Die polisie in Lentegeur ondersoek ’n voorval by die Hoërskool Lentegeur in Mitchells Plain nadat vier leerlinge Maandag in ’n bakleiery betrokke was. Hulle het mekaar glo ook met ’n mes of ander skerp voorwerpe gesteek.
Bronagh Hammond, woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), het die voorval bevestig.
Hammond sê die polisie het Maandag omstreeks 08:10 op ’n klag van ’n bakleiery by ’n hoërskool in Lentegeur gereageer. Daar gekom, het die polisie gevind dat vier seuns by ’n steekvoorval op die skoolterrein betrokke was.
Twee van die leerlinge, onderskeidelik gr. 10 (16) en gr. 11 (16), is met ernstige steekwonde na ’n plaaslike hospitaal geneem. Albei se toestand is volgens haar stabiel en die een leerling is reeds ontslaan. Die ander leerling, wat ernstige nek- en kopwonde opgedoen het, sal Dinsdag ontslaan word.
Die twee leerlinge wat die ander twee glo gesteek het, is onderskeidelik in gr. 9 en gr. 11. Die voorval was glo net voor die begin van die skooldag.
“Berading is vir leerlinge en onderwysers gereël,” sê Hammond.
Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Hy sê een van die leerlinge wat in die bakleiery betrokke was, het glo weggehardloop.
”Die voorval word ondersoek,” sê Van Wyk.