormalige hoof van die SVA, was medepligtig.

Die verslag verwys ook na die Gupta-gesin. Top-ondersoekers van die SVA het Cwele glo in 2011 gewaarsku dat hulle ’n ernstige gevaar vir nasionale veiligheid inhou weens hul verhouding met Zuma. Dié waarskuwing is geïgnoreer en albei die ondersoekers is in die pad gesteek.

Die paneel sê verder Cwele, destydse hoof, het gefaal in sy taak deur nie ag te slaan op die waarskuwings nie. En hulle wys daarop dat dit nie weens ’n mislukking van intelligensievermoëns was nie.

Hul optrede is ’n “ernstige skending van hul grondwetlike pligte waaroor daar gevolge moet wees”.

Pres. Cyril Ramaphosa het die paneel in Junie verlede jaar saamgestel onder leiding van dr. Sydney Mufamadi en die verslag is in Desember gefinaliseer en aan die president oorhandig.

’n Verkorte weergawe van die verslag is Saterdag deur die presidensie uitgereik. In ’n verklaring daarmee saam blyk dit dat Ramaphosa aan die personeel en leierskap van die SVA belowe het hy sal die verslag uitreik “tot die voordeel van alle Suid-Afrikaners”.

Luidens die verklaring moes die paneel alle faktore identifiseer wat bygedra het tot die huidige uitdagings van die agentskap sodat die nodige maatreëls ingestel kan word om te keer dat dit weer gebeur.

Die name van Zuma, Cwele, Mahlobo of Dlomo word nie genoem in die verslag nie, maar wel die posisies wat hulle beklee het en deur kruisverwysings en tydlyne van gebeure, kon News24 die identiteite van die individue bepaal.

Pogings om die vakbondbeweging en burgerlike organisasies in die land te beïnvloed deur hulle dop te hou, was onbehoorlike gebruik van staatsbronne en strydig met die grondwetlike mandaat van die SVA wat polities onpartydig moet wees.

Dlomo, wat tans dien as ambassadeur in Japan, is in 2012 aangewys as hoof van die eenheid spesiale operasies van die SVA en het in daardie tyd aan kollegas gesê hy rapporteer regstreeks aan Zuma.

Hy was destyds in omstredenheid gehul te midde van bewerings dat hy omkoopgeld van R1 miljoen aanvaar het vir die toeken van ’n kontrak van R45 miljoen aan die KwaZulu-Natalse departement van maatskaplike ontwikkeling waar hy hoof van veiligheid was.

Hy het bedank en is nooit vervolg nie.

Vroeër vanjaar het Ramaphosa hom teruggeroep van sy diplomatieke pos waarin Zuma hom in April 2017 aangestel het, maar dit lyk of hy hom nie daaraan gesteur het nie.

Dlomo is beskryf as “die mees weerspannige en ontwykende” getuie met wie die paneel gepraat het.

“Hy het hom beroep op die beginsel van 'nodig om te weet’ om inligting te weerhou van die paneel – veral wat betref sy interaksie met die uitvoerende gesag,” lui die verslag.

Daar is verskeie bevindinge in die verslag van 127 bladsye, maar die belangrikstes is waarskynlik dié oor Zuma.

“Die manipuliasie van die SVA vir faksie-doeleindes het van bo gekom – die presidensie – deur die minister van staatsveiligheid na die bestuur en personeel van die SVA,” is een van die bevindings in die verslag.

“Die optrede van die SVA en pogings tot sosiale manipulasie deur sy eenheid vir spesiale operasies en die betrokkenheid van die president en minister daarin is ’n ernstige skending van die Grondwet en die reg waarvoor daar ook ernstige gevolge moet wees.”

Die verslag bevind ook dat die “destydse minister" (Cwele van 2009 tot 2014; hy is opgevolg deur David Mahlobo van 2014 tot 2017) regstreeks deelgeneem het aan intelligensie-operasies – iets wat strydig is met grondwetlike en wetlike voorskrifte.

Pogings om die vakbondbeweging en burgerlike organisasies in die land te beïnvloed deur hulle dop te hou, was onbehoorlike gebruik van staatsbronne en strydig met die grondwetlike mandaat van die SVA wat polities onpartydig moet wees.

Onder Dlomo was die spesiale operasies ’n wet op sy eie wat die politieke belange van die uitvoerende gesag (Zuma) regstreeks gedien het, lui die verslag.

Dié eenheid het ook intelligensie-operasies onderneem wat duidelik “ongrondwetlik en onwettig” was.

Dit sluit onder meer in:

  • Opleiding van geheime agente wat uiteindelik aangewys is om Zuma te beskerm asook sekere mense wat nie daarop geregtig was nie, soos Dudu Myeni, die voormalige hoof van die Valke en die president van die ANC Jeugliga;
  • Infiltrering van die media om glo swak publisiteit vir die land, die voormalige president en die SVA te keer;
  • Ingryping van die #FeesMustFall-protes om die voorsitter van die studente-beweging te beïnvloed;
  • Teenoperasies om die verspreiding van regalië van die CR17 (Ramaphosa se presidentsveldtog) te vertraag asook om die vervoer van Ramaphosa-ondersteuners te belemmer tydens die 8 Januarie-geleentheid in 2016.

Die verslag beveel aan dat die SVA opgedeel word in twee agentskappe met verskillende mandate vir die binne- en buiteland – iets waarna Ramaphosa in sy staatsrede verwys het.

Daar is ook ’n aanbeveling dat wetgewing rondom die rol van die minister van staatsveiligheid herbesin moet word en dat die aanstelling van die hoof van die SVA op dieselfde manier gedoen moet word as die van die hoof van die nasionale vervolgingsgesag. - News24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.