Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
DA: 1 000’e kommentare op US-taalbeleid danksy veldtog

Meer as 6 500 kommentare op die eerste konsep van die hersiene taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US) is in die DA se petisie-veldtog ingedien.

Die US het Dinsdag al die mense en instansies bedank wat bydraes gelewer het. Die toegelate tyd vir kommentaar het die vorige dag verstryk.

Al die bydraes wat die US se hersieningstaakspan vir die 2016-taalbeleid op die digitale platform ontvang het, sal oorweeg word en ’n insetverslag sal saamgestel word.

Die tweede konsepbeleid sal in die tweede semester vanjaar vir kommentaar beskikbaar gestel word, het ’n woordvoerder van die US bevestig.

Dr. Leon Schreiber, DA-LP en kiesafdelingshoof in Stellenbosch, het Saterdag in ’n verklaring gesê die DA het altesaam 6 586 kommentare ingedien as deel van die versoekskrif wat hy verlede maand begin het.

Dit was in reaksie op berigte dat studente na bewering “verbied” is om in koshuise Afrikaans te praat.

“Die US se nuwe konsepbeleid sal Afrikaanse studente selfs verder as die vorige 2016-beleid uitsluit, waarvolgens die onlangse vergrype gepleeg is.”

Dr. Leon Schreiber, DA-LP.

Schreiber sê die US het self erken dat net 17,8% van klasse parallelmedium is en die res grootliks in Engels aangebied word.

Die kommentare wat met die DA se petisie ingedien is, ondersteun glo almal die party se voorgestelde wysigings aan die konsepbeleid, wat onder meer daarop aandring dat Afrikaans as inheemse taal erken word en as gelyke onderrigtaal met Engels gestel word.

Verder word geëis dat geen studente hul grondwetlike reg ontneem word om in die taal van hul keuse te kommunikeer nie, dat die US “tegnologiese oplossings vir tolking en vertaling omarm” en dat alle voorgraadse lesings deur parallelmedium aangebied word, sowel as dat afwykings deur die senaat goedgekeur moet word.

Volgens Schreiber sal dié voorgestelde wysigings verseker dat geen Afrikaans- of Engelssprekende studente op grond van taal uitgesluit word nie.

“Afrikaans is verreweg die grootste taal in die Wes- en Noord-Kaap, en om studente uit te sluit op grond van taal, is ’n direkte ondermyning van ’n fundamentele mensereg waaroor die DA nie sal stilbly nie.”

Indien die US die duisende kommentare ignoreer, sal die DA “alle moontlike oplossings” gebruik om toe te sien dat die uitsluiting van Afrikaanse studente tot ’n einde kom, lui sy verklaring.

Die US se nuwe konsepbeleid sal Afrikaanse studente selfs verder as die vorige 2016-beleid uitsluit, waarvolgens die onlangse vergrype gepleeg is.

Die US se taalbeleid word elke vyf jaar hersien en ’n finale konsepbeleid sal na verwagting teen 2 Desember aan die universiteitsraad vir goedgekeuring voorgelê word.

• ’n Tydsraamwerk vir die hersiening van die US se taalbeleid is hier beskikbaar.

• Die DA se volledige kommentaar kan hier gelees word.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.