Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
2 van Driehoek steeds in waaksaal

Twee van die meisies wat ernstig beseer is in die brugramp by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark is steeds in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton.

Vanessa Slabbert is steeds in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton. Foto: Facebook

Vanessa Slabbert (18), ’n gr. 12-leerling, het Maandag nie ’n “goeie dag” gehad nie, sê haar ma, Lizelle.

Sy het ernstige beserings aan haar maag opgedoen. “Sy bly naar en kla dat haar been wat nié beseer is nie, ook seer is.”

Verpleegpersoneel het Sondagaand ’n snywond aan haar kop, wat baie gebloei het, behandel. Sy sal moontlik steke moet kry.

Andersins gaan dit “eintlik baie goed met haar en ons glo sy sal ten volle herstel”.

Hulle sien uit daarna dat Vanessa binnekort uit die waakeenheid na die hoësorgeenheid oorgeplaas word.

Dit gaan effe beter met Cheverné Duvenhage (13), ’n gr. 8-leerling, wat in dieselfde hospitaal in die waakeenheid is.

Sy hoef sedert Saterdag nie meer ’n ventilator te gebruik nie en haal nou self asem.

Cheverné Duvenhage haal sedert Saterdag op haar eie asem. Foto: Facebook

Cheverné het, soos Vanessa, ook ernstige beserings aan haar maag opgedoen. Sy het verlede week ’n dringende operasie ondergaan nadat sy infeksie opgedoen het. ’n Plastiese chirurg sal die maagwond later herstel.

Sy sal ook later vandeesweek ’n operasie ondergaan om van die skade aan haar gebreekte pelvis te herstel.

Clari Botes (18), ’n gr. 12-leerling, sterk goed aan in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg. “Sy sukkel net ’n bietjie emosioneel,” sê haar ma, Ankia.

Clari Botes kon die naweek die son in Johannesburg geniet. Foto: FACEBOOK
Shamoné Steynvaart is verlam in die brugtragedie. Foto: Facebook

Clari het Sondag 30 m geloop met die hulp van ’n loopraam. “Sy kan nie wag om met rehabilitasie te begin nie.” Haar een heup en been is ernstig beseer.

Intussen gaan dit goed met Shamoné Steynvaart (14), ’n gr. 9-leerling wat verlam is in die brugtragedie.

Sy word in die spinale rehabilitasiesentrum van die Mediclinic Muelmed in Pretoria behandel. Dit is nie duidelik hoe lank sy hier sal moet aansterk nie.

Vier leerlinge is dood en 22 beseer toe ’n loopbrug wat twee geboue by die Hoërskool Driehoek met mekaar verbind, kort ná die saalopening op 1 Februarie ineengestort het.

Baie van die beseerdes wat beenbreuke opgedoen het en al uit hospitale ontslaan is, sterk nog tuis aan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.