Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
1,7 m. leerlinge kry steeds nie kos in voedingskema

Sowat 1,7 miljoen leerlinge wat vir die nasionale skoolvoedingskema (NSNP) kwalifiseer, kry steeds nie hul maaltye nie, maar die departement van basiese onderwys sê hy het maatreëls ingestel om te verseker dat leerlinge dié etes kry.

Die hooggeregshof in Pretoria het verlede jaar gelas dat alle leerlinge wat vir die NSNP kwalifiseer hul maaltye moet ontvang – selfs al is hulle nie terug by die skool nie. Ingevolge Covid-19-regulasies woon talle leerlinge steeds skool op ’n rotasiegrondslag by.

Die onderwysdepartement en sy provinsiale departemente moet deurlopend verslae indien om te bewys die planne om etes aan leerlinge te verskaf word uitgevoer.

Die drukgroep Equal Education (EE), die nieregeringsorganisasie Equal Education Law Centre (EELC) en die burgerregteorganisasie Section27 het Woensdag in ’n verklaring gesê sommige departemente versuim herhaaldelik om verslag te doen.

Dis ’n skending van kinders se regte, en die probleme wat verhoed dat hulle hul maaltye kry, moet dringend uit die weg geruim word.

Volgens Mathamzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, se verslag van 26 Maart, wat Netwerk24 gesien het, kry 1,7 miljoen van die sowat 10 miljoen leerlinge wat kwalifiseer, steeds nie maaltye nie. Baie van dié gevalle word daaraan toegeskryf dat alle leerlinge nie elke dag by die skool is nie.

“Dis ’n skending van kinders se regte, en die probleme wat verhoed dat hulle hul maaltye kry, moet dringend uit die weg geruim word,” lui EE, EELC en Section27 se verklaring.

Volgens die organisasies is Mweli se verslag, asook die verslae van Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, en die LUR’e vir onderwys in KwaZulu-Natal, Noordwes, die Noord-Kaap en Mpumalanga ná die vorige sperdatum van 19 Maart ontvang. Verslae van die Oos-Kaap, Vrystaat, Gauteng en Limpopo is glo nie ingedien nie.

Op 14 April moes al dié partye weer verslae indien, wat volgens die organisasies nie gebeur het nie.

’n Opname deur EE se lede in vyf provinsies het gewys 91% van die leerlinge ontvang maaltye op die dag wat hulle skool bywoon, maar sowat 50% kry nie maaltye op die dag wat hulle weens die rotasie-rooster nie by die skool is nie.

EE het die departemente gevra om vervoer aan alle leerlinge te verskaf sodat hulle maaltye kan ontvang, asook om omsendbriewe uit te stuur wat aandui leerlinge kan maaltye by die skool naaste aan hul blyplek ontvang. Hulle vra ook dat alle provinsies kospakkies moet verskaf op die dae wat leerlinge nie skool bywoon nie.

Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement van basiese onderwys, het Donderdag gesê die departement het al dié maatreëls reeds verlede jaar ingestel.

“Dis departement het praktiese oplossings geïmplementeer wat dié organisasies nadoen en as hul eie voorhou,” het hy gesê.

“Die koronavirus is steeds met ons en die departement stel ook maatreëls in om die verspreiding van die virus te voorkom. Dis moeilik om afwesighede aan te teken as leerlinge op afwisselende dae skool bywoon. Die virus het die administrasie bemoeilik. Ons moenie voorgee dat dinge normaal is nie.”

Meer oor:  Elijah Mhlanga  |  Leerlinge  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.