Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
124 skole in Wes-Kaap se leerlinge heeltyds terug

Daar is 124 skole in die Wes-Kaap wat reeds hul leerlinge heeltyds na die klaskamers laat terugkeer het, terwyl nog skole daarvoor aansoek kan doen.

Sommige van dié skole het al in die eerste kwartaal hul leerlinge saam terug ontvang eerder as om op ’n rotasiegrondslag te werk, terwyl ander dit eers Maandag aan die begin van die nuwe skoolkwartaal ingestel het.

Dié getal sluit laerskole en hoërskole in en is versprei oor die provinsie, sê die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD).

Die departement van basiese onderwys het Sondag bekend gemaak dat hy die moontlikheid van ’n volle terugkeer ondersoek. Die moontlikheid van heeltydse onderrig sal Donderdag en Vrydag bespreek word.

“Daar is inderdaad op nasionale vlak met die provinsiale onderwysdepartemente gesprek gevoer, maar daar is geen besluite geneem oor of veranderinge gaan plaasvind aan die vereistes oor skole se kapasiteit nie,” sê die WKOD in ’n verklaring.

Skole in die provinsie wat reeds heeltydse onderrig aanbied, moet aan ’n rits vereistes voldoen en goedkeuring moes by distrikskantore verkry word.

Om dit te help oplos, sal lespakkette vir die eerste kwartaal beskikbaar gestel word by die skool waar die leerlinge geplaas gaan word.

“As ’n skool 100%-bywoning wil hê, moet hy by die distrik aansoek doen om toestemming daarvoor,” sê Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD.

“Die goedkeuring hang daarvan af of die skool genoeg geriewe, veiligheidstoerusting en die nodige prosedures gereed het wat voldoen aan al die toepaslike gesondheid- en veiligheidsprotokol.”

Die WKOD sê totdat daar uitsluitsel van die nasionale departement kom, moet alle skole aanhou om die regulasies na te kom wat op 12 Februarie in die Staatskoerant gepubliseer is.

“Skole met groot genoeg geriewe om aan (die maatreëls vir) gesondheid, veiligheid en vereistes vir sosiale distansiëring te voldoen, hoef nie hul tradisionele en daaglikse roostermodelle te verander nie en kan voortgaan om volgens die ou roosters te werk.”

Honderde steeds ongeplaas

Intussen sukkel die WKOD om kinders in reeds oorvol Wes-Kaapse skole geplaas te kry.

Daar was Maandag nog 814 ongeplaaste leerlinge in die Wes-Kaap, teenoor 10 500 op 14 Februarie.

“Die meerderheid van die 814 leerlinge is egter reeds aan skole toegewys, en distriksamptenare het die afgelope naweek met ouers kontak gemaak om dit te bevestig sodat leerlinge hierdie week by skole kan aanmeld,” sê Hammond.

Die WKOD het geld herprioritiseer en daarmee 129 opslaanklasse by skole opgerig en onderwysposte geskep om die bykomende leerlinge wat van ander provinsies soos die Oos-Kaap na die Wes-Kaap stroom, te akkommodeer.

Sommige skole het reeds bykomende klaskamers beskikbaar, maar ander kort opslaanklasse.

Die WKOD sê hy is deeglik daarvan bewus dat die ongeplaaste kinders al ’n hele kwartaal misgeloop het.

“Om dit te help oplos, sal lespakkette vir die eerste kwartaal beskikbaar gestel word by die skool waar die leerlinge geplaas gaan word.

“Distriksamptenare sal skole ook help om leerlinge met ’n inhaalplan te ondersteun en sal ook die leerlinge se assesseringsuitslae vir die tweede kwartaal monitor om toekomstige ondersteuningsprogramme te bepaal.”

Die WKOD sê geld is die grootste hindernis. “Terwyl sommige ons wil kritiseer omdat ons nie leerlinge vinniger plaas nie, is die werklikheid dat ons dit nie kan doen sonder die nodige finansiering nie.

“Daarom moes ons bestaande befondsing herprioritiseer om hierdie plan te finansier, en dit beteken dat ons toekomstige begrotingstoewysings negatief beïnvloed sal word, sowel as ons huidige langtermynplanne.”

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.