Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
2de dag van beurtkrag vir matrieks ‘onmenslik’

Matriekleerlinge aan verskeie skole in die Wes-Kaap moes Donderdag weer ure lank weens beurtkrag in hul eksamenlokale sit en wag vir die krag om aan te gaan.

Dit kom nadat Eskom Woensdag fase 2-beurtkrag ingestel het wat ook Donderdag van krag is.

Die matrieks het Woensdag rekenaartoepassingstegnologie (RTT, prakties) afgelê en Donderdag inligtingstegnologie (prakties).

Hierdie omstandighede is “onmenslik vir die leerlinge”, want hulle is nie voorbereid op beurtkrag nie, sê Riyaad Najaar, waarnemende hoof van die Windsor High School.

“Leerlinge is onder geweldige druk en om dan nog deur beurtkrag beïnvloed te word is nie goed nie. Ons is nou al angsbevange oor die volgende vraestel,” sê Najaar.

“Om in ’n lokaal toegesluit te word is onmenslik en het ’n impak op hul antwoordstelle,” sê hy.

Leerlinge aan die Hoërskool Bellville moes Donderdag om 09:00 met hul eksamen begin, maar kon eers om 12:00 begin skryf.

Leerlinge is onder geweldige druk en om dan nog deur beurtkrag beïnvloed te word is nie goed nie. Ons is nou al angsbevange oor die volgende vraestel.

Deon du Plessis, skoolhoof, het Donderdagoggend toestemming van die Wes-Kaapse onderwysdepartement gekry om, nadat hy in kennis gestel is dat daar beurtkrag gaan wees, die eksamen later te laat begin.

Leerlinge se selfone is verwyder en hulle het in die eksamenlokaal gesit en leer totdat die beurtkrag verby was.

Leerlinge van die Hoërskool Charlie Hofmeyr in Ceres het Woensdag net met hul RTT-eksamen begin toe die krag afgaan.

“Hulle moes sit en wag vir die krag om aan te gaan voordat hulle verder kon skryf,” het Max Michau, skoolhoof, gesê. Daar was twee groepe wat Woensdag die eksamen moes aflê, met die gevolg dat personeel sowat tien uur lank gewerk het.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die onderwysdepartement, het gesê hoewel hulle nog in die proses is om met al die skole in die verskeie distrikte te praat, het 36 skole aangedui dat hulle deur die beurtkrag geraak is. Vyf van daardie skole kon nie die eksamen voltooi nie. Hammond kon egter nie ’n lys van al die skole verskaf nie.

Die departement is ook besig om presies te bepaal hoeveel leerlinge geraak is. Donderdag was 939 leerlinge in 51 lokale geregistreer om die inligtingstegnologie-eksamen af te lê.

“Die leerlinge wat hierdeur geraak is, sal die kans gegun word om die vraestel oor te skryf,” sê Hammond.

Sy sê dieselfde voorsorgmaatreëls wat Woensdag gevolg is, het Donderdag gegeld. Leerlinge is in hul eksamenlokale gehou en hul werk is outomaties gestoor. Hulle kon met die vraestel voortgaan nadat die krag aangegaan het.

Hammond sê dit is vir die onderwysdepartement ’n voorkeursaak dat geen leerling deur beurtkrag benadeel word nie.

Meer oor:  Beurtkrag  |  Matriekeksamen  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.