Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
2 matrikulante geskors ná verkragklag by skool

Twee matrikulante is geskors nadat hulle na bewering ’n gr. 9-leerling in ’n toilet by ’n skool in Vosloorus verkrag het.

Die beweerde verkragting het op 25 Julie gebeur toe die gr. 9-leerling glo in pouse na een van die toilette gedwing is waar sy aangerand en verkrag is.

Fedsas, die federasie van beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, het sy skok oor die voorval uitgespreek.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, sê dit gaan die verstand te bowe dat so iets by ’n skool kan gebeur.

“Daar is gewoonlik so baie beweging op ’n skoolterrein.”

Die Gautengse onderwysdepartement sê in ’n verklaring hy veroordeel die voorval ten sterkste.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het Dinsdag ’n skool in Vosloorus besoek waar twee matrikulante na bewering ’n gr. 9-leerling verkrag het. Foto: Theana Breugem

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het die skool Dinsdag besoek.

“Dit is belangrik om met die skoolgemeenskap te praat. Dié soort gedrag kan nie by skole geduld word nie. ’n Oplossing kan gevind word as ons hande vat met die skool, kerke, leiers, onderwysers en leerlinge sodat ons spoedig teen wangedrag kan optree,” sê hy.

Panyaza sê dié soort wangedrag ondermyn die waardigheid van die leerlinge en onderwysers.

“Dissipline bly ’n prioriteit en gevalle van geweld by skole, bendegeweld, dwelms, kuberboelies en ander oortredings moet uitgewis word.”

Panyaza sê dit is onaanvaarbaar dat voorvalle van seksuele misdade aangemeld word by ’n skool waar onderrig moet plaasvind.

Colditz sê Fedsas glo die probleem van wangedrag in skole is verwikkeld.

“Fedsas glo in sy program van waardegedrewe skole. Dié program kyk na ’n waardegedrewe benadering eerder as ’n reëlgegronde benadering tot dissipline in skole,” sê hy.

“Dit is belangrik vir die hele skoolgemeenskap om kernwaardes te identifiseer wat toepaslik vir die spesifieke skool is.”

Colditz sê daar is egter geen kitsoplossing nie.

“Ons program is ’n langtermynprojek wat positiwiteit kweek. Sigbare polisiëring deur die skoolhoof en onderwysers op die terrein moet ook bewerkstellig word.”

Dié waardegedrewe program is reeds in sekere skole ingestel.

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Vosloorus  |  Skorsing  |  Verkragting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.