Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
20% kla oor skoolboelies
‘Positiewe konflik’ is wel nodig

Private skole is veiliger as openbare skole, meen skoolhoofde.

Hulle het aan ’n studie van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) deelgeneem. Hoewel veiligheid in die een of ander mate ’n probleem by alle Suid-Afrikaanse skole is, beskou skoolhoofde private skole wel as veiliger.

Die verslag met die titel “Safe and Sound? Violence and South African Education” is pas uitgereik. Dr. Linda Zuze, ’n senior RGN-navorsingspesialis in onderwys en ontwikkeling, sê onderhoude is met 285 skoolhoofde oor die land heen gevoer.

Hulle is oor kwessies soos laatkommery, steurnisse in die klaskamer, vandalisme, diefstal, intimidasie en beserings aan leerlinge of personeellede gevra.

Van die bevindinge sluit in:

 Die hoofde van private skole het hul skool as ietwat veiliger beskou as hoofde van openbare skole.

 Hoofde meen in die algemeen skoolveiligheid is in Suid-Afrika meer in die gedrang as ­elders ter wêreld.

 Een uit elke vyf leerlinge kla weekliks dat hulle geboelie word, ook by private skole.

 Daar is ’n duidelike verband tussen skoolverwante misdaad en ’n hoë misdaadkoers in gemeenskappe.

Hoewel private skole veiliger is, is daar luidens die verslag boelies by alle skole. “Daar is groot kommer oor boelies, ­homofobiese boelies, seksuele teistering en kuberboelies.”

Kinders word van ’n jong ouderdom af aan onveilige toestande blootgestel – by die huis en by die skool. “Kinders moet ­altyd veilig voel om hul volle potensiaal op skool te bereik. Voorvalle waarin hulle onveilig voel, kan ’n negatiewe impak op hul leer- en groeivermoë hê.”

Klaus König, hoof van die Helpmekaar Kollege in Johannesburg, sê dit is ­logies dat minder voorvalle by private skole voorkom.

“Ek sê nie ons is perfek nie – ons het ook uitdagings. Boelies is ’n universele probleem en kom op alle vlakke van die ­samelewing voor.”

Dr. Chris van der Merwe, uitvoerende hoof van Curro Holdings, sê afknouery moenie verwar word met gewone positiewe konflik tussen kinders nie.

“Afknouery is hoegenaamd nie aanvaarbaar nie, maar ­ouers moet verstaan dat kinderspel, wat soms soos bakleiery kan lyk, nodig is in die proses van kinderontwikkeling. Daardeur leer kinders hulself handhaaf deur byvoorbeeld vaardighede te leer om vrede te maak.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.