Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
2 kry Cum Laude-toekennings by UV

Twee oudstudente van die Universiteit van die Vrystaat (UV), dr. Mafu Rakometsi en dr. Suzanne Staples, is Saterdagaand op die kanselier van die UV se alumni-toekenningsdinee vir uitnemendheid met Cum Laude-toekennings vereer.

Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, het in 2008 ’n doktorsgraad in filosofie aan die UV verwerf.

Die eerbewys is aan hom toegeken vir ’n loopbaan van 35 jaar as toegewyde administrateur en opleier met ’n spesifieke fokus op basiese onderrig.

Dr. Mafu Rakometsi wat met ’n Cum Laude-eerbewys vereer is. Foto: Marietjie Gericke

“Ten tyde van sy uitsonderlike loopbaan het hy groot bekwaamheid as uitvoerende bestuurder, leier en administrateur gewys waar hy op verskeie vlakke van die openbare sektor gedien het,” is op Saterdagaand se toekenningsdinee in Bloemfontein gesê.

Rakometsi is sedert 2009 die uitvoerende hoof van Umalusi. Hy het strategiese leierskap op provinsiale, nasionale en internasionale vlakke verskaf, sê die UV.

Sy prestasies sluit in die stabilisering van die gehalteversekeringsprosesse vir die skoolstelsel en die instel van strategiese vennootskapsverhoudings met internasionale liggame soos die Cambridge- internasionale eksamens en die kantoor vir standaardisering in onderwys in Brittanje. Hy skakel ook met eksamenrade oor die hele kontinent.

Rakometsi het ’n diepe toewyding om die standaarde van onderwys in Suid-Afrika te verbeter en is passievol oor die onderwys, is Saterdagaand gesê.

Dr. Suzanne Stapels Foto: Marietjie Gericke

*Staples is ’n toegewyde mediese dokter en is die hoof-navorser by die tuberkulose- en MIV/Vigs-ondersoeknetwerk (Think).

Nadat sy haar as mediese dokter by die UV bekwaam het en in hospitale in verskillende dele van die land gewerk het, het sy sterk bewus geword van die werklikheid van die tuberkulose- en MIV/Vigs-epidemie in Suid-Afrika.

Sy het uiteindelik in Durban by die McCord-hospitaal beland.

Hier het sy by kliniese navorsing betrokke geraak by die KwaZulu-Natal-navorsingsinstituut en MIV/Vigs.

Van 2013 wy sy haar mediese loopbaan aan sorg vir pasiënte met dié twee gevreesde siektes.

Sy het die Think-netwerk help bestuur en ontwikkel van ’n klein organisasie met ses personeellede tot ’n wyd erkende organisasie wat meer as tien internasionale proewe uitgevoer het.

Staples is in 2017 gekies as ’n kandidaat vir ’n genootskap wat deur die Europese Unie gefinansier is om navorsingskapasiteit in Afrika te versterk.

Dit word gedoen deur wetenskaplikes van Afrika by Europese instellings te plaas.

*Nog alumni wat vereer is, is Bertus Jacobs, Tshepo Moloi en Gustav Wilson, wat al drie as Kovsie-ambassadeurs aangewys is.

Jacobs is ’n rekenaarwetenskaplike en hooftegnologiebeampte by die maatskappy IoT.nxt. Sy passie is die oplossing van rekenaarprobleemstellings op pad na die vierde industriële rewolusie (4IR).

Moloi is ’n ekonoom by die Suid-Afrikaanse Reserwebank.

Hy werk by die bank se ekonomiese en navorsingsafdeling waar hy verantwoordelik is vir die ontleding van die regering se huishoudelike en buitelandse skuld.

Moloi het onlangs die FirstRand Laurie Dippenaar-beurs vir nagraadse internasionale studie ontvang vir ’n MSc-studie in ekonomie en openbare beleid aan die Universiteit van York in Brittanje.

Wilson is die streeksdirekteur: korrektiewe dienste in die Vrystaat en Noord-Kaap vir ontwikkelings- en versorgingsprogramme.

Gedurende sy loopbaan is hy al deur verskillende instellings vereer vir sy uitsonderlike werk in die gevangeniswese in die Vrystaat en Noord-Kaap.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.